Aangrypende verhale ontvou by AfriForum- Zim-funksie in Bloem
Kommentaar (0)
06/09/12
· Redaksie
‘n Verhaal van moord, wrede aanrandings en ontbering – en om dan uiteindelik in elk geval met die klere aan die lyf te ontvlug: het hom in Bloemfontein ontvou waar die skrywer van Mugabe and the White African, Ben Freeth 'n geleentheid wat deur AfriForum gereël is, toegespreek het.
Verskeie van die groot groep mense wat die vergadering bygewoon het, was erg emosioneel.
Die geleentheid, wat by die Protea Hotel Willow Lake aangebied is, was op die vooraand van die appèlsaak van die Zimbabwiese regering teen die Hooggeregsuitspraak waarvolgens op eiendom van die Zimbabwiese regering beslag gelê kan word om wit boere wat sonder vergoeding van hul plase ontneem is, te kompenseer.
Freeth is die skoonseun van Mike Campbell, die boer wat die Zimbabwiese regering voor die SAOG-tribunaal in Windhoek gedaag het - en gewen het. Hulle is nietemin hul grond sonder kompensasie kwyt en die Zimbabwiese regering het nie uitvoering aan die tribunaal se uitspraak gegee nie.
Met AfriForum se hulp onder leiding van Willie Spies van Hurter Spies Prokureurs in Pretoria, is hierna 'n hofbevel bekom om op nie-diplomatieke eiendom van die Zimbabwiese regering in Suid-Afrika beslag te lê en dis teen dié uitspraak wat Zimbabwe nou appèl aanteken.
Kort voor die vergadering het AfriForum verneem dat die SAOG-hoofde besluit het om voortaan die bevoegdhede van die tribunaal tot tussenstaatlike kwessies in te perk en sal sake soos dié van Campbell nie meer aangehoor kan word nie.
Afriforum het ook by die geleentheid die volgende aksieplan bekendgestel om burgerregte en regsoewereiniteit te beskerm:
Uitvoering van SAOG-beslissings in Suid-Afrika;
’n Beroep op die Afrika Kommissie en Afrikahof om teen SAOG-leiers op te tree;
Volgehoue druk op die SA regering om sy burgers in buurlande soos Zimbabwe te beskerm;
Klagtes by regulerende owerhede teen maatskappye wat menseregtevergrype finansier; en
Regsaksie by die International Criminal Court.
Spies en AfriForum staan Freeth en Luke Tembani by met 'n proses om die staatshoofde van al die SAOG-lidlande by die Afrika-kommissie te verkla. Prosesstukke van meer as 300 bladsye per stel in hierdie klagte is in Engels, Frans en Portugees op die staatshoofde van 14 SAOG-lidlande beteken.
Die Afrika Kommissie van Mense en Volksregte sal tydens sy 52ste sitting gedurende 9 tot 22 Oktober 2012 die toelaatbaarheid van die klagte oorweeg. Indien suksesvol, sal die besluit van SAOG-leiers om die tribunaal op te skort, deur die Afrika-hof vir Menseregte getoets kan word.
AfriForum wend hom ook tot burgerlike optrede. In September 2009 het AfriForum 'n suksesvolle veldtog teen die Switserse suiwelmaatskappy, Nestlé, gevoer nadat dit aan die lig gekom het dat Nestlé “bloedmelk” aankoop van 'n plaas wat deur Robert Mugabe se vrou, Grace Mugabe, van 'n wit kommersiële boer geneem is.
AfriForum se ondersoekeenheid ondersoek nou bewerings van soortgelyke betrokkenheid van internasionale finansiële instellings en kommoditeitsmaatskappye by korrupte bedrywighede in Zimbabwe. Dit het bv. onlangs bekend geword dat Robert Mugabe se Zanu-PF in 2008 'n omstrede lening van $100 miljoen (ongeveer R800 miljoen) van 'n groot Amerikaanse institusionele belegger, met bande met die SA Minister van Menslike Nedersettings Tokyo Sexwale, ontvang het.
Die lening het gehelp om Zanu-PF se veldtog van brutale onderdrukking in die bloedige 2008-verkiesing te finansier en is moontlik gemaak deur die New York-gebaseerde Ag-Ziff Capital Management Group. Laasgenoemde is op die New Yorkse aandelebeurs genoteer en staan onder die streng reëls van die Amerikaanse Securities Exchange Commission (SEC).
AfriForum ondersoek tans maniere waarop die omstrede lening onder die aandag van die SEC gebring kan word ten einde vas te stel of Ag-Ziff hom enigsins gesteur het aan die New Yorkse Beursreëls.
Afriforum oorweeg ook optrede wat klagtes by die Internasionale Strafhof tot gevolg kan hê oor Zimbabwiese politici wat voordeel getrek het uit die grondgrypprogram. Daardeur het hulle hul skuldig gemaak aan 'n reeks vergrype wat verbied word in die Statuut van Rome, waartoe Suid-Afrika 'n party is.
Aangesien SA 'n party tot die Statuut van Rome is, moet die Nasionale Vervolgingsgesag klagtes ondersoek van misdade teen die mensdom wat in die statuut verbied word.
Die Nasionale Vervolgingsgesag is onlangs deur die Noord-Gautengse Hooggeregshof verplig om klagtes wat deur die SA Litigation Centre teen Zimbabwe voorberei is, te ondersoek. AfriForum ondersoek nou soortgelyke aksie.
Lewer kommentaar op hierdie berig













24/05/13 om 08:35:45
Op die Markplein
Carries sę:
"wat dan van 'n ou fototjie van hoe die krippe lyk - 'n boer hou da..."
23/05/13 om 03:45:47
Entrepreneurskap as teenvoeter vir werkloosheid
Piet Mulder sę:
"Pragtige idee, maar ek weet van verskeie families wat hulle eie besighede b..."
23/05/13 om 12:03:55
Nuwe boek oor slawe in SA geskiedenis
Jaco de Beer sę:
"Interessant dat dit juis die Engelse was wat probeer het om die "slawe" eti..."
24/05/13 om 08:39:08
Verpolitisering van onderwys
Carries sę:
"wat ek verder wou bysę is dat as die leuen lank genoeg as die waarheid voor..."