Halaal- en ander geloofstekens oes miljarde rand
Kommentaar (2)
06/09/12
· Redaksie
Uit 'n hofaansoek wat 'n Nasionale Koalisie van Christen Groepe in die Noord-Gautengse Hooggeregshof gebring het, blyk dit dat die halaalteken wat deesdae op die verpakkings van feitlik alle kosprodukte in Suid-Afrika verskyn, die Moslem-beweging in die land jaarliks honderde miljoen rand in die sak bring.
Dit is egter nie net die halaalteken wat op talle kosprodukte verskyn nie, maar ook die kosher / parev-teken ten gunste van die Joodse geloof en, in 'n mindere mate, 'n Hindoe-teken ten gunste van die Hindoe-geloof.
Uit die hofstukke geliasseer deur die Nasionale Assosiasie & Koalisie van Christen Groepe en Individue vir Praktiese Gelykheid en Beskerming van Konstitusionele Regte (NAKCGI) oftewel Christen Koalisie, van Pretoria, blyk dit dat op die verpakkings van kosprodukte soos geproduseer deur groothandelprodusente, die halaalteken deur Moslem-bemiddeling aangebring word teen 'n ooreengekome vergoeding vir die Moslem-beweging.
Hierdie vergoeding word dan bygevoeg by die prys wat die groothandelaar die kleinhandelaar vra, wat dit dan weer insluit in die prys vir die verbruiker. Dit beteken bv. dat die oorgrote meerderheid Christen-verbruikers in SA die Moslem-beweging indirek finansier.
Ditsem Vrystaat het in Bloemfontein by supermarkte soos Checkers, Shoprite, Pick n Pay en Spar ondersoek gaan instel en gevind dat verbasend min kosprodukte nie die halaalteken op het nie. Dit geld werklik feitlik alle voedsellyne - van koffie tot vleis en van ingemaakte kos tot suiwelprodukte, ens.
In hul hofaansoek maak die Christen Koalisie beswaar teen die regulasie van die Minister van Handel en Nywerheid op 1 Maart 2012 wat geloofstekens op voedseletikette onbeperk magtig. Hierdie regulasie is volgens die koalisie strydig met artikel 9 (3) van die Grondwet van SA, wat soos volg lui: “Die staat mag nie regstreeks of onregstreeks onbillik teen iemand diskrimineer op een of meer grond nie, met in begrip van ras, geslag, swangerskap, huwelikstatus, etniese of sosiale herkoms, kleur, seksuele oriëntasie, ouderdom, gestremdheid, godsdiens, gewetensoortuiging, kultuur, taal of geboorte nie.”
Indien dit gebeur dat die staat hierdie wet oortree, moet nasionale wetgewing verorden word om onbillike diskriminasie te voorkom of te belet, aldus die koalisie.
Die standpunt van die koalisie is dan verder dat in die geval van die halaalteken volgens Moslem-geloof, kosprodukte met die teken op, toegewy is aan hul god en dat deur die oorvloedige beskikbaarheid daarvan in openbare kleinhandelswinkels, die keusevryheid van Christene ingeperk word en dit dus neerkom op diskriminasie.
Dit geld ook wat betref die tekens van ander gelowe op kosprodukte.
Die koalisie meen voorts dat op grond van die Woord van God Christene geloofsbesware kan hê teen die eet van sulke kosprodukte.
Volgens die koalisie word hierdie beweerde diskriminasie teen Christene verskerp deur die feit dat deur die halaalteken 'n deel van die inkomste wat verkry word deur die verkoop van kosprodukte met die teken op, op groothandelsvlak in die sak van die Moslem-beweging beland. Dit word dan gebruik vir die bevordering van hul saak.
In hierdie verband toon syfers dat SA die vyfde grootste produsent van halaalprodukte in die wêreld is en dit in 'n land waar Moslems minder as 2% van die bevolking uitmaak. Die omset van die wêreldmark waarvan SA die vyfde grootste bydraer is, word beraam op VSA $ 2,3 triljard – dit terwyl SA Moslems minder as 0,05% van die Moslem-bevolking wêreldwyd uitmaak. Dit blyk voorts dat 80% van halaalprodukte nie deur Moslem-lande geproduseer word nie, maar deur Westerse lande.
Die bevolking van SA bestaan uit ongeveer 80% Christene, asook in totaal ongeveer 4% Moslems, Jode en Hindoes. Die balans word opgemaak deur tradisionele gelowe en ongelowiges. Dit beteken dat ongeveer 96% van die bevolking ongeveer 4% van die bevolking se godsdienstige oortuigings befonds.
Hierdie toedrag van sake, nl. dat die Christen-verbruiker deur godsdienstige tekens daarvan weerhou word om vrylik toegang tot elke produk te verkry, kom dus volgens die koalisie neer op onregmatige diskriminasie. Sodoende versuim die staat d.m.v. bestaande wetgewing sy plig om genoemde diskriminasie te verhoed en vorm dit derhalwe die basis van die hofaansoek.
Die Christen Koalisie betoog nie dat die godsdienstige merke afgeskaf moet word, om daardeur ander gelowe hul grondwetlike vryheid te ontneem nie, maar betoog dat die Minister van Handel en Nywerheid 'n grondwetlike plig het om te verseker dat die geloofstekens binne demografiese verband toegepas moet word, ten einde sodoende die teenswoordige diskriminasie uit die weg te ruim.
Die koalisie as applikante meld spesifiek dat hulle geensins 'n aanval loods op ander gelowe nie, maar dat die aansoek daarop gemik is dat die regte van alle geloofsgroepe in gelykheid aangewend en toegepas moet word sover dit die geloofstekens op voedseletikette aangaan.
Die applikante betoog verder dat die huidige gebruik van geloofstekens ook teenstrydig is met die nuwe Verbruikerswetgewing wat meld dat sodanige tekens in eenvoudig-verstaanbare taal die doel van die tekens moet verduidelik, sodat die verbruiker ‘n ingeligte keuse kan uitoefen.
Aangesien daar nêrens sodanige inligtingsborde aangebring is nie, word hierdie wetgewing geïgnoreer. Dit is een van die redes waarom die algemene publiek nie weerstand bied teen hierdie onreg wat tans teen hulle gepleeg word nie en kom die huidige praktyke ook neer op growwe misleiding.
Die respondente in die hofaansoek is die Minister van Gesondheid, die Minister van Handel en Nywerheid, die Nasionale Verbruikerstribunaal en The United Ulama Council of South Africa (UUCSA) (toegetrede party).
Meer besonderhede oor die hofaansoek is beskikbaar op die Facebook-blad Die Anti-Halaal Christen Koalisie. Christene wat die saak wil ondersteun, kan die fb blad “like” of aansluit by nkcggb@gmail.com.
Die woordvoerder van die Christen Koalisie, Philip Groenenstein, kan ook gekontak word by 083 334 1547.
Anita Groenenstein - 07/09/12 om 05:40:00
Pragtig saamgevat. Dankie Ditsem!!
Lewer kommentaar op Anita GroenensteinDeon Claassen - 07/09/12 om 08:40:26
Dit is een van die talle wyses hoe fondse onregmatig van ons mense ontneem, meer korrek "gesteel" word. Baie dankie vir die werk wat julle in die verband doen.
Kommerwekkend is dat die inligting nie dekking gekry het in die Afrikaanse media nie.
Daar word vertrou dat die taktiek van SARS, plaaslike owerhede en organisasies soos SABC en banke ook mettertyd onder die loep geneem gaan word.
Dit het tyd geword dat daar begin word om op groot skaal die verpakkings/ produkte te boikot en betalings te weerhou waar onregmatigheid ter sprake is.
Groete
Lewer kommentaar op hierdie berig













24/05/13 om 08:35:45
Op die Markplein
Carries sę:
"wat dan van 'n ou fototjie van hoe die krippe lyk - 'n boer hou da..."
23/05/13 om 03:45:47
Entrepreneurskap as teenvoeter vir werkloosheid
Piet Mulder sę:
"Pragtige idee, maar ek weet van verskeie families wat hulle eie besighede b..."
23/05/13 om 12:03:55
Nuwe boek oor slawe in SA geskiedenis
Jaco de Beer sę:
"Interessant dat dit juis die Engelse was wat probeer het om die "slawe" eti..."
24/05/13 om 08:39:08
Verpolitisering van onderwys
Carries sę:
"wat ek verder wou bysę is dat as die leuen lank genoeg as die waarheid voor..."