NG Kerk word op spits gedryf
Kommentaar (0)
11/10/12
· Redaksie
Verwikkelinge in die jongste tyd dui kennelik daarop dat sake vir die NG Kerk op die spits gedryf word en dat waarskynlik van lidmate verwag gaan word om van die mees ingrypende besluite in die geskiedenis van die kerk te neem.
Dit is veral die aandrang dat die omstrede Belydenis van Belhar nie net as een van die belydenisskrifte van die kerk aanvaar moet word nie, maar dat dit ook grootliks moet dien as riglyn vir die rigting wat die NG Kerk in die toekoms moet inslaan. Onlangs het prof. Nelus Niemandt, moderator van die NG Kerk Algemene Sinode, te Modimolle (voorheen Nylstroom) die noordelike sinode uitgedaag om nuwe taal en nuwe beeldspraak te gebruik om eenheid in die NG Kerkfamilie te beklemtoon en “Belhar te ontvang as 'n gawe van God.”
Volgens Niemandt kom enige organisasie soms by die punt wat hy die verlede moet los en 'n nuwe toekoms moet aangryp, “soos 'n sweefstokarties op die een plek los en 'n ander vasgryp.” Die NG Kerk moet volgens hom antwoorde vind op sekularisasie, 'n verbruikersgodsdiens, armoede en onreg. Dit kan lê in versoening, geregtigheid en eenheid. Belhar kan die kerk taal gee om al dié oortuigings te verwoord.
Hierop het Niemandt by die onlangse Algemene Sinodesitting van die Verenigde Gereformeerde Kerk (VGK) te Okahandja, Namibië, gesê hy sien uit “na 'n nuwe era van warm verhoudinge, volle dialoog en uiteindelik organiese eenheid tussen die twee kerke in die nabye toekoms.” Hy het ook gesê die NG Kerk-leierskap is verbind tot volle aanvaarding van die Belhar-belydenis. Hyself sal met graagte onder die leierskap van die VGK in 'n verenigde kerk van die NG Kerkfamilie dien.
Inmiddels uit 'n ander oord het prof. Julian Müller, afgetrede teoloog van die Universiteit van Pretoria (UP), op 'n konferensie by die UP gesê die NG Kerk het op drie vlakke bekering nodig – sy spierwit eredienste, sy weiering om homoseksuele teoloë as predikante toe te laat en oor die Belydenis van Belhar. Die pad wat die NG Kerk volgens hom moet kies, “is een van selfrefleksie, inkering en bekering, opoffering en selfs lyding.”
Aan die ander kant van die spektrum is pas 'n boek Belhar geweeg geskryf deur 18 outeurs onder redaksie van Piet Theron gepubliseer en waarin prominente kerklui soos die voormalige moderator van die NG Kerk Algemene Sinode, prof. Piet Strauss, asook bekendes soos voormalige Polisiehoof, genl. Johan van der Merwe, hul teenkanting teen Belhar as belydenisskrif uitspreek.
Vir doeleindes van oorweging van die voorstel om Belhar as belydenisskrif vir die NG Kerk te aanvaar, het die Algemene Sinode besluit om aan artikel 44 van die Kerkorde uitvoering te gee deur lidmate, kerkrade, ringe en sinodes te toets. Volgens hierdie artikel van die Kerkorde moet twee-derdes van elke gemeente, ring en sinode met 'n twee-derdemeerderheid die belydenisskrif aanvaar voordat dit amptelik sou word.
'n Taakspan van die Algemene Sinode is tans besig om die strategie vir die uitvoering van die artikel te beplan, terwyl die versekering gegee is dat die proses oop en eerlik gehou sal word en dat daar geen manupilasie of intimidasie sal wees om mense in 'n besluit in te dwing nie.
Die versekering is ook gegee dat diegene wat nie kans sien om Belhar te aanvaar nie, steeds lidmate van die verenigde NG Kerkfamilie kan bly. Dit so beteken dat lidmate binne dieselfde kerkverband onder verskillende belydenisskrifte staan.
Wat nie juis in die hoofstroofmedia gesê word nie, is dat die VGK nie ‘n breë verteenwoordigende liggaam is nie, maar dat binne die bruin gemeenskap daar ook die NG Sendingkerk as outonome liggaam is. Voorts is daar ook die NG Kerk in Afrika (NGKA) (swart) en die Reformed Church of Africa (RCA) (Indiërs).
Aldrie hierdie senodes is gekant teen Belhar as belydenisskrif.
Opvallend in die sprake van sg. eenwording, daar geen sprake is van eenwording tussen die drie Afrikaanse kerke nie, of selfs met ander Afrikaanssprekende Christellik-reformatoriese kerkgenootskappe nie.
Nog ‘n kontensieuse punt op die agenda vir die NG Kerk, is die nuwe Afrikaanse vertaling van die Bybel waarmee die Bybelgenootskap van SA tans besig is, ‘n sg. “direkte vertaling” waarin die naam van Christus of verwysing daarna soms met ‘n kleinletter gespel sou word. Dit bring ook bepaalde onrustigheid onder lidmate.
Volgens die 2012 Jaarboek van die NG Kerk staan lidmaatskap van die kerk tans op 1 054 000 - 'n daling van nagenoeg 20 700 die afgelope jaar oftewel genoeg mense om 40 gemeentes van 500 lidmate elk te vul.
Interessant ook is dat volgens 'n peiling van die Win-Gallup International Religiosity and Atheism Index het die aantal Suid-Afrikaners wat godsdienstig is vanaf 2005 tot 2012 gedaal van 83% van die bevolking tot 64%. Die daling van 19% word net oortref deur dalings in Viëtnam (23%), Ierland (22%) en Switserland en Frankryk (21% elk).
Dit lyk dus inderdaad of die NG Kerk in talle opsigte onafwendbaar by 'n waterskeiding gekom het.
Om ingewikkelde sake te vereenvoudig, lê daar vir lidmate twee stappe voor die hand: die eerste is om werklik Skrifgetrou te bly en, tweedens, die Koning van die kerk in gebed te vra na Sy wil.
• Sien ook Redaksionele kommentaar binne.
Kategorie: Godsdiens
Lewer kommentaar op hierdie berig













23/05/13 om 03:45:47
Entrepreneurskap as teenvoeter vir werkloosheid
Piet Mulder sę:
"Pragtige idee, maar ek weet van verskeie families wat hulle eie besighede b..."
23/05/13 om 12:03:55
Nuwe boek oor slawe in SA geskiedenis
Jaco de Beer sę:
"Interessant dat dit juis die Engelse was wat probeer het om die "slawe" eti..."
23/05/13 om 06:50:30
Verpolitisering van onderwys
Cobus sę:
"Ek is n matriek leerling en het hierdie vraestel geskryf. Die vrae wat oor ..."
23/05/13 om 01:52:43
Regstellende wette ondermyn werkskepping
C. Visser sę:
"Daar is baie ander redes vir werkloosheid. In ons dorp dien verpleegperson..."