03 Julie 2018

  Lees die epos aanlyn

Image

AKTUELE NUUS

Terroristiese aanslag teen blankes verhewig

Image

Die afgelope twee weke was waarskynlik die bloedigste nog in die toenemende terroristiese aanslag teen blankes in SA sedert 1994, met vier wreedaardige plaasmoorde en verskeie ander blankes in dorpe en stede in hul huise en werkplekke vermoor. Voorverlede Saterdag is Jeffrey Zetler (62), eienaar van Mooiberg Strawberry Farms naby Stellenbosch, verskaffers van aarbeie landswyd en aan uitvoermark, in sy kantoor met ‘n mes doodgesteek. Sy maatskappy het 1 000 werknemers in diens en is een van die mees vooraanstaande landboubedrywe in die Wes-Kaap en selfs in die land.

 

Dieselfde naweek is by Hartbeespoort Peter Dawson (65) in sy huis om middernag deur drie aanvallers summier doodgeskiet toe hy, volgens hulle, te veel gepraat het. Sy dogter, wat 'n ooggetuie was, het daarin geslaag om te ontsnap en ver gehardloop om hulp te gaan ontbied.

 

Naby Rustenburg is Kallie Schoonraad (47) en sy gesin op 23 Junie om 20:00 in hul plaashuis naby Shylock, deur vyf gewapendes oorval en is Kallie doodgeskiet en sy gesinslede aangerand. Op die plaas Leeuwfontein, Roodeplaat, Gauteng is

Jonty Jacobs (28) twee keer geskiet in 'n nagaanval en is hy in ‘n kritieke toestand in die hospitaal oopgeneem.

 

By Vanstadensrus in die suidoos-Vrystaat is Choppie Bruwer (78) en sy vrou Marian (68) dood met kopskote en vasgebind op stoele in hul plaashuis aangetref. Hulle was net 'n jaar getroud.

 

Die afgelope sowat 120 uur is nog sewe plaasaanvalle aangemeld, nie een waarvan sover bekend noodlottig was nie. Betroubare inligting vanaf een of enkele bronne is egter skaars en derhalwe moet na inligting uit verskillende oorde gekyk word en moet dit ook eers geverifieer word.

 

Hierdie berig fokus ook net op plaasaanvalle, terwyl bekend is dat daar in dorpe en stede deurlopend aanvalle op blankes in hul huise en werkplekke is. So bv. is in die afgelope tyd te Parys Pierre Lotz (77), oud-direkteur van onderwys in Gauteng, in die nag in sy huis só deur drie aanvallers geslaan dat hy gesterf het.

 

Groot ontevredenheid heers in blanke geledere omdat nóg pres. Cyril Ramaphosa nog enige ander regeringsleier enige simpatie of ongelukkigheid met hierdie moorde uitgespreek het nie. Op sosiale media word wyd die gevolgtrekking gemaak dat hierdie stilte beteken stilswyende goedkeuring van die situasie wat nie anders beskou kan word as terrorisme en uiterse rassisme teen blankes nie.

Verloop van grondkwessie

Image

Sover dit die verhore oor die grondkwessie aangaan wat tans landswyd gehou word, is die oorheersende indruk dat blanke stemme uitgedoof word deur die massa swartes en selfs bruin minderhede wat grond wil vat sonder vergoeding. Militante sprekers dreig met fisiese konflik en beskuldig enkele swartes wat teen onteiening is, as “sell-outs”.

 

Die patroon word aangehelp deur voorsitters, soos Vincent Smith, wat onpartydig probeer voorkom, maar wat reeds vooraf gekompromitteer is deurdat honderdduisende skriftelike voorleggings teen onteiening bestempel is as 'n poging om “die stelsel te verstop”.

 

Aan die ander kant, is reeds skriftelike voorleggings wat in totaal sowat 750 000 bladsye beslaan, aan die paneel voorgelê, die oorgrote meerderheid waarvan skynbaar teen onteiening gekant is. Hierdie massa dokumentasie moet nog deurgewerk en verwerk word.

 

Inmiddels gaan die idee van grondonteiening sonder vergoeding nie af by die Zoeloes nie, met koning Goodwill Zwelithini wat sê dat bykans 30% van KwaZulu-Natal die tuisland van die Zoeloes vorm, gebou deur die Ingonyama Trust. Zwelithini het na berig word aan pres. Cyril Ramaphosa gesê die Zoeloes verwerp onteiening, dat hulle bereid is om oorlog te maak oor hul grond en dat hulle selfs oorweeg om onafhanklikheid te verklaar.

 

Zwelithini het 'n volksvergadering of imbizo belê vir 4 Julie 2018, terwyl Mangosuthu Gatsha Buthelezi homself weer verklaar het tot die eerste minister van koning Goodwill Zwelithini. 'n Feit is egter dat Zwelithini jaarliks 'n onderhoudstoelaag van sowat R65,8 miljoen uit die staatskas ontvang.

 

Hoe dit ookal sy, die voorbeeld van die Zoeloes oor hul tradisionele grondgebied kan bes moontlik deur ander tradisionele leiers in die land gevolg word en kan 'n interessante scenario in die omstrede grondkwessie te weeg bring. Dit sluit aan by die eise van die Steinkopf en Kommagas gemeenskappe in Namakwaland met die eerste openbare grondvergaderings wat vandeesweek te Concordia naby Springbok, gehou is. In hierdie verband moet ook die beroep van die Orania Beweging gesien word dat die grond in en om Orania vir Afrikanerbesetting gereserveer word en vrygestel word van rassediskriminerende maatreëls.

 

Wat ook opmerklik is, is dat die Raad van Tradisionele Leiers die aandag van die regering formeel gevestig het op die bykans 9,3 miljoen ha grond wat reeds in staatsbesit is, asook die bykans 4 500 plase onder staatsbeheer, maar wat nog nie toegeken is nie.

Wetsontwerp om eiendomsagente swart te maak

Image

'n Wetsontwerp word in die Parlement ter tafel gelê wat daarop gemik is om die eiendomsagentskapsbedryf ingrypend te “transformeer” ten einde die sowat 95% blanke gesigte in die bedryf om te swaai na 'n bedryf feitlik totaal in swart hande. Dit volg op 'n vroeëre bevinding van die Grondwethof dat sekere dele van die bestaande Wet op Eiendomsagentskapsaangeleenthede van 1976 ongrondwetlik is.

 

Die wetsontwerp het ook ten doel om die Raad op Eiendomsagentskappe te vervang met 'n nuwe entiteit, die Regulatoriese Owerheid vir Eiendomspraktisyns. Verreikende magte word ook vir laasgenoemde voorsien, terwyl 'n transformasiefonds en programme om swart toetreders tot die bedryf te ondersteun, ook in die vooruitsig gestel word.

 

Daar word gesê dat die feit dat slegs sowat 5% van eiendomsagente in die land swart of bruin is, is totaal onaanvaarbaar en moet omgekeer word. Na skatting is die eiendomsektor in die land ongeveer R6 000 miljard werd.

 

Hierdie drastiese wetsontwerp behoort gesien te word binne die konteks van die huidige dryf vir eiendomsonteiening sonder vergoeding en is sonder twyfel daarop gemik om blanke Suid-Afrikaners in hul eie land sover moontlik te ontheem.

VN voertuie en vreemde soldate in SA

Image

Aanhoudende berigte word ontvang van “UN” voertuie, vliegtuie en soldate in Suid-Afrika gesien. By hierdie skakel die volgende:

  • ‘n Videogreep gesien word van VN-troepedraers op platbakvragmotors in SA
  • ‘n Stemgreep oor busse met vreemde soldate en uniforms in SA
  • ‘n Foto van ‘n “UN” vliegtuig op Bloemfontein InternasionaleLughawe
  • Foto’s van Duitse artillerie op vragmotors met Durban-nommerplate op
  • Foto van Duitse Panzerhaubitze 2000 mobiele kanon op platbakvragmotor in De Aar
  • Foto van 900 witgeverfde troepedraers gestoor in ‘n SANW loods by Wallmansthal

Nuwe boek oor plaasmoorde maak opslae

Image

Die pasverskene boek oor plaasmoorde Kill the Boer - It’s more than just murder deur Ernst Roets van AfriForum met propvol opdatum feite en grafiese detail oor plaasmoorde het behoorlik die kat in die duiwehok losgelaat. Die boek draai geen doekies om nie en bewys met vers en kapittel die gruwel wat plaasmoorde is en eintlik neerkom op etniese suiwering.

 

In die boek word aangevoer dat die SA regering aandadig is die krisis van plaasmoorde en word die bewering met 10 redes onderskryf. Die skakel tussen polities-opruiende toesprake en naakte haatspraak jeens blankes aan die een kant en plaasmoorde en –aanvalle aan die ander kant word ook uitgewys.

 

Vir 'n videogreep oor 'n onderhoud met Roets deur Pretoria FM, kliek hier.


Die boek kan by Kraal Uitgewers bestel word.

SABS stel nie meer standaarde nie

Image

Volgens 'n mediaverklaring van die DA, is daar onweerlegbare getuienis dat die SA Buro vir Standaarde (SABS) disfunksioneel geraak het en as 'n instansie nie meer in staat is om sy mandaat t.o.v. die vasstelling en handhawing van standaarde na te kom nie. Die situasie het na berig word só versleg dat die vervaardiging- en ingenieursektore verliese van tot R4 miljard in potensiële uitvoere ly.  

 

Voorts het die chroniese verlies aan kliënte en inkomste tot gevolg gehad dat die SABS 'n verlies van R40 miljoen gely het in die 2016/17 finansiële jaar. Oor die algemeen kan die verval van die SABS as 'n sentrale rolspeler in die nasionale samelewing as 'n reuse terugslag vir SA beskou word.

Afro Voice sluit skielik deure

Image

Die swart aktivistiese dagblad Afro Voice, voorheen The New Age van die Guptas, het verlede Donderdag met een dag kennis, sy deure gesluit, met as rede dat fondse gedaan is. Dit kom twee maande nadat die anti-blanke Mzwanele Jimmy Manyi die koerant saam met die TV-kanaal ANN7 van die Guptas gekoop het en die twee media herdoop het na Afro Voice en Afro Worldview.

 

 Personeel is verstom, maar sal hul salarisse tot einde Julie 2018 ontvang. Die vakbond Commercial Workers Union sê dat die sluiting onregmatig geskied het en dat hulle stappe gaan neem. 

Grahamstown naamsverandering

Image

Op 29 Junie 2018 het Minister van Kuns en Kultuur Nathi Mthethwa in die Staatskoerant afgekondig dat die naam van Grahamstown verander word na Makhanda, 'n destydse Xhosa opperhoof wat teen die Britse gesag in die Oos-Kaap geveg het. Grahamstown is in 1812 gestig en is vernoem na die Britse lt.kol. John Graham.

 

Vandag is Grahamstown, eens 'n atmosfeerryke kultuur- en universiteitsdorp, ná 24 jaar van ANC-regering, verniel tot in die grond in, vernietig deur korrupsie en uitgehol deur onbevoegdheid, tot op 'n punt waar die water te besoedel is om te drink en die plek vuil, gebroke en bankrot is. Op sosiale media word gesê dat dit inderdaad 'n gepaste tyd is om die naam te verander van Grahamstown na Makhanda.

Groot pryse vir vryskutwerk

Image

'n Opwindende kompetisie met groot pryse vir vryskutskryfwerk is pas geloods deur Solidariteit Helpende Hand onder hul projek Talentwerf. Die publiek kan vanaf 1 Julie 2018 inskryf vir die Bemark jouself!-kompetisie en 'n kans staan om groot pryse te wen, met ʼn bemarkingsplan ter waarde van R30 000 as die eerste prys.

 

Vryskutters word gevra om hulleself in ʼn kort video te bemark en dit dan op sosiale media te deel. Die beste video’s sal deur Talentwerf op verskeie sosiale media platforms gedeel word en die publiek sal dan gevra word om vir hulle gunstelingvideo te stem. Meer besonderhede en hoe om in te skryf, kan by hierdie skakel gevind word.

SAKENUUS

Orania Sakekamer versnelde groeistrategie

Image

In Orania is die momentum van ekonomiese groei voortdurend besig om op te tel, met tans sowat 30 verskillende bouprojekte aan die gang, 'n nypende tekort aan sowel behuising as sakepersele, progressief stygende eiendomspryse en toenemende vestiging in die dorp as verklaarde groeipunt vir 'n Afrikanervolkstaat. Binne hierdie milieu het die Orania Sakekamer sigself onlangs herposisioneer as platform vir versnelde groei in die dorp.

 

'n Reeks werkswinkels en dinkskrums is gehou, terwyl lede van die Sakekamer op 6 Junie 2018 'n konferensie van AfriSake in Pretoria bygewoon het met die tema Maak jou onderneming staatsbestand. In die bestuur van die Kamer onder voorsitterskap van Danny Dames en in die geledere van die lede is 'n nuwe energie sigbaar om visionêr uit die spreekwoordelike kassie te dink en met innoverende konsepte vorendag te kom.

 

Uit die besprekings het dit na vore gekom dat dienslewering, opleiding, innovasie, koördinering van inligting en kommunikasie sentraal tot die meeste uitdagings in Orania staan. Dit is beklemtoon dat Orania die sakekern van die streek kan word. dienste.

 

Wat opleiding betref, het die Sakekamer reeds twee werkswinkels in samewerking met AfriForum Vooruit aangebied, terwyl nog een in Augustus beplan word. Daar word ook onafhanklike werkswinkels beplan, wat temas soos entrepreneurskap, personeelopleiding, meganisasie, ens. insluit. Ander aspekte wat die Sakekamer onder die loep het, is o.m. 'n gedragskode, gildes, 'n sentrale inligtingspunt, 'n toegewyde kantoor, 'n lughawe vir vragvervoer en globalisering.

Naspers en Tencent nuwe winshoogtes

Image

Die wins van Naspers het die afgelope jaar bykans verdubbel en het die totale inkomste van die maatskappy tot meer as R20 miljard gestyg. Dit sluit die dividende en inkomste in wat Naspers van sy filiale Tencent in China en Mail.ru in Rusland verdien het.

 

Hierdie maatskappy wat vroeg in die vorige eeu as 'n beskeie Afrikaanse media-onderneming begin het, doen vandag sake in meer as 120 lande, terwyl 84% van sy inkomste buite Suid-Afrika verdien word. Pas is ook bekendgemaak dat Naspers vir die eerste verskyn het op die PwC lys van top 100 maatskappye ter wêreld en dit nogal in die 79ste plek.

 

Die jaarverslag van Naspers bestaan uit drie oorhoofse segmente, nl. Internet en e-handel, Videovermaak en Media. Die voorsitter van die Naspers Groep is Koos Bekker, terwyl die uitvoerende hoof Bob van Dijk is.

Absa nuwe korporatiewe ID

Image

Absa het aangekondig dat sy korporatiewe identiteit binnekort gaan verander ten einde afstand te skep van die Britse Barclays Groep, met wie bande drasties verminder is, hoewel nie heeltemal gesny nie. Die kenmerkende rooi van die logo gaan verander na 'n diep oranje, terwyl die slagspreuk ook verander gaan word.

 

Amptelike aankondiging oor die nuwe identiteit word op 11 Julie verwag. In 'n mediaverklaring sê Maria Ramos, uitvoerende hoof van Absa: “Ons sal steeds Absa wees, herlaai, heraangebied en met 'n identiteit wat geskik is vir die nuwe en toekomsgerigte onderneming wat ons skep.”

Basil Read in sakeredding

Image

Die bekende konstruksiemaatskappy met internasionale belange, Basil Read, het aangekondig dat dit in vrywillige sakeredding gaan. Met die aankondiging het die aandele van die maatskappy in een dag met 94% geval vanaf 22c tot 1c. Uitvoerende hoof Khathutshelo Mapasa, sê egter Basil Read bly 'n lewensvatbare besigheid, ondanks ongunstige ouditverslae en dat probleme te wyte is aan foute wat met kontantvloei begaan is.

 

In Maart vanjaar het Basil Read 'n netto verlies na belasting aangeteken van R1 miljard vir die jaar eindigende 31 Desember 2017, terwyl aangedui is dat huidige laste van R2,1 miljard bates van R1,4 miljard oorskry. Basil Read is in 1952 gestig en het deur die jare verskeie megaprojekte in SA en in buurlande voltooi. 

INTERNASIONAAL

Uitstekende buitelandse dokumentêr oor Afrikaners

Image

'n Uitstekende dokumentêr oor Afrikaners, gemaak deur die onverskrokke jong Kanadese TV-joernalis Laura Southern, het pas verskyn. Getiteld Farmlands vat die film die geskiedenis van die Afrikaner en sy huidige situasie met plaasmoorde, diskriminerende wetgewing en wydverspreide armoede ewewigtig saam in net meer as 'n uur van boeiende kykstof.

 

Sy sluit die dokumentêr af met die kommentaar dat die Afrikaner waarskynlik binnekort in die soeklig op die wêreldtoneel gaan wees en dat dit nie 'n maklike pad sal wees om te stap nie, “maar dat die Afrikaner kan verwag om dit nie alleen te stap nie”. Die dokumentêr deur hierdie moderne Emily Hobhouse kan by hierdie skakel gesien en afgelaai word.   

Islam terreurgroep na bewering in Mosambiek 

Image

Na berig word, het 'n nuwe Islam-terreurgroep wat op die toneel verskyn het, Ahlu Sunnah Wa-Jama, hulself in die noorde van Mosambiek gevestig. In voorvalle die afgelope twee weke in die klein nedersetting Nathuko het die terroristebeweging wat hulle assosieer met die Islamitiese seksies, talle inwoners gedood en ander gewond met kapmesse.

 

Daar is voort bewerings dat agente van hierdie terroristegroep in Suid- Afrika bedrywig is om wapens te bekom in rooftogte. Die vermoede bestaan dat boere en Polisiestasies die hoofteikens is waar wapens gesteel word om na Mosambiek te neem.

 

Voorts is daar gerugte dat die terroristegroep ook gemoeid is met renosterstropery vir finansieringsdoeleindes. Geen bevestiging kon op al hierdie hardnekkige gerugte verkry word nie, omdat daar min betroubare nuusbronne in die streek is en omdat die hoofstroommedia nie juis hierdie tipe nuus dra nie. 

Sewe lande by Wêreldsokker erge vervolgers van Christene

Image

Van die 32 lande wat aan die Wêreldsokkerbeker in Rusland deelneem, is sewe

erge vervolgers van Christene in hul lande - Iran, Saoedi-Arabië, Nigerië, Egipte, Tunisië, Meksiko en Colombia. Dit is volgens Geopende Deure wat statistiek oor godsdiensvervolging in die wêreld monitor en die vervolgde Kerk bystaan.

 

Die organisasie stel jaarliks hul Wêreldwaarnemingslys bekend, ’n diepgaande verslag van die top 50 lande waar dit die moeilikste is om ’n Christen te wees. Iran is 10de, Saoedi-Arabië 12de, Nigerië 14de, Egipte 17de, Tunisië 30ste, Meksiko 39ste en Colombië 49ste op die lys.

 

Geopende Deure wys daarop dat die vyandigheid van sekere lande teenoor Christene soms ook weerspieël word in hul sportkultuur. Bv. hoewel sokker Egiptenare verenig ongeag status, klas, sosiale agtergrond en beroep, dui verslae daarop dat godsdiens steeds ’n struikelblok is in daardie land sodat jong Koptiese Christen atlete nie kan meeding a.g.v. hul geloof nie.

REDAKSIONELE KOMMENTAAR

Terrorisme teen blankes en spesifiek Afrikaners


Die slagting onder onskuldige blanke burgerlikes meesal in hul huise en meesal snags is niks anders as terrorisme teen blankes nie, waarskynlik beplan en uitgevoer met medewete van die ANC regering en van elemente in die Polisie en Weermag. Klinkklare bewyse ontbreek nog op hierdie stadium, maar die boek Kill the Boer van Ernst Roets maak dit tot 'n groot mate onweerlegbaar.

 

Daar is ook sterk getuienis dat uitsprake van rassehaat jeens blankes direk bydra tot plaasaanvalle en –moorde en in hierdie verband moet persone soos Julius Malema van die EFF, Andile Mngxitama van die BLF en Tony Ehrenreich van Cosatu Wes-Kaap weet hulle het bloed aan hul hande. Die swye van die staatspresident, sy kabinetskollegas en ander regeringsleiers oor die wreedaardige en sinnelose moorde getuig van niks anders as medepligtigheid.

Radikale Afrikaner-denke nodig


Gegee die krisis waarin Suid-Afrika tans verkeer en die risiko dat die landsbestuur ineen kan stort, tesame met die terroristiese aanslag teen die blanke, in sonderheid die Afrikaner, is radikale Afrikaner-denke nou noodsaaklik. Ja, ons moet in ootmoed op ons knieë voor God Drieënig bly, maar terselfdertyd is denke uit die kassie en gepaardgaande optrede noodsaaklik – sonder om ‘n oomblik vreesbevange te raak.

 

Ons stip kortliks die volgende moontlike radikale denke en optrede aan:

  • Gekoördineerde strategie vir Afrikaner ekonomiese bemagtiging
  • Burgerlike selfverdedigingseenhede onder behoorlike en doelgerigte beheer in sowel plattelandse as stedelike gebiede
  • Voorwaardelike belastingweerhouding op sowel munisipale as nasionale regeringsvlak
  • Implementering van grootskaalse alternatiewe hernubare energieprogramme
  • Stigting van ‘n politieke voorhoede wat Afrikaner-selfbeskikking nastreef
  • Geprivatiseerde omgewingsbestuursprogramme
  • Grootskaalse gekontroleerde hervestiging van Afrikaners in en om Orania as toekomstige volkstaatgebied.

SKEP MOED!

Trotse rekord van die Afrikaner


Dat die verguising waaraan blanke Suid-Afrikaners, in besonder die Afrikaner, onderwerp word, propagandistiese snert is, staan soos 'n paal bo water indien die ware feite in ag geneem word. Die voorgeslagte van die Afrikaner het beskawing na die donker sub-kontinent gebring, geen grond gesteel nie en effektiewe besetting van onbewoonde en onbenutte grond daargestel.

 

Veral die afgelope twee eeue het blanke Suid-Afrikaners feitlik uitsluitlik die leiding geneem om Suid-Afrika te ontwikkel in die enigste moderne nywerheidsland op die vasteland. Hieruit kan moed geskep word, asook uit die feite verder soos hieronder.

 

Blankes het, toegegee met nie-blanke arbeid, infrastruktuur gebou, paaie beplan, fabrieke ontwerp, voedsel gekweek vir die nasie, myne ontwikkel al het hulle dit nie besit nie, skole en hospitale opgerig en ordelike regering gevestig.  Almal het toegang gehad tot skoolonderrig, verdere opleiding, gesondheidsorg, kos en polisiëring.

 

Al die hoekstene van enige beskaafde samelewing was in die land teenwoordig, voordat dit aan die swart terroristiese ANC oorhandig is – met die res ná 24 jaar geskiedenis. Nou blyk dit die swart regering en talle van hul volgelinge kan nie rykdom skep sonder om van iemand anders te steel nie. Hulle is steeds nie in staat om voedsel te produseer nie, hospitale en skole in stand te hou nie en te keer dat misdaad soos 'n golf oor die land spoel.

 

Kortom, die ANC het die gans wat die goue eiers gelê het, doodgemaak. Miljoene wit Suid-Afrikaners sit buite die land en dophou, afwagtend vir die gety om te draai. Honger vergete swartes kyk met groot oë na hul leiers wat in onwelvoeglike luuksheid leef terwyl hulle in die stof vir kos krap. Dit is ook die patroon van Afrika.

 

Daarenteen weet blanke Suid-Afrikaners wat nodig is om 'n veilige en vrye samelewing te skep binne die struktuur van 'n geordende staat met 'n volhoubare ekonomiese en maatskaplike vooruitgang. Dit is teen hierdie agtergrond dat moed geskep kan word uit die gevleuelde woorde van dr. DF Malan feitlik presies 70 jaar gelede: “Glo in jou God, glo in jou volk, glo in jouself.”

Indien u nie die epos wil ontvang nie kan u hier uit teken
Anulus Bemarking, S39 Oranje Eggo, Orania, North Cape, 7590, South Africa, www.ditsem.net