05 Junie 2018

  Lees die epos aanlyn

Image

AKTUELE NUUS

Moordorgie swart op wit woed voort

Image

Die feitlik daaglikse gevalle van moorde deur swart op wit duur voort met die jongste Boet Smal (78) wat afgelope Saterdagmiddag op sy hoewe by Heidelberg doodgesteek en sy kop teen ‘n fontein gekap is. Sy vriendin Esther Jooste, wat ernstig aangerand is en bebloed in die straat afgestrompel het vir hulp, is tans kritiek in die hospitaal.


In Reitz is Marie Venter (74) vermoor, wreed aangerand en verkrag in haar huis aangetref, terwyl in die Reitz-distrik Kobus (44) en Marelise (40) van Niekerk Sondagoggend om 04:00 deur vyf mans oorval, vasgebind en beroof is.

Politieke verdeeldheid verdiep

Image

Die afgelope naweek het dit aan die lig gekom dat politieke verdeeldheid verdiep in sowel die regerende party as die amptelike opposisie. Die Sondagpers berig dat binne die ANC 'n faksie met Jacob Zuma, Supra Mahumapelo, Mosebenzi Zwane en Ace Magashule aan die spits mik om Cyril Ramaphosa as president te laat herroep. Daar word skynbaar gevoel dat laasgenoemde te “mak” is met grondonteiening sonder vergoeding en die anti-blanke dryf. 


Aan die opposisiekant lyk dit asof die DA kwalik interne verdelingslyne langer kan onderdruk met hoofsaaklik Mmusi Maimane en Helen Zille wat stelling teenoor mekaar inneem. Daar is sprake van 'n sterk liberale groepering wat selfs oorweeg om weg te breek en 'n nuwe party te stig. Intussen prut die Patricia de Lille-saga steeds voort, met nadelige gevolge vir die party.

Beoogde grondgryp: Openbare vergaderings

Image

Die Parlementêre Grondwetlike Hersieningskomitee het aangekondig dat die openbare vergaderings oor die voorstel of dit vir doeleindes van grondonteiening sonder vergoeding nodig is om artikel 25 van die Grondwet te verander vanaf 26 Junie tot 4 Augustus vanjaar in al nege provinsies gehou sal word, met ten minste drie vergaderings per provinsie op verskillende plekke. Vir doeleindes daarvan gaan die Parlement vir twee maande in reses vanaf 15 Junie tot middel-Augustus.


Die beplande rooster vir vergaderings word soos volg gegee:
Noord-Kaap 26 – 30 Junie Vier vergaderings
Limpopo 27 - 30 Junie Vier vergaderings
Mpumalanga 02 – 04 Julie Drie vergaderings
Vrystaat 02 – 04 Julie Drie vergaderings
Noordwes 17 – 19 Julie Drie vergaderings
KwaZulu-Natal 18 – 21 Julie Vier vergaderings
Oos-Kaap 23 – 28 Julie Vier vergaderings
Gauteng 26 – 28 Julie Drie vergaderings
Wes-Kaap 01 - 04 Augustus Vyf vergaderings


Om die name van die spesifieke dorpe en stede te sien waar vergaderings gehou gaan word, volg hierdie skakel.


Die publiek kan steeds geskrewe voorleggings maak tot en met 15 Junie – oor hoe, volg hierdie skakel. 


Daar sal ook vanaf 7-17 Augustus 2018 geleentheid wees vir mondelinge voorleggings aan die Parlement, terwyl oorlegpleging met deskundiges, akademici, beleidmakers, kerkgroepe, SALGA e.a. ook in die pyplyn is.

Koshuis met gesin in aan brand gesteek

Image

Volgens Maroela Media was Carrie Esterhuizen en haar twee jong kinders verlede Vrydagmiddag in ‘n koshuis langs die Cremona kaasfabriek in Tshepisong, wes van Johannesburg toe ‘n groep grondbesetters die gebou aan die brand gesteek het. Carrie se eggenoot Frederik werk as veiligheidsbestuurder by die fabriek en die gesin bewoon 'n gedeelte van die koshuis. 


Die persele is oorkant die EbuMnandini plakkerskamp, die inwoners waarvan al lank dreig om die perseel te betrek omdat dit volgens hulle leegstaan. Die eienaar  van die grond, Antonio Cremona, het in April 'n uitsettingsbevel vir die terrein verkry geldig tot September 2018.


Carrie sê sy en haar kinders was in die koshuis toe plakkers petrolbomme deur die venster geslinger het en die gebou aan die brand geslaan het. Sy het haar man gebel, wat oor gehardloop het en hulle gehelp het om vinnig uit die gebou te kom en na veiligheid in die fabriek te vlug. Die koshuis met hul besittings in het verbrand en hulle het alles, insluitende hul ID dokumente en die skoolgoedere van die kinders, verloor. Volgens die SAPD is ses mense in hegtenis geneem op aanklagte van openbare geweld en brandstigting.

Bedenkinge oor nuwe Geskiedenis-leerplan 

Image

Ernstige bedenkinge word in sowel die hoofstroommedia as op sosiale media uitgespreek oor die nuwe Geskiedenis-leerplan vir skole wat Minister van Basiese Onderwys Angie Motshekga beplan om vanaf 2023 as verpligte vak te implementeer. Die aangeleentheid is in omstredenheid gedompel met 'n sterk gevoel van kommentators dat dit 'n plan is om slegs die ANC terroristiese geskiedenis aan skoliere op te dwing.


So bv. sê die SA Onderwysersunie (SAOU) in 'n mediaverklaring: “Die unie betreur die feit dat die georganiseerde professie nie deel was van die Ministeriële Geskiedenis Taakspan wat sy bevindinge aan Minister Motshekga op 31 Mei 2018 oorhandig het nie. Terwyl die minister haar tevredenheid uitgespreek het oor die gebalanseerde aard van die verslag, is die land volkome bewus daarvan dat die aanvanklike opdrag om die bestaande geskiedenissillabus in skole te ondersoek en hervorm, voortspruit uit 'n ANC- kongresbesluit. 


“Ten spyte van die minister se onderskeid tussen 'n 'politieke' geskiedenis en 'n 'politiek gedrewe' geskiedenis, vind die SAOU dit onverklaarbaar dat die verteenwoordigers van die mense wat die nuwe geskiedenissillabus in die klaskamers moet implementeer - die Georganiseerde Professie - nie in die aanvanklike navorsing betrokke was nie. Dit is ironies dat die vak Lewensoriëntering, wat tot op datum as sentraal tot die onderwyskurrikulum beskou is en dus basies onaantasbaar is, nou oorweeg word vir verandering in die VOO-fase om Geskiedenis as verpligte vak te akkommodeer . 


“Ten spyte van alle oortuigings dat dit nie polities gemotiveerd is nie, het die saak van 'n nuwe Geskiedenis-kurrikulum in skole sy ontstaan in 'n besluit van die regerende party en hopelik sal die nuwe sillabus as dit uiteindelik geformuleer word, nie 'n 'politieke geskiedenis' wees soos die geval in Zimbabwe nie.”


Vir meer besonderhede, kontak Ted Townsend by 012 426 0927 of 076 401 0342.

In hul reaksie sê die VF Plus: “Die verslag van Minister Motshekga noem ook dat die huidige geskiedenis-sillabus herskryf moet word om dit meer ‘Afrika-gesentreerd’ te maak, want tot nou is dit te ‘Eurosentries’. Hierdie metode om die ANC-regering se retoriek, ideologie en propaganda onder die jeug te versprei, is niks anders nie as nog 'n stap nader aan 'n Marxistiese staat wat aan Stalin herinner.”

Afrikanerbond Eeufeesviering 5 Junie 2018

Image

Die Afrikanerbond het bekendgemaak dat dit sy eeufees vier op 5 Junie 2018 en dat die geleentheid gevier word met die volgende twee geleenthede hierdie week: Die boek Broederskap word op 5 Junie 2018 bekendgestel, terwyl op 7 Junie 2018 die volgende vier spesiale toekennings te Rhebokskloof oorhandig word:


• Prof. Hermann Giliomee vir bydrae tot geskiedskrywing van die Afrikaner. 
• Dave Steward vir sy bydrae op die grondwetlike terrein. 
• Carel Trichardt vir bydrae en uitlewing op kulturele gebied. 
• Dr. Carel Stander vir bydrae met die finansiële bestuur van die Afrikanerbond.

Drie leeus en tier vergiftig

Image

In die Jugomaro Predator Park buite Vaalwater is afgelope Vrydag drie leeus, waarvan een 'n wit leeu was, asook 'n skaars goue tier vergiftig aangetref, vermoedelik nadat hulle vleis met die gifstof Temik oftewel Two-step gevoer is. Die wildpark behoort aan die Fernandes-gesin.


Die gesin sê die roofdiere was soos hul eie kinders en dat hulle die wildpark die afgelope drie jaar geleidelik opgebou het nadat hulle hul plaas in Groblersdal verloor het. Hulle het die vergiftigde diere Vrydagoggend om 02:00 in groot pyn aangetref, maar voordat die veearts vanaf Bela-Bela by hulle uit kon kom, het hulle gevrek.


Die goue tier was een van die laaste 30 Golden Tabby Tigers in die wêreld, waarvan daar dus nou net 29 oor is. Die plaas waarop die wildpark is, grens aan die township Lefoka en spoorsnyers het 'n verdagte spoor gevolg tot in die township, waar vermoedelik die verdagtes deur 'n motor opgelaai is. Die Polisie ondersoek die saak.  

Ontsaglike betekenis van 31 Mei vir die Afrikaner

Image

In 'n mediaverklaring wys die FAK daarop dat op Vrydag 31 Mei 1918 het CJ Langenhoven in Arbeidsgenot 'n gedig geskryf wat later bekend sou word as Die Stem van Suid-Afrika. Sedertdien het Die Stem vir Afrikaners ’n kosbare kultuurlied geword en later ook die amptelike volkslied en as sodanig weerspieël dit nou vir 'n eeu hul kulturele identiteit en die ontwikkeling van Afrikaans.


Die FAK vra dat indien Die Stem vir jou ná 100 jaar steeds 'n plek het in Suid-Afrika, SMS Ja en Jou naam na 45730 (R1,50). By die twee video’s by hierdie twee skakels kan Die Stem opnuut jou Afrikanerhart met trots laat klop:


Geskiedenis van Die Stem en Woorde en begeleiding


Ander belangrike geskiedenisgebeure op 31 Mei:


31 Mei 1902 – Vrede van Vereeniging word gesluit
31 Mei 1910 – Die totstandkoming van die Unie van Suid-Afrika
31 Mei 1928 – Die Unievlag word die eerste maal gehys
31 Mei 1957 – Die Unievlag word as nasionale vlag en Die Stem van Suid-Afrika as volkslied aanvaar
31 Mei 1960 – Die 50ste herdenking van die Unie van Suid-Afrika
31 Mei 1961 – Die totstandkoming van die Republiek van Suid-Afrika

Ontsteltenis oor Haatspraak-wetsontwerp

Image

Groot ontsteltenis heers oor die Haatspraak-wetsontwerp wat deur die Kabinet goedgekeur is en tans in die Parlement ter tafel is. Wyd word gemeen dat die wetsontwerp in wese daarop gemik is om kritiek teen swartmense te keer en dit te kriminaliseer met die dreigement van tronkstraf, asook dat dit dieselfde effek kan hê t.o.v. bv. teenkanting teen homoseksualisme.


In 'n mediaverklaring veroordeel die vakbond Solidariteit die wetsontwerp ten sterkste en sê dat die toepassing daarvan kan lei tot ʼn onderdrukking van grondwetlike regte en die vermoë van burgers om hul politici aanspreeklik te hou vir wangedrag. “Die wetsontwerp is eenvoudig hopeloos te breed geformuleer en sal noodwendig tot arbitrêre en onregmatige toepassing lei, terwyl dit denkbaar is dat dié wet, sou dit aanvaar word, enige individu tronkstraf kan oplê bloot omdat die persoon afwyk van die heersende party se ideologie,” aldus Solidariteit.

Kannie Warries Dansorkes

Image

'n Selfverduidelikende promosie-artikel van VONK Musiek lui soos volg: “Sedert die Kannie Warries Dansorkes in 2000 gestig is, het van die orkeslede gekom en gegaan, maar die huidige vyftal - Jurg Basson, Ria Best, Rudi Jooste, Ziaan Hatting en Nico Heunis – het ‘n unieke aanslag en spog met verskeie Bobaas-Boere-toekennings en selfs Ghoema-benoemings. Hulle dek die hele spektrum genres van boeredansmusiek. Walse, setiese, vastrappe, kwêlas, en nog vele meer.


“Hul huidige groot treffer Ernie se tokkel het die land behoorlik aan die gons.” Vir meer besonderhede oor hierdie album en ander kookwater Afrikaanse musiek, besoek www.vonk.co.za.   

Inteken op DitsemBlits

Image

Die weeklikse elektroniese nuusbrief wat Ditsem Nuus uitstuur, tesame met die daaglikse Nuushooftrekke, alles gefokus op nuus wat saakmaak vir die Afrikaner, vorm 'n unieke nuuspakket in Afrikaans. Beskikbaar op 'n intekenpakket van slegs R240 per jaar, bied die nuusdiens vinger op die pols kontak met nuusgebeure soos wat dit ontvou.    


Om in te teken is maklik: Doen ‘n inbetaling van R240 in die volgende bankrekening: Standard Bank / Rekeningnaam: DitsemBlits / Rekeningnommer: 140 320 105 (Spaarrekening) / As verwysing: Jou naam en van. Volg dit dan op met ‘n epos na web@ditsem.net met jou naam en van, die eposadres waarop jy die DitsemBlits wil ontvang, asook  bewys van betaling. 


By ontvangs van hierdie besonderhede word jou naam op die DitsemBlits adreslys geplaas vir die volgende 12 x maande.

SAKENUUS

Vyfde rondte vir hernubare energie

Image

Dit is deur Minister van Energie Jeff Radebe dat die vyfde rondte van die bod-program vir hernubare energieprojekte met 'n totale vermoë van 1 800 MW in November vanjaar sal begin. Bieërs sal genooi word om hul voorleggings hiervoor te maak vir projekte met 'n totale waarde van R50 miljard.


Die mikpunt van die nuwe rondte is om die plaaslike vervaardigingsektor 'n hupstoot te gee, belegging aan te moedig en ekonomiese groei te bevorder. Ongelukkig blyk dit egter dat die rondte uitsluitlik gekoppel is aan swart ekonomiese bemagtiging.  

Albany Bakkery open weer by Virginia

Image

Die bekende broodhandelsmerk Albany is met mening terug in die mark en verlede jaar is die groot bakkery van die firma in Belville, Wes-Kaap, splinternuut opgeknap, terwyl die ou Albany-perseel te Virginia in die Vrystaat opgegradeer en heropen is teen 'n koste van R70 miljoen. Hierdie bakkery lewer tans 624 000 brode per week.


Vir doeleindes daarvan word dit tans 12 ure per dag met twee skofte bedryf, met die beplanning om dit binnekort op te stoot na 24 uur per dag en drie skofte. Die bakkery is ook met die nuutste broodverkoelers, baktoerusting, elektroniese snyers en verpakkingsmasjiene toegerus, terwyl die gehalte van brood met die klem op volgraan ook opgegradeer is.


Aan die bemarkingskant is 17 nuwe roetes en 625 nuwe afsetpunte gevestig, terwyl brood ook aan bepaalde liefdadigheidsinstansies gelewer word.

Vraag oor hoof van SA Express nou by Denel 

Image

In 'n mediaverklaring vra die vakbond Solidariteit ʼn verduideliking oor hoekom Victor Xaba, die voormalige waarnemende uitvoerende hoof van SA Express, nou aangestel is as waarnemende uitvoerende hoof van Denel Aeronautics. Die aanstelling volg kort nadat dit aan die lig gekom het dat SA Express tydens Xaba se termyn ʼn omstrede tender van R2,4 miljard vir brandstoflewering aan EML Energy toegeken het.


Dit volg nadat twee direkteure van SA Express, Sam Vilakazi en Miriam Machoele, ten spyte van die lugredery se bestaande tienjaarkontrak vir brandstoflewering met die SA Lugdiens (SAL), ʼn kontrak met EML Energy onderteken het om die reeds sukkelende SA Express drie jaar lank van brandstof te voorsien, waarvan nog nie ʼn druppel aan die lugredery verskaf is nie. Die aanduidings is dat met hierdie tender die voorgeskrewe prosedure nie gevolg is nie en dat dit onregmatig was. 


Solidariteit is nou bekommerd oor die toekoms van Denel Aeronautics o.l.v. Xaba, ook omdat Denel self tans gebuk gaan onder korrupsie en finansiële wanbestuur.

INTERNASIONAAL

Moslem-ekstremiste onthoof 10 in Mosambiek

Image

Volgens die publikasie The Christian Post is 10 lede van 'n plaaslike bevolking in Mosambiek, insluitende vroue en kinders onlangs onthoof deur Moslem jihadi’s. Dit het plaasgevind in die dorpie Monjane in die provinsie Cabo Delgado, waar groot olie- en gasreserwes is asook robyn- en saffierneerslae. 


Die terroristegroep bekend as Ansar al-Sunna, maar ook as al-Shabab, is na berig word sedert verlede jaar aktief in Mosambiek en probeer hul gesag met dodelike geweld op die plaaslike bevolking afdwing. Ekstremistiese Moslem-terroristegroepe is natuurlik lank reeds bedrywig in Uganda en Kenia noord van Mosambiek. Onbevestigde berigte lui egter dat Mosambiekse regeringsmagte al sowat 100 van die insypelaars in hegtenis geneem het, asook ook sowat 10 doodgeskiet het.

Nuwe nasionalistiese regering in Italië

Image

Wat waarskynlik die mees nasionalistiese regering in Italië is sedert die Tweede Wêreldoorlog, het pas die M5S-League koalisieregering o.l.v. Guiseppe Conte in  hierdie land die bewind oorgeneem. Hul uitdruklike beleid is Italië eerste, anti-EU en besliste strewe om die inname van immigrante drasties te verminder en terselfdertyd die getalle te vermeerder wat teruggestuur word. 


Hierdie verwikkeling in Italië strook met die sterk neiging in die res van Europa om nasionalisties georiënteerd te raak, die deure vir die instroming van Arabiese immigrante te sluit en uit te beweeg onder die vaandel van die EU uit. So bv. is in Slowenië tans ook 'n regsgesinde regering besig om in plek te kom, terwyl in Spanje die eerste minister wat so teen onafhanklikheid van Katalonië gekant is, Mariano Rajoy, pas onder 'n wolk van korrupsie bedank het. 

REDAKSIONELE KOMMENTAAR

Jou toets, Afrikaner!


Met die volgende kommentaar op sosiale media kan ons onsself vereenselwig:  

Die ANC wil begin onteien deur artikel 25 van die Grondwet op die b(B)oere te toets, met die proses wat reeds afgeskop het!  


Gaan die b(B)oere hulself verset? Die resep is welbekend sedert 1994:


Toets hulle met minerale regte - boere doen niks - vat dit.


• Toets hulle met waterregte - boere doen niks - vat dit.
• Toets hulle met hulle taal in skole en universiteite – b(B)oere doen niks - verwyder dit.
• Toets hulle beveiliging en verwyder die kommando's - boere doen niks - kriminele vermoording van honderde boere.
• Toets hulle besighede met SEB wetgewing - wittes doen niks - wittes eindig werkloos in plakkerskampe. 
• Toets hulle deur kwotas in sport - wittes aanvaar en doen niks - wittes gaan speel oorsee. 
• Toets hulle deur hul grond te onteien - wat gaan die b(B)oere doen? Dit ook laat gaan? 


Hoe lyk die scenario wat homself gaan uitspeel, sover dit die Boere betref? Dit is die uitdaging!

SKEP MOED!

Neem uit die verlede wat goed is 


“Neem uit die verlede wat goed is en bou daarop vir die toekoms”, word pres. Paul Kruger aangehaal. Kliek op hierdie skakel vir 'n videogreep, pas die aanhaling toe en skep moed!

Moed uit die verlede

Indien u nie die epos wil ontvang nie kan u hier uit teken
Anulus Bemarking, S39 Oranje Eggo, Orania, North Cape, 7590, South Africa, www.ditsem.net