06 Augustus 2018

  Lees die epos aanlyn

Image

AKTUELE NUUS

Swazi-koning erken Voortrekkergrond in Mpumulanga 

Image

Op 2 Augustus het ‘n afvaardiging o.l.v. die VF Plus met die Swazi koning Mswati III en sy Komitee vir die Vasstelling van Landsgrense (Commissioners on the Border Determination Special Committee) in die koninklike paleis in Lozitha in Swaziland vergader om grondgebied te bespreek wat in die 19de eeu deur die destydse koning aan Voortrekkers gegee is in ruil vir vee.

 

Hierdie grondgebied is in die huidige Mpumalanga en na afloop van die samesprekings is soos volg ooreengekom:

 

  • Die goeie verhouding wat lank reeds tussen Afrikaners en die inwoners van Swaziland bestaan, is versterk en herbevestig;
  • Afrikaners erken die koninkryk en die mense van Swaziland as die oorspronklike eienaars van onder meer die grondgebied in en om Mpumalanga;
  • Die toenmalige Swazi-koning het grond in dié gebied aan die Voortrekkers toegeken deur ooreenkomste in die jare 1800. Die huidige koning bevestig dat die grond nie gesteel was nie;
  • Die partye stem saam dat enige pogings om die patroon van grondeienaarskap van die huidige eienaars in en om Mpumalanga te verander, voorafgegaan moet word deur ʼn ooreenkoms met die Koninkryk van Swaziland soos reeds versoek is aan vorige Suid-Afrikaanse regerings.
  • Die partye stem saam om voort te gaan met gesprekvoering rakende dié aangeleentheid en sal bly streef na ʼn werkbare oplossing.

 

Die Afrikaner-afvaardiging het uit die volgende persone bestaan: Werner Weber (leier en leier van die VF Plus Mpumalanga), adv. Anton Alberts (nasionale voorsitter en LP van die VF Plus), Louis Meintjies (president TLU-SA), Jan Bosman (Afrikanerbond), Meyer de Jager (Afrikanerbond) en Wilson Ngema (Insika Yesizwe South Africa). Vir meer besonderhede, kontak Weber by 084 652 9164 of werner.l.weber@gmail.com.

Nuwe burgerregte-organisasie vir Afrikaners

Image

ToekomsVonk is 'n burgerregte-organisasie wat in September verlede jaar te Pretoria gestig is met die visie om die Afrikaner as “‘n gebroke volk / nasie te herstel na ‘n selfstandige, onafhanklike en trotse volk.” As sulks het ToekomsVonk volgens 'n mediaverklaring ten doel om “ons mense te versterk en ons kinders ‘n toekoms te gee, nie met leë beloftes nie, maar met daadwerklike programme soos werkskepping, veiligheid, onafhanklike volksplase, skole en media.”

 

Volgens hul webwerf streef ToekomsVonk die volgende waardes na: Christelike waardes / Familie- en gesinswaardes / Integriteit / Volkstrots / Morele standaarde / Respek. Die direkteure is Helga Swart (besturend), Marius Coertze, Wessel Basson, Englie Botha, Amor Gerber en Steve Hofmeyr (nie-uitvoerend).

 

Vir meer besonderhede, www.toekomsvonk.co.za, epos info@toekomsvonk.co.za of tel. 087 654 2899.

Bejaardes mishandel by Huis Davidtsz

Image

By Huis Davidtsz vir Bejaardes in die middestad van Pretoria met sy sewe verdiepings het 'n aaklige krisis ontstaan toe swart personeel weens loongeskille gestaak het en uit intimidasie selfs ontlasting in die kamers en gange uitgegooi het. Vrywilligers wat wou help en kinders wat hul ouers wou ontruim, is toegang tot die gebou geweier.

 

Uiteindelik het Solidariteit Helpende Hand ʼn dringende hofbevel gekry en na verdere onderhandelings het lede van Helpende Hand, die VF Plus en die Boerelegioen toegang tot die tehuis verkry en die gemors begin opruim. Vir verhongerde bejaardes is kos voorsien en is in die proses hulp verleen aan inwoners ongeag velkleur.

VVK nuwe verkiesingsdatum

Image

Die Volksraadverkiesingkommissie (VVK) het bekendgemaak dat weens verslegtende landsomstandighede besluit is om die datum vir die verkiesing van die volgende Volksraad uit te stel vanaf 13 Oktober na 23-24 November 2018.

 

In die lig hiervan sê die VVK in 'n mediaverklaring: “Dit is noodsaakliker as ooit dat elke volksgenoot met inligting oor die komende Volksraadsverkiesing bereik moet word en tydige geleentheid ontvang om daaraan deel te neem; hetsy as kandidaat of as kieser. Gevolglik is besluit om die Volksraadverkiesing uit te stel na 23-24 November en die proses om kandidate te nomineer te verleng tot en met Saterdag, 15 September 2018.”

 

Vir meer besonderhede: 083 538 8777 / 012 803 0712 / 079 740 7214 / chantal.kruger@vvk.co.za / www.vvk.co.za

LUR Lesufi teister Afrikaanse skole

Image

Nieteenstaande die uitsprake van die Hooggeregshof in die Hoërskool Overvaal-saak in Januarie vanjaar en die uitspraak van die Grondwethof 26 Julie het die Gauteng LUR vir Onderwys Panyaza Lesufi hom nie daarby neergelê nie en het hy voortgegaan om nuwe regulasies te publiseer wat duidelik daarop gemik is om van Afrikaans in skole en Afrikaanse enkelmedium-skole ontslae te raak. Hierdie nuwe regulasies behels dat geen skool sogenaamd onregverdig sal kan diskrimineer op grond van o.m. ras, taal, etnisiteit, oorsprong, kultuur, ouderdom en geloof nie.

 

In reaksie op hierdie regulasies sê die VF Plus Gauteng in 'n mediaverklaring: “Lesufi se nuwe regulasies is niks anders as ‘n heksejag teen Afrikaanse leerders en skole nie. Hy sal uit sy pad uit gaan om sy nuwe mag as ANC-ondervoorsitter in Gauteng te gebruik om sy politieke agenda op vredeliewende, nie-rassige, nie-haatdraende, hardwerkende skole af te dwing.

 

“Afrikaanse kinders het die grondwetlike reg om in hul eie moedertaal onderrig te word. Artikel 29 van die Grondwet is baie duidelik daaroor. Die LUR is magsbehep en sy nuwe amp in die ANC het hom skoon magsdronk gemaak. Hy sal nie skroom om die oënskynlike haat wat hy teen Afrikaans en Afrikaanse skole dra, uit te druk in wetgewing nie.

 

“Die VF Plus doen ‘n beroep op Afrikaanse skole en ouers om hul voorleggings, ingevolge die voorgestelde nuwe regulasies, binne die volgende sewe dae te stuur aan: pvanstaden@gpl.gov.za of na help@vfplus.org.za. Lesufi het net 30 dae beskikbaar gestel vir voorstelle.”

Grootste werkloosheid in Vrystaat

Image

Volgens die jongste kwartaallikse indiensnameverslag van Stats SA het die  werkloosheidspersentasie in die Vrystaat met 1.6 % vir opeenvolgende kwartale toegeneem - die hoogste van al die provinsies. Werkloosheid in dié provinsie het van 32.8% in die eerste kwartaal vanjaar tot 34.4% in die tweede kwartaal toegeneem en het 26 000 werksgeleenthede verlore gegaan.

 

Werksgeleenthede net in die Vrystaatse landbousektor het met 22.3% afgeneem – 'n aanduiding van die negatiewe reaksie van kommersiële boere op die grondgryp planne van die ANC-regering. Die Vrystaat is saam met Noordwes die twee provinsies wat die ergste die afgelope nege jaar onder korrupte premiers en hul staatskaping deurgeloop het.

Hof verplig SAPD oor MK-inligting

Image

Die Noord-Gautengse hooggeregshof het die SAPD in ʼn dringende interdik aangevra deur Solidariteit met koste beveel om alle inligting rakende die voormalige NSF-lede (Non-Statutory Forces), wat MK- en Apla-lede insluit en wat die SAPD deur ʼn geheime menshulpbronprojek wil bevorder, bloot te lê. Die hof het voorts 'n moratorium geplaas op die bevordering van voormalige NSF-lede.   Dit behels dat die SAPD nou alle relevante inligting binne 60 dae aan Solidariteit moet verskaf, terwyl alle bevorderings i.v.m. die NSF-projek gestaak word sonder dat die normale bevordering van ander Polisielede geraak word. Volgens Solidariteit wou  die SAPD onregmatig voortgaan met die bevordering van NSF-lede selfs ondanks ʼn vorige beperkende hofuitspraak. Solidariteit sê dat die ongrondwetlike bevordering van 628 MK-lede en die uitsluiting van 150 000 ander professionele SAPD-lede ter sprake was. “Dié interdik is ʼn groot deurbraak in ons geveg om duisende professionele, loopbaangedrewe SAPD-lede te beskerm teen dié onwettige en diskriminerende projek wat hul toekoms in die wiele sou ry,” aldus Solidariteit.

Terreur in die Wes-Kaap

Image

Die grootskaalse vernietiging van infrastruktuur in die Wes-Kaap en onophoudelike gewelddadige betogings dui daarop dat 'n georkestreerde en doelgerigte terreurveldtog gevoer word om die DA-beheerde Wes-Kaap onregeerbaar te maak. In die eerste plek is daar die aanhoudende aan die brand steek van passasierswaens van Metrorail – slegs vanjaar sover bekend reeds meer as 20 waens uitgebrand of ernstig beskadig teen 'n verlies van sowat R500 miljoen. 

 

Dit is onbekend presies watter effek dit op die besigheidsvloei van Metrorail het nie, maar feitelik heers daar tans ongebreidelde anargie op die Kaapse voorstedelike vervoerstelsel met waens wat aan die brand gesteek word, misdaad wat op treine floreer, infrastruktuur wat in duie stort en feitlik geen sprake meer is van betroubare tydroosters nie. Wat wel bekend is, is dat Metrorail vanaf Oktober 2016 tot Oktober 2017 reeds ʼn derde van sy passasiers verloor het - van 15,4 miljoen tot 10,9 miljoen.

 

Tweedens, is daar gedurende die afgelope wintervakansie in die Wes-Kaap 'n totaal van 27 skole deur opsetlike brandstigting in meerdere of mindere mate beskadig, teen 'n skade van baie miljoene rand. Derdens is daar op talle plekke voortdurende gewelddadige betogings oor dienslewering en grond vir behuising, soos bv. te Hermanus, waar die Polisie sukkel om die losbreek van anargie onder bedwang te hou.

 

Daar is op sosiale media en ook in sekere hoofstroommedia redelike eenstemmigheid dat in aldrie bogenoemde opsigte daar goedgeorganiseerde en doelgerigte beplanning en optrede betrokke is, dat dit so ernstig van aard is dat dit nie anders geklassifiseer kan word as terreur nie en dat die oorhoofse doel is destabilisering van die Wes-Kaap as gemeenskap, die provinsiale regering en die Kaapstadse Metro.   

658 Polisiedossiere sedert 2013 vermis

Image

'n Selfverduidelikende mediaverklaring van die VF Plus lui soos volg: “In wat dui op grootskaalse korrupsie het altesame 658 Polisiedossiere sedert 2013 van SAPD-speurtakke regoor die land vermis geraak, terwyl net agt persone, van wie vyf Polisielede, aangekla en vervolg is. Dit beteken rofweg dat 650 dossiere sonder enige nagevolge verdwyn het.

 

“Dit is inligting wat blyk uit antwoorde op geskrewe vrae aan Minister van Polisie Bheki Cele. Dit blyk voorts dat die Wes-Kaap met 229 vermiste dossiere verreweg die grootste oortreder is. Tweede op die lys is Gauteng met 128, dan KZN met 118, die Vrystaat met 97 en die Noord-Kaap met 54. In Limpopo het nie een dossier vermis geraak sedert 2013 nie, in Noordwes slegs vier, in Mpumalanga agt en in die Oos-Kaap 20.

 

“Wat opval is die groot hoeveelheid dossiere wat binne ʼn enkele jaar op sommige plekke verlore geraak het. In die eerste vier maande vanjaar het 44 dossiere by die Mothibistad-speurtak in die Noord-Kaap verdwyn. In 2014 het 57 by Nyanga se speurtak (Wes-Kaap) verdwyn,  in 2016 55 by die Newcastle-speurtak (KZN), in 2013 78 by die Tembisa-speurtak (Gauteng) en in 2016 41 by die Winburg-speurtak in die Vrystaat.”

SAKP buig nie voor Zoeloekoning nie

Image

Terwyl pres. Cyril Ramaphosa aan Zoeloekoning Goodwill Zwelithini die versekering gegee het dat sy ongeveer 2,8 miljoen ha grond in naam van die Ingonyama Trust vry van grondgryp is, het die SAKP aangekondig dat hul gaan aandring op die ontbinding van die Trust en dat dit vervang moet word deur ‘n gemeenskaplike grondeienaarstelsel. Dit skep ook 'n presedent vir ander tradisionele stamgronde in die land, wat tans sowat 13% van die oppervlakte van SA beslaan.

 

Dit skep 'n netelige politieke probleem in die sin dat die anti- Ramaphosa groepering binne die ANC dit kan aangryp om verdere interne verdeeldheid te skep.

SAKENUUS

Kitskosbedryf floreer

Image

Volgens die Franchise Association of South Africa (Fasa) floreer die kitskosbedryf in SA van krag tot krag en beslaan dit tans 29% van die omset van alle franchises of bedryfsregte in die land. Die omset van die bedryfsregsektor in die land word tans gestel op sowat R587 miljard – ongeveer 13,3% van die BNP.

 

Vyf faktore wat hoofsaaklik verantwoordelik is vir die stelselmatige groei van die kitskosbedryf, is toenemende publieke ingesteldheid op gesonde kos en die positiewe reaksie van die sektor hierop, die spoed van aflewering, gratis aflewering en hoë intensiteit met maandeindes.

Toenemende gebruik van hommeltuie in besigheid

Image

 Hommeltuie, oftewel drones, word al meer in besigheid aangewend, veral in die buiteland, maar ook in Suid-Afrika, soos blyk uit 'n onlangse studie getiteld Safety & Security Drones Study deur die navorsingsinstansie ReportLinker. Volgens die verslag beloop die verkope van veiligheidshommeltuie vir die sekuriteitsbedryf wêreldwyd sowat $145 miljoen, oftewel R2,175 miljard – en wys terselfdertyd daarop dat die sekuriteitsbedryf slegs 'n klein segment van die groter hommeltuigbedryf uitmaak.

 

Dit is veral polisiedienste, metrodienste, staatsondernemings en groot private korporasies wat toenemend hommeltuie gebruik vir 'n groot  verskeidenheid van doeleindes. Tesame hiermee is daar onderhoudskoste, opgradering en ontleding van data wat tot die omset in die bedryf bydra. Hoewel daar in alle lande ook wetgewing in plek is om die bedryf van hommeltuie te reguleer, het die funksies van hommeltuie i.t.v. afstandsbeheer so gesofistikeerd geraak dat dit feitlik onvervangbaar geraak het.

 

Vir meer inligting oor hommeltuie, kan hierdie skakel gevolg word.   

Mondi papiermaatskappy van krag tot krag

Image

Met die bekendmaking van die syfers van die papiermaatskappy Mondi vir die afgelope halfjaar, blyk dit dat die maatskappy, wat genoteer is op sowel die JSE as die Londense aandelebeurs kapitaalbesteding gedoen het van meer as €750 miljoen oftewel R2,25 triljard. Dit sluit in modernisering van sy fabrieke vir verpakkingsmateriaal in verskeie lande soos Suid-Afrika, Rusland, die Tsjeggiese Republiek en Slowakye.

 

Mondi het ook in Junie vanjaar 'n papier- en pulpmeule in Finland vir €363 miljoen of R5,62 triljard gekoop, asook 'n fabriek in Egipte vir €25 miljoen of R3,88 miljard. Mondi het 'n kredietgradering by Standard & Poor van BBB+, met 'n stabiele vooruitsig.

INTERNASIONAAL

Zim-verkiesing steeds in weegskaal  

Image

Ondanks ooglopende beste pogings van die Zanu-PF regering van pres. Emmerson Mnangagwa om 'n vrye en regverdige verkiesing in die land te hou en dat die verkiesing op 30 Julie 2018 vreedsaam verloop het, het daaropvolgende gebeure die noue uitslag van die verkiesing in die weegskaal van geloofwaardigheid geplaas. Daar is gestem vir 21 presidensiële kandidate, 21 lede van die parlement en 9 000 munisipale raadslede.

 

Met 'n stempersentasie van sowat 75 % is in die presidensiële wedloop Mnangagwa met 50,8% van die stemtotaal as wenner verklaar deur die Zimbabwe Electoral Commission (ZEC), met die leier van die MDC Nelson Chamisa tweede met 44,3%. Chamisa en sy ondersteuners het onmiddellik verklaar dat die uitslae gekook is en is sy nuuskonferensie deur regeringsoldate ontwrig met joernaliste wat in alle rigtings moes spat. Later is tydens 'n MDC-optog in Harare 15 mense deur soldate doodgeskiet.

 

Hoewel internasionale waarnemers nie veel klagte oor die verkiesingsuitslag geopper het nie, het die VSA gevra vir volle detail van die stemtellery alvorens kommentaar gelewer word.

REDAKSIONELE KOMMENTAAR

Duidelikheid oor begrippe vir die Afrikaner


In die huidige vuurwarm debat oor die toekoms van die Afrikaner, is dit nodig om na die basiese terug te keer en duidelikheid te kry oor die volgende aktuele begrippe:

  • Soewereiniteit is nie deelbaar nie. Soewereiniteit in die volkereg beteken staatkundige / politieke onafhanklikheid. Binne erkende landsgrense kan daar net een soewereiniteit wees, gesetel in die verkose sentrale regering. So bv., hoewel die Amerikaanse deelstaat Kalifornië die sewende grootste ekonomie ter wêreld het, is dit nie soewerein nie – dié berus by die Amerikaanse federale regering. Onder sekere omstandighede kan ‘n gedeelte van ‘n land of staat wel afskei, soos bv. Suid-Soedan van Soedan en indien dan aan bepaalde vereistes voldoen word, word ‘n splinternuwe staat gevorm met sy eie soewereiniteit – terwyl die moederstaat sy/haar eie soewereiniteit behou.

  • Die term selfbeskikking is nie altyd duidelik omlyn nie, maar verwys meesal na ‘n volk om seggenskap oor homself te hê – dus eintlik word bedoel verwesenliking van eie soewereiniteit. Daaraan gekoppel is die term vryheid – in hoogste vorm behels dit die situasie waar ‘n volk op eie grondgebied demokraties oor sy eie lot beslis – dus weereens verwesenliking van soewereiniteit.

  • Vryheid is in die gene van die Afrikaner. Dit word bewys uit sy geskiedenis. In die boek Offerland van FA Venter word verhaal dat die dag toe die Voortrekkers opgepak het om terug oor die Drakensberge weer die binneland in te trek, het die karakter Meester as meereisende onderwyser, voor die klas gestaan en die swartbord skoongevee. Hy draai toe om na die kinders en sê vir hulle: “Vergeet alles wat ek julle ooit geleer het. Onthou net hierdie een ding.” Hy draai toe na die bord en skryf daarop in groot letters: “Vryheid”.

  • Die konsep van volk. Uit die Woord is dit duidelik dat bepaalde samelewingsverbande die wil van God is – huwelike tussen man en vrou, gesinne met ouers en kinders, families met voorgeslagte en volke volgens hul geskape etnisiteite. Hieruit kry ook die Afrikaner as volk sy beslag – ‘n konsep wat egter in ons dag deur die Bose so ver as moontlik afgetakel word. Daarom is dit nodig, meer as ooit, dat die Afrikaner weer sy volkskap ontdek, daarvan eienaarskap neem en dit met trots uitdra. Dit het niks met diskriminasie te doen nie, maar is bloot erkenning van die geskape werklikheid. Ander etnisiteite word gerespekteer en terwyl elkeen sy plek in die son gegun word, eis die Afrikaner ook syne op.

  • In die lig van die voorafgaande is dit duidelik dat daar vandag 'n skeidslyn loop deur die Afrikaner as volk: Aan die een kant diegene wat steeds glo hul heil en toekoms lê in die groot bont sg. “reënboog” Suid-Afrika. Dit is egter die SA wat vandag lyk soos dit lyk. Aan die ander kant is daar diegene wat glo dat selfbeskikking, uiteindelik in ‘n soewereine, selfstandige en volhoubare Afrikanerstaat die enigste opsie is vir oorlewing en uitlewing van Afrikanervolkskap. Vir hierdie doel sal daar noodwendig op regmatige grondgebied gekonsolideer en uitgebou moet word – laertrek as jy wil.

  • Onverklaarde burgeroorlog. Sedert 1994 is in SA regstellende aksie, swart ekonomiese bemagtiging, kwotas, plaasmoorde, terroristiese aanvalle, ‘n hemelhoë stapel diskriminerende wetgewing om die swart meerderheid teen die blanke minderheid te beskerm, niks anders as onverklaarde burgeroorlog teen blankes / die Afrikaner nie. Dít gesien tesame met toenemende swart politieke radikalisme, ongelooflike korrupsie en die verval van infrastruktuur tot menslik-gesproke onredbaar – wie sien nog in die huidige SA ‘n rooskleurige toekoms vir die Afrikaner?

  • Wat grond betref, is, eerstens grondgryp gronddiefstal. Punt. Daarmee saam moet egter realisties besef word dat vir sy voortbestaan as volk, die Afrikaner êrens op een stuk grondgebied sal moet konsolideer. Dít kan verkry word uit onderhandeling met die regering van die dag, met dien verstande dat die Afrikaner ‘n onvervreembare reg het op ‘n gedeelte van SA as hul vaderland. In hierdie opsig leen die Noordwes-Kaap onder die omstandighede sigself die beste.

  • Emigrasie is nie die antwoord nie. Die Afrikaner het geskiedkundig, juridies en prakties ‘n onvervreembare reg op SA of dan ‘n gedeelte daarvan as hul vaderland. Daarby is daar emigrasie sonder prysgawe van volkskap nie. Hoekom regeer die ANC vandag oor die Afrikaner? Net een rede: Getalsoorwig. Hulle is nie beter nie en verdien dit nie op meriete nie. Die ANC is Godloos, korrup tot in die kern en in wese terroristies. Volgens die Woord sal die goddelose nie wen nie, maar wel die gelowiges. Dus hoekom padgee uit SA?

Om saam te vat, die Afrikaner is huidig by ‘n kruispad soos nog nooit in sy geskiedenis nie. Wat dit betref, is uit die voorafgaande die vraag eenvoudig: Is daar ‘n beter keuse as konsolidasie en ontwikkeling te Orania en omliggende gebied tot ‘n soewereine, vrye, suksesvolle en volhoubare volkstaat?   

 

So ‘n volkstaat is moontlik indien dit in geloof gegrond word op al die beloftes in Gods Woord, een waarvan vervat is in Jesaja 43:18-19: Dink nie aan die vorige dinge nie, en slaan geen ag op wat vroeër gebeur het nie. Kyk, Ek gaan iets nuuts maak; nou sal dit uitspruit; sal julle dit nie merk nie? Ja, Ek maak ’n pad in die woestyn, riviere in die wildernis.  

SKEP MOED!

Die Duitse vrou wat opgestaan het

By hierdie videogreep is die getuienis van 'n Duitse vrou wat opgestaan het teen Islam in dieselfde katedraal waar Martin Luther sowat 501 jaar gelede sy stand gemaak het om sodoende die Hervorming en die Industriële Rewolusie van stapel te gestuur het. Deur te luister na hierdie getuienis kan die Afrikaner ook moed skep om op te staan vir reg en geregtigheid in die Suid-Afrika van vandag. 

KYK VIDEO

Indien u nie die epos wil ontvang nie kan u hier uit teken
Ditsem Nuus, Oranje Eggo S39, Orania, Noord-Kaap, 8752, South Africa, www.ditsem.net