07 September 2018

  Lees die epos aanlyn

Image

AKTUELE NUUS

Slae vir Afriforum in Parlementêre debat oor grond

Image

Die vonke het gister behoorlik gespat in die Parlement toe verdere mondelinge voorleggings deur instansies gemaak is voor die Hersieningskomitee oor moontlike wysiging van die Grondwet vir onteiening van grond sonder vergoeding. Dit was toe Ernst Roets van AfriForum sy inset gelewer het, met die reaksie van politieke partye daarop ‘n absolute openbaring’


Wat gebeur het, is uitstekend verwoord in ‘n mediaverklaring deur Front Nasionaal, wat vervolgens in  verkorte vorm aangehaal word:

“In dieselfde ou Volksraadsaal waar dr. Verwoerd gister 52 jaar gelede vermoor is, het Ernst Roets van AfriForum ʼn sterk bewoorde, met bewyse voorlegging gedoen. Hy het die Kommunistiese agenda van die ANC/EFF uitgewys, beklemtoon dat grond nooit deur wittes gesteel is nie, maar deur ooreenkomste en verdrae en besetting van onbenutte grond bekom is en uiteindelik heeltemal korrek daarop gewys dat Parlementslede dronk is van ideologie wat geskoei is op rassehaat. “Die ANC het onmiddellik reageer deur Roets daarvan te beskuldig dat hy swartes haat en dat sy haat vir die ANC en EFF sy denke oorheers. Dis maar die geykte ou retoriek van 25 jaar – “Julle haat ons omdat ons swart is, sies, julle rassiste!” Roets is verder van arrogansie beskuldig.

 

“ Die UDM het gesê dat AfriForum die land na ‘n staat van oorlog wil neem en dat blankes die harte van swartes verhard. Hulle sê dat hulle na die voorlegging oorweeg om die ANC en EFF te steun in die onteieningsplan. “Die IVP het heftig op Ernst Roets se voorlegging reageer en gesê dat dit berus op woede eerder as feite. Daarna het die IVP uitgestap. “Die EFF het, tipies, teruggeval op geykte retoriek oor gesteelde grond en vermoorde swartes en gesê dat hulle gereed is vir oorlog as Afrikanerrassiste uit Pretoria dit wil hê.  Van Cope wat die afgelope maande na blanke stemme vry in ʼn pragmatiese politieke foefie, sou steun vir Roets se voorlegging verwag kon word. Die beste waarmee hulle egter kon kom,  was: ‘Het jy enige ander oplossing om aan die hand te doen as onteiening?’

“ Die DA het gewoon gesê dat hulle hulself van die voorlegging distansieer, wat nie verbasend  is nie, want dit is mos nie in pas met hulle nuwe beleid om ‘wit bevoorregting’ te beveg nie.

 “Die ACDP was die mees uitgesproke teen Roets se voorlegging. Hulle sê wat Roets daar gesê het, is nie ’n positiewe bydrae tot nasiebou nie en getuig van arrogansie.

“ Die VF Plus het aangedui dat hulle niks wil sê nie. Wat ʼn skitterende geleentheid is  daardeur verpas om Roets te steun, die feite wat hy genoem het te bekragtig en te sê: Ons staan hier vir ons witmense se belange.

 

“Dit laat ʼn mens  skaam kry! Ernst Roets en die Afrikanerdom is gister openlik verraai deur dieselfde mense wat voorgee om hulle politieke beskermers te wees “Front Nasionaal sê: Roets het kaalkop die waarheid gepraat en ons stem saam met hom.: Gister het vir ons opnuut gewys dat die Parlement vol nuttelose partye is en dat  niks gaan verander so lank as wat hulle daar sit nie.

 

“Stem vir selfbeskikking sodat ons by daardie Parlement kan instap, die onaangename deel kan afhandel en daar uitstap vir altyd. Dis al wat vir ons kan werk.”

Orania ook mondelinge voorlegging oor onteiening

Image

Die Orania Beweging het namens Orania op 5 September 2018 ook mondelinge getuienis voor die Parlementêre Hersieningskomitee gelewer oor moontlike wysigings m.b.t. onteiening sonder vergoeding. Dit volg op 'n vroeëre skriftelike voorlegging. 

 

Volgens die mondelingse getuienis, wat deur die president van die Orania Beweging Carel Boshoff gelewer is, kom standpunte ten gunste van onteiening sonder vergoeding “neer op die drastiese miskenning van ’n volk wat in die loop van meer as drie eeue in Suider Afrika ontstaan het en baan dit die weg vir vyandige optrede en haatmisdaad deur bevolkingsdele wat hulself as die ‘ware Afrikane’ beskou.”

 

Die getuienis van Boshoff lui verder o.m.: “Hierdie spiraal van onverdraagsaamheid en konflik kan egter gebreek word deur te aanvaar dat Afrikaners ’n permanente deel van die breër samelewing is en dus billike toegang tot grond verdien. Nie net artikel 25 van die SA Grondwet nie, maar ook artikel 235 wat vir selfbeskikking voorsiening maak, sowel as die destydse Minister van Staatkundige Ontwikkeling Mohammed Vali Moosa se verklaring dat ’n landstreek tussen die Oranjerivier en die Weskus as Heimat vir die Afrikaner kan dien, kan die huidige skaakmatsituasie help ontknoop.”

Agri SA praat met die ANC

Image

Die topbestuur van Agri SA o.l.v. president Dan Kriek en uitvoerende hoof Omri van Zyl vergader vanoggend met die topses van die ANC oor “beste oplossing vir grondhervorming” in die  Riverside lokaal, Leriba Lodge, Centurion. Dit is te midde van fel kritiek uit behoudende landbougeledere dat gegee die reeds verklaarde voorneme van die ANC en wat hul korrupte baanrekord is, daar niks konstruktief uit 'n sg. gesamentlike oplossing kan kom nie en dat die hele geval inderwaarheid na 'n nuwe “kodesa-uitverkoop” ruik.

 

Dit volg op die skerp kritiek wat Agri SA gehad het op die veldtog van AfriForum teen plaasmoorde en grondonteiening sonder vergoeding en AfriForum van destabilisering beskuldig het. Agri SA het gevolglik self met ambassadeurs van Westerse lande in SA gesprek gevoer en klaarblyklik 'n repudiërende boodskap t.o.v. AfriForum oorgedra, sonder om name te noem.

Privaatwetsontwerp oor vuurwapens

Image

Die privaatwetsontwerp van die leier van die VF Plus dr. Pieter Groenewald, wat sekere wysigings voorstel aan die bestaande Wet op Vuurwapenbeheer wat die hernuwing van vuurwapenlisensies sal reguleer, is gister in die Staatskoerant gepubliseer. Die wetsontwerp is ingedien om oplossings te bring ná die omstredenheid en onsekerheid wat geskep is met die uitspraak van die Grondwethof oor die geldigheid van die  hernuwing van vuurwapenlisensies.

 

Volgens Groenewald is daar net een uitweg om die probleem op te los en dit is om die wet só te wysig dat vuurwapeneienaars ‘n billike geleentheid gebied word om hul lisensies te hernu selfs nadat die lisensie verval het en dit sonder om die eiendomsreg op hul vuurwapens te verloor. Hy sê dit is onaanvaarbaar dat eienaars hul vuurwapens verloor bloot weens ‘n administratiewe oorsig wat reggestel kan word deur ʼn boete te betaal en die lisensies te hernu - die doel van die wetsontwerp is om dit reg te stel.

Stryd met Lesufi oor skole woed voort 

Image

Panyaza Lesufi, die omstrede Gautengse LUR vir onderwys, het sy veldtog teen skole met effektiewe beheerliggame voortgesit nadat hy 'n hofloesing in die Overvaal-saak op die lyf geloop het. Sy voorgestelde wysigings aan die toelatingsregulasies van leerlinge by Gautengse skole is op 30 Julie 2018 in die Staatskoerant gepubliseer en word gesien as bloot ‘n manier om die Overvaal-uitspraak te omseil en sy transformasieagenda verder te voer. 


In reaksie hierop beywer  die Skoleondersteuningsentrum (SOS), Solidariteit en AfriForum hulle om duisende bekommerde ouers, onderwysers en lede van die publiek teen die regulasies te mobiliseer. Indien dié regulasies ingestel word, sal ouers nie meer kan kies in watter skool hulle hul kinders wil plaas nie. Ná die aanlyn-aansoekproses sal die LUR vir onderwys (Lesufi) alleen kan besluit watter kind in watter skool sal wees.


Skole sal dus nie meer kan aandui hoeveel kinders hulle kan akkommodeer nie en sal die funksie na die LUR vir onderwys oorgaan. Beheerliggame kon voorheen die kapasiteit bepaal en daarvolgens werk, maar die nuwe regulasies stel Lesufi in staat om skole te dwing om leerlinge in te neem, ongeag of daar kapasiteit is of nie. Voorts sal in praktyk alle skole dan uiteindelik enkelmediumskole met Engels as onderrigtaal word. Beheerliggame se besluitnemingsmag oor skole se taalbeleid word hierdeur effektiewelik weggeneem.

 

Inmiddels het die VF Plus ‘n klag rakende minagting van die Grondwet ingedien by die Integriteitskommissaris van die Gautengse Wetgewer teen LUR vir Onderwys Lesufi. Die klag, wat 389 bladsye beslaan, dui aan hoe Lesufi in die tydperk van 2014 tot 2018, Artikel 29 van die Grondwet verbreek en geminag het. Hy is ook aangekla in terme van Artikel 135 van die Grondwet, gelees saam met Bylae 2, Artikel 5.  

Omvangryke aftree-oord vir Orania

Image

Planne is in 'n gevorderde stadium om die bestaande Karoosig Huis vir Bejaardes in Orania op te gradeer en dan met 'n splinternuwe ontwikkeling oorkant die straat uit te brei na die Karoosig Aftree-oord met kapasiteit vir sowat 350 bejaardes. Die terrein vir die nuwe ontwikkeling aangrensend aan Smaragstraat is reeds geoormerk en opgemeet.

 

Die nuwe ontwikkeling word beplan om te bestaan uit 68 meenthuise, 36 woonstelle, 66 enkelkamers en 25 dubbelkamers, almal waarvan te koop aangebied sal word. Elke wooneenheid word ook beplan met sy eie uitgang en toegang tot grasperk en tuine.  

 

Ingesluit by die beplanning van die kompleks, is 'n versorgingseenheid met 34 kamers, 'n eetsaal met industriële kombuis, sentrumsaal, biblioteek, kapel, lapa met braaiplek, wandellaan, rolbalbaan, voëlparkie en voldoende onderdak parkering vir inwoners sowel as parkering vir besoekers.

 

Die oord sal bedien word deur opgeleide mediese en versorgingspersoneel, terwyl interne sowel as eksterne veiligheid van die oord topprioriteit is. Die terrein van die oord is ook aangrensend aan die perseel van die moderne veiligheidsentrum van AfriForum wat tans in aanbou is.

 

Vir meer besonderhede insake, kan Bianca Beyers gekontak word by 084 815 5051 of beponds@icloud.com.

Inteken op DitsemBlits maklik en vinnig

Image

Vir inteken op DitsemBlits d.m.v. PayFast is dit maklik en vinnig - letterlik net die druk van 'n paar knoppies en dan is jy ingeteken @ slegs R240 per jaar – kliek hier daarvoor.

 

DitsemBlits as elektroniese nuuspakket bestaan uit daaglikse Nuushooftrekke en 'n weeklikse Nuusbulletin - alles gefokus op nuus wat saakmaak vir die Afrikaner van vandag, veral in die kritieke tye waarin ons leef.

SAKENUUS

Nova: Markleier in verkoeling en spysenierstoerusting

Image

Gebaseer op ‘n baanrekord van 22 jaar is Nova Refrigeration van OR Tambostraat 186 (voorheen Kerkstraat), Oranjesig, Bloemfontein, vandag ‘n markleier in kommersiële verkoeling en verskaffing van spysenierstoerusting in sentraal-Suid-Afrika en selfs wyer. Die besigheid is in 1996 deur Pieter le Roux gestig en sedertdien het dit stelselmatig gegroei tot waar dit tans die volgende lewer:

  • Verskaffing en installering van nuwe kommersiële verkoelingstoerusting
  • Verskaffing en installering van kommersiële vrieskaste, glydeur-yskaste en eiland- en jumbovrieskaste
  • Verskaffing en installering van koel- en vrieskamers
  • Opgradering van toerusting vir winkelsentrums
  • Onderhoud en diens van alle kommersiële verkoeling
  • Verskaffing van verskeidenheid van spysenierstoerusting

 

Volgens Le Roux spesialiseer Nova in koste- en energiedoeltreffende toerusting, terwyl hulle ook 'n hoë premie plaas op omgewingsvriendelikheid. By die vertoonlokaal van Nova Refrigeration te OR Tambostraat 186 kan van hul produkte eerstehands besigtig word, terwyl hul uitstekende webwerf by www.nova-refrigeration.co.za ook volle besonderhede met foto’s verskaf. Die telefoonnommer is 051 030 0072 (ure) of 082 553 7072 (alle ure).   

INTERNATIONAAL

Swede verkiesing Sondag

Image

Komende Sondag is algemene verkiesing in Swede, met die verwagting dat die anti-immigrante en anti-EU Sweedse Demokrate (SD) onder leiding van Jimmie Akesson hul steun van 13% na 20% gaan vergroot, ten koste van die regerende Christen Demokrate van premier Stefan Löfven. Die ander prominente partye soos die Senter Party en die Liberale Party sal na verwagting nie genoeg steun trek om 'n sterk koalisieregering te kan vorm nie.

 

Die uitslag van die verkiesing word gesien as 'n belangrike barometer van hoe sterk die nasionalistiese winde in Europa waai.

Trump stel konserwatiewe regter aan

Image

Pres. Donald Trump het 'n hoogs betekenisvolle stap geneem deur bekende konserwatiewe regter Brett Kavanaugh te genomineer het om die plek van uittredende regter Anthony Kennedy in die Amerikaanse hooggeregshof in te neem. Evangeliese Christene is hieroor opgewonde omdat Trump 'n verkiesingsbelofte gestand gedoen het om meer behoudende regspraak t.o.v. maatskaplike kwessies terug te bring.

 

Die nominasie van Kavanaugh dien tans voor die Senaat, met Demokrate en liberale politici wat die nominasie hewiglik teenstaan. 

REDAKSIONELE KOMMENTAAR

Die lot is gewerp


Met die feitlike en op die man af voorlegging van Ernst Roets van AfriForum in die Parlement gister 6 September en die reaksie daarop – presies 52 jaar nadat dr. HF Verwoerd in dieselfde lokaal vermoor is en die geskiedenis van Suid-Afrika verander is soos nog nooit nie -  is die teerling vir die Afrikaner gewerp. Die lyn is getrek: Die Afrikaner het nie grond gesteel nie, glo in eiendomsreg en is bereid om te veg vir sy eiendom.

 

Ons sluk nie die groot leuen nie en as teen ons opgestel word al die politieke partye in die Parlement plus al die Afrikaner-oorlopers en meelopers, dan is ons reg vir julle. Ons soek nie baklei nie, maar as julle ons dwing, gaan ons ons verdedig – tot oorwinning toe

SKEP MOED!

Is jy ook 'n stryder?


Soet is die stryd van die stryder,

selfs al moet hy verloor.
Maar hy wat op sy staan en sy aandeel weier,
dit is die man wat sy volk vermoor 

- ID du Plessis



Indien u nie die epos wil ontvang nie kan u hier uit teken
Ditsem Nuus, Oranje Eggo S39, Orania, Noord-Kaap, 8752, South Africa, www.ditsem.net