14 Junie 2018

  Lees die epos aanlyn

Image

AKTUELE NUUS

Grootskaalse verwarring oor vuurwapens

Image

Grootskaalse verwarring heers steeds oor die wettigheid van vuurwapeneienaars om hul vuurwapens in hul besit te hê, nadat die Grondwethof op 7 Junie 2018 'n uitspraak van die Gauteng-Noord hooggeregshof van Julie 2017 ter syde gestel het dat artikels 24 en 28 van die Vuurwapenbeheerwet ongrondwetlik is en dat alle vuurwapenlisensies wat verval het of binnekort verval, geldig sal wees totdat die Grondwethof die betrokke artikels hersien het. Die Parlement is ook 18 maande gegun om die wet te wysig om aan grondwetlike vereistes te voldoen.

 

Die uitspraak van die Grondwethof beteken egter nou dat vuurwapeneienaars wat nie betyds aansoek gedoen het om hul wapenlisensies te hernu nie, hul vuurwapens by die SAPD moet inhandig en aansoek doen vir vergoeding. Indien dit nie gedoen word nie, kan hulle vervolg word vir die besit van ʼn onwettige vuurwapen en kan tot 15 jaar tronkstraf gevonnis word.

 

Die SA Jagters-en-Wildbewaringsvereniging (SA Jagters) sê volgens hul rekords het die lisensies van ongeveer 300 000 vuurwapeneienaars verval en heers daar nou chaos. Die SAPD kan nou optree teen persone wie se lisensies verval het, maar in sy uitspraak het die regter gesê hy kan hom nie indink dat die Polisie nou sal optree teen vuurwapeneienaars wat hulle wapens gaan inhandig nie, hoewel niks die Polisie verhoed om dit wel te doen nie.

 

Ingevolge die Vuurwapenbeheerwet het elke wapenlisensie ʼn beperkte leeftyd en moet wapeneienaars binne 90 dae voordat ʼn lisensie verval, aansoek doen om hernuwing. Met die instelling van die nuwe Vuurwapenwet moes duisende vuurwapeneienaars tussen 2006 en 2009 aansoek doen om hul lisensies te hernu en sou diegene wat nie voor die spertyd aansoek gedoen het nie, hul lisensies verbeur. Daar is toe tussen 2011 en 2016 weer tyd gegee om aansoek te doen, maar Khomotso Phahlane, destydse Kommissaris van Polisie, het vroeg in 2016 aangekondig dat aansoeke sluit en dat diegene wat nog nie hul lisensies hernu het nie, hul wapens by die Polisie moes inhandig.

 

Gevolglik het SA Jagters hom tot die Grondwethof gewend en aangevoer dele van die Vuurwapenbeheerwet is irrasioneel, vaag en skend persone se grondwetlike regte op die beskerming van eiendom. SA Jagters het ook aangevoer die spertyd van 90 dae is nie voldoende nie en dat indien iemand die sperdatum misloop, hulle gedwing word om hul wapens in te handig.

 

In hul reaksie op hierdie gebeure sê die VF Plus: “Nie net moes die Grondwethof beslis het oor die geldigheid van artikels 24 en 28 van die Vuurwapenbeheerwet nie, maar dit moes ook prosedures neergelê  het hoe om die chaos by die Sentrale Vuurwapenregister te oorkom. In belang van vuurwapeneienaars moes die hof die Polisie aangespreek het oor die chaos by die Vuurwapenregister.

 

“Om ‘n persoon sy vuurwapen te laat verbeur bloot omdat hy laat aansoek gedoen het vir hernuwing, is onbillik en ontneem die persoon van sy eiendomsreg. Hierdie beginsel behoort getoets te word aangesien die motor van ʼn persoon nie verbeur verklaar word aan die staat indien die eienaar nie betyds sy lisensie hernu nie.

 

“Die uitspraak skep die indruk dat daar teen vuurwapeneienaars gediskrimineer word en dat hulle ontwapen word bloot weens ʼn administratiewe of menslike fout. Die hoë voorkoms van geweldsmisdade soos roof, kapings en roof by woonhuise in SA laat die  publiek geen keuse as om hulself te bewapen vir beskerming nie.

  

“Na die omstredenheid en onsekerheid wat verlede week geskep is met die uitspraak van die Grondwethof oor die aangeleentheid, is daar eintlik net een uitweg en dit is om die wet te wysig op só ‘n wyse dat vuurwapeneienaars ‘n billike geleentheid gegun word om hul vuurwapenlisensies te hernu, selfs nadat die lisensie verval het en dit sonder dat die eiendomsreg op vuurwapens verloor word.”

 

Intussen het Minister Cele blykbaar in die Parlement aangekondig dat 'n amnestietydperk vir hernuwing van vuurwapenlisensies binnekort aangekondig sal word, terwyl private firmas vir hantering van lisensie-aansoeke aanbeveel dat vuurwapeneienaars nie oorhaastig optree nie en wag op verdere verwikkelinge.

 

Die jongste is dat Gun Friendly SA sê mense kan aansoek doen vir artikel 13 selfverdedigingsvuurwapen.

Plundery op dorpe landswyd

Image

Plundery op dorpe slaan landswyd uit, met die skilderagtige dorpie Riebeeck-Kasteel naby Kaapstad wat Maandag deurgeloop het toe duisende swart betogers, skynbaar ontevrede oor behuising en munisipale dienslewering, huise en winkels geplunder en aan die brand gesteek het. Hoewel nuusdekking in hoofstroommedia skraal was, is op sosiale media berig dat wit en bruin inwoners vir hul lewens moes vlug en in hul huise skuil, terwyl beweer word dat van die betogers met busse van elders aangery is.

 

Gister was Secunda in Mpumalanga aan die beurt en is die kantore van Murray & Roberts en die Greenfield Lodge aan die brand gesteek. 'n Uur nadat die Polisie en brandweer in kennis gestel is van die bedreiginge, was hulle nog nie op die toneel nie. Vreesbevange inwoners het ook inderhaas hul huise ontruim. Die situasie is steeds nog nie onder beheer nie.

Vreemde militêre voertuie en soldate opgemerk

Image

Op sosiale media is berigte ontvang van wit troepedraers gemerk VN Vredesmag wat op laebedtrokke vervoer is naby Bapsfontein, Pretoria – vir videogreep, kliek hier.  

 

Terselfdertyd word berig van vreemde blanke soldate met ongeïdentifiseerde uniforms en rooi barette, wat vervoer word in rooi busse. Daar is sover bekend tans geen amptelike militêre maneuvers in SA aan die gang nie. Vir 'n klankgreep hieroor, kliek hier.  

 

Daar word ook berig van militêre vliegtuie wat by die Lanseria Lughawe geland het met soldate en militêre toerusting aan boord.

Afrikanerbond oor skakeling met pres. Ramaphosa

Image

In 'n mediaverklaring sê die Afrikanerbond o.a. die volgende oor hul uitnodiging aan pres. Cyril Ramaphosa om hulle toe te spreek tydens hul eeufeesviering verlede week in die Paarl: “In 'n geskiedkundige oomblik het mnr. Ramaphosa hom aangesluit by mnre. Nelson Mandela en Thabo Mbeki wat by vorige geleenthede die Afrikanerbond toegespreek het. 

 

“In 1707 verklaar Hendrik Biebauw in Stellenbosch Ek is ʼn Afrikaner. Tydens die besprekinge van die Bondsraad van die Afrikanerbond het ons opnuut verklaar dat ons Afrikaners is, maar ook Suid-Afrikaners en ook mense van Afrika. Die Afrikanerbond wat sy begronding vind in Christen demokrasie erken ook opnuut dat ons deel is van ʼn diverse Suid-Afrika met ʼn veelheid van tale, gemeenskappe en kulture en dat ons strewe na vryheid binne ʼn regverdige bestel. Ons weet dat ons as Afrikaners onsself nie kan isoleer of kan losmaak van Suid-Afrika, sy probleme en sy uitdagings nie.

 

“Tydens sy toespraak herbevestig die president opnuut die besondere identiteit van Afrikaners deurdat hy sê: Afrikaners is deur hulle naam en per definisie van Afrika. Dat Afrikaners integraal deel is van die Suid-Afrikaanse nasie, net soos enige ander gemeenskap. Dat hulle taal, hulle kultuur hulle behoeftes en hulle verwagtinge nie minder of meer belangrik is as enige van die ander gemeenskappe nie. Die standpunt moet verwelkom word want daar het geweldige vervreemding ontstaan die laaste paar jaar.

 

“Ons uitnodiging was juis om eerstehands van mnr. Ramaphosa te hoor wat sy standpunte oor die kwessies is. Alhoewel ons meer besonderhede wou verneem oor van die kwessies wat ons veral onrustig maak, is die geleentheid geskep vir verdere gesprek. Omdat die Afrikanerbond nog altyd oplossingsgerig gestaan het ten opsigte van die probleme en uitdagings het ons onself opnuut bereid verklaar om deur dialoog betrokke te bly in die vind van oplossings en sal ons bly beding met ʼn regering wat die SA Grondwet van toepassing moet maak vir alle mense in die land. 

 

“Ons is terdeë bewus daarvan dat daar kritiek op die Afrikanerbond is wat nie namens alle Afrikaners kan praat nie. Dit het ons nog nooit voorgegee nie en sal ons die rol ook nooit opeis nie. Ons lede is egter almal Afrikaners en dit is op die basis wat ons ʼn rol wil speel omdat ons lede se belange strek oor verskeie sfere van die samelewing.

 

“Ons wil ook graag langs die weg opnuut ons dank en waardering teenoor pres. Ramaphosa uitspreek dat hy te midde van ʼn polities onsekere tyd wel gekies het om met die Afrikanerbond in gesprek te tree en sy visie met ons te deel. Ons sien uit na toekomstige gesprekke om ons visie met hom te deel.”

Gevaar van Eskom-staking vir Suid-Afrika

Image

Teenstrydige berigte word ontvang oor die dreigende staking van Eskom-werknemers, tot die mate dat daar sprake is van die kragvoorsiener te laat afskakel en sodoende die land grootliks sonder elektrisiteit te laat. Verskillende vakbonde is betrokke en aan die een kant word berig dat van hulle 'n aanbod onderteken het van 10% salarisverhoging vir die laer besoldigingskategorieë en 8,5% vir die hoër besoldigingskategorieë, maar aan die ander kant is NUMSA en NUM o.l.v. die militante Irvin Jim adamant en gaan met die staking voort.

 

Vanoggend word berig van militante stakers by kragstasies wat werknemers toelaat om die perseel te verlaat, maar niemand toelaat om binne te gaan nie. Gevolglik word blykbaar sommige eenhede by kragstasies genoodsaak om af te skakel.

 

Vroeër het die Eskom topbestuur aangedui dat die kragvoorsiener in 'n kontantvloeiprobleem is en dat daar eenvoudig nie geld vir hoër salarisse is nie. Daar word ook gewaarsku dat afskakeling van Eskom kan ernstige probleme vir die fisiese kragnetwerk meebring en dat dit moeilik sal wees om die skade te herstel. Intussen word miljoene onskuldige belastingbetalende landsburgers gyselaar gehou deur 'n klein minderheidsgroep en korrupte burokrasie. 

VF Plus bemiddel vir kinderhuise in Gauteng

Image

‘n Selfverduidelikende mediaverklaring van die VF Plus Gauteng lui soos volg: “Kinderhuise in Gauteng wat staatmaak op finansiële ondersteuning in die vorm van provinsiale toelaes om hul deure oop te hou en om daagliks na hawelose kinders om te sien, was die afgelope maand in die donker na die vertraging in die uitbetaling van toelaes deur die Gautengse departement van maatskaplike ontwikkeling vir die 2018/19-finansiële jaar.

 

“Hierdie kinderhuise kon nie hul water- en ligterekeninge betaal nie, wat veroorsaak het dat verskeie munisipaliteite die betrokke dienste na die kinderhuise gestaak het. Die instansies kon ook nie enige kos aankoop nie en menigte kinders het hongerte in die gesig gestaar. Salarisse aan werknemers was ook in die gedrang.  Van hierdie instansies het hul gewend na die VF Plus vir hulp om die toelaes uitbetaal te kry.

 

“Philip van Staden van die VF Plus Gauteng het op 25 Mei 2018 direk geskakel met die kantoor van die LUR van maatskaplike ontwikkeling in Gauteng, Mayathula-Khoza en die departement het dadelik opgetree om die probleem by te lê.  Die departement het onmiddellik alle kinderhuise in Gauteng geskakel om hul kontrakte vir 2018/19 te onderteken sodat uitbetalings kon geskied.

 

“Aanvanklik sou alle fondse op 4 Junie 2018 uitbetaal gewees het, maar dit het nie gebeur nie. Ons het toe weer die afgelope Dinsdag tydens 'n sitting van die Gautengse Wetgewer direk in gesprek getree met die LUR oor die probleme met die uitbetaling van die fondse. Die LUR het aangedui dat sy hard werk om die probleme op te los en ons verseker dat uitbetalings spoedig sal plaasvind.

 

“Ons is kort hierna ingelig dat uitbetalings plaasgevind het en van die kinderhuise het ook bevestig dat die fondse reeds in die onderskeie rekeninge reflekteer. Die probleme met die uitbetalings was onder meer dat kontrakte nie onderteken was nie en dat kontrakte wat wel onderteken was, nog dokumentasie benodig het. Verskeie van hierdie organisasies het ook probleme met oudits gehad.

 

“Wat kommerwekkend is, is dat die departement van maatskaplike ontwikkeling nie met die kinderhuise gekommunikeer het om die probleme op te los nie. Eers nadat die VF Plus die LUR se kantoor gekontak het, is daar met kinderhuise gekommunikeer. Ons hoop dat die LUR se kantoor en die departement in die toekoms beter met kinderhuise in Gauteng sal kommunikeer.”

Plofstof in KZN gesteel vir transitorooftogte

Image

Die African News Agency (ANA) berig dat nege kiste van 25 kg plofstof elk die nag van 6 Junie 2018 gesteel is by die Zululand Anthracite Colliery (ZAC) in KZN en dat hierdie plofstof daarna gebruik is om verskeie transito rooftogte uit te voer en die gepantserde voertuie op te blaas.

 

ZAC, geleë 45 km noordoos van Ulundi, is in 2016 deur Rio Tinto aan Menar Holdings verkoop en is skynbaar die enigste produsent van prima antrasiet in SA. ‘n Woordvoerder van die myn sê dat dit die eerste keer is dat plofstof by hulle gesteel is.

 

Intussen was daar verlede jaar 370 transitorooftogte in die land, met die syfer vanjaar reeds op sowat 160, d.w.s. gemiddeld minstens een per dag.

Die tragedie van Tygerberg Hospitaal

Image

Die tragedie van Tygerberg Hospitaal word soos volg deur Front Nasionaal op sosiale media beskryf:

 

“Aan die einde van 1967 kondig Die Burger aan dat die grootste hospitaal in die Suidelike Halfrond teen ‘n koste van R100 miljoen opgerig gaan word. Dit sou dien as ‘n opleidingshospitaal vir die mediese fakulteit van die Universiteit van Stellenbosch.

 

“Toe die Tygerberg Hospitaal in 1976 sy deure open, was dit die mees moderne hospitaal in Afrika met genoeg beddens om 1899 pasiënte te akkommodeer. Die gange van die hospitaal strek vir meer as 50 km en daar is bedags sowat 10 000 mense op die hospitaalterrein – as sulks die trots van die mediese vermoë van SA.

 

“18 jaar later, in 1994, neem die ANC se Departement van Gesondheid die hospitaal oor - en 24 jaar later, soos met omtrent alles wat in 1994 weggegee is, is Tygerberg deurgebring.

 

“Die Departement van Gesondheid het vanoggend bekend gemaak dat die hospitaal so vervalle geraak het, dat dit nie meer ekonomies haalbaar is om dit te herstel nie en dat dit eerder gesloop sal moet word om ‘n nuwe te bou. Die nuwe hospitaal sal sowat R10 miljard kos en daarvoor sal die Nasionale Tesourie maar moet opdok.

 

“Die oorsaak van die verval is ‘n totale gebrek aan instandhouding oor verloop van die afgelope twee dekades.

 

“Dit bly net eenvoudig verbysterend dat ‘n land met ‘n werkende, funksionerende infrastruktuur netso afgestaan is en daar is geen poging aangewend om dit in stand te hou nie. Alles is gewoon opgebruik, deurgebring en geplunder.

 

En die belastingbetaler moet sorg vir nuwes.

Konsentrasiekampdag 16 Junie 2018

Image

SAKENUUS

Vodacom gee R17,5 miljard SEB

Image

Vodacom het bekendgemaak dat dit sy aandeelhouding i.t.v. swart ekonomiese bemagtiging in SA met 20% gaan uitbrei, wat beteken dat R17,5 miljard beskikbaar gestel word vir nuwe swart aandeelhouers. Dit word beplan om dit te doen deur die aandeelhouding van Vodacom YeboYethu dienooreenkomstig uit te brei. 

 

Volgens die HUB van Vodacom Shameel Joosub sal die uitbreiding geskied deur Royal Bafokeng Holdings (RBH), Thebe Investment Corporation en Yebo Yethu in 'n groter SEB groepering saam te voeg vir 'n nuwe 10-jaar termyn. As sulks sal dit die vorige Yebo Yethu aandeelhouding t.w.v. R7,5 miljard vervang en waardeur 102 000 swart beleggers en 8 500 huidige en voormalige Vodacom SA werknemers begunstig is.

BNP krimp ergste in nege jaar

Image

Volgens Stats SA het die bruto nasionale produk (BNP) in die eerste kwartaal van vanjaar met 2,2% gekrimp, hoofsaaklik a.g.v. ‘n daling in die uitset van landbou en mynbou. Dit is die ergste inkrimping sedert die eerste kwartaal van 2009, toe die ekonomie met 6,1% ingekrimp het.

 

In die eerste kwartaal van vanjaar het die landbousektor met 24,2% gekrimp, mynbou met 9,9% en vervaardiging met 6,4%. Hierdie is drie sleutelfaktore en vorm die hoofaandrywers van enige ekonomie.

Wittes al meer uit staatsdiens gedruk

Image

Volgens 'n skriftelike antwoord van Minister van Staatsdiens en Administrasie, Ayanda Dlodlo op 'n Parlementêre vraag van die VF Plus, blyk dit dat daar nog geen afplatting in sg. regstellende aksie is ondanks die feit dat demografiese teikens in die staatsdiens lank reeds bereik is.

 

Blankes met 7,5% in die staatsdiens is tans 1,4% onderverteenwoordig, waar dit vier jaar 8,8% was. Bruines is met 0,3% onderverteenwoordig alhoewel hul situasie effe verbeter het oor die laaste vier jaar, en Indiërs met 2,5% is presies reg.

 

Daarenteen is die verteenwoordiging van swartes wat 79,2% van die bevolking uitmaak, tans met 2,2% oorverteenwoordig in die staatsdiens op 81,4%.

Sanlam vier eeufees

Image

Sanlam, wat op 8 Junie 1918 tot stand gekom het as 'n uitvloeisel van die SA Nasionale Trust en Assuransie Maatskappij (Santam), het sopas sy eeufees gevier. Sanlam is die grootste finansiële dienstefirma in Afrika, banke uitgesluit en het meer as 21 000 werknemers in 44 lande.

 

Dieselfde sewe mans – ses Afrikaanssprekendes en een Skot – het beide Santam en Sanlam gestig. Hulle was Charlie Fichardt (Bloemfonteinse sakeman en LV vir Ladybrand), Willie Hofmeyr (prokureur), Fred Dormehl (versekeringsagent), Pieter Malan (prokureur), Charlie Louw (prokureur), Antoon Benning (sakeman en meesterbouer) en Alfred MacDowall (Skotse bankier en rekenmeester).

 

Vandag probeer beide Santam en Sanlam hul Afrikaner-identiteit onderspeel en beskryf hulself as “uit en vir Afrika”, met 'n globale visie.   

INTERNASIONAAL

G7 beraad in Kanada

Image

Die vonke het behoorlik gespat op die afgelope G7 beraad van staatshoofde in Quebec, Kanada, toe veral premier Justin Trudeau van Kanada en kanselier Angela Merkel van Duitsland vir pres. Donald Trump van die VSA getakel het oor die nuwe Amerikaanse staal- en aluminium-invoertariewe. Daar is gevoel dat dit die handel van Kanada en Wes-Europese lande ernstig kortwiek en is probeer om Trump te kry om dit te versag.

 

Trump was egter onversetlik en het dit ook tot persoonlike botsings tussen di staatshoofde gelei, op die beraad veral tussen Merkel en Trump. Later het laasgenoemde getwiet dat hy vir Trudeau as “swak” bevind het. Daar kan verwag word dat die uitval op die beraad nog verreikende ekonomiese en handelsimplikasies gaan hê, met o.a. Trudeau wat gedreig het met weerwraak.  

Pres. Trump en Kim Jong-un  maak geskiedenis

Image

Net ná die G7 beraad het pres. Trump in Singapoer geskiedenis gemaak toe hy en Kim Jong-un 'n ontmoeting in die Capella Hotel gehad het. 'n Ooreenkoms tussen hulle is ook onderteken, met redelike vae inhoud, maar wat basies voorsiening maak vir afsien deur Noord-Korea van kernwapenontwikkeling, terwyl die VSA onderneem om sy troepe op 'n geskikte tyd uit Suid-Korea te onttrek.

 

Die twee regeringshoofde het op 'n persoonlike basis blykbaar tot 'n mate gekliek en is daar die vooruitsig vir voortgesette dialoog op hul vlak. Wat betref die buurlande wat ten nouste geraak word deur die ontmoeting en ooreenkoms, is China en Rusland tevrede met die uitkoms, terwyl Suid-Korea en Japan versigtige optimisme uitgespreek het.

Wêreld Sokkerbeker skop af in Rusland

Image

Die vierjaarlikse Wêreld Sokkerbeker – die grootste sportskouspel in die wêreld skop vandag in Rusland af, die eerste keer dat hierdie land as gasheer hiervoor optree. Die nasionale spanne van 31 lande het gekwalifiseer om aan die toernooi deel te neem, plus Rusland as die gasheerland. Die openingswedstryd is tussen laasgenoemde en Saoedi-Arabië.

 

64 wedstryde sal gespeel word in 12 stadions in gasheerstede om die uiteindelike wenner te bepaal. Die gasheerstede is: Moskou, St. Petersburg, Kaliningrad, Kazan, Nizhny Novgorod, Samara, Volgograd, Saransk, Sochi, Rostov-on-Don en Yekaterinburg. Die verwagte TV kykertal wêreldwyd vir die toernooi is ongeveer 3,4 miljard.

REDAKSIONELE KOMMENTAAR

Skeidslyn deur die Afrikaner


Dit is duideliker as ooit dat daar 'n skeidslyn loop deur die Afrikaner as volk: Aan die een kant diegene wat steeds glo hul heil en toekoms lê in die groot bont sg. “reënboog” Suid-Afrika. Dit is die SA wat vandag lyk soos dit lyk en wat dit gedoen het.  


Aan die ander kant is daar diegene wat glo dat selfbeskikking, uiteindelik in 'n onafhanklike, selfstandige en volhoubare Afrikaner / Boerevolkstaat, is die enigste opsie vir oorlewing en uitlewing van die Afrikaner. Vir hierdie doel sal daar op regmatige grondgebied gekonsolideer en uitgebou moet word – laertrek as jy wil.  


Dit is die onontwykbare leuse wat elke Afrikaner in die gesig staar. Ditsem Nuus is onherroeplik verbind tot die laasgenoemde opsie.  


Die Stem en 31 Mei vir die Afrikaner


Op Vrydag 31 Mei 1918 het CJ Langenhoven in Arbeidsgenot, Oudtshoorn, 'n gedig geskryf wat later bekend sou word as Die Stem van Suid-Afrika. Sedertdien het Die Stem vir Afrikaners 'n kosbare kultuurlied geword en later ook die amptelike volkslied en as sodanig weerspieël dit nou vir 'n eeu hul kulturele identiteit en die ontwikkeling van Afrikaans.  


Teen hierdie agtergrond het Steve Hofmeyr tydens sy hospitalisasie einde Mei 2018 die volgende op sosiale media gepubliseer, soos hier verkort en waarmee Ditsem Nuus volkome identifiseer:  


“Ek skryf hierdie uit 'n hospitaalbed, maar moet dit by jou uitkry:  

“Dis Republiekdag vandag.  

“Op 31 Mei 1918 het Vroutjie seker 'n koffietjie in oom Neels se hand gestop. Hy was soggens al vier uur op die been om die koolstoof aan te steek. Die tuisgemaalde moerkoffie het sy binneste opgewarm, maar hy het dalk 'n tweede koppie boeretroos van die hand gewys. Sy kop was daai dag elders. 

“Hy is gang af na die eetkamer met die tafel en kaggeltjie in. Hy moes lank na die ink gesit en staar het. Om iets daarin te vind wat 'n jota van God se grootsheid sou kon verwoord.   “Hy het die eerste drie verse neergepen met sy brak, Jakhals, by sy voete en toe dalk daai koffietjie by tant Lenie gevat. As jy in Oudtshoorn deur die lowergroen sipresse opkyk, is dit die dinge wat jy nie kan miskyk nie: Die blou van sy hemel en sy ewige gebergtes in die suide.  

“Langenhoven kon nie weet dat hy op 31 Mei 1918 magiese woorde soos kwartels teen die hemele vasgespyker het vir generasies om te aanskou nie. Ek sing die Die Stem, oom Neels, nog elke dag:  


• Want daar sal nooit 'n konteks bestaan waarbinne 'n gesprek met God oor my dankbaarheid vir my land taboe kan wees nie.

• Want ek vind nie EEN haatsprekende lettergreep in daardie sagte gebed nie. • Want KILL THE BOER en UMSHINI WAMI kan, in gees en letter, nooit daarmee vergelyk word nie.

• Want dit is geskryf DEUR 'n Suid Afrikaner VIR Suid Afrika.

• Want dis geskryf deur 'n Suid Afrikaner drie dekades vóór Apartheid.

• Want, selfs in Engels vertaal, is dit die mooiste lied oor Suid-Afrika ooit.

• Want die nuwe simbole in Suid Afrika herinner my aan bloed, diefstal, grondgryp, moord, verkragting, plaasslagtings, wanopvoeding, korrupsie en verval.

• Want Die Stem was op sy dag die eerste en enigste teenvoeter vir God Save The Queen. • Want dis tog steeds deel van die nuwe offisiële volkslied.

• Want dis die eerste lied opgeneem in die FAK, die kanon van Afrikaanse tradisionele liedjies.

• Want dis die mooiste gebed oor 'n land, haar vreugde, haar trots en haar hoop - en wanhoop - ooit.

• Want 'ons sal lewe ons sal sterwe' bring 'n traan in die oog en 'n knop in die keel - want geen ander lied vra van jou die hoogste opoffering vir jou land, volk en gesin nie.

• Want as die laaste Afrikaanse universiteit, skool, kerk, kleuterskool en kliniek verdwyn, sal Die Stem nog daar wees.

• Want hulle doen dit met soveel trots in Holland, België, Kanada, VSA, NZ, Australië, Dubai en Londen.

• Want alle partytjies wat om middernag daarmee afsluit, begin sommer van voor af!

• Want dit grief die vyand, die jingo's, die fasciste, die Kommies, die president, die voorskrywers, die haters, die manteldraaiers, die lefties en die Afrikaanse media.

• Want, oom Neels, jy sal nie weet nie, maar hoendervleis is 'n skaars kommoditeit 100 jaar later.

• Jy weet dié ook nie, maar jou lied is verban deur die patronate van kultuur en daai 'akademiese Fariseërs' van Afrikaanse kuns - in jou eie dorp.

• Want daar is genoeg van ons oor wat weet, patriotisme, trots en dankbaarheid skep vlae en liedjies, nie anders om nie. Daarom staan duisende op as ek dit sing.  


“Jou lied doen dit steeds vanself.  

“Eers toe ek ontdek dat, lank na ek daarvan vergeet het, die Onse Vader, Die Stem, Ver In Die Ou Kalahari, Brolloks en Bittergal, die Springbok, die Protea, die Bosveld en Karoo deel van my genetika is, vir altyd, het ek geweet dat Die Stem my toekoms is en nie my verlede nie.  

“Lank lewe DIE STEM van ons volk.  

“Op die volgende 100 jaar....  

“En 'n geseënde Republiekdag vir jou.”  


(C.J. Langenhoven het eers op 40-jarige ouderdom in Afrikaans begin skrywe. Hy is op 15 Julie 1932 oorlede.).  


Ander belangrike geskiedenisgebeure op 31 Mei:


• 31 Mei 1902 – Vrede van Vereeniging word gesluit

• 31 Mei 1910 – Die totstandkoming van die Unie van Suid-Afrika

• 31 Mei 1928 – Die Unievlag word die eerste maal gehys

• 31 Mei 1957 – Die Unievlag word as nasionale vlag en Die Stem van Suid-Afrika as volkslied aanvaar

• 31 Mei 1960 – Die 50ste herdenking van die Unie van Suid-Afrika

• 31 Mei 1961 – Die totstandkoming van die Republiek van Suid-Afrika

SKEP MOED!

Boodskap van Matriekdogter


Baie moed kan geskep word uit die volgende gedig deur ‘n Matriekdogter:


Suid- Afrika

Waarom sou ons vrees in ons eie land

met soveel beloftes uit God se hand?

Suid-Afrika, jy's die perfekte kandidaat

met 'n bonatuurlike, goddelike mandaat!


Ons is mos positiewe geloofsmense

want ons God word nie beperk deur grense.

As Hy hier wil werk, wié kan Hom keer

as Sy bloed spreek in die hemelsfeer?


Hy is ons Raadgewer in al ons weë

op Wie ons wag - Sy tyd is altyd geneë.

Spreek lewe elke dag, oral waar jy kom!

Ons fokus nie op storms en aanslae stom.


Nee! Ons is ligdraers met 'n toekomsvisie

ons styg bo elke haat sonder ammunisie,

en leef ons lewenswoorde van hoop

met moed en krag in vaste geloof!


Net geloof alleen kan God behaag

staan daarom vas - met Hóm sàl ons slaag!

Ditsem Nuus

Indien u nie die epos wil ontvang nie kan u hier uit teken
Anulus Bemarking, S39 Oranje Eggo, Orania, North Cape, 7590, South Africa, www.ditsem.net