20 Julie 2018

  Lees die epos aanlyn

Image

AKTUELE NUUS

Slagting van blankes duur voort

Image

Wat 'n aaklige opskrif vir 'n berig, maar dit is tans die realiteit van Suid-Afrika – die sinnelose terroristiese aanvalle op en meesal vermoording van blankes in die land aan die hand van swart mense duur onverpoosd voort. Dit is die gruwelikste verhale wat ontvou en dit dra by tot 'n psigose wat die land stuur in die rigting van 'n burgeroorlog. Hoor die wreedheid, brutaliteit en realiteit van 'n plaasaanval op 'n bejaarde egpaar hierdie week op hierdie stemgreep, soos kortliks vertel deur hul seun.

 

Ditsem Nuus is so versigtig om in nuusberigte negatiewe worde te spreek wat tot negatiewe scenario’s kan lei, maar die waarheid moet ook gerapporteer word ten einde mense tydig te waarsku. Daar is ook goeie nuus wat na vore kom, soos die R150 miljard beleggings wat pres. Cyril Ramaphosa sê hy bring van die Saoedi’s saam en die reusagtige MeerKAT projek met sy globale betekenis pas in die Karoo onthul, maar op grondvlak is daar die lyding en smart van misdaadslagoffers wat verreken moet word – 'n idee waarvan gekry kan word uit hierdie videogreep.

Skriftelike vertoë oor grondonteiening: Resultate

Image

Insiggewend is dat van die skriftelike voorleggings wat deur die voorgeskrewe amptelike kanale gemaak is oor die voorstel dat artikel 25 van die Grondwet gewysig moet word om voorsiening te maak vir grondonteiening sonder vergoeding, 129 549  van die voorleggings gekant was teen sodanige wysiging, terwyl 100 308  van die voorleggings ten gunste daarvan was – ‘n verskil van 29 241. Dit beteken 56,36% daarteen en 43,64% ten gunste van die wysiging.

 

Wat voorleggings uit die provinsies betref, is meerderhede in die Oos-Kaap, Vrystaat, Noordwes en Noord-Kaap gekant teen die voorgestelde Grondwetwysiging, terwyl meerderhede in Gauteng, KZN, Limpopo, Mpumalanga en Wes-Kaap ten gunste van wysiging is. Van voorleggings van Suid-Afrikaners in die buiteland ontvang, is die meerderheid gekant teen wysiging. Vir meer detail, volg hierdie skakel.

Noordwes leeggeplunder

Image

Een van die ergste korrupsiegevalle in 'n feitlik-geruïneerde SA het in die Noordwes provinsie plaasgevind onder die premierskap van Supra Mahumapelo vanaf. 21 Mei 2014 tot 23 Mei 2018. In hierdie vier jaar het hy volgens alle aanduidings die provinsie misbruik as sy persoonlike vassaalstaat en was al sy beplanning en aksies gemik slegs op persoonlike verryking en dié van sy meelopers.

 

In die proses het hy skade aan die provinsiale ekonomie berokken wat volgens die Nasionale Tesourie sowat R15,3 miljard beloop het. Onder sy bewind het onreëlmatige uitgawes gemiddeld R1,2 miljard per jaar beloop. 'n Bedrag van R10 miljoen wat begroot was vir maatskaplike dienste, is gesteel om 'n korrupte patronaatnetwerk te finansier.

 

Geen wonder dus dat dit gebeur het dat die Verenigde Nasies pas op 'n wyse wat nog nie duidelik is nie, die administrasie van Noordwes oorgeneem het in oorleg met die aangewese opvolger van Mahumapelo, nl. Job Makgoro – die eerste keer in die geskiedenis dat die VN beheer neem oor 'n gedeelte van die grondgebied van SA.

 

Die geval van Mahumapelo en Noordwes staan ongelukkig nie geïsoleerd in die land nie – wat voormalige premier Ace Magashule in die Vrystaat aangevang het om daardie provinsie gedurende sy ampstermyn 2009 tot 2017 d.m.v. korrupsie en nepotisme feitlik eiehandig te vernietig het. In geeneen van die twee provinsies is daar 'n munisipaliteit wat behoorlik funksioneer nie en wat nie bankrot is nie.

Hofbeslissing dat regstellende aksie moet eindig 

Image

Die vakbond Solidariteit het 'n deurbraak-hofbeslissing in sy guns gekry toe die Grondwethof in die uitgerekte SARIPA-saak beslis het dat die lukrake toepassing van regstellende aksie tot ʼn end moet kom. Die hofgeding was die gevolg van ʼn beleid wat die Minister van Justisie en die Meester van die Hooggeregshof ingestel het vir die aanstelling van likwidateurs uitsluitlik op grond van ras.

 

Volgens die omstrede aanstellingsbeleid moes 40% van alle aanstellings aan swart, bruin, Indiër- en Chinese vroue toegeken word; gevolg deur 30% aan swart, bruin, Indiër- en Chinese mans; 20% aan wit vroue, terwyl slegs 10% van alle aanstellings vir wit mans gereseveer is. As sulks is volgens Solidariteit die beleid in teenstelling met ʼn meer omvattende en genuanseerde benadering wat gegrond is op meriete en opleiding.

In hul kommentaar ná die saak sê Solidariteit: “Met dié saak is ʼn streep in die sand getrek en gesê genoeg is genoeg! Dié rasbehepte benadering in plaas van ʼn meer omvattende en genuanseerde benadering gegrond op meriete en opleiding, is nie goed vir die land en sy burgers nie.” Vir meer besonderhede, kontak Anton van der Bijl van Solidariteit Arbeidsreg by 083 291 6855.

Nuushooftrekke wat saakmaak

Image

Die volgende is 'n seleksie van Nuushooftrekke wat die afgelope paar dae in die DitsemBlits nuuspakket uitgestuur is en wat aanduidend is van huidige politieke en ekonomiese windrigtings:


•    Patroon van openbare vergaderings oor grond by herhaling duidelik: Proses word gekaap deur die radikales wat blankes as diewe uitkryt en onteiening sonder vergoeding eis


•    Volgens Parlementêre antwoord deur Minister van Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling, Gugile Nkwinti het minstens 94% van 143 720 amptelike grondeisers kontant i.p.v. grond verkies


•    Wêreldwye instemming  dat Rusland puik gasheer was van Wêreldsokker 2018 en dat fasiliteite en reëlings topstandaard was


•    Jimmy Manyi, uitvoerende hoof an TNA, houermaatskappy van Afro Age (voorheen The New Age) en van Afro Worldview (voorheen ANN7), voorheen in Gupta-besit en hatig op blankes, dien hofaansoek in vir likwidasie


•    Mosiuoa Lekota van Cope uitgeskel op grondvergadering te Mahikeng oor hy sê blankes het nie grond gesteel nie


•    Boer van Bultfontein laat loop 6 000 liter melk op die grond uit in protes teen korrupsie in suiwelbedryf en dat boere minder as R4,50 per liter melk ontvang


•    Internetstelsel van Mangaung Metro Munisipaliteit stort in duie en personeel kan nie meer epos bedryf nie en watermeterlesings kan nie meer elektronies geneem word nie


•    Dit lyk al meer Brittanje gaan volgende jaar Brexit sonder ooreenkoms met EU

Afrikaans wurg in Gauteng-skole

Image

Terwyl meer as 10% van Gauteng-inwoners Afrikaans as eerste taal gebruik, is daar sedert 2014 uit die 52 nuwe skole wat in die provinsie gebou is, slegs een wat Afrikaans as onderrigmedium bied. Slegs sewe van die nuwe skole bied onderrig in tale anders as Engels.

 

Hierdie toedrag van sake weerspieël die vyandigheid van die LUR vir Onderwys in Gauteng, Panyaza Lesufi, jeens Afrikaanse skole en onderrig in Afrikaans in enige skool, soos wel deeglik geblyk het uit die omstrede Hoërskool Overvaal in Vereeniging vroeër vanjaar.

Nuwe boeke by Kraal Uitgewers

Image

Die volgende nuwe boeke van belang vir Afrikaners is pas deur Kraal Uitgewers gepubliseer:

 

  • Kill the Boer: Government complicity in South Africa’s brutal farm murders deur Ernst Roets van AfriForum en waarin waarheidsgetroue en opdatum feite omtrent plaasmoorde in SA gedokumenteer is en wat ‘n onweerlegbare vinger wys na ANC-regeringsbetrokkenheid by hierdie misdade. Die boek het reeds groot opslae gemaak, maar dit is opvallend dat die hoofstroommedia dit grotendeels ignoreer.

  • Mobile warfare for Africa: On the successful conduct
    of wars in Africa and beyond – Lessons learned from the South African Border War deur afgetrede genl. Roland de Vries, in samewerking met Camille Burger en Willem Steenkamp. Dit bied ‘n merkwaardige oorsig oor suksesvolle moderne mobiele oorlogsvoering aan die hand van ervaring in die Grensoorlog in die destydse Noord-SWA en Suid-Angola en bevat besonderhede van opleiding, wapentuig en strategie wat die destydse Veiligheidsmagte geneem het tot op die buitewyke van Luanda. Uit hierdie lesse kan veel toepasliks geput word vir vandag.
  • Vers & Kapittel: Artikels, rubrieke en naskrifte oor die digkuns deur Daniel Hugo bevat hoogtepunte uit die werk van Hugo as literêre kritikus. Hugo, self ’n meester van die vernufpoësie en speelse verse, skryf op ’n onderhoudende en toeganklike manier oor die internasionale wêreld van die digkuns. Daar word verwys na bekende gedigte en prominente Afrikaanse digters en skrywers, soos NP van Wyk Louw, Elisabeth Eybers, JC Steyn, IL de Villiers en Hennie Aucamp.
  • Wes-Transvaal: Militêre brandpunt van die Anglo-Boereoorlog, 1899-1902  deur Pieter de Jager is die sewende en laaste boek in Kraal Uitgewers se gewilde Erwe van ons vaad’re-reeks. De Jager se militêre en historiese kennis, sowel as sy voorliefde vir die omgewing waar hy ’n groot deel van sy lewe deurgebring het, is gekombineer in Wes-Transvaal: Militêre brandpunt van die Anglo-Boereoorlog.

Besoek www.kraal.co.za vir meer inligting.

SAKENUUS

Groot projek om platinum te bevorder

Image

'n Groot projek is geloods om die gebruik van Platinum op velerlei wyses in die ekonomie te bevorder en om klein besighede aan te moedig om tot vervaardiging in die platinumbedryf toe te tree. Die projek is 'n vennootskap tussen die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) en Amplats, met 'n verbintenis van elk om R1,3 miljard tot 'n gesamentlike waagkapitaalfonds by te dra.

 

Een van die eerste stappe is om 'n nuwe onderneming AP Ventures te stig om as operasionele agent op te tree. Die idee is ook om internasionale markte vir die platinumbedryf te ontgin. Hoewel sterk gefokus word op ondersteuning van klein besighede in die platinumbedryf, moet uit die aard van die huidige patroon in SA aanvaar word dat swart ekonomiese bemagtiging voorop gestel word.

Sterk groei vir macadamianeut-bedryf

Image

Uit besprekings gehou by die jaarlikse International Nut Council (INC) konferensie 21-23 Mei 2018 te Seville, Spanje, blyk dit dat die macadamianeut-bedryf 'n sterk groeifase beleef. Die tendens word aangedryf deur 'n wêreldwye beweging na gesonde en natuurlike kos en word neute oor die algemeen al meer gesien as 'n bron van proteïene. Dit word bv. berig dat sowat 10% van die bevolking in sowel die VSA as Europa vegetaries of vegan is.

 

Suid-Afrika het sy posisie herwin as die grootste produsent van macadamianeute, met 25% oftewel 54 000 metrieke ton van die globale produksie van 210 101 metrieke ton. Australië is tweede met 44 500 metrieke ton en Kenia derde met 32 500. Tot die SA produksie lewer die Green Farms Nut Company (GFNC) met verwerkingsaanlegte in Limpopo, Mpumalanga en KZN, 'n reuse bydrae. Trouens die grootste macadamia-verwerkingsaanleg ter wêreld is onlangs te Witrivier, Mpumalanga, geopen.

 

Tans word 70- 80% van macadamias verbruik as 'n versnapering, terwyl 20-30% gebruik word as 'n bestanddeel.   

Groen ekonomie geleenthede vir miljarde rand       

Image

Volgens die instansie Green Cape bied verskillende sektore van die sg. groen ekonomie in SA geleenthede van miljarde rand. So word gesê dat die mark vir grond- en reënwaterstelsels in die Wes-Kaap alleen sowat R5,8 miljard werd is, die drinkwatermark in Kaapstad sowat R2 miljard werd is en dat die nasionale mark vir projekte vir die vermindering van nie-inkomstegewende water sowat R2 miljard werd is.

 

Wat energie betref, word beraam dat die stoormark (batterye) in SA teen 2035 sowat R14,5 miljard per jaar potensiaal behoort te bereik, die doeltreffende energiemark R21 miljard per jaar en die daksonplaatmark 'n massiewe sowat R75 miljard per jaar.

 

Op landbougebied word beraam dat toenemende omgewingsvriendelike praktyke die hommeltuigbedryf reeds verlede jaar R2 miljard laat omdraai het. Sover dit die afvalbedryf betref, word bereken dat teen 2023 die herwinning van sowat 20 miljoen ton afval potensiële inkomste van R11,5 miljard kan gee.

 

Vir meer besonderhede, volg hierdie skakel.  

Twee sonkragaanlegte beplan by Orania en Luckhoff

Image

Die maatskappy Solar Capital (Edms) Bpk beplan die oprigting van twee voorgestelde fotovoltaïese sonenergiefasiliteite en gepaardgaande infrastruktuur te Orania in die Noord-Kaap en Luckhoff in die Vrystaat onderskeidelik. Die aanleg te Orania word beplan met 20 MW, terwyl dié te Luckhoff beplan word vir 400 MW.

 

Omgewingsimpakstudies word tans gedoen en waarin moontlike omgewingsinvloede t.o.v. die ekologie, maatskaplik, landbou, visueel, erfenis en voëllewe o.a. in berekening gebring word. Amptelike kennisgewings in hierdie verband is gepubliseer vir 'n openbare deelnameproses en die publiek het die geleentheid om tot 9 Augustus 2018 skriftelike kommentaar te lewer.

 

Vir meer besonderhede, kontak Shawn Johnston by 083 325 9965 of swjohnston@mweb.co.za, of Percy Ngidi by 082 802 3728 of percy@ecocompliance.co.za.

Onwettige mynaktiwiteite R7 miljard per jaar

Image

Die tydskrif Mining Weekly berig dat die waarde van onwettige mynaktiwiteite in Suid-Afrika meer as R7 miljard per jaar beloop. Dit is gelykstaande aan die inkomste wat genereer kan word uit die verkoop van 430 000 ons goud teen huidige markpryse.

 

Die moeilike sosio-ekonomiese toestande in SA veroorsaak dat onwettige mynbedrywighede 'n aantreklike opsie word – 'n situasie wat aangehelp word deur die grootskaalse werkloosheid in buurlande soos bv. Zimbabwe (95%), Mosambiek (25%) en Lesotho (30%). Die Mineral Council van SA rapporteer dat 70% van onwettige mynwerkers wat gearresteer word, onwettige immigrante is.  

INTERNASIONAAL

Trump en Putin spitsberaad

Image

Die spitsberaad wat pres. Donald Trump van die VSA en pres. Vladimir Putin van Rusland op 16 Julie 2018 te Helsinki, Finland, gehou het, het behoorlik opslae gemaak. Elkeen van hulle stel hul lande eerste in hul buitelandse politiek en hul nasionalistiese sienings strook nie met die eenwêreldstrewe van die Nuwe Wêreldorde (NWO) oftewel Illuminati nie.

 

Daarom was dit te wagte dat die internasionale hoofstroommedia soos die BBC, CNN, Washington Post, New York Times, ens. feitlik histeries raak oor die oënskynlike goeie verhouding tussen Trump en Putin. Dit word veral gesê dat Trump die VSA “uitverkoop” aan Rusland, maar die werklikheid blyk te wees dat 'n goeie verhouding tussen hierdie twee moondhede juis bevorderlik is vir wêreldvrede.

 

Hoewel in die media betroubare inligting oor die uitkoms van die spitsberaad skaars is, wil dit uit sosiale mediaflitse blyk dat die twee staatshoofde nie oor koeitjies en kalfies gesels het nie, maar dat moontlike nuwe alliansievorming in die wêreldpolitiek bespreek is. So bv. word beweer dat die twee leiers nouer aansluiting by enersdenkende lande en regerings, spesifiek Pole, Hongarye, Oostenryk, Italië en andere, terwyl die EU met Duitsland en Frankryk eerder beskou word as teenstanders.

 

Dit blyk ook dat Trump deeglik bewus is dat Amerikaanse staatsinstansies soos die CIA, FBI en State Department deur die NWO gerysmier is en dat hulle probeer om sy buitelandse beleid te saboteer. Dit is ok in hierdie lig dat die omstrede kwessie van beweerde Russiese inmenging n die Amerikaanse presidentsverkiesing van 2016 gehanteer word.

 

Die beraad in Helsinki word luidens 'n aankondiging deur Trump binnekort opgevolg deur 'n besoek van Putin aan Washington.

Golf van nasionalisme in Europa

Image

Ondanks voortdurende pogings deur die internasionale hoofstroommedia, maar ook plaaslik in Suid-Afrika, om dit af te kraak, is dit 'n feit dat 'n golf van nasionalisme tans deur Europa spoel. Nie net spoel dit nie, maar is dit steeds besig om momentum op te bou.

 

In Pole, Hongarye en Oostenryk is sterk nasionalistiese konserwatiewe regerings aan bewind, wat o.a. zero verdraagsaamheid openbaar jeens Moslem-immigrasie. Dit blyk dat hulle deur die strategie van die NWO sien om sentrale wêreldbeheer in te stel en dat hulle daarom eerder omsien na die belange van hul eie volke en inwoners.

 

In Italië het onlangs 'n sterk koalisieregering met o.a. minister van binnelandse sake Matteo Salvini in ‘n sleutelrol aan die bewind gekom, terwyl in Griekeland ook 'n regse koalisieregering die septer swaai. In leidende EU lande soos Frankryk, Duitsland, en Nederland blaas regse opposisiepartye in die nekke van regerings – Frankryk (National Front), Duitsland (AfD), Nederland (Party voor de Vrijheid), ens.

 

Hierdie internasionale tendens bied ooglopend uitstekende geleentheid vir regsinnige Afrikaners met selfbeskikkingstrewe om by aan te sluit.          

Onafhanklikheid vir Hong Kong borrel steeds

Image

In Hong Kong as semi-outonome, welvarende provinsie van China, het die Chinese owerheid pas die pro-onafhanklike Hong Kong National Party (HKNP) tot 7 Augustus 2018 gegee vir redes hoekom hulle nie verbode verklaar moet word nie. Die HKNP verklaar openlik dat hulle streef na onafhanklikheid vir Hong Kong en afskeiding vanaf vasteland China en dit is juis op hierdie punt dat die Chinese regering hulle wil vasvat.

 

Die argument van die Chinese regering is dat vryheid van spraak en politieke uitdrukking en ding is, maar dat afskeiding en onafhanklikheid 'n ander saak is. Die internasionale gemeenskap, in besonder Brittanje, aan wie Hong Kong vroeër behoort het, sê dat hulle begaan is oor persoonlike vryhede en menseregte in Hong Kong, maar dat hulle nie afskeiding steun nie.

 

Hoe dit ook al sy, dit is duidelik dat die onafhanklikheidstrewe onder baie Hong Kong-inwoners voortdurend borrelend is en dat het ook in die verlede o.m. in massa-straatoptogte tot uiting gekom. Wat positief vir hierdie strewe is, is dat Hong Kong ekonomies welvarend en selfonderhoudend is en dat daarom geglo word dat die eiland en enklawe dit op sy eie in die internasionale verkeer kan maak.

REDAKSIONELE KOMMENTAAR

Afrikaner weer volkskap ontdek

 

Uit die Woord is dit duidelik dat bepaalde lewensverbande Gods wil is – huwelike tussen man en vrou, gesinne met ouers en kinders, families met voorgeslagte en volke volgens hul geskape etnisiteite. Hieruit kry ook die Afrikaner as volk sy beslag – ‘n konsep wat in ons dag deur die Bose so ver as moontlik afgetakel word.

 

Daarom is dit nodig dat meer as ooit die Afrikaner weer sy volkskap sal ontdek, eienaarskap daarvan neem en dit met trots uitdra. Dit het niks met diskriminasie te doen nie, maar is bloot erkenning van die geskape werklikheid. Ander etnisiteite word gerespekteer en terwyl elkeen sy plek in die son gegun word, eis die Afrikaner ook syne op. 

 

In aansluiting hierby is dit duidelik dat daar 'n skeidslyn loop deur die Afrikaner as volk: Aan die een kant diegene wat steeds glo hul heil en toekoms lê in die groot bont sg. “reënboog” Suid-Afrika. Dit is egter die SA wat vandag lyk soos dit lyk.

 

Aan die ander kant is daar diegene wat glo dat selfbeskikking, uiteindelik in 'n onafhanklike, selfstandige en volhoubare Afrikaner / Boerevolkstaat, die enigste opsie vir oorlewing en uitlewing van die Afrikaner is. Vir hierdie doel sal daar op regmatige grondgebied gekonsolideer en uitgebou moet word – laertrek as jy wil.

 

Dit is die onontwykbare keuse wat elke Afrikaner in die gesig staar. Ditsem Nuus is verbind tot laasgenoemde opsie.

Radikale Afrikaner-denke nodig


Hijerdie kommentaar het ons al gepubliseer, maar gegee die huidige landsomstandighede, soos ook weerspieël in die nuusberigte hierbo, wil ons beklemtoon dat radikale Afrikaner-denke noodsaaklik is. Ja, ons moet in ootmoed op ons knieë voor God Drieënig bly, maar terselfdertyd is denke uit die kassie en gepaardgaande optrede noodsaaklik – sonder om vreesbevange te raak.

 

Sodanige radikale denke en optrede kan die volgende insluit:

  • Gekoördineerde strategie vir Afrikaner ekonomiese bemagtiging
  • Burgerlike selfverdedigingseenhede onder behoorlike en doelgerigte beheer in sowel plattelandse as stedelike gebiede
  • Voorwaardelike belastingweerhouding op sowel munisipale as nasionale regeringsvlak
  • Implementering van grootskaalse alternatiewe hernubare energieprogramme
  • Stigting van ‘n politieke voorhoede wat Afrikaner-selfbeskikking nastreef
  • Geprivatiseerde omgewingsbestuursprogramme
  • Grootskaalse gekontroleerde hervestiging van Afrikaners in en om Orania as toekomstige volkstaatgebied.

 

Dit is 'n mondvol, maar is daar ter wille van oorlewing en voortbestaan 'n alternatief?

SKEP MOED!

Indien u nie die epos wil ontvang nie kan u hier uit teken
Anulus Bemarking, S39 Oranje Eggo, Orania, North Cape, 7590, South Africa, www.ditsem.net