22 Junie 2018

  Lees die epos aanlyn

Image

AKTUELE NUUS

Orania Beweging vra nuwe ooreenkoms oor grond

Image

In 'n voorlegging op 15 Junie 2018 aan die Parlementêre Komitee vir die Grondwetwysiging oor Grondonteiening Sonder Vergoeding, het die Orania Beweging gevra dat na “die groter grondvraag in Suid-Afrika gekyk moet word en dat ’n nuwe historiese ooreenkoms met minderhede soos Afrikaners gesluit moet word.” 

 

Volgens Carel Boshoff, president van die Orania Beweging, kan die huidige proses die aanknopingspunt wees vir 'n omvattende herwaardering van die grondsituasie in die land. Hy sê verder in 'n mediaverklaring: “Die Orania Beweging beywer hom vir Afrikanerselfbeskikking in die Noordwes-Kaap en wil deur die huidige debat oor grondhervorming ’n hernude pleidooi lewer dat ’n gebied in Suid-Afrika vrygestel word van grondhervorming, regstellende aksie en swart ekonomiese bemagtiging en dat die opsie van Afrikanerselfbeskikking in so ’n gebied moontlik gemaak word.

“Die Orania Beweging beskou die oproep tot ‘onteiening sonder vergoeding’ dan ook nie anders nie as om in verband gebring te word met die ‘onteiening’ van kulturele ruimtes, die verlies aan skole en universiteite wat moedertaalonderrig verseker, en die verrinnewering van Afrikaans se status in die openbare sektor nie. Afrikaners word daarmee, soos ander inheemse bevolkings, vervreem en tot tweederangse burgers van hulle geboorteland gemaak in plaas daarvan dat maniere gevind word om aan al die inheemse volke en kulture betekenisvolle erkenning en ruimte te verseker.

 

“Die Orania Beweging beleef die afgelope tyd hernude belangstelling onder Afrikaners in ons voorstel oor Afrikanerselfbeskikking in die Noordwes-Kaap. Die huidige politieke klimaat in Suid-Afrika, wat deur die mosie wat op 24 Februarie 2018 in die parlement goedgekeur is, vererger is, skep die nodige omstandighede om ons selfbeskikkingstrewe met selfs groter ywer te bevorder.

 

“Die Orania Beweging beskou die volgende verklaring van destydse Minister van Staatkundige Ontwikkeling Mohamed Valli Moosa op 4 Junie 1998 in die Parlement, as ‘n waardevolle beginpunt.: The pursuit on the part of the Freedom Front and other Afrikaners  to strive towards the development of a particular region in the country (the “North-West corridor”) as a home for Afrikaner culture and language within the framework of the Constitution and the Bill of Rights is in Government’s view indeed a legitimate pursuit. Ons is van oordeel dat ‘n ooreenkoms in so ‘n gees en langs sulke lyne tot ‘n volhoubare skikking ten opsigte van die benutting, verdeling en besit van grond kan bydra,” aldus Boshoff.

Positiewe toegewings vir nuwe Mynbouhandves

Image

Met die betrokkenheid van die vakbond Solidariteit in onderhandelinge met die regering oor 'n nuwe Handves vir die mynbousektor, is die volgende vier toegewings behaal t.o.v. blankes:

  • Blanke vroue is weer deel van die definisie van voorheen benadeeldes, hoewel die oorwinning tydelik van aard mag wees omrede wysigings aan die Wet op die Ontwikkeling van Minerale en Petroleumhulpbronne nie meer blanke vroue as voorheen benadeel erken nie.
  • Regstellende aksie teikens is effe meer realisties as in die vorige weergawe, maar die tydperk vir die bereiking van die teikens is van een jaar na vyf jaar verleng.
  • Alle werknemers, ongeag hul ras, sal begunstigdes wees van werknemeraandeleskemas.
  • Die konsep van medeseggenskap (“co-determination”) op raadsvlak is ook in die konsephandves opgeneem.

Ondanks hierdie toegewings, bly die Mynbouhandves 'n magtige wapen in die hand van swart ekonomiese bemagtiging en 'n skreiende onreg teen blankes.

Vrystaatse munisipaliteite ontaard in kookpot van opstande

Image

Vrystaatse munisipaliteite het in die regeertyd van premier Ace Magashule 2009 – 2018 verval in patetiese of geen dienslewering en in finansiële bankrotskap, wat aanleiding gee tot voortdurende protesopstande deur veral swart mense. Die ouditeur-generaal het in sy jongste jaarverslae gesê dat munisipale dienslewering in die Vrystaat die swakste in die land is.

 

Daar is nie 'n enkele munisipaliteit in die provinsie wat nie tegnies bankrot is nie en dit sluit in Mangaung Metro as die eerste metro wat onder administrasie geplaas is. Diensleweringsbetogings het vanjaar so erg toegeneem dat Municipal IQ, die aanlyn monitering van SA munisipaliteite dit uitwys as die brandpunt van opstande teen munisipale dienslewering in die land.

 

Talle dorpe is vir tot 'n maand sonder drinkwater, terwyl daar plaaslike woonbuurte is wat self al vir meer as 'n jaar sonder water is en wat dit van ver moet aandra of aanry. Korrupsie en ongemagtigde uitgawes deur ANC-burgemeesters en raadslede neem oorhand toe, soveel so dat bv. die laste van Matjhabeng Munisipaliteit (Welkom) die bates R2,5 miljard oorskry. As nog ‘n voorbeeld, die relatief klein Nala Munisipaliteit (Bothaville en Wesselsbron) skuld sy krediteure nagenoeg R4 miljard. 

 

Pas is in die Vrystaatse Wetgewer n.a.v. vrae van opposisiepartye onthul dat Mangaung Metro R141 miljoen + R40 miljoen+ R190 miljoen = R371 miljoen aan “konsultasiefooie” betaal het sonder dat 'n enkele steen in enige van die projekte gelê is. Dit bly egter nie net by munisipaliteite nie – by Sedibeng Water te Bothaville wat water verskaf aan meer as 2 miljoen mense in drie provinsies, word tans korrupsie ondersoek van R275 miljoen.

Mahumapelo laat leeggeplunderde provinsie agter

Image

Politieke kommentators met insig in die binnewerkinge van die ANC is dit redelik eens dat Ace Magashule en Supra Mahumapelo verbete teenstanders is van pres. Cyril Ramaphosa en dat hulle met erge korrupsie baanrekords sy relatief gematigde inisiatiewe saboteer. Teen hierdie agtergrond moet die berig gesien word dat die taakspan wat tans die finansiële situasie van die Noordwes-provinsie en regering ondersoek, reeds bevind het dat meer as R413 miljoen onreëlmatige uitgawes toegeskryf kan word aan kontrakte met die korrupte maatskappy AgriDelight, wat feitlik direk onder beheer van Mahumapelo gestaan het.

 

Hy en ander politici het die maatskappy as front gebruik vir hul eie voordeel. Hierin het dit reeds aan die lig gekom dat daar ook nou skakeling met voormalige pres. Jacob Zuma was. Op 'n breër front is bevind dat onder die regime van Mahumapelo het ongemagtigde en onreëlmatige uitgawes in Noordwes in drie jaar verdubbel tot meer as R15 miljard.

 

Die geval van Noordwes-provinsie, wat tans onder administrasie van die nasionale regering is, is duidelik 'n geval van 'n provinsie wat gekaap, wat deur Mahumapelo misbruik is om sy persoonlike korrupte koninkryk te bou en wat deur hom leeggeplunder agtergelaat is.  

Gauteng premier spoor grondbesetting aan

Image

Die Gautengse premier David Makhura spoor in uitsprake mense aan om onmiddellik grond en geboue te beset sonder vergoeding aan die regmatige eienaars. Volgens hom kan sodoende die Grondwet getoets word en het hy voorts 'n taakspan aangestel om private grond in die provinsie te identifiseer vir hierdie doel.

 

In reaksie hierop sê die VF Plus in 'n mediaverklaring: “Makhura probeer hierdeur bloot om die provinsie se laksheid om behuising aan sy inwoners te verskaf, toe te smeer deur voortydig op die wa van grondonteiening sonder vergoeding te spring. Die provinsie se departement van behuising het reeds 'n agterstand van 800 000 huise wat gebou moet word en dit is duidelik dat die ANC en Makhura se belofte nie gaan realiseer om in Gauteng teen 2019 alle informele nedersettings uit te wis nie.

 

Dit is ook duidelik dat Makhura se aankondiging vroeër vanjaar, dat hy provinsiale grond beskikbaar gaan stel vir sy "vinnige landverspreidingsprogram", reeds gesneuwel het en dat hy nou alles in die stryd wil werp ter wille van politieke oorlewing. Die premier word weereens daarop gewys dat eiendomsreg in die Grondwet verskans is en dat dit voorts 'n internasionaal-erkende mensereg is i.t.v.die VN Internasionale Handves en Deklarasie van Menseregte.

Sterk teenkanting teen onteiening sonder vergoeding

Image

AfriForum het die Parlement skriftelik in kennis gestel dat dit regstappe oorweeg om die voorgestelde onteiening van eiendom sonder vergoeding onwettig te laat verklaar. Tesame met die skriftelike kennisgewing het AfriForum ‘n versoekskrif met 270 000 handtekeninge ingedien teen die beoogde onteiening sonder vergoeding.

 

In hul beswaarskrif sê AfriForum die inligting is swak wat omtrent die openbare verhore oor die voorgestelde onteiening vir die publiek beskikbaar gestel word. So bv. weet die publiek steeds nie waar baie van die verhore gehou gaan word nie, die tye, agendas, ens. daarvan nie, terwyl talle van die plekke in swart woongebiede is met karige of geen naamborde.

 

Inmiddels het die SA Instituut vir Rasseverhoudinge bekendgemaak dat meer as 34 000 mense die voorlegging van die instituut teen grondonteiening onderteken het. Op hul beurt sê die VF Plus dat hulle ook ‘n beswaarskrif met meer as 100 000 handtekeninge teen grondonteiening gaan indien.

Nog 'n rampspoedige grondhervormingsprojek

Image

ʼn Eens florerende druiwe- en sitrusplaas van 480 ha in Limpopo is gereduseer tot bouvalle en afgekapte lemoenbome wat vir vuurmaakhout gebruik is. Dit is hoe Solidariteit die vervalle plaas Sunningdale geleë tussen Mokopane en Polokwane ná 'n besoek beskryf het. Die plaas is in 2010 d.m.v. ʼn grondhervormingsproses na die Sunningdale Workers’ Trust oorgedra.


Solidariteit het die plaas besoek nadat hy sy lid, Hannes Korff, voormalige plaasbestuurder vir 13 jaar, suksesvol by die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) verteenwoordig het. Die Trust het hom onregmatig afgedank en het nie ʼn lening wat hy aan hulle toegestaan het, terugbetaal nie. Die Trust skuld hom sowat R400 000.


Solidariteit sê hoewel dit ʼn oorwinning in die regsproses is, is die werklikheid van die verval ʼn tragedie vir almal. Die plaas het voorheen sowat 158 werkers in diens geneem, wat beteken 158 gesinne, of ongeveer 600 mense, het nie meer 'n heenkome nie.


Solidariteit sê: “ʼn Mens hoor dikwels van die rampspoedige gevolge van nie-deurdagte grondhervormings­transaksies, maar dit is egter eers wanneer jy tussen die bouvalle staan en die magdom besproeiingspype sien wat net uit die grond geruk is en aan die kant van die boorde in die son lê en verrot, dat die werklikheid insink. Die plaas het hoofsaaklik sy produkte uitgevoer, dus word die breë ekonomie ook deur hierdie verval getref.”


Die plaas gaan nou opgeveil word om die uitstaande skuld te delg, maar na raming sal dit sowat R50 miljoen kos om die plaas weer tot sy voormalige glorie te herstel. Dit sluit in die pakhuise, plaashuise, besproeiingstelsel, wingerde, lemoenboorde, skadunette en grensdrade wat geplunder is en 37 boorgate wat met klippe toegegooi is.


Vir foto’s van die vernietigde projek, kliek hier.

Doodskis-2 kry weer nee in hof

Image

Die twee veroordeelde mans in die sg. doodskissaak, Willem Oosthuizen en Theo Jackson, het ook in die Appèlhof 'n bloutjie geloop om te appelleer teen hul tronkstraf van onderskeidelik 14 en 11 jaar. Die twee is verlede jaar in die Hooggeregshof skuldig bevind aan aanranding, poging tot moord, menseroof en intimidasie en die regter het hul optrede bestempel as “vernederend, walglik en teen die gees van die Grondwet”.

 

Die Hooggeregshof het ook beslis dat hulle mag nie appelleer nie, 'n beslissing wat deur die Appèlhof gehandhaaf is, met die bevinding dat daar “geen redelike vooruitsigte op sukses is nie en ook geen dwingende rede hoekom hulle mag appelleer nie. Intussen loop die man wat hulle in die doodskis wou indwing, Victor Mlotshwa, vry en sonder 'n sigbare skeet rond.   

Nuwe Afrikaanse kuierwebwerf

Image

'n Nuwe Afrikaanse kuierwebwerf, www.gesellig.co.za, het sy spreekwoordelike deure oopgemaak. Hulle beskryf hulself as “bloot 'n plek waar Afrikaners lekker in hul eie taal kan kuier, lag en gesellig kan verkeer. Hier kan ons mekaar help, komplimenteer, mekaar se siele uitrek, grappe vertel en soortgelyke manewales aanvang. Dis 'n plek waar Afrikaanssprekendes van reg oor die wêreld met trots hul taal kan praat. Local bly lekker, maak nie saak of ons lighartig skerts en of ons ernstig met mekaar gesels nie.”

 

Registrasie is gratis, terwyl daar verskeie forums oor verskillende onderwerpe op die webwerf is. Die administrateurs sê ook dat hulle “nooit, ooit persoonlike inligting van lede (soos e-posadresse) verkoop of aan ander sal openbaar nie. Die volgende kan ongelukkig nie toegelaat word nie: Enige vorm van gemorspos of haatpos / Onnodige, ongevraagde belediging of belastering van 'n persoon buite die omvang van 'n driftige debat / Aggressiewe gedrag wat buite die aanvaarde norm van die deursnee-gebruiker se sosiale milieu val / Opmerkings wat voor-die-handliggend as rassisties voorkom.


“Ons sal geen standpunt inneem teen die volgende op die forum nie: Politiese opinies (links of regs) / Godsdiens en sake van geloof / Morele waardes en persoonlike standpunte / Suiwerheid van die taal en keuse van taalgebruik. Gesprekke sal nie gesensor word nie, behalwe as dit die hoofdoel van die webwerf benadeel.”

Inteken op DitsemBlits

Image

Die weeklikse elektroniese nuusbrief wat Ditsem Nuus uitstuur, tesame met die daaglikse Nuushooftrekke, alles gefokus op nuus wat saakmaak vir die Afrikaner, vorm 'n unieke nuuspakket in Afrikaans. Beskikbaar op 'n intekenpakket van slegs R240 per jaar, bied die nuusdiens vinger op die pols kontak met nuusgebeure soos wat dit ontvou.   

 

Om in te teken is maklik: Doen ‘n inbetaling van R240 in die volgende bankrekening: Standard Bank / Rekeningnaam: DitsemBlits / Rekeningnommer: 140 320 105 (Spaarrekening) / As verwysing: Jou naam en van. Volg dit dan op met ‘n epos na web@ditsem.net met jou naam en van, die eposadres waarop jy die DitsemBlits wil ontvang, asook  bewys van betaling.

 

By ontvangs van hierdie besonderhede word jou naam op die DitsemBlits adreslys geplaas vir die volgende 12 x maande.

SAKENUUS

Stadio wil universiteite bou

Image

Die maatskappy Stadio, wat 'n filiaal is van Curro Holdings van private skolefaam, het aangekondig dat hul beplanning in gevorderde stadium is om 'n universiteit met volwaardige kampus op 7,8 ha grond in Phesantekraal by Kaapstad te bou. Konstruksie begin in Maart 2019 en die universiteit sal na verwagting sy deure in Februarie 2021 open met akkommodasie vir 5 000 studente.

 

Die universiteit gaan o.a. kursusse in opvoeding, die handel, regte en kreatiewe bedrywe aanbied en volgens uitvoerende hoof dr. Chris van die Merwe word beoog om die inrigting uiteindelik uit te brei na 'n “multitversiteit” vir 100 000 studente met onderrig óf op kampus of afstandsonderrig. Stadio is reeds geakkrediteer om 'n doktorsgraad in Administrasie (DBA) aan te bied, terwyl akkreditasie vir nog twee doktorsgrade afgewag word.

Groot vordering met herwinning van papier

Image

In 'n gesamentlike mediaverklaring deur die Paper Recycling Association of SA (PRASA) en die Paper Manufacturers Association of SA (PAMSA), word aangtoon dat groot vordering gemaak word met die herwinning van papier in die land. So is in 2017 1,3 miljoen ton papier en papierverpakkingsmateriaal weggekeer van stortingsterreine en vir herwinning benut. Dit kan 1 539 Olimpiese standaard swembaddens vul.

 

Dit verteenwoordig 70% van die 1,8 miljoen ton totale hoeveelheid papier beskikbaar in die land vir herwinning, uitgesluit boeke, argiefrekords en onherwinbare papier soos toiletpapier. Die papierherwinningsbedryf het vir hulself 'n teiken gestel van 70% herwinning teen 2020 en dit is nou drie jaar vroeër bereik.

 

Vir meer besonderhede kontak woordvoerder Samantha Choles by sam@frogcomm.co.za of 011 425 3001 of 082 452 2566 of volg hierdie skakel.

Small Business Expo

Image

'n Nasionale Kleinsake Ekspo, The Small Business Expo, word vanaf 6-8 September 2018 by die Ticketpro Dome, Northriding, Johannesburg, gehou. Dit fokus op klein- en mediumgrootte ondernemings en word gestruktureer om ontwikkelingsinligting vir kleinsake deur te gee, asook om waardevolle netwerkgeleenthede te skep.

 

Gelyklopend met die Ekspo word die #BuyaBusiness Expo aangebied Vir meer besonderhede, volg hierdie skakel.

INTERNASIONAAL

Noord-Korea – wat van 70 000 Christen-gevangenes?

Image

Die tydskrif Juig! berig dat onder die onderwerpe wat pres. Donald Trump en die Noord-Koreaanse leier Kim Jong-Un op 12 Junie 2018 bespreek het, was nie net die kernontwapening van Noord-Korea nie, maar het Trump aangedui dat die onderwerp van Christene in Noord-Korea ook bespreek is en dat hy hoopvol is dat verandering op hande is.

 

’n Christen en menseregte-advokaat wat uit Noord-Korea ontsnap het en nou in die Verenigde Koninkryk woon, het gesê: “Ek hoop dat as daar ekonomiese vooruitgang is, dit die weg sal baan vir meer vryheid vir die mense van Noord-Korea – vryheid van denke, geleenthede en godsdiens. Dit is die begin van die proses, met die eerste stap geneem.

 

Zoe Smith, arbitrasiehoof by Geopende Deure VK en Ierland, sê: “Geopende Deure skat dat ongeveer 70 000 Christene in die tronk en arbeidskampe aangehou word, waar hulle weens hulle geloof verskriklike marteling en onmenslike en vernederende behandeling verduur. As ware verandering in die land geskied – en ons hoop dit sal – moet enige verdere onderhandelinge die haglike menseregtesituasie ook betrek.”

Riviere wêreldwyd al meer besoedel

Image

Op ‘n onlangse navorsingskonferensie in Wene, Oostenryk, is inligting gerapporteer dat die volume farmaseutiese middels wat deur menslike afval in riviere en ander waterweë beland teen die huidige tempo binne drie dekades met sowat 67% sal toeneem. Hoë konsentrasies van farmaseutiese middels soos antibiotika, hormone wat estrogeen bevat, psigiatriese middels soos antidepressante, antihistamiene en pynstillers word al meer in varswaterbronne gevind.

 

Die konsentrasies van middels waarin hormone voorkom, is so hoog dat dit al gelei het tot geslagsverandering by visse en amfibieë. Veral anti-inflammatoriese middels soos Diclofenac, wat in bv. Voltaren, Cataflam en Zipsor voorkom word as uiters gevaarlik vir die omgewing bestempel. In Suid-Asië het die voorkoms van hierdie middel in die natuur al gelei tot die uitsterf van drie spesies aasvoëls.

 

N.a.v. die konferensieverslae is internasionale moniteringsmeganismes ingestel om besoedeling in varswaterbronne wêreldwyd te monitor en te kodifiseer, sodat tydig op gevaarseine gereageer kan word. Hoe effektief Suid-Afrika by hierdie internasionale monitering ingeskakel het, is nie bekend nie.

Zambië nuwe internasionale lughawe

Image

Zambia Airports Corporation Limited (ZACL) het aangekondig dat 'n nuwe internasionale lughawe, die Copperbelt International Airport, in die noordweste van die land ontwikkel word 1 km wes van Ndola en naby die Ndola-Kitwe snelweg.

 

Konstruksie het reeds begin en na beplanning sal die lughawe in 2021 in bedryf gestel word, met o.a. 'n eindpuntgebou vir 1 miljoen passasiers en 'n 3,5 km lange aanloopbaan, tesame met ander eerstewêreld fasiliteite.

REDAKSIONELE KOMMENTAAR

“Bose apartheid”?

“Apartheid” word dikwels uitgemaak as so boos en as 'n “misdaad teen die mensdom”, maar:

 

  • As dit so genadeloos en onmenslik was, hoe het Nelson Mandela daarin geslaag om 'n graad in die Regte te verwerf?
  • Was dit onmenslik van blankes om 10 universiteite vir swartes tydens die vorige bedeling te gebou het?
  • Hoe het dit gekom dat hierdie onmenslike regering elke jaar sy begroting op swart onderwys met 30% verhoog het - betaal met blanke belastingbetalersgeld.
  • Hoe was dit onder sulke onmenslike omstandighede moontlik vir 65% swart Suid-Afrikaanse kinders om op skool te wees, teenoor 64% in Egipte, Nigerië 57%, Ghana 52%, Tanzanië 50% en Ethiopië 29%?
  • Hoe was dit moontlik onder sulke omstandighede dat 71% swart volwassenes in Suid-Afrika kon lees en skryf, teenoor 47% in Kenia, 38% in Egipte, 34% in Nigerië en 26% in Mosambiek?
  • Hoe kon hierdie "onmenslike rassistiese blankes" 15 nuwe klaskamers vir swartes gebou het elke werksdag van elke jaar?
  • Hoe was dit vir die swart bevolking moontlik om onder sulke onmenslike toestande van 5 miljoen tot 40 miljoen te vermeerder?
  • As die apartheidsregering so onmenslik was, waarom het dit 56% van sy jaarlikse begroting aan swartes bestee?
  • As dit so onmenslik was, hoe was dit moontlik vir swartes se lewensstandaard om met 5,4% per jaar te styg?
  • As dit so onmenslik was, hoe het Soweto 115 sokkervelde, 3 rugbyvelde, 4 atletiekbane, 11 krieketvelde, 2 gholfbane, 47 tennisbane, 7 swembaddens op Olimpiese standaard, 5 kegelbalbane, 81 netbalvelde , 39 kinderspeelparke en talle gemeenskapsale, klubhuise, 300 kerke, 365 skole, 2 tegniese kolleges, 8 klinieke, 63 kinder-dagsorgsentrums, 11 Poskantore en sy eie vrugte- en groentemark gekry - alles betaal deur blanke belastingbetalersgeld?
  • As dit SO erg was, hoekom het Soweto op sy eie meer motors, taxi's, skole, kerke en sportgeriewe gehad as die meeste onafhanklike lande in Afrika en meer private voertuie as die hele blanke bevolking van die destydse USSR?
  • Wie het die Baragwanath Hospitaal vir swartes gratis gebou en bedryf - die grootste hospitaal ter wêreld, met 3 200 beddens en op sy hoogtepunt byna 8 000 personeellede en 23 operasieteaters, toegerus met die nuutste mediese toerusting ter wêreld, uitsluitlik vir swartes. Daar was 450 mediese dokters in voltydse diens vir 112 000 pasiënte en 1,62 miljoen buite-pasiënte per jaar.

Hierdie feite verteenwoordig slegs die spreekwoordelike oortjies van die seekoei uit die vorige bedeling in Suid-Afrika. Ja, daar was foute, maar die goeie nuus is oordonderend en dit is tyd dat dit hard en duidelik vertel word.

SKEP MOED!

Dink nie aan die vorige dinge nie, en slaan geen ag op wat vroeër gebeur het nie. Kyk, Ek gaan iets nuuts maak; nou sal dit uitspruit; sal julle dit nie merk nie? Ja, Ek maak ’n pad in die woestyn, riviere in die wildernis.

  • Jesaja 43:18-19

Indien u nie die epos wil ontvang nie kan u hier uit teken
Anulus Bemarking, S39 Oranje Eggo, Orania, North Cape, 7590, South Africa, www.ditsem.net