24 Augustus 2018

  Lees die epos aanlyn

Image

AKTUELE NUUS

Diepe verdeeldheid in blanke geledere oor grond 

Image

Dit blyk dat diepe verdeeldheid heers onder blankes beide in SA en in die buiteland oor grondonteiening sonder vergoeding en dat hierdie polarisasie waarskynlik onomkeerbaar is. Nadat die Parlement op 27 Februarie vanjaar besluit het dat ondersoek gedoen moet word of wysiging van die Grondwet nodig is om grondonteiening sonder vergoeding te kan doen en Cyril Ramaphosa op 30 Julie namens die ANC gesê het grondonteiening sonder vergoeding gaan uitgevoer word, was die reaksie in blanke geledere aanvanklik dat dit neerkom op gronddiefstal en verkragting van menseregte.

 

Instansies soos AfriForum het op besoek aan die VSA by die Amerikaanse regering sterk voorbrand gemaak teen hierdie beplande grondgryp, terwyl buitelandse TV joernaliste soos Lauren Southern en Katie Hopkins met uitgesproke kritiek teen grondgryp en plaasmoorde in SA baie gedoen het om internasionale steun op te wek. Ook in ander Europese lande en in Australië is die ANC-EFF veldtog gesien vir wat dit is en is ondersteuning vir veral blanke boere in SA uitgespreek.

 

Die vet was verder in die vuur toe AfriForum op Sondag 12 Augustus op hul webwerf 'n lys van sowat 190 plase gepubliseer het wat na bewering reeds geïdentifiseer is vir onteiening sonder vergoeding, welke lys na bewering gesirkuleer is binne die Dept. van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming. Dit blyk dat die eerste twee plase op lys is van Akkerland  Boerdery (Edms.) Bpk., waaronder Makhado Steenkoolrif geleë is ter waarde van sowat R170 miljard. Die slotsom is onvermydelik dat die hele kwessie oor sg. “grond” in SA inderwaarheid eintlik gaan oor die ongelooflike ryk mineraalneerslae van die land – sien die kaart by hierdie berig. 

 

Hoewel die regering by monde van verskeie woordvoerders die egtheid van hierdie lys ontken het, het dit skokgolwe deur die land en ook oor die wêreld gestuur. Die feit van die saak is dat vroeër in 'n verslag die internasionale navorsingsinstansie Citibank bevind het Suid-Afrika beskik oor die rykste minerale- en metaleneerslae ter wêreld met waarde van sowat R37,5 triljard, met gesamentlik tweede Rusland en Australië elk met beraamde reserwes van sowat R24 triljard.   

 

In SA self het verdeeldheid onder Afrikaners aan die lig begin kom met veral Agri SA wat louwarm gereageer het op die dreigende grondgryp. Ná samesprekings die afgelope Maandag tussen Agri SA president Dan Kriek en pres. Cyril Ramaphosa, asook Dinsdag tussen 'n afvaardiging van Agri SA en Agbiz met 'n ANC afvaardiging o.l.v. adjunk-pres. David Mabuza, is in 'n gesamentlike mediaverklaring gesê  “faksies wat moedswillig die gemeenskap oor die grondkwessie polariseer, moet teengestaan word.”

 

Intussen het die Nieu-Suid-Walliese parlement in Australië 'n sterk resolusie aanvaar teen plaasmoorde en onteiening sonder vergoeding in SA, terwyl die kat behoorlik in die duiwehok gegooi is deur 'n twiet van pres. Donald Trump van die VSA waarin hy gesê het dat hy sy minister van buitelandse sake Mike Pompeo opdrag gegee het om grondonteiening en plaasmoorde in SA diepgaande te ondersoek. Daarmee is die kloof tussen blankes wat betref grondonteiening sonder vergoeding drasties op die spits gedryf.

 

Aan die een kant is daar diegene soos Agri SA en oud-minister Roelf Meyer wat sê dat retoriek oor grondonteiening jaag net onnodig spoke op en dat die saak deur volgehoue onderhandelinge met die ANC besleg sal kan word. Aan die ander kant is bv. AfriForum, die VF Plus, die SA Instituut vir Rasse-aangeleenthede, Cope, die ACDP en die DA wat sê dat onteiening sonder vergoeding kan die doodsklok vir sosio-ekonomiese stabiliteit in SA lui.

 

Daar is voorts talle behoudende Afrikaner-kommentators wat van mening is dat onteiening sonder vergoeding deel is van ‘n onverklaarde burgeroorlog teen blankes in die land, in effek uitvoering van die kommunistiese Nasionale Demokratiese Rewolusie (NDR) van die ANC en dat dienooreenkomstig voorberei moet word. 

Gevaar van onteiening vir Agoa

Image

'n Selfverduidelikende mediaverklaring van die VF Plus lui soos volg: “Daar is 'n wesentlike gevaar dat Suid-Afrika se lidmaatskap van die Agoa-klub van lande wat handelsvoordele van die VSA ontvang, opgeskort kan word weens onteiening sonder vergoeding. Die invloedryke internasionale dinkskrum, die Cato Instituut, het versoek dat pres. Donald Trump die lidmaatskap van SA onder die loep neem weens onteiening sonder vergoeding en die effek daarvan op minderhede.

 

“Onteiening sonder vergoeding is nie toelaatbaar i.t.v. die vereistes van die Agoa-wetgewing nie. Ingevolge hierdie wetgewing mag onteiening van vaste eiendom sonder vergoeding nie deur 'n begunstigde land gedoen word nie, terwyl daar ook 'n streng vereiste gestel word t.o.v. die handhawing van basiese mensregte.

 

“Die nuwe Beleggingsbeskermingswet van die ANC-regering maak voorsiening vir die beskerming van buitelandse beleggers aan die hand van artikel 25 van die Grondwet, ironies genoeg die einste artikel waarvan die ANC nou ontslae wil raak ter wille van onteiening sonder vergoeding.” 

Berig oor plaasgrond en Chinese

Image

Radio Laeveld berig dat die eienaars van ‘n plaas by Tshipise in Limpopo 'n aanbod van R20 miljoen vir hul kommersiële plaasbesigheid in volle produksie van die hand gewys het, aangesien hulle meen die plaas is R200 miljoen werd. Voorts word berig dat die regering hierdie spesifieke grond wil bekom om aan 'n Chinese maatskappygroep aan te bied vir die myn van steenkool en voorsiening aan ‘n kragstasie op 'n gebied van 6 000 ha.

 

Die grond is na bewering aan die Chinese beloof in ruil vir die onlangse “belegging” van miljarde rand wat die Chinese regering met die Brics beraad vir Suid-Afrika beloof het. Na berig word, is die ooreenkoms verder dat die Chinese die kragstasie self sal bou en vir doeleindes daarvan ‘n Chinese werksmag sal invoer.  

 

In die Parlementêre debat die afgelope Woensdag het pres. Ramaphosa op 'n uitdruklike vraag van Opposisieleier Mmusi Maimane die voorwaardes gesystap waarop China beleggings en kapitale hulp aan die SA regering geoormerk het. 

EFF neem oor by Universiteit van Vrystaat

Image

Die ondenkbare tragiese het gebeur – swart radikale studente het oorgeneem by die Universiteit van die Vrystaat (UV), eens die bastion van Christelik-Afrikanernasionalisme. In die afgelope verkiesing vir die UV Studenteraad 2018/19 het die EFF bo uitgekom en is Sonwabile Dwaba as voorsitter verkies, met in die ander sleutelposte EFF-lede adjunk-president Bokang Fako, sekretaris Khanya Ralarala, tesourier Vuwe Mqushulu, lid vir beleid en transformasie Koketso Khunou en studente-ontwikkeling Patrick Sebudi.

 

De eerste wat Dwaba gesê het is dat die standbeeld van pres. MT Steyn voor die hoofgebou “moet val”. Hy het voorts aan studente gesê: “Ek kan dit alleenlik vermag as julle my help. Slegs studente in groot getalle sal hierdie universiteit transformeer.

 

'n Student, Mariza Steyn, het in reaksie gesê: “Diegene wat weet wie pres. MT Steyn was en wat hy alles vir die land gedoen het, moet sy nalatenskap verdedig.” 'n oud-student, Anna Jordaan, het gesê: “Dit voel asof al die wit mense se kutuurskatte tot niet gemaak word.”

 

'n Personeellid wat al 18 jaar by die UV werksaam is, het gesê: “Kort voor lank is dit nie net weg met die beelde nie, maar ook met die wit bevolkingsgroep. Ek voel bedreig en so ook van my kollegas.”   

Twee van jongste plaasaanvalle

Image

Twee van die jongste plaasaanvalle was, eerstens, verlede Vrydagmiddag op 'n plaas by Randfontein toe ‘n groep van nege rowers ‘n seun en dogter aangeval en aangerand het, waarna hul met ‘n brandkluis, wapens en kontant in ‘n bakkie gevlug het. In ‘n tweede voorval afgelope Dinsdagoggend vroeg op ‘n kleinhoewe naby Cullinan, is twee mans in hul slaap deur vier rowers oorval en aangerand, voordat hulle met waardevolle items en twee voertuie gevlug het.      

Sasol steeds rassistiese bemagtiging van werknemers

Image

Nadat die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) vroeër vanjaar in ʼn historiese uitspraak aan Solidariteit toestemming gegee het om te staak weens uitsluiting van blanke werknemers uit die Khanyisa bemagtigingskema van Sasol, het die uitvoerende hoof van Sasol, Stephen Cornell, gesê dat hy nie sy insluitingsmaatreëls rakende Khanyisa gaan wysig nie.

  Gevolglik het Solidariteit aangekondig dat hulle voortgaan met hul stakingsplanne. Hulle sê dat dit eenvoudig nie reg is om iemand bloot op grond van sy velkleur, selfs al was hy al vir 35 jaar ʼn getroue werker by Sasol, uit te sluit nie.

Verslag bevind Afrikaanssprekende “babaploffing”

Image

'n Indringende verslag deur die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) het bevind dat die getalle van Afrikaanssprekendes gaan teen 2031 tot net meer as 7 miljoen styg. Dit sluit in getalle van sowel bruin as wit Afrikaanssprekendes. Wat die Afrikanerbevolking spesifiek betref, is bevind dat die getal gaan effe toeneem tot so 2,7 miljoen en dan stadig begin afplat – steeds egter meer as die totale bevolkings van onderskeidelik Namibië, Botswana of selfs Hawaii

 

Dié klein baba-ontploffing het verreikende gevolge vir instellings en kultuurorganisasies. Vanweë die groter getal kinders was daar ná 2011 ʼn toename in kleuterskole en ʼn groter vraag na laerskole in Afrikaanse gebiede. Dit gaan tussen 2020 en 2030 gevolg word deur ʼn groter vraag na Afrikaanse hoërskole en uiteindelik teen 2030 deur ʼn groter vraag na tersiêre onderwys in Afrikaans. Nog 'n opsienbare bevinding in die verslag is dat die uittog van Afrikaners na die buiteland kleiner is as wat vermoed is en dat daar ook ʼn terugkeer van Afrikaners uit die buiteland is. Hierdie gevolgtrekking word ondersteun deur immigrasiesyfers van die Organisation for Economic Development (OECD), wat wys dat die getal Suid-Afrikaners wat hul in lande soos die VSA, Kanada, die Verenigde Koninkryk, Australië en Nieu-Seeland bevind, relatief stabiel bly op sowat 500 000.

 

Vir meer besonderhede, kontak Connie Mulder van die SNI by 082 731 8381. 

Gepoogde afpersing van boere in die Vrystaat

Image

'n Selfverduidelikende mediaverklaring van Vrystaat Landbou lui soos volg: “Sogenaamde ‘polisiebeamptes’ wat boere bel oor hul vee en ander eiendom wat teruggevind is, kom in die volgende 17 dorpe of gebiede in die Vrystaat voor: Bethulie, Bloemfontein, Brandfort, Clarens, Cornelia, Dealesville, Dewetsdorp, Glen, Heilbron, Hennenman, Koffiefontein, Rosendal, Springfontein, Theunissen, Viljoenskroon, Virginia en Winburg.

 

“Die boer as klaer word dikwels enkele ure of dae nadat ’n saak aangemeld is, deur ’n ‘beampte of offisier’ gekontak wat meld dat sy of haar eiendom teruggevind is. Die boer moet dan ’n sekere bedrag, gewoonlik tussen R800 en R10 000, by bv. ’n bank inbetaal sodat die diere of eiendom gehaal en terugbesorg kan word. Die sg. beampte klink geloofwaardig en meld ook die ondersoekbeampte se besonderhede, details oor die eiendom of die soort brandmerk, getal vee wat gesteel is en het ook kennis van die saak wat slegs op die MAS-stelsel voorkom.

 

“Vrystaat Landbou het reeds in Februarie 2018 die SAPD versoek om ’n interne kommunikasie hieroor na al sy stasies in die Vrystaat te stuur en Polisiebeamptes daarop te wys om geensins vertroulike inligting oor sake aan enige voornemende polisiebeampte deur te gee nie, alvorens dit nie bevestig kan word of die spesifieke persoon wel ’n Polisiebeampte is nie.”

 

Vir meer besonderhede, kontak  Jane Buys by 082 922 8434 of Gerhard Kriel by 082 050 1444.

SAKENUUS

Beste kleinhandelsbedrywe

Image

Volgens 'n verslag van die kommersiële sagtewareverskaffers Vend, is die drie kleinhandelsbedrywe in SA wat die beste doen, die meubelhandel, sportgoedere en elektroniese apparate. Die verslag toon ook dat onafhanklike kleinhandelaars in Suid-Afrika 'n verkoopsvolume behaal 25% hoër as die wêreldgemiddelde. 

INTERNATIONAAL

Nuwe Australiese eerste minister

Image

Australië het 'n nuwe eerste minister nadat Scott Morrison, minister van finansies, 'n verbete leierskapstryd in die Liberale Party gewen het. Morrison, ‘n uitgesproke Christen, het Peter Dutton, minister van binnelandse sake en regsgesinde, in die finale rondte met 45 stemme teen 40 geklop.

 

Dit volg nadat die kop van sittende eerste minister Malcolm Turnbull en meer liberaal in sy sienswyse, naarstigtelik geëis is. Dutton is die man wat SA blanke boere met ope arms na Australië genooi het.

 

Daarmee het Australië sy vyfde eerste minister in soveel jare gekry, 'n verskynsel wat daartoe gelei het dat na Canberra verwys word as die “staatsgreep-hoofstad

van Suidoos-Asië.”

 

REDAKSIONELE KOMMENTAAR

Realiteite in die oë kyk


Die diepgaande kloof in blanke geledere waaroor hierbo berig is t.o.v. die siening van dreigende grondgryp in SA, raak aan realiteite wat vierkantig in die oë gekyk behoort te word. Die eerste daarvan is die skeidslyn wat vandag deur die Afrikaner as volk loop: Aan die een kant is daar diegene wat steeds glo hul heil en toekoms lê in die groot bont sg. “reënboog” Suid-Afrika. Dit is egter die SA wat vandag lyk soos dit lyk.


Aan die ander kant is daar diegene wat glo dat selfbeskikking, uiteindelik in 'n soewereine, selfstandige en volhoubare Afrikanerstaat, die enigste opsie is vir oorlewing en uitlewing van Afrikanervolkskap. Vir hierdie doel sal daar noodwendig op een aaneengeslote regmatige grondgebied gekonsolideer en uitgebou moet word – laertrek in effek.


'n Tweede realiteit is die feitelike opset van die hedendaagse Suid-Afrika: Sedert 1994 kom regstellende aksie, swart ekonomiese bemagtiging, kwotas, plaasmoorde, terroristiese aanvalle, 'n hemelhoë stapel diskriminerende wetgewing om die swart meerderheid teen die blanke minderheid te beskerm, op niks anders neer as onverklaarde burgeroorlog teen blankes / die Afrikaner nie. 


Dít gesien tesame met toenemende swart politieke radikalisme, ongelooflike korrupsie en die verval van infrastruktuur tot menslik-gesproke onredbaar – wie sien nog in die huidige SA 'n rooskleurige toekoms vir die Afrikaner? 


Hoekom regeer die ANC vandag oor die Afrikaner? Net een rede: Getalsoorwig. Hulle is nie beter nie en verdien dit nie op meriete nie. Die ANC is Godloos, korrup en in wese terroristies. Volgens die Woord sal die goddelose nie wen nie, maar wel die gelowiges.


Dit bring ons by die vraag oor die pad vorentoe: Dit behels 'n debat op sy eie, met aspekte ter sprake soos grootskaalse volkshervestiging, massiewe maatskaplike opheffing, hernude ekonomiese bemagtiging van die Afrikaner, ens., maar dan ook nog 'n sleutelbelangrike aspek, nl. beveiliging oftewel uiteindelik militarisering ter verdediging. Die Afrikaner gaan waarskynlik binne afsienbare tyd sy eie weermag nodig hê, maar nie vir loopgraafveg nie, maar met tegnologie, laser, hommeltuig, ens. Die verliese moet aan vyandskant wees.


Hierdie vra groot spronge, maar gegee die realiteite, wat is die alternatief?

SKEP MOED!

Die oranje, wit en blou


Kyk gerus na hierdie kort videogreep met die Oranje, wit en blou as tema en skep moed dat daar 'n verlede was wat baie goed was!

Die oranje, wit en blou
Facebook
Twitter
Website

Indien u nie die epos wil ontvang nie kan u hier uit teken
Ditsem Nuus, Oranje Eggo S39, Orania, Noord-Kaap, 8752, South Africa, www.ditsem.net