31 Augustus 2018

  Lees die epos aanlyn

Image

AKTUELE NUUS

MRK bevestig SA regstellende aksie is onwettig

Image

Nadat Solidariteit ʼn verslag oor die SA regstellende aksieprogram by die VN Komitee vir die Uitskakeling van Rassediskriminasie (Committee on the Elimination of Racial Discrimination – CERD) asook ʼn petisie by die SA Menseregtekommissie (MRK) ingedien het, het laasgenoemde uitspraak gelewer dat die Wet op Diensbillikheid onwettig is en gewysig moet word. In kommentaar hierop sê Solidariteit “dat hierdie verslag en aanbevelings van kardinale belang is en dat dit die gesig van regstellende aksie vir altyd gaan verander.” Die MRK het o.a. bevind dat die Wet op Diensbillikheid nie aan die vereistes van CERD sowel as dié van die SA Grondwet voldoen nie. Volgens die MRK-verslag moet regstellende aksie sensitief vir konteks wees en moet streeksdemografie in ag geneem word. Die huidige rasseklassifikasie is nie aanvaarbaar nie en maatstawwe moet meer genuanseerd wees. Die verslag het ook bevind dat behoefte in ag geneem moet word, dat daar ʼn einde moet wees aan regstellende aksiemaatstawwe, wat in SA neerkom op ʼn kwotastelsel. Gedeeltes vanuit die MRK-verslag wat betrekking hou kan hier beskou word.

Polisie dikwels kop in een mus met plaasaanvalle

Image

Volgens navorsing deur dr. Johan Burger van die Instituut van Sekuriteitstudies (ISS) is lede van die SA Polisiediens dikwels kop in een mus met aanvallers tydens plaasaanvalle. Die navorsing wat oor jare gedoen is, dui daarop dat sommige Polisielede vooraf betrokke is by die beplanning van plaasaanvalle, dat Polisiewapens soms gebruik word in aanvalle en dat ná aanvalle Polisiedossiere van verdagtes in heelwat gevalle “vermis” raak.

 

Die resultate van hierdie navorsing het veral uitgekom in 'n onderhoud wat die Britse TV-joernalis Katie Hopkins met Burger gevoer het – om die verslag van Hopkins in hierdie verband te lees, volg hierdie skakel.  

Ironie van jongste verwikkelinge rondom dreigende grondonteiening

Image

Die volgehoue bewusmaking in die buiteland van die feite omtrent plaasmoorde en dreigende grondonteiening sonder vergoeding het daartoe gelei dat die ANC-regering en Agri SA tesame met ander landbou-organisasies opnuut gesprekvoering begin het oor die verklaarde voorneme van grondonteiening sonder vergoeding. Vandeesweek het Agri SA, Afasa, Nafu en TLU SA verenig onder die banier van Agrisektor Eenheidsforum (Asuf) ten einde in oorleg met die regering 'n sg. nasionale grondstrategie op te stel.

 

Inmiddels word AfriForum terselfdertyd ironies genoeg uitgesonder vir hewige kritiek omdat dit steeds bewusmaking doen van die voorneme van grondonteiening sonder vergoeding, gekoppel aan die voortdurende voorkoms van plaasmoorde. Pres. Donald Trump van die VSA word ook steeds gestriem oor sy twiet dat hy sy minister van buitelandse sake Mike Pompeo opdrag gegee het om moontlike grondonteiening en ook plaasmoorde in SA te ondersoek.

 

Daar word op sosiale media gewys op die ironie dat waar 'n Amerikaanse president vir die eerste keer in die geskiedenis uitgesproke simpatiek is teenoor die lot van blanke boere in SA, kritiseer plaaslike landbouleiers hom daarvoor. Verdere ironie is die nuus dat die uitstekende dokumentêr Farmlands van jong Kanadese TV-joernalis Lauren Southern nou uit Engels vertaal is in Duits, Nederlands, Frans, Fins, Hebreeus, Hongaars, Italiaans, Pools, Portugees, Russies, Slowaaks en Spaans.

 

Intussen het die ANC in die Parlementêre Portefeuljekomitee vir Openbare Werke pas in die Parlement die Wysingswetsontwerp op Onteiening onttrek. Hieroor sê die VF Plus in 'n mediaverklaring: “Die rede vir die onttrekking is om die proses van onteiening sonder vergoeding te bespoedig deurdat die proses vereis dat wanneer die Grondwet gewysig word, die wysiging deur gewone wetgewing moet geskied.

 

“Dit is dus duidelik dat die ANC hom nie van stryk laat bring deur berade en voorstelle van die landbousektor oor hoe om grondhervorming te versnel nie, en dat hy eensydig voortgaan om die Grondwet te wysig om voorsiening te maak vir onteiening sonder vergoeding. Die ANC mislei die publiek en landbou-organisasies deur voor te gee dat hy planne en voorstelle om grondhervorming te versnel verwelkom en sodoende wek hy die indruk dat hy nie sal voortgaan met onteiening sonder vergoeding nie.”

Beraad “Versterk eiendomsreg”

Image

Die Ad Hoc Groep vir die Beskerming van Eiendomsreg het aangekondig dat 'n “Beraad oor onteiening sonder vergoeding, die motief, die ekonomiese realiteite en die alternatiewe” aangebied word op Donderdag, 6 September 2018 by TLU, Silverton, vanaf 09:00-13:30. Hierdie Ad Hoc Groep bestaan uit  ʼn aantal burgerlike organisasies en politieke partye wat oor die laaste paar jaar kragte saamgesmee het teen grondonteiening.

 

In 'n mediaverklaring wys die Groep daarop dat vanjaar die 80ste herdenking is van die VN Universele Verklaring van Menseregte. Onteiening sonder vergoeding is in stryd met die gevestigde internasionale beginsel van die Verklaring in artikel 17(1 en 2): (1) Everyone has the right to own property alone as well as in association with others. (2) No one shall be arbitrarily deprived of his property.

  Temas vir die program van die beraad op 6 September is: Die NDR agenda en toepassing in Suid-Afrika ./  ʼn Historiese perspektief op grondbesit in SA / Die regmatige besit van grond deur produsente / Die huidige toepassing en die realiteit vir die ekonomie / Staatkundige verval en die gevolge / Ekonomiese en juridiese realiteite. Vir meer besonderhede, skakel Jan Bosman 083 630 6187 of janbosman@abond.co.za.

Beplande EFF-ANC staatsgreep in Tshwane Metro misluk 

Image

Die beplande EFF-ANC mosie van wantroue in DA-burgemeester Solly Msimanga gister het weens botsende strategiebenaderings platgeval en is geen sodanige mosie ter tafel geneem nie. Die verteenwoordigers van beide die EFF en ANC het daarop die raadsitting verlaat.

 

Dat dit gaan om bloot politieke gewin en geensins oor die inwoners van die Tshwane Metro nie, blyk uit die feit dat onder DA-geleide bestuur van die metro is ‘n begrotingstekort van R2 miljard die afgelope twee jaar omskep in ‘n oorskot van R704 miljoen. Die huidige koalisieregering van die metro bestaan uit die DA, VF Plus, ACDP en Cope.

Afrikaanse Taalraad: Inklusiwiteit en diversiteit 

Image

Op die algemene jaarvergadering van die Afrikaanse Taalraad (ATR) gehou op 25 Augustus 2018 in die Paarl het die klem sterk geval op inklusiwiteit en relevansie.  Sterk voorbrand vir Afrikaans oor alle grense heen is gemaak en vir die bevordering van Afrikaans in ’n meertalige verband.

 

Japie Gouws, voorsitter van die ATR, beskou die ATR as die mees verteenwoordigende Afrikaanse taalorganisasie in terme van ras, geslag, geografie en die variëteite van die taal. “Maar ons wil nog beter doen en sal ons diversiteit en die uiteenlopende spektrum van idees wat reeds in die ATR uitgebou word in die loop van die jaar aansienlik uitbrei,” sê hy.

 

“Die ATR loods dus ʼn werwingsveldtog wat veral kunstefeeste en gemeenskapsorganisasies se betrokkenheid by die organisasie wil verhoog. Ons het selfs ʼn meganisme geskep waarvolgens veral gemeenskapsorganisasies wat om finansiële redes sukkel om deel te neem, gehelp kan word,” sê Gouws.

 

Vir meer besonderhede, besoek www.afrikaansetaalraad.co.za

SAKENUUS

Veldtog teen halaal-teken

Image

Die organisasie Christian Friendly Products (CFP) berig dat hulle ‘n paar jaar gelede begin het om ‘n Christelike handelsmerk as alternatief vir die halaal-merk te bemark. Dit volg nadat hulle tevergeefs 'n klag by die Kommissie vir die Bevordering en Beskerming van Kultuur-, Godsdiens- en Taalregte (KGT) gelê het, maar geen reaksie ontvang het nie. 

 

CFP het twee doelwitte: Ten eerste om die groot Christen-befondsing van Islam deur die halaal-merk te probeer stopsit en, ten tweede, om dié geld na die Koninkryk te kanaliseer. Die internasionale halaal-merk is sowat $2,7 triljard oftewel R43,2 triljard werd. Ook in Suid-Afrika oes die halaal-merk miljarde rand vir Islam.  

 

CFP sê dat hulle al vir jare bid en werk aan bewusmaking oor hierdie saak. Hulle doen 'n beroep op die algemene publiek vir steun - belangstellendes kan hul webwerf by www.christianfriendlyproducts.com besoek of by CFP Facebook. 

Inteken op DitsemBlits maklik en vinnig

Image

Vir inteken op DitsemBlits d.m.v. PayFast is dit maklik en vinnig - letterlik net die druk van 'n paar knoppies en dan is jy ingeteken @ slegs R240 per jaar – kliek hier daarvoor.

 

DitsemBlits as elektroniese nuuspakket bestaan uit daaglikse Nuushooftrekke en 'n weeklikse Nuusbulletin - alles gefokus op nuus wat saakmaak vir die Afrikaner van vandag, veral in die kritieke tye waarin ons leef.

INTERNATIONAAL

Zimbabwe – een groot rookskerm?

Image

Met die pas afgelope algemene verkiesing in Zimbabwe het sittende president Emmerson Mnangagwa van Zanu PF net-net 'n oorwinning oor sy vernaamste teenstander Nelson Chamisa behaal en sodoende in die kussings gebly. Daarmee is die gevestigde regime-orde in Zimbabwe gehandhaaf met al die gevestigde kamerade steeds in plek.

 

Die vraag kom egter op, wat gaan regtig aan in Zimbabwe, veral met Mnangagwa wat so 'n lang pad saam met Robert Mugabe geloop het? Verander 'n luiperd waarlik van kolle?

Deur sosiale media het 'n omvattende en indringende dokument ter hand gekom, met die feite daarin skynbaar geloofwaardig en waarvolgens dit voorkom dat Zimbabwe tans inderwaarheid een groot rampokkerstaat is. Dit word aan lesers self oorgelaat om die dokument, beskikbaar by hierdie skakel te beoordeel.

REDAKSIONELE KOMMENTAAR

Suid-Afrika vandag op die keper


Op die keper beskou, die volgende redaksionele opmerkings oor die huidige snelveranderende politieke, ekonomiese en maatskaplike toestande in Suid-Afrika: 
• Twiet van Trump oor grond en plaasmoorde in SA: Een twiet van die magtigste man op aarde en die skeidslyn in SA is getrek tussen die realiste en die dromers oor die bedreiging van onteiening sonder vergoeding en oor  die aakligheid van plaasmoorde.
• 'n Kommentator wys daarop dat Suid-Afrikaners wat steeds heul met die ANC-regering oor die konsep van grondonteiening, hulself eintlik medepligtig maak aan hierdie voorgenome misdaad van die ANC, asook aan al die ongelooflike korrupsie wat daarmee gepaardgaan. Vir 'n videogreep van hierdie kommentator, volg hierdie skakel.
• Die ANC – organisasie en regering – praat met 'n gesplete tong oor grondeonteiening sonder vergoeding. Aan die een kant sê hulle dis hul verklaarde doelwit, maar aan die ander kant sê hulle geen grondgryp sal toegelaat word nie en dat oortreders vervolg sal word.
• Getuienis tans voor die Zondo Kommissie oor staatskaping is 'n openbaring en toon dat tydens die Zuma-bewind Suid-Afrika inderwaarheid beheer is deur 'n skadu-regering, met die Guptas wat letterlik die kabinet geskommel het, maatskappydirekteure aangestel en in die pad gesteek het en tenders van miljarde rand bewimpel het. Diegene soos Mcsebisi Jonas, Vytjie Mentor en Themba Maseko met binne-inligting wat so onbevrees getuig het, verdien medaljes vir dapperheid. 
• Daar is tans 'n poging aan die gang tussen sekere Afrikaners en die ANC om die land weer 'n keer te “kodesa” – ons wil uitdruklik waarsku daarteen. 

SKEP MOED!

Moed kan geskep word uit die boodskap van 'n onbekende leraar by hierdie stemgreep. 

STEMGREEP

Indien u nie die epos wil ontvang nie kan u hier uit teken
Ditsem Nuus, Oranje Eggo S39, Orania, Noord-Kaap, 8752, South Africa, www.ditsem.net