► Abel Sithole as uitvoerende hoof van die Government Employees’ Pension Fund (GEPF) getuig voor Mpati-kommissie dat ʼn “belegging” van R4,3 miljard sonder sy medewete gemaak is uit die GEPF na die firma Ayo Technologies van omstrede Iqbal Survé; blykbaar kan of wil Ayo dit nou nie terugbetaal nie ► Mynmaatskappy Rio Tinto het sy Rössing Uraanmyn in Namibië, in produksie sedert 1976 en wat tans jaarliks sowat 4,6 miljoen pond uraan lewer, verkoop aan die China National Uranium Corporation (CNUC) vir $106,5 miljoen; Rio Tinto het sedert 2017 beleggings van $11,2 miljard uit Namibië onttrek ► Nuwe Minister van Water, Sanitasie en Menslike Nedersettings Lindiwe Sisulu sê in Parlement skade in die departement weens korrupsie en wanbestuur is feitlik “onmeetlik” en dat drastiese omdraaistrategie dringend nodig is ► Munisipaliteite skuld die nege waterrade en Dept. van Water R14 miljard vir waterdienste gelewer ► Adjunk-minister van Landbou, Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming Mcebisi Skwatsha sê in Parlement dat onteiening sonder vergoeding binnekort ʼn werklikheid gaan wees, “maar onwettige grondgryp nie toegelaat sal word nie” ► Vrystaat Landbou sê massiewe armoede in Lesotho bedreig wet en orde in Vrystaat en dat dit verskillende tipes misdaad in die provinsie veroorsaak ► Volgens verslag van PwC is vergoeding van ʼn uitvoerende hoof van mynmaatskappy in SA gemiddeld sowat R16,8 miljoen per jaar en dié van ʼn finansiële hoof sowat R6,9 miljoen per jaar ► Projek VatVyf gebaseer te Orania benodig borgskap vir twee behoeftige blanke leerlinge in Bloemfontein wat as prefekte gekies is om einde vanjaar elkeen ʼn oriënteringskamp by te woon – R1 000 vir seun in hoërskool en R500 vir dogter in laerskool – kontak projekvatvyf@gmail.com of 082 773 2150 ►

3 Christelike tienerfeeste landswyd

Die landwye Christelike tienersaamtrek #Imagine is 18-20 Maart 2017 vir die vierde keer aangebied en bykans 10 000 jong mense het vanjaar die drie feeste bygewoon - een op Nampopark by Bothaville, een buite Plettenbergbaai en een op Agripark buite Bredasdorp. Sowat 3000 jongmense van die Vrystaat, Noordwes, Gauteng, Limpopo, Mpumalanga en KZN het die noordelike saamtrek op Nampopark bygewoon, waarvan die meeste in tente of sale geslaap het. Volgens ds. Fouché de Wet, ‘n organiseerder en NGK-leraar, is #Imagine, ‘n projek wat op tienerbediening fokus en om jongmense vir die toekoms toe te rus. Hy sê die saamtrekke word beskou as ‘n beginpunt van waar jongmense hul lewe verander en ‘n verskil in hul omgewing maak. Vanjaar se tema was oor die verhaal van Paulus en wat jong mense van Paulus kan leer. Temas soos dwelmmisbruik, seks, verhoudings en groepsdruk word bespreek. Opgeleide sorgspanne is op elke saamtrek byderhand om tieners met emosionele probleme by te staan. Die tieners word gehelp om ná die saamtrek ook in hul tuisdorpe berading en hulp in hul onderskeie kerke te kry. Die #Imagine-projek is die grootste ekumeniese projek in die land en die jongmense kom van 400 tot 500 verskillende kerke en gemeentes.
Gradeer die artikel
(0 stemme)

Lewer kommentaar

Vul al die vereiste velde in (*)

Go to top