►Voorspoedige 2020 | Ditsem Nuus kantoor weer oop | Teken in op die DitsemBlits vir daaglikse Nuushooftrekke en weeklikse Nuuskommentaar►

ʼn Storm van kritiek en negatiwiteit het los gebars oor die die kop van pres. Cyril Ramaphosa en sy afvaardiging tydens hul besoek aan New York by geleentheid van die 73ste Sitting van die Algemene Vergadering van die VN. Dit was ʼn besondere geleentheid met staats- en regeringshoofde vanoor die wêreld wat saam getrek het en elkeen ʼn geleentheid gekry het om op die podium hul saak te stel.

Pres. Ramaphosa het ook sy kans gehad en hy het die haglike situasie in SA so rooskleurig moontlik gestel, maar na die tyd het hy ʼn storm ontketen toe hy op ʼn vraag van ʼn joernalis gese het: “There is no killing of white farmers in SA. There is no land grabs in SA. Pres. Trump is misinformed.” In SA was die vloed van kritiek op hierdie uitlating eenparig met selfs Dan Kriek van Agri SA wat saamgestem het dat Ramaphosa dat Ramaphosa blatant lieg oor moorde op blanke plaasboere. Kyk die videogreep hier

Die Ironie is dat ook die Amerikaanse regering en ander buitelanders deeglik ingelig is oor die ware feite in SA. Reeds op 23 Augustus 2018 het pres. Trump het in ʼn Twitter boodskap laat weet dat hy sy minister van buitelandse sake Mike Pompeo gevra het om plaasbesettings en onteiening, asook die grootskaalse moord op boere, noukeurig te bestudeer.

Voorts het die organisasie ToekomsVonk op 14 September 2018 ʼn volledige verslag met statistieke rondom aanvalle en moord op plaasboere aan die Amerikaanse ambassade in Pretoria oorhandig. Daarin o.m. aangetoon dat ʼn plaasaanval elke 1.4 dae gemiddeld voorkom en ʼn boer vermoor word elke 5 dae gemiddeld.

Op hul beurt het AfriForum aangekondig dat hulle slagoffers wie se geliefdes tydens plaasaanvalle vermoor is, na die VSA gaan stuur tydens die volgende fase van AfriForum se bewusmakingsveldtog. Die organisasie is ook van voorneme om ’n bekendstelling van die boek Kill the Boer deur Ernst Roets, in Washington D.C. te reël. AfriForum wil aan plaasaanvalslagoffers en hul geliefdes die geleentheid gee om hul verhale aan meningsvormers, politici, regeringsverteenwoordigers en die media in Washington te vertel.

Roets wys daarop dat daar in die afgelope twee dekades volgens die SAPD se eie syfers gemiddeld byna twee plaasaanvalle per dag en twee plaasmoorde per week voorgekom het. “Net sedert Januarie vanjaar was daar 320 plaasaanvalle en 43 plaasmoorde op plase wat deur AfriForum bevestig kon word,” sê Roets.

Die tweede storm om die kop van Ramaphosa en die regering kom van die feit dat Trump het tydens sy VN toespraak aangekondig het dat minister van buitelandse sake Mike Pompeo opdrag gegee is om ondersoek in te stel of lande wat geldelike hulp ontvang, ook die belange van die VSA op die hart dra. In hierdie verband is Suid-Afrika is reeds vroeër die jaar gelys as een van die top 10 lande wat anti-VSA sentimente toon as dit by stemming kom rondom VSA resolusies by die VN.

Dit is dus duidelik die VSA besig is om SA na die kantlyn te skuif en dat die Trump-administrasie die ANC bewind polities, ekonomies en diplomatiek die koue skouer gee. In SA self is dit duidelik dat Ramaphosa met sy terugkeer gaan sukkel om al die vure doodgeslaan te kry.

Met Erfenisdag 24 September 2018 het die VF Plus Jeug landswyd onbekende en verwaarloosde erfenisterreine, -gebiede en -monumente in elke provinsie besoek en skoongemaak. O.a. is die Kroonstad Konsentrasiekampkerkhof besoek en skoongemaak. Aldaar het tydens Anglo-Boere-oorlog 1899-1902 ongeveer 2 000 vroue en kinders gedurende die tydperk gesterf. 

Verder is die Burgershoop konsentrasiekamp-begraafplaas by Krugersdorp ook skoongemaak en so ook die Moorddrift Monument in by Potgietersrus en die Magersfontein Slagveldterrein naby Kimberley. Vir meer besonderhede kontak Tammy Wessels by 082 490 6663.

Met die ondersoek na die SA Inkomstediens deur die Nugent-kommissie word ʼn behoorlike katnes oopgevlek met wat aangegaan het onder die bestuurskap van die geskorste kommissaris Tom Moyane. Wat dit op neerkom, is dat Moyane deur voormalige pres. Jacob Zuma en die Guptas gebruik is om korrupsie en misdaad op massiewe skaal te fasiliteer.

Moyane het nie net kanale vir grootskaalse ongerymdhede geskep nie, maar ook spesialiseenhede binne die SAID wat spesifieke misdadige bedrywighede moes ondersoek, gestop of hokgeslaan. Senior amptenare wat nie met hom wou saamwerk nie is geskors, selfs soms met 24-uur kennisgewing.

Dit is dus duidelik uit getuienis voor die kommissie dat in dien Moyane nie sowat drie maande gelede deur Ramaphosa geskors sou gewes het nie die staatsfinansies en in besonder die staatskas onberekenbare skade sou gely het.

Terwyl die waterkrane in die munisipale gebied van Mogale City met hoofkantoor te Krugersdorp droog bly, steier inwoners elke maand onder die druk van astronomiese waterrekeninge. Wat opvallend is, is dat die rekeninge met dieselfde bedrae, gewoonlik òf R17 000 òf R18 000, bokant die normale bedrag is.

Wat verswarend in die situasie is, is dat die munisipaliteit heelwat ontwikkelingsprojekte goedkeur waarvoor daar nie voldoende grootmaatdienste soos vir watervoorsiening is nie. Daarby beskik die munisipaliteit nie oor die dienste van 'n gekwalifiseerde wateringenieur nie. Vir meer besonderhede besoek www.gemeenskappe.co.za/red-mogale-city.

Volgens die SA Vuurwapen- en Ammunisie Handelaarsvereniging is die Vuurwapenafdeling van die SAPD tans in chaos, hoofsaaklik omdat die lisensies vir rekenaarprogrammatuur nie instand gehou word nie en toegelaat word om te verval. Intussen duur die verwarring voort omtrent die hernuwing van vuurwapenlisensies van eienaars wat verval het.

Reaksie op die bewering wou die woordvoerder van die SAPD brig. Vishnu Naidoo geen kommentaar lewer nie en het bloot gesê dat nuwe wetgewing op pad is.

 

Radio Rosestad as Afrikaanse gemeenskapsradiostasie gestig in 1994 en wat op 100.6 FM in Bloemfontein en omgewing uitsaai, het tans ʼn vakature vir Stasiebestuurder. Volgens spesifikasies vir die pos moet die suksesvolle kandidaat bydrae om d.m.v. die stasie die Afrikaanse taal sowel as die kultuur, tradisies, belange en gemeenskapsbehoeftes van die Christen-Afrikaner uit te dra.

Voorts word as vereistes vir die pos gestel die nodige kwalifikasies, kundigheid en ervaring ten einde leiding te gee met programme, musiek, advertensies, bemarking, promosies en tegniese aspekte. Vir meer besonderhede kontak dr. Jann Schlebusch by Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees. of 072 959 3214.

Die koalisie regering wat tans in beheer is van die Johannesburgse Metro Munisipaliteit o.l.v. die DA span saam op innoverende wyse om 14 geleentheidsentrums oor die volgende drie jaar in die stad op te rig. Die projek het reeds suksesvol afgeskop te Marshallstraat, Johannesburg, by die Roodepoort Burgersentrum en te Diepsloot-Noord Sosiale Sentrum. By die sentrums kry voornemende entrepreneurs die geleentheid kry om hul klein- en medium-besighede  te ontwikkel.

Private en regeringsorganisasies is ook by die projek betrokke, soos Absa en die Dept. van Handel en Nywerheid, asook die SAID en CIPC (Maatskappye en Intellektuele Eiendomsregistrasiekantoor). Johannesburg is ingedeel in sewe substreke en elke streek sal teen 2021 twee geleentheidsentrums huisves. ʼn Program is ook begin om jong ambagsmanne en -vroue by die sentrums op te lei. Hulle sal ook ʼn diensleweringsonderrig- en opleidingsgesag-akkreditasie ontvang.

Vir meer besonderhede skakel 082 358 3882.

 

In die orkaan van woorde wat in en oor Suid-Afrika woed oor die grond wat blankes kwansuis van swart mense sou gesteel het, wil ons net een eenvoudige vraag vra – dit eintlik vir die soveelste keer herhaal: waar is die bewyse dat blankes grond in SA van swartes gesteel het? Dit is een ding om te beweer, maar dit is ʼn heel ander ding om die konkrete bewys op die tafel te plaas.

Ons sê die geskiedenis kan dag vir dag sedert 1652 nagegaan word ten einde te kan probeer uit wys waar grond betekenis vol van swart mense gesteel is. Daarom sê ons hierdie infame leuen moet nooit geglo word nie en daar moet nooit daaraan toegegee word nie.

Soos die geval met alle ander mense en bevolkings ter wêreld, is die blankes van SA nie sonder foute nie, maar grond geroof van andere – aikôna! Enige grondgryp in SA as sg. restitusie moet met alle reg en mag teen gestaan en beveg word.

Skep moed ook uit die kort liedjie by hierdie videogreep!

Groot belangstelling heers vir die 2018 Laver Tennisbeker spankompetisie tussen Europa en die res van die wêreld wat vandag in Chicago begin en Sondag eindig wat. Van die wêreld se beste mansspelers en legendariese oud-spelers is betrokke.

Span Europa bestaan uit Roger Federer, Alexander Zverev, Grigor Dimitrov, Novak Djokovic, David Goffin, Kyle Edmund en Jérémy Chardy, terwyl die Wêreldspan opgemaak word uit Kevin Anderson, John Isner, Diego Schwartzman, Jack Sock, Nick Kyrgios, Frances Tiafoe en Nicolás Jarry. Die kaptein van die Europeërs is Björn Borg en die van die Wêreldspan John McEnroe.

Die maatskappy AVBOB wat in 1918 gestig is as ʼn Afrikaner-onderneming in die begrafnis bedryf, vier vanjaar sy eeufees, maar as ʼn gediversifiseerde maatskappy met verspreide belange in die huidige SA. Die motivering vir die stigting van AVBOB 100 jaar gelede was die dodelike Spaanse griep ná die Eerste Wêreldoorlog wat gemaai het onder soldate en ook mense in SA.

Vandag is AVBOB ook in die besigheid van doodskisvervaardiging, ander begrafnisgoedere soos handgeverfde kranse en in begrafnisversekering. Voorts is AVBOB betrokke in verskeie maatskaplike opheffingsprojekte hoofsaaklik in sg. agtergeblewe gebiede.

Vir die 2017/2018 boekjaar het Transnet ‘n neto wins getoon van R4,9 miljard. Dit is in skerpe kontras met ander staatsondernemings soos die SAL, Eskom, PRASA, en Denel met hul konstante verliese van miljarde rand.

Transnet het egter desondanks slegs ʼn gekwalifiseerde ouditmening van sy eksterne ouditeure ontvang weens gevalle van onreëlmatige besteding, terwyl van die topamptenare van die maatskappy geskors is op aanklagte van korrupsie. Transnet maak sy geld uit die vervoer van steenkool, ystererts en ander grondstowwe vanaf myne na hawens vir verskeping na lande soos China en Japan.

Nadat Louis Siemens (54), besturende direkteur van CityMed daghospitaal, in die Preller Plein parkeergarage trompop doodgeskiet is, sloer die ondersoek na die saak steeds. Hoewel dieselfde dag ʼn bekende tussenganger in sakekringe, Kibi Stanley Bakili (36), dieselfde dag in hegtenis geneem is vir die moord, het dit lank gevat voordat in September ʼn speurder van die SAPD en hofordonnans ook in hegtenis geneem is.

Dit is bekend dat Siemens vir ongeveer vier jaar gesukkel het om ʼn lisensie vir uitbreiding aan die CityMed daghospitaal te bekom by die Vrystaatse Dept. van Gesondheid en dat hy klaarblyklik ten einde laaste in totaal sowat R6 miljoen aan omkoopgeld aan Bakili oorbetaal het. Blykbaar het dit nog steeds nie die gewenste resultate gelewer nie en moes Siemens skynbaar in die proses met sy lewe boet.

Daar word berig dat die moord slegs die oortjies van die seekoei is van ʼn massiewe omkoperynetwerk in die Vrystaat en wat strek tot op die hoogste regeringsvlak in die provinsie. Skynbaar moet miljoene rand in omkoopgeld van hande verwissel voordat sekere staatstenders toegeken word en is vrees vir die oopvlek hiervan die rede waarom die ondersoek na die Siemens-moord so sloer.

Nadat Kallie Kriel en ander senior lede van AfriForum en Solidariteit ongeveer twee maande gelede met koning Goodwill Zwelithini van die Zoeloes by sy paleis te Ulundi oor grondbesit en die moontlikheid van onteiening vergader het en klaarblyklik ooreengekom het om dieselfde standpunt te huldig, het Kriel en Ernst Roets onlangs op uitnodiging van Zwelithini die jaarlikse rietdansseremonie te Ulundi bygewoon.

Die samewerking is veral betekenisvol in die lig van die onverbiddelike standpunt van Zwelithini oor eienaarskap van die Zoeloes oor die 3 miljoen ha grond van die Ingonyama Trust en die botsing wat Zwelithini met pres. Cyril Ramaphosa oor die kwessie gehad het. Dit het die hele saak van tradisionele stamgronde in SA te berde gebring en die moontlike dubbele standaarde wat daaruit mag spruit indien die regering hierdie gronde uitlos, terwyl grond in blanke besit egter onteien word.

Die Vryemarkstigting, gereken as een van die gesaghebbende instansies in die land, is uitgesluit uit die Parlementêre proses oor voorgestelde onteiening van grond sonder vergoeding. Terwyl bykans elke ander instansie oor die spektrum van die samelewing toegelaat is om insette in die proses te maak en nou weer mondelinge vertoë voor die Parlementêre komitee te kon maak, is die aansoek van die Stigting om te getuig van die hand gewys.

Die rede vir hierdie weiering is nie duidelik nie. Die Stigting is bekend vir hul uitgesproke teenstand teen onteiening sonder vergoeding en dat so ʼn maatreël katastrofiese gevolge vir die ekonomie en vir die maatskaplike situasie in die land kan hê.

Vir meer inligting besoek www.freemarketfoundation.com of kontak Joan Evans by 011 884 0270 of Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

 

Groot kontroversie heers tans in en oor die NG Kerk oor botsende standpunte oor homoseksualiteit. Die jongste rondte het begin toe 12 NG-lidmate die hoogsgeregshof in Pretoria genader met ‘n aansoek dat die amptelike standpunt van die NG Kerk teen eengeslagverhoudinge tersyde gestel word omdat dit na bewering teen die Grondwet van die land is.

Die saak is op 22 Augustus 2018 in die hof aangehoor en uitspraak word nou enige dag verwag. Intussen het die moderator van die NG Kerk, ds. Nelis Janse van Rensburg, in ʼn artikel in Kerkbode hom uitgespreek ten gunste van die aanvaarding van eengeslagverhoudinge as normale praktyk. Hy sê dat hy weet dat sy persoonlike siening nie strook met die huidige amptelike siening van die NG Kerk nie.

In sy artikel in Kerkbode skryf Van Rensburg o.m. “ Ek is oortuig dat seksuele oriëntasie ʼn goeie gawe uit God se hand is wat ons met dankbaarheid mag ontvang en met sorg moet koester. Gay mense moet versoen word met die gawe van hul seksuele oriëntasie. Hulle is net so deel van God se skepping soos heteroseksuele mense.”

Inmiddels sê dr. Chris van Wyk, ʼn lid van die moderatuur, dat Van Rensburg nie meer met oortuiging die besluite van die NG Kerk kan oordra nie. Van Wyk sê dat die beskrywing van Van Rensburg van selfdegeslagoriëntasie ten diepste in stryd is met die boodskap van die Bybel en die sinode.

Die moderatuur van die NG Kerk het verklaar dat die uitspraak van die hof rigtinggewend sal wees ten opsigte van sy toekomstige standpunt in die verband. In die geledere van die NG Kerk op voetsoolvlak word hierdie standpunt egter bevraagteken en word gevra hoe die kerk ʼn hofuitspraak hoër kan ag as die standpunt in die Bybel.

Die politieke toneel in die eland het behoorlik regop gesit toe Kallie Kriel van AfriForum en Mosiuoa Lekota van Cope aangekondig het dat hulle saamstem dat grond onteiening sonder vergoeding katastrofies vir die land kan wees en dat hulle gaan saamwerk om hierdie boodskap uit te dra, ook by regerings in die buiteland. Lekota het hom reguit uitgespreek dat grondgryp en sosialisme nie dit was waarvoor hy en ander ANC-leiers soos Nelson Mandela op Robbeneiland opgeoffer het nie.

Hy sê dat waarvoor hulle oorspronklik geveg het, was dat SA ʼn land vir al sy inwoners moet wees, dat almal gelyke kanse moet hê en dat die beginsels van grondbesit en ʼn vrye markekonomie moet geld. Daarom skroom hy nie om vir wat hy reken reg en geregtigheid is, op te staan, al beteken dit dat hy saam met blankes moet werk en teen swart radikales kant kies.

Bladsy 15 van 98
Go to top