►Voorspoedige 2020 | Ditsem Nuus kantoor weer oop | Teken in op die DitsemBlits vir daaglikse Nuushooftrekke en weeklikse Nuuskommentaar►

Daarom sal ons dit nou vier

Oraait, ek weet, Jesus is nie regtig presies op 25 Desember gebore nie. Soos ek al soveel keer gesê het, was dit waarskynlik eerder op 6 Oktober 4 v.C. Desembermaand in Palestina was ook heeltemal te koud vir skape om buite in die veld te wees.

Is ons seker dat die gebeure rondom Bethlehem afgespeel het? Ja, dit weet ons verseker. En was daar enige diere rondom die krip daardie nag? Ek weet nie, want die Bybel vertel ons nie daardie soort detail nie. Wat van die ster? Was dit nie dalk ‘n verskietende ster of ‘n komeet nie? En tussen hakies, was daar net drie wyse manne? Ek weet nie, want die Bybel vertel dit ook nie.

Ja, ek weet dat ons tipiese Kersvieringe verstrik geraak het in allerlei verwarrende onnodige parafernalia. Ja, en wat ook al die rede was waarom Konstantyn die Grote juis 25 Desember gekies het om vir Christene ‘n dag te gee waarop hulle die geboorte van hulle Here en Verlosser kon herdenk, is seker ook nie so belangrik dat ons mekaar as Christene moet veroordeel oor 'n datum nie.

Want sien, dit gaan in hierdie feestyd, op hierdie feesdag, vir my as Christen net daaroor: Om mekaar te herinner dat Jesus Christus, die Seun van God, meer as 2 000 jaar gelede ‘n gewone mens geword het. God is as ‘n gewone baba onder ons gebore en hierdie baba het ‘n naam gehad: Jesus

Die Naam bo alle name. Die Een wat sou blyk ook die Christus, die beloofde Messias, te wees.

Oor baie van die onnodige Kersdekorasies hoef ons nie lank te praat nie, maar een ding wat soos ‘n paal bo water staan, is dat daar ook destyds geskenke was. En dit spreek tot my.

Dit verseker my dat God hierdie wêreld en sy mense te lief gehad het om toe-hand te staan en toekyk hoe hoe hierdie wêreld sonder Sy persente moet klaarkom. Daarom het Hy die duurste persent gestuur wat Hy in die hande kon kry: Sy Seun.

Ja, eintlik Sy eie lewe. Dit het Hy in ‘n menselyf opgemaak en aarde toe gestuur om te gaan hang aan ‘n boom 33 jaar later, aan ‘n kruis op Golgota.

En toe het Hy gewag - en aanmekaar uitnodigings gestuur vir al die mense op aarde om dit te kom haal, want dit was vir elkeen van hulle bedoel.En dan, as hulle Sy geskenk werklik ontdek en in geloof vat, kan hulle mekaar en die wêreld om hulle gedurigdeur herinner aan dit wat in Johannes 3:16 staan.

Vergewe my, en soveel ander dus, as ons nie kan stilbly in hierdie tyd en graag wil feesvier nie.

‘n Geseënde Christus-fees vir jou en jou mense!

Liefde in Jesus

Gradeer die artikel
(0 stemme)

Lewer kommentaar

Vul al die vereiste velde in (*)

Go to top