► Abel Sithole as uitvoerende hoof van die Government Employees’ Pension Fund (GEPF) getuig voor Mpati-kommissie dat ʼn “belegging” van R4,3 miljard sonder sy medewete gemaak is uit die GEPF na die firma Ayo Technologies van omstrede Iqbal Survé; blykbaar kan of wil Ayo dit nou nie terugbetaal nie ► Mynmaatskappy Rio Tinto het sy Rössing Uraanmyn in Namibië, in produksie sedert 1976 en wat tans jaarliks sowat 4,6 miljoen pond uraan lewer, verkoop aan die China National Uranium Corporation (CNUC) vir $106,5 miljoen; Rio Tinto het sedert 2017 beleggings van $11,2 miljard uit Namibië onttrek ► Nuwe Minister van Water, Sanitasie en Menslike Nedersettings Lindiwe Sisulu sê in Parlement skade in die departement weens korrupsie en wanbestuur is feitlik “onmeetlik” en dat drastiese omdraaistrategie dringend nodig is ► Munisipaliteite skuld die nege waterrade en Dept. van Water R14 miljard vir waterdienste gelewer ► Adjunk-minister van Landbou, Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming Mcebisi Skwatsha sê in Parlement dat onteiening sonder vergoeding binnekort ʼn werklikheid gaan wees, “maar onwettige grondgryp nie toegelaat sal word nie” ► Vrystaat Landbou sê massiewe armoede in Lesotho bedreig wet en orde in Vrystaat en dat dit verskillende tipes misdaad in die provinsie veroorsaak ► Volgens verslag van PwC is vergoeding van ʼn uitvoerende hoof van mynmaatskappy in SA gemiddeld sowat R16,8 miljoen per jaar en dié van ʼn finansiële hoof sowat R6,9 miljoen per jaar ► Projek VatVyf gebaseer te Orania benodig borgskap vir twee behoeftige blanke leerlinge in Bloemfontein wat as prefekte gekies is om einde vanjaar elkeen ʼn oriënteringskamp by te woon – R1 000 vir seun in hoërskool en R500 vir dogter in laerskool – kontak projekvatvyf@gmail.com of 082 773 2150 ►

Die huidige stryd tussen OB, Busisiwe Mkhwebane, en Minister van Openbare Ondernemings Pravin Gordhan oor skynbaar regstegniese wedsoortredings wat laasgenoemde sou begaan het, terwyl bewese groot staatskapers soos Jacob Zuma, Ace Magashule en kie nie aktief deur die OB ondersoek word nie, wys dat staatskaping in SA nog lank nie verby is nie. Die hele saga dui daarop dat dit ʼn deursigtige poging is om staatskaping van die verlede te verbloem en terselfdertyd die deur oop te hou vir verdere aksies in hierdie verband.

Die aanstelling van meelopers in staatskaping in die invloedryke poste van voorsitters van Parlementêre portefeuljekomitees is ʼn bevestiging van hierdie siening. Aan die ander kant is daar lig in die vorm van die Zondo- en Mpati-kommissies wat staatskaping meedoënloos blootlê, terwyl daar ook denkende swartes is wat gekant is teen korrupsie en nepotisme.

Die stryd is dus nog lank en nie iets van die verlede nie en daar kan net gebid en gewerk word dat reg en geregtigheid in SA uiteindelik sal seëvier!

Weens toenemende bendegeweld in en rondom tradisionele bruin en swart woonbuurte in Kaapstad, word die Wes-Kaap nou bestempel as ’n oorlogsone, met die afgelope ses maandes 1 875 mense vermoor. Misdaad vier hoogty, inwoners leef in vrees en die jeug word aangeval a.g.v. ’n tekort aan polisiëring, gebrek aan doeltreffende wetstoepassing en,misdaadintelligensie.

Wes-Kaapse premier Alan Winde sê dat volgens die forensiese dienste-eenheid van die Departement van Gesondheid, is daar verlede maand 331 moorde in die Wes-Kaap aangeteken - meer as 10 moorde per dag. Van die 331 moorde, is 171 geskiet en 116 is met 'n skerp voorwerp gesteek. Altesame 271 van die moorde is in die metrogebied aangeteken, met die oorblywende 60 in landelike gebiede.

Volgens Winde is ‘n groot rede die tekort aan aan polisiëring - die verhouding is slegs een polisielid vir 509 inwoners in die Wes-Kaap en een tot 560 in Kaapstad. Winde het n.a.v onsuksesvolle vertoë tot minister van polisie Bheki Cele,   ’n dispuut met die nasionale regering verklaar.

Cele het egter sopas aangedui dat die SAPD ‘n spesiale anti-bende-eenheid vir die Kaapse Vlakte op die been gebring met die oog op drastiese ingryping.

Die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) sit met ’n R9,2 miljard ondiensbare lening en het die regering gevra vir ’n verdere reddingsboei van R4 miljard omrede ’n R3,5 miljard korttermynlening einde vandeesmaand verval. Raadslid Martin Kingston sê dat die lugredery enorme finansiële uitdagings in die gesig staar weens enorme skuld, maar indien hulle die R3,5 miljard terug betaal, sal dit deure oopmaak vir addisionele likiditeit.

Die bedryfskostes van die redery beloop ongeveer R450 miljoen per maand en word die staatsonderneming sedert 2011 teen ’n verlies bedryf, met totale uitstaande skuld wat alreeds meer as R20 miljard beloop. Die inkomste gedurende 2016-17, het R30,4 miljard opgelewer, terwyl bedryfskoste R30,9 miljard bedra het. Finansieringskoste beloop tans R835 miljoen, terwyl die bedryfsverlies R533 miljoen te staan gekom het. Verliese op die lopende bedryfsrekening word voortgesit met 'n verlies van R734 miljoen aangeteken in die eerste maand van die 2017-18 finansiële jaar.

Ekonoom Mike Schussler meen dat die lugredery nou so in skuld verval het dat die einde in sig is en meen dat 'n verdere staatsreddingsboei aan SAL ‘n afgradering kan bespoedig van die kredietwaardigheid van die land deur agentskappe soos Moody’s.

Intussen peul in getuienis voor die Zondo-kommissie na staatskaping die wurms uit die kas van die skrikbewind wat voormalige voorsitter van die SAL-direksie Dudu Myeni by die redery gevoer het en waartydens letterlik miljarde rand in korrupsie en wanbestuur verkwis is. Volgens hierdie getuienis het sake selfs verder verswak toe Malusi Gigaba minister van staatsondernemings geword het.

As ons so rondom ons gadeslaan, hoe ons mense wreed uitgemoor word, uitgeskel word, geblameer word vir alles wat nog verkeerd geloop het, gemarginaliseer word ekonomies en maatskaplik, ons kultuur en erfenis verkrag word, ens., dan kom ons onvermydelik tot die slotsom dat daar tans ‘n yslike vakuum vir politieke leiding vir spesifiek die Afrikaner bestaan. Iemand moet eenvoudig opstaan en geloofwaardig namens die Afrikaner sê ons gaan ons nie langer so laat moerak nie.

Om hierdie situasie te beredder, is dit ons beskeie mening dat die volgende 10 vereistes nagekom behoort te word:

  • Die Afrikaner moet sy volkskap herontdek en trots uitleef, sonder diskriminasie teen andere.
  • As ‘n volk ons in massa en individueel verootmoedig voor God-Drieënig.
  • Te sê ons is trotse Afrikaners, genoeg is genoeg en ons gaan ons nie langer met ons eie belastinggeld laat vertrap nie.
  • Die Afrikaner in groepsverband homself ekonomies daadwerklik bemagtig - ‘n effektiewe digitale markplein vir Afrikaners geskep word.
  • 'n Leierskap – en nie een enkele leier nie - uitdruklik verklaar dat selfbeskikking ingevolge artikel 235 van die Grondwet nagestreef en opgeneem word.
  • Fisiese grondgebied geïdentifiseer en gedefinieer word, waarop die Afrikaner selfbeskikking kan verwesenlik – Orania kan as vertrekpunt dien.
  • Gekoördineerde en gestruktureerde maatskaplike opheffing gedoen word onder honderdeduisende Afrikaners wat in armoede en swak moraliteit verval het.
  • Vir die Afrikaner eie onderwysinstellings op skole- en tersiêre vlak ontwikkel word.
  • Eie veiligheidstrukture en weerbaarheid so spoedig doenlik ontwikkel word, binne die perke van die reg.
  • Herverbintenis tot die Gelofte van Bloedrivier gedoen word.

Wat sê ons lesers van hierdie mondvol?

ʼn Nuwe term wat die afgelope week in openbare debat opgeduik het, is Dag Zero vir die nie-betaling van salarisse van amptenare in die openbare sektor. Dit is veral n.a.v. die verdoemende verslag wat Ouditeur-generaal Kimi Makwetu Woensdag gepubliseer het oor die stand van munisipaliteite in Suid-Afrika, met slegs 18 van 257 munisipaliteite wat ʼn skoon oudit gekry het.

Voorts blyk uit die verslag dat munisipaliteite in SA in werklikheid slegs gebruik, of misbruik, word vir selfverryking en stroping deur ANC-kaders. Onbevoegdes en skurke word in topposte teen astronomiese vergoeding aangestel en hulle het nie ʼn saak met dienslewering nie.

Die meeste van hierdie posbekleërs deel die tenders van miljoene rande van hul munisipaliteite uit soos kaarte in ʼn kaartspel rondom ʼn tafel. ʼn Klassieke voorbeeld hiervan is die geval wat die OG uitgelig het van die Oranjeville sportkompleks, waar R21,7 miljoen reeds bestee is van die begrote R21,9 miljoen, maar op die perseel staan nog net ʼn heining. Die gevolg is noodwendig dat soos in vandag by maandeinde sowat 30 munisipaliteite erg sukkel om hul personeelsalarisse te betaal.

Daar word ook gelet op deurlopende getuienis voor die Zondo-kommissie van massiewe korrupsie by staatsondernemings soos Eskom en SAL waar dit in miljarde getel word. In die lig daarvan kan begryp word waarom die SABC, Denel en andere ook soos in vandag kwalik hul salarisse kan betaal.

In geheel is dit duidelik dat die SA staatskas by die nasionale Tesourie nie ver van boomskraap af is nie. Wat dit alles op neerkom is dat Dag Zero vir staatsalarisse ʼn werklike moontlikheid geword het, met die enorme implikasies wat dit inhou.

Die nuustoneel in SA die afgelope 10 dae is gekenmerk deur die Staatsrede van pres. Cyril Ramaphosa met die opening van die 6de Parlement, die kritiek en insette van opposisiepartye daarop en weer die repliek van Ramaphosa. Behalwe dat die radikales in die ANC ‘n slag geslaan het met die aanwysing van staatskapers en korrupte politici as voorsitters van Parlementêre portefeuljekomitees, is die politieke debat gekenmerk deur die toespraak van VF Plus leier Pieter Groenwald en die reaksie van die staatspresident daarop.

Groenewald het naamlik vir Ramaphosa uitgedaag om iets te sê oor die wreedheid van aanhoudende plaasmoorde en hom selfs genooi na ‘n begrafnis van ‘n slagoffer van ‘n plaasmoord, maar Ramaphosa swyg steeds soos die graf.

Wat sê dit? Dat Ramaphosa weet van die koverte betrokkenheid van regeringselemente by plaasmoorde – dus van medepligtigheid? Hierdie implikasie, wat nie ligtelik gemaak word nie, sny diep - ook vir die bepaling van die toekomskoers van die Afrikaner in hierdie land.

Die Gauteng LUR vir Onderwys Panyaza Lesufi het met sy hatige en verbete anti-Afrikaanse en anti-Afrikaneraksies reeds vir homself 'n plek in die Afrikaner-geskiedenis verwerf as een van die mees gehate mense, op dieselfde vlak van 'n Alfred Milner. Die jongste verwikkelinge rondom hom word uitstekend soos volg saamgevat in 'n mediaverklaring van adv. Anton Alberts van die VF Plus:

“Die besluit van Gauteng premier David Makhura om Panyaza Lesufi terug te skuif na sy vorige portefeulje as LUR vir onderwys in dié provinsie, is ʼn klap in die gesig van minderhede, aangesien daar geen twyfel is nie dat hy sy vernietigingswerk met moedertaalonderrig en Afrikaans in besonder gaan voortsit.

“Lesufi het nog nooit ʼn geheim daarvan gemaak dat hy Afrikaans minag en Afrikaanse skole wil vernietig nie. In sy dienstyd as LUR het hy talle Afrikaanse skole laat transformeer na Engels en dit is kommerwekkend dat Makhura glo onder ‘openbare druk’ geswig het om die status quo met Lesufi te herstel.

“Lesufi se rekord getuig daarvan dat hy ʼn swak LUR was. Hy het nie genoeg skole gebou met sy toereikende begroting nie en gaan bloot aanhou met sy pogings om Afrikaanse skole te intimideer en te transformeer na Engels.

“Die Driehoek-tragedie het ook bewys dat hy nie omgee oor die onderhoud van skole se infrastruktuur nie. Sy enigste belang by dié skool en ander skole met onlangse inspeksies was om vas te stel hoe vol skole is en hoe plek gevind kon word vir bykomende leerders wat nie Afrikaanssprekend is nie.

“Dit is hoogs problematies dat ʼn persoon, wat aandadigheid moet aanvaar vir die tragedie, weer in beheer geplaas gaan word van ʼn omgewing waar kinders se veiligheid aan sy nalatige optrede oorgelaat gaan word. Die VF Plus onderneem om Lesufi aggressief teen te staan en te sorg dat hy sy mandaat op ʼn nie-diskriminerende grondslag uitvoer ingevolge die Grondwet, wat wel die beskerming van moedertaalonderrig waarborg. Druk sal ook op hom geplaas word om moedertaalonderrig en Afrikaans te beskerm, om meer skole te bou, om te sorg dat infrastruktuur onderhou word en dat gemeenskappe nie teen mekaar afgespeel word met onderwys as politieke speelbal nie, ” aldus Alberts.

‘n Hele reeks groot wêreldsportgeleeenthede vind vandeesmaand en volgende maand plaas en waaraan Suid-Afrika ook deelneem, soos o.a.:

  • Die Krieket Wêreldbeker word tans op verskillende velde in Engeland en Wallis tussen 10 nasionale spanne beslis. Die Proteas het ongelukkig hul eerste drie wedstryde verloor.
  • In Frankryk word die Sokker Wêreldbeker vir Vroue tans beslis, met 24 deelnemende nasionale spanne. Die Banyana Banyana het ondanks ‘n dapper poging hul eerste wedstryd 1-3 teen Spanje verloor.
  • In Argentinië word die Rugby Onder 20 Wêreldbeker tans gespeel, met 10 spanne. Die Junior Bokkies het hul eerste twee groepwedstryde gewen.
  • Op Wimbledon volgende maand sal SA seker in die mansenkelspel twee verteenwoordigers hê, nl. Kevin Anderson (tans nr. 8 in die wêreld) en die opkomende Lloyd Harris (tans nr. 87 in die wêreld).

Verlede maand met die kies van die nasionale senior netbalgroep vir die Wêreld toernooi volgende maand in Liverpool, Engeland het Netbal SA (NSA) sowel as die spanafrigter Norma Plummer gesê vir die eerste keer in jare het geen kwotavereistes gegeld nie. In die groep van 12 spelers is daar net vier van kleur, insluitende die ervare kaptein Bongiwe Msomi.

“Ek het volle vertroue in die afrigter, haar tegniese span en al die spelers. Ek wens hulle die beste toe,” het Cecilia Molokwane, NSA president gesê.

Ongeveer drie weke later verklaar AfriForum tydens 'n mediakonferensie egter dat op skolevlak 'n totaal van 56 blanke meisies al weens ras uit verteenwoordigende skolenetbalspanne gelaat is, ondanks die feit dat hulle op meriete wel gekwalifiseer het. Volgens AfriForum toon die puntestate van keurders vir Gautengse o.12- tot o.18 skolenetbalspanne dat op hierdie wyse teen hierdie meisies gediskrimineer is.

In reaksie hierop het SA Skolenetbal gesê dit is jammer dat kinders nou deur volwassenes gebruik word om politieke agendas te bevorder, maar op hul beurt het NSA in hul kommentaar gesê dat dit onregverdig sou wees indien netbalspelers op skolevlak uitsluitlik op grond van ras uit verteenwoordigende spanne gelaat word.

AfriForum het namens die ouers van die benadeelde meisies ’n amptelike klag by SA Skolenetbal, Gauteng Skolenetbal en NSA ingedien.   Indien die saak nie bevredigend uitgesorteer word nie, beplan AfriForum om dit by die Internasionale Netbalfederasie aanhangig te maak, want die reëls van die Internasionale Netbalfederasie, asook dié van die Internasionale Olimpiese Komitee en die Statebondspele Federasie, belet uitdruklik enige vorm van rassediskriminasie in sport.

Dit wil tog voorkom asof vordering gemaak word om rassekwotas uit SA sport te weer.

Terrorisme breek los op nasionale snelweë feitlik landswyd met vragmotors wat met brandbomme bestook word, o.a. op N3 in KZN, R59 by Vereeniging, N2 by Port Elizabeth, N11 by Ermelo, N1 by Touwsrivier in Wes-Kaap; o.a. Bernard Groenewald vragmotorbestuurder erg verbrand toe hy met brandbom in kajuit gegooi is terwyl hy slaap

Volgens berig op sosiale media is sedert Mei 2018 1 300 vragmotors op hoofpaaie in die land aan die brandgesteek

 

Die Skatkis klerewinkel in die Horison Nywerheidskorf het opwindende nuwe wintersvoorraad ingekry, vir mans sowel as dames, asook kinderklere - truie, baadjies, skoene, onderklere en sweetpakke, onder andere.

Wat ook spesiaal genoem moet word, is jagbaadjies vir mans, terwyl daar ook nuwe skoenreekse is wat nog nie voorheen op Orania beskikbaar was nie. Eienares Magda sê egter voorrade verkoop vinnig uit en mense moet opskud indien hulle die beste keuses wil maak.

Die Skatkis met sy groot vloeroppervlak bied uitstekende geleentheid om rustig te snuffel, terwyl aanpaskamers ook beskikbaar is. In die tweede helfte van Junie word weer groot nuwe voorraad ingeskeep.

Teen alle verwagtinge in het die Proteas tot dusver in die hek geduik met die Krieket Wêreldbeker in Engeland en die eerste drie wedstryde op ‘n streep verloor – teen Engeland, Bangladesh en Indië. Daar kan aanvaar word dat die spelers hul bes gegee het en moet hulle nie te kras veroordeel word nie, maar wat is die redes vir die swak prestasie?

Die redes kan moontlik soos volg aangestip word:

  • Hoewel Krieket SA en die spanafrigter Ottis Gibson gesê het met die kies van die huidige span het geen kwotas gegeld nie en is slegs op meriete gekies, moet die huidige spansamestelling tog teruggevoer word na vorige jare waar kwotas streng toegepas is. So bv. het wêreldklasspelers soos Kyle Abbott en Rilee Rossouw in die slag gebly en het hulle verkies om eerder graafskapkontrakte te sluit as om langer vir hoop in die nasionale span rond te hang. Dit is sulke spelers wat in die huidige span die verskil tussen wen en verloor kon gemaak het.
  • Te veel krieket. Feitlik die hele huidige span het tot ‘n week of wat voor die Wêreldbeker nog hoogs mededingende krieket in die Indiese Premierliga gespeel, ooglopend vir die groot geld, maar dit het onvermydelik sy fisiese tol geëis. Van die spelers ly tot ‘n mate aan uitbranding, soos die geval met Dale Steyn wat met sy beseerde skouer voortydig huiswaarts moes keer.
  • Met die uiteindelike spankeuse is moontlik ook nie so raakgevat nie en reken bv. ‘n kenner soos Fanie de Villiers dat Hashim Amla (35) verby sy beste is en dat effe stadiger reaksie die rede is waarom hy teen Engeland teen die kop raakgeboul en beseer is en so moontlik die Proteas se kans op oorwinning ontspoor het.
  • De Villiers is ook van mening dat die ondersteunende spanbestuur, soos die fisioterapeut, biokinetikus, sielkundige berader, ens. nie opgewasse vir hul taak is nie. Dit wil lyk of hy 'n punt beet het. Watter rol kon kwotas in hierdie verband gespeel het, kan gevra word?

Hoe dit ookal sy, daar kan steeds maar net vorentoe gekyk word en hopelik geleer word uit foute van die verlede.

Verlede jaar het Ditsem Nuus berig dat planne opgetrek is om ʼn groot en volledige aftree-oord op Orania te bou op die terrein oorkant die bestaande Karoosig woonbuurtontwikkeling en suid van Smaraglaan (sementpad), maar volgens betrokkenes met wie Ditsem Nuus gepraat het, is hierdie beplanning egter eers op die langebaan geskuif. In plaas daarvan word beplan om die bestaande Karoosig Tehuis vir Bejaardes uit te brei met ʼn aantal wooneenhede en wel op die oop ruimte tussen die tehuis en die gebou van die Poskantoor en OVD Veiligheid.

Wat egter soos ʼn paal bo water bly staan, is dat daar buitendien steeds ʼn geweldige behoefte te Orania is vir ʼn doelontwerpte en moderne aftree-oord met verblyffasiliteite oor die spektrum vanaf woonstelle tot plek vir verswakte bejaardes. As sulks bied dit ʼn uitstekende beleggings- en ontwikkelingsgeleentheid vir entrepreneurs gespesialiseerd in aftree-oorde.

Daar is groot behoefte en aanvraag buite Orania vir mense om in Orania in veiligheid en rustigheid en met betroubare versorging te kom aftree. Die gaping is dus daar, dit is net ʼn vraag of die projek – of selfs meer as een – deur entrepreneurskap van buite Orania aanmekaargesit sal kan word.  

Die enigste troeteldierwinkel in die Bo-Karoo waar diereliefhebbers ‘n uitlaatklep vir hul passie kan vind, is Troeteldier en Hengel Paradys te Orania, in die Stokkiesdraai Avontuurpark. Daar staan eienares Elizabeth Solomon reg om kliënte met raad en daad te bedien.

Elizabeth sê sy is met ʼn passie vir diere gebore en het nog altyd daarvan gehou om met diere te werk. Voordat sy verlede jaar saam met haar ouers na Orania verhuis het, het sy op ʼn renosterplaas naby Klerksdorp gewerk, waar sy babarenosters versorg het. Te Orania het sy en haar pa, Cornelius, besluit om die leemte in die streek vir ʼn spesialis troeteldierwinkel te vul.

Elizabeth sê om ʼn troeteldier of diere aan te hou, vereis intensiewe sowel as omvattende versorging – dit is nie net kos en water nie, maar ook fyn let op die gesondheid van die dier, die hok gereeld skoonmaak, kyk dat diere nie mekaar afknou of beseer nie, ens. Kinders veral moet deeglik bewus wees van hierdie vereistes en verantwoordelikheid.

Troeteldier en Hengel Paradys spesialiseer in ʼn wye reeks visse, voëls en hamsters, maar hou ook hondjies en hasies aan. Hulle bied ook ʼn wye reeks produkte vir troeteldiere, vanaf hokke en kos tot speelgoed en allerlei hulpmiddels – dit is nou benewens die hengelgerei-afdeling in die winkel.

Elizabeth probeer ook sover moontlik voldoen aan enige spesiale versoeke rakende troeteldiere. Sy kan geskakel word by 084 225 6669.

As ons ooit die Here nodig gehad het, is dit nou! As ons ooit 'n aanraking van bo nodig gehad het, is dit nou. As ons ooit 'n openbaring van God se nimmereindigende liefde, Sy steeds groterwordende genade en ewigdurende ontferming nodig gehad het, is dit nou.

O, hoe kan dit wees dat 'n wêreld wat so versigtig aanmekaar gesit is, nou so uitmekaar val? Hoe kan dit wees dat die kinders wat teen fyn goud geskat was, nou gereken word soos erdekruike, die werk van pottebakkershande?

Hoe kan dit wees dat die tong van babas aan hul verhemelte vaskleef van dors terwyl kindertjies brood vra en niemand dit vir hulle breek nie? Hoe kan dit wees dat hulle wat lekkernye geëet het nou versmag op die strate en die wat purper gedra het nou die ashope omarm. (Klaagliedere 4: 1-4).

Hoe kan dit wees dat siele waarvoor Jesus Christus met Sy bloed betaal het, nou verlore gaan in 'n wêreld van sonde en bedrog? Hoe kan dit wees dat ons naby bure, ons naby vriende en familie in ons midde sit terwyl hul na die hel gly, sonder dat ons ons ontferming, vriendelikheid en Goddelike liefde aan hulle bewys?

Kan dit wees dat ons ook ver van God verwyder is? Kan dit wees dat ons die teenwoordigheid van die Here verlaat het? Kan dit wees dat ons soos skape dwaal en elkeen sy eie pad gevat het? (Jesaja 53: 6).

Kan dit wees dat ons, ons eerste liefde verlaat het? (Openbaring 2: 4). Kan dit wees dat ons losgebreek het van die wynstok en dink dat ons dit op ons eie kan maak? (Johannes 15: 5).

Kan ons soek na antwoorde vir ons situasie, eerder as om die Here God te soek wat self die Antwoord is? Kan dit wees dat ons brood soek in plaas daarvan om Jesus te soek, wie die Brood van die lewe is? (Joh. 6:48). Kan dit wees dat ons na water vir ons dors verlang, in plaas daarvan om na Jesus Christus te verlang, uit wie die lewende water vloei? (Johannes 7: 37-38).

Ons het nodig om weer tot inkeer te kom. Kom ons keer terug na die Een wat ons eerste liefgehad het, na die Een wat Sy Seun gegee het, sodat ons gered kan word.

Kom ons draai ons harte na Jesus Christus, Ons Meester, Verlosser en Koning. Kom ons laat God se Heilige Gees in ons 'n liefde vir God en 'n liefde vir ander opwek. Kom ons kyk nie na ander met minagting en oordeel nie, maar laat ons na hulle kyk deur die oë van Christus.

As ek ooit die Here nodig gehad het, is dit nou. As ons ooit die Here nodig het, is dit nou. As hulle ooit die Here nodig het, is dit nou.

Maar hou ook in gedagte: As Jesus Homself ooit wou openbaar, is dit nou.

Johan Terblanché, Christ Alone Ministries

In sport, soos in die lewe, gaan dit dikwels nie oor die uitblinkers en die pryswenners nie, maar of jy met jou spesifieke talente jou beste gee en as ʼn wenner die eindstreep haal. Hoe jy die spel speel, is dus belangriker as wen of verloor.

Dit het Lise Brink en Duane van Zyl gewys toe hulle 28 April tot 1 Mei aan die uithougeleenthede per pad in en om Orania deelgeneem het. Albei het ʼn geamputeerde linkerbeen bo die knie en dus ʼn prostese.

Hulle het besluit hulle wil deelneem en 10 km voltooi. Dit het egter so goed gegaan dat hulle uiteindelik, saam, 32 km voltooi het – en goed daarvan afgekom het!

Tussen amputasie en hierdie prestasie het daar egter vir elkeen van hulle ʼn lang en uitdagende geestelike, emosionele en fisiese reis gelê. Lise se been is in Desember 2016 geamputeer ná ʼn motorongeluk waarin sy en haar gesin was - sy ernstig beseer en twee van hul kinders gesterf het. Sy sê ondanks al die trauma was die genade van God groot genoeg om haar weer in ʼn posisie te plaas dat sy 32 km in uithoustap kon voltooi.

Duane (34) sê tydens ʼn vakansie met sy gesin in Zanzibar in 2016 het die are in sy een been onverklaarbaar platgeval en is die bloedtoevoer afgesny. Dit was ondanks die feit dat hy fiks was en stoei as sport beoefen het. Dokters het gedoen wat hulle kon, maar in Desember 2016 moes sy been geamputeer word. As elektriese kontrakteur van beroep het hy besluit hy het nog sy lewe voor hom en dat hy dit voluit gaan leef. Hy sê ook deur genade alleen het hy sodanig herstel dat hy ook die 32 km stap met relatiewe gemak kon voltooi.

Lise en Duane, wat albei met hul gesinne in Pretoria woon, het mekaar eers ná hul amputasies ontmoet en vriende geword. Hoe dit gebeur het, is ʼn storie op sigself, maar die feit is hulle stel ʼn wonderlike navolgenswaardige voorbeeld vir elkeen wat ʼn groot terugslag in die lewe moet verwerk.

Johann Dannhauser

Terwyl daar nog geen gerusstelling is oor die volhoubaarheid van Eskom as nasionale kragvoorsiener nie, behoort steeds indringend gesoek te word na alternatiewe kragoplossings op grootskaal. Van al die moontlike alternatiewe bronne bly die benutting van sonkrag die mees bekostigbare en ook die mees omgewingsvriendelike.

Dit geld veral die sentrale deel van die land as die primêre verspreidingsgebied van Ditsem Nuus en wel in besonder die Bo-Karoo met sy groot aantal sonskyn dae per jaar. In ‘n poging om in hierdie opsig te fasiliteer, behou Ditsem Nuus hierdie fokus op bekostigbare sonkrag. Op hierdie bladsy bied twee gevestigde verskaffers van sonkragstelsels buite die sentrale binneland uitstekende franchise-geleenthede vir entrepreneurs in die sentrale streek.

Bestaande en voornemende entrepreneurs in die elektrisiteitsektor word dus aangemoedig om van hierdie gulde geleenthede gebruik te maak wat gebied word deur Gener8 Sustainable Energy Solutions van Witbank (kontakpersoon Oscar Loreti by 082 3377 068) en AllSolar Renewable Energy Solutions met hoofkantoor te George (kontakpersoon Div de Villiers by 082 6455 657).

Terselfdertyd bied GeyserWorx van Johannesburg tegnologie vir songeisers wat waarskynlik nog nie algemeen in die binneland beskikbaar is nie. Sien gerus hul advertensie op hierdie bladsy en skakel hulle, ook vir bekostigbaarheid.

Ook dien in gedagte gehou te word die jaarlikse KragDag ekspo wat 8-10 Augustus 2019 te Diamantvallei Landgoed oos van Pretoria aangebied word en waar verseker verdere uitstekende uitstallings van innoverende sonkragoplossings sal wees. Meer inligting op hierdie stadium by www.kragdag.co.za.

       

Op Saterdag 1 Junie 2019 het Die Worsman in die Horison Nywerheidskorf hul amptelik opening gevier met talle spesiale aanbiedinge, ʼn groot braai, ʼn markdag met stalletjies op die sentrumterrein, ʼn springkasteel vir die kinders en polsende musiek. Op die foto’n familiegroepie wat die feestelike atmosfeer geniet het en heerlik gekuier het – van links Natasha, Tys, Marinta en Frik (almal Verster) en Johma, Emma en Danie Strydom.

Foto: Ditsem Nuus

Bladsy 1 van 4
Go to top