Print this page

Christene in Noord-Korea steeds bloediglik vervolg

Die bediening Geopende Deure berig in hul jongste nuusbrief dat Noord-Korea steeds, soos die afgelope 17 jaar, die eerste plek beklee op die Wêreldwaarnemingslys van lande waar vervolging van Christene die ergste is. Geopende Deure skryf in ‘n nuusbrief:

“In Noord-Korea, as jy gelukkig genoeg is om ‘n Bybel te hê, moet jy dit weggesteek hou. Jy kan nie eens waag om jou kinders van Jesus te vertel nie. Indien jou geloof ontdek word, word jy tereggestel of na ‘n arbeidskamp gestuur, dikwels saam met jou nabye familie.

“’n Geskatte 50 000 tot 70 000 Christene is tans gevangenes in arbeidskampe. Hulle word gereeld gemartel, verhonger en geforseer om 18 ure ‘n dag te werk. Baie is vir altyd beseer of verlam a.g.v. mishandeling. Sommige word verkrag en geforseer om aborsies te ondergaan.

“Alhoewel afgryslik, is die situasie nie hopeloos nie. Broer Andrew, wat Geopende Deure meer as 60 jaar gelede gestig het, het gesê: Die uitdaging, wanneer dit kom by menslik onmoontlike, is om nié dit wat ons sien as onvermydelik te aanvaar nie. Die Bybel maak nie fatalisme goed nie. Dit vra na aksie, inisiatief, geloof.

“Noord-Korea is steeds ‘n baie donker land, maar ons sien gebede beantwoord word en terwyl ons hierdie werk al vir baie jare doen, het ons nog nooit soveel Noord-Koreane gesien wat tot geloof kom soos deesdae nie. Daar is tans ongeveer 300 000 geheime gelowiges in Noord-Korea.”

Vir meer besonderhede en om die bediening te ondersteun, besoek www.opendoors.org.za.

Gradeer die artikel
(0 stemme)