► Verskoning gister geen Hooftrekke weens onvoorsiene omstandighede, vandag dubbel ► Afrikaner-gemeenskap ontstoke oor haatspraak van Panyaza Lesufi Gauteng LUR vir Onderwys teen Afrikaans, wat sê dit “gaan sy verstand te bowe dat daar stryd is in skole vir Afrikaans as daar nie meer een universiteit is wat Afrikaans as onderrigmedium het nie” ► In terreuraanval 20 Mei op plaas tussen Fochville en Westonaria deur agt gewapende aanvallers op pa (55) en dogter (17) is dogter herhaaldelik verkrag ► Nog terreuraanvalle op plase: ► 21 Mei by Louis-Trichardt, Limpopo, Annette Kennealy voormalige DA raadslid vermoor in haar plaashuis aangetref ► 19 Mei by Addo, Oos-Kaap, vroulike plaaswerker deur twee gewapende aanvallers met messe gesteek, kontant geroof ► 17 Mei by De Doorns, Wes-Kaap, vyf gewapende aanvallers oorval bejaarde egpaar laataand in hul huis , beroof, geen verder besonderhede tans beskikbaar nie ► 87-jarige man in Tshwane in Distrikhospitaal erg aangerand deur personeel toe hy hulle aanspreek omdat hulle hom in Zoeloe en Tswana spot ► Pretoria Hooggeregshof gee uitspraak dat bevinding van OB Busisiwe Mkhwebane in saak van Estina-suiwelprojek by Vrede in Vrystaat so swak is dat dit tersyde gestel word ► Geweldige uittog van voorste SA rugbyspelers na klubs in die buiteland Engeland, Europa, Japan en VSA, o.a. Bulle-kaptein en Springbok-losskakel Handré Pollard ► Berigte dat hongersnood dreig in Zimbabwe a.g.v. droogte en lae vlak van Karibadam, sowat 3 miljoen mense benodig voedselhulp en beurtkrag word toegepas ►

Liefde van Christene vir Moslems, terroriste en homoseksuele

Hierdie opskrif bring ons by die kern van die debatte wat gedurende die afgelope maand in kerklike kringe en in die media gegons het.
Eers was daar die hofuitspraak van 8 Maart rakende die NG Kerk se 2016-sinodebesluite betreffende homoseksualisme wat tersyde gestel is en hul besluit om nie daarteen te appelleer nie. Toe is dit die terroriste-aanval op 15 Maart deur Brenton Tarrant op twee moskees in Nieu-Seeland. Dit is opgevolg deur 'n artikel in Kerkbode oor ʼn "kerswaak" wat op 17 Maart in Kaapstad gehou is waar Christene in solidariteit met hulle "Moslembroers en –susters" byeengekom het om vir die slagoffers te bid.
Hierdie uitlatings van Moslems as Christene se “broers en susters” en ook as “kinders van God”, het tot ʼn debat gelei wat die voorblaaie van Rapport (24/3) en Die Burger (25/3) gehaal het. Danksy moedswillige joernaliste wat sensasie soek deur "bid vir" en "bid saam" doelbewus om te ruil, asook mense wat net die opskrif lees en dan kommentaar lewer sonder om die artikel te lees, is die bekende kenwysies van liefdeloosheid en onverdraagsaamheid saam met beskuldigings van haat, selfregverdiging en hoogmoed vinnig gefluit.
Dit wil lyk asof die oorgrote meerderheid van mense wat die sleutelbord opgeneem het, dit vanuit ʼn passievolle oortuiging van liefde vir hulle medemens gedoen het. Hoe hierdie liefde lyk en wat dit behels, is egter waar die paaie uitmekaar loop.
Verskillende definisies van liefde lei dikwels tot 'n herdefiniëring daarvan. Gevolglik word die betekenis van “Christen” en “kerk” ook herdefinieer. Al manier om subjektivisme te vermy en mekaar hieroor te vind, is om saam onder die gesag van die Bybel as absolute norm te buig. Die vraag is tog: Hoe lyk kinders van God se liefde vir Moslems, terroriste en homoseksuele?
Daar is geen regverdiging vir die gruweldaad in Christchurch nie. Dit herinner ons aan die inherente boosheid van die mens. Die reaksie op hierdie massamoordenaar is verstaanbaar, maar as Christene moet ons reaksie anders wees.
As mense wat danksy Christus toegang tot die troon van God gekry het, is ons toevlug eerstens tot Hom. Die oorsaak van hierdie tragedie is ten diepste omdat die mens as skepsel in opstand gekom het teen sy Skepper. Om enige van sy skepsels te vermoor, is om jou aan die Skepper te vergryp.
Om jou tot die troon van die almagtige Skeppergod te wend, vra méér as net solidariteit met die slagoffers. Dit is juis ons solidariteit met die moordenaar wat ons na ons knieë behoort te dryf.
As God Hom oor ʼn sondaar soos ek en moordenaars soos Dawid en Saulus kon ontferm, wie is ek om te dink dat sy genade nie ook hierdie terroris tot inkeer kan bring nie? Dit is immers wat met elke gelowige gebeur (vgl. Rom. 5:8).
Christene mag oor hierdie bose daad kwaad word, maar as wedergeborenes lyk ons woede anders. Dit is nie besmet met lastering, sonde, vuil taal of bitterheid nie (vgl. Efés. 4:26-31). Ons moet daarteen waak om nie soos Jona te wees wat vir die Here kwaad was toe Hy nie die stad Nineve ná hulle berou verwoes het nie.
Daarom bid ons vir Brenton Tarrant en sy verlossing. Een ding is verseker en dit is dat God hierdie boosheid nie oorsien en ongestraf sal laat bly nie. Óf Brenton Tarrant gaan tot in ewigheid in die hel self daarvoor betaal, óf dit was deel van Jesus Christus se helse smarte aan die kruis.
Ons bid verder vir diegene wie se geliefdes vermoor is, sonder dat hulle Jesus Christus as Verlosser ken, want die enigste ware troos is by Hom wat die dood oorwin het. Daarom bid ons dat die Here hierdie gruweldaad sal gebruik om geleentheid te skep vir gesprekke waarin daar van die ware evangelie van Jesus Christus getuig kan word.
Hierdie selfde liefde wat ons teenoor ʼn terroris soos Tarrant en teenoor die ongelowige familielede van sy slagoffers openbaar, is ook die liefde wat gelowiges aan homoseksuele mense behoort te betoon. God en sy genade is ook groot genoeg om hulle van die gruwels van hulle sondes te bevry, net soos ons daarvan bevry is. Daarom moet ons elkeen met respek hanteer terwyl ons, met besorgdheid oor hul ewige saligheid, teenoor hulle van die verlossingswerk van Jesus Christus getuig.
Liefdeloosheid is om God se reddende genade van ander te weerhou. Ware liefde en omgee lê nie in hoeveel kerse jy brand, of hoeveel reënboog-strikkies jy dra, of hoeveel trane jy saam gestort het nie. Dit lê alleenlik in die evangelie van Jesus Christus.

Gradeer die artikel
(1 Vote)

Lewer kommentaar

Vul al die vereiste velde in (*)

Meer in die kategorie:

Go to top