► Helen Zille teen wense van leier Mmusi Maimane verkies as federale voorsitter van DA; interessant wat van DA gaan word ► Herman Mashaba bedank as DA burgermeester van Johannesburg oor verkiesing van Zille ► Bejaarde egpaar Henning (82) en Hilda (80) Schourie in hul huis in Sophiatown wreed doodgeslaan ► Agnes Elaine Burns (91) en Rosemary Landton (87) vermoor in aftree-oord in Port Elizabeth, 5 verdagtes 4 mans en vrou in hegtenis, vrou versorger by oord. ► Beroemde sangpaar Lance James (81) en Min Shaw (85) deur FAK van dr. Danie Langner met spesiale toekenning vereer vir hul bydrae tot die Afrikaanse musiekbedryf ► Wêreldbeker Rugby Springbokke vs. Wallis en All Blacks vs. Engeland in halfeind ► Supersoniese Bloodhound kom in SA aan vir aanslag op landspoedrekord op Hakspeenpan in Noord-Kaap met doel om 1 600 km per uur te bereik ► Telkom kondig aan dat dit kopernetwerkinfrastruktuur vir ADSL en telefoonlyne gaan opskort en dat verbruikers ander opsies moet vind, waarskynlik optiese vesel, goedkoper as ADSL ►

ROCKFEES BY DIE VROUEMONUMENT, OORLOGSMUSEUM. FRONT NASIONAAL RIG BRIEF AAN PROF PIET STRAUSS

Geagte professor Strauss

Re: Beplande Rockfees by die Oorlogsmuseum Bloemfontein: Oktober 2019

Front Nasionaal het met ‘n groot mate van kommer kennis geneem van ‘n advertensie wat uitgestuur is deur die Bemarkingskantoor van die Oorlogsmuseum waarin daar planne bekend gemaak word vir ‘n “Rockfees” by die Oorlogsmuseum in Oktober vanjaar om die 120e jaartal sedert die uitbreek van die Tweede Vryheidsoorlog te herdenk. Hierdie fees word beplan in samewerking met die “Aasvoëlklub” in Bloemfontein. Die advertensie en inligting soos verskaf is hierby aangeheg.

Ons het volle begrip daarvoor dat dit geweldig belangrik is vir monumente en museums om alternatiewe planne te maak om voete te lok en die geskiedenis lewend te hou. Ons voel egter dat dit darem met die nodige respek gedoen behoort te word.

Die oorlogswonde lê nog rou by baie van ons volksgenote. Dit is ‘n natuurlike proses by ‘n volk om, oor verloop van ‘n lang tyd, vrede te maak met die wonde wat hom toegedien is op die wyse waarop dit ons volk toegedien is. Genesing is ‘n proses wat soms geslagte lank duur. Daar is vandag nog wonde in Amerika oor die Burgeroorlog. Daar is vandag nog wonde in Nederland en Frankryk en in Pole oor die Tweede Wêreldoorlog.  Daar is nog rou wonde oor hierdie Oorlog en die uitvloeisel daarvan wat ons so intens beleef in die politieke situasie van die dag. As dit nie was vir die uitwissing wat daar plaasgevind het nie, was ons nie vandag ‘n handjievol mense wat in ons geboorteland vertrap, misken en verdruk word nie. Dan was ons baie meer.

Inderdaad wil ek vir u sê: In my eie familie is daar grootooms en –tantes wat in ongemerkte konsentrasiekampkerkhowe begrawe lê. Hulle is ewig kinders – ontroof van die geleentheid om op te groei en te leef. Hulle enigste grafsteen is die gedenkmuur by die museum, waar ek op 17 Desember verlede jaar lank vertoef het om hulle offer te gedenk.

Die Vrouemonument is nie net ‘n monument nie. Dis ‘n laaste rusplek. Ek het daar ook vertoef by die grafte van president Steyn, generaal De Wet, ds Kestell en Emily Hobhouse. Lank vertoef, want die stilte daar bring jou tot besinning oor watter prys gevra is, en in watter gesindheid dit betaal is.

Professor Strauss, dis nie die plek of die geleentheid vir ‘n Rockfees met ‘n kontantkroeg nie. Dis nie aanvaarbaar om te sê: “Ja maar ons gaan kerse brand en ‘n minuut van stilte handhaaf om die 30 000 vroue en kinders in konsentrasiekampkerkhowe te herdenk…. en daarna verkoop ons drank en rock ons” nie. En verseker stuur dit ‘n baie verwronge boodskap aan die wêreld oor hierdie volk se begrip van eerbied en respek. Ek kan my gewoon nie voorstel dat ‘n Rockfees gehou sal word by Gettysburg of Oradour-sur-Glane nie. Waarom moet ons dit dan hier doen? Oorlogswonde genees nie deur daarop te dans nie.

Die gedagte daaraan het my enersyds met ‘n diep emosionele pyn vervul ter wille van hulle vir wie daardie ‘n laaste rusplek is, maar ook met intense weersin by die gedagte daaraan dat die vorm van die vieringe so lynreg indruis teen die boodskap wat daar versinnelbeeld word.

Ons is ‘n beskaafde volk. ‘n Beskaafde volk huldig sy erfenis met respek, met deernis, met ootmoed en met waardigheid. Vir rockfeeste is daar sale en dansklubs en stadions die hele Vrystaat vol.

Ons is dit met u volkome eens dat die uitbreek van die Oorlog 120 jaar gelede herdenk moet word en dat dit die ideale geleentheid is om opnuut belangstelling te wek in daardie spesifieke gedeelte van ons geskiedenis. Ons wil egter ‘n dringende beroep op u doen om hierdie herdenking op ‘n meer gepaste, meer waardige en meer eerbiedige wyse te vier. En daarmee sal ons u bystaan met alles wat ons moontlik kan bydra. Front Nasionaal sal ons mense aanmoedig om deel te vorm daarvan. Ons sal u ondersteun net waar ons kan.

Dit is egter nie vir ons aanvaarbaar dat ‘n Rockfees met drankverkope by ‘n plek gehou word wat opgerig is om die ellende van die Oorlog en die offers, die lyding, smart en verlies te gedenk nie. En sekerlik nie waar die laaste rusplek van ons volkshelde is nie.

Ons wil u dan net ook vriendelik daarop wys dat die advertensie aandui dat die Afrikaanse sanger, Adam Tas, by die feesgeleentheid gaan optree. Ons het ondertussen ‘n boodskap van hom ontvang waarin hy ontken dat hy ooit genader is om op te tree en geen kennis dra van enige betrokkenheid by die gemelde Rockfees nie.

Ons verneem graag van u in hierdie verband.

Met beste wense

Daniël Lötter

Deur sosiale media is die volgende redaksionele kommentaar van Front Nasionaal SA, ʼn klein behoudende Afrikaner politieke randparty, ontvang omtrent die huidige grondsituasie in die land:

Nou word die pap darem dik aangemaak, nê!

Kyk, nou word dit darem dik gesmeer. Ewe skielik is Ramaphosa se erfgrond nie een keer nie, maar sommer TWEE keer van hom gesteel! En die pyn daarvan, o, die pyn....

Lyk nie vir ons asof hy juis 'n hengse agterstand het as gevolg van die beweerde tweeledige diefstal nie. Ons verneem hy sit daar redelik goed in.

Bring die bewyse ou bul. Bring die kaart en transport van daardie grond wat twee keer gesteel is en ons kan gesels.

Tot dan stel ons net belang in gesels oor een pyn: Die pyn van vertrapping, van plaasmoorde, van onteiening sonder vergoeding, van werkloosheid en armoede as gevolg van BEE, van rassediskriminasie teen blankes, van kwotas en miskenning van erfenis, taal en kultuur.

En vir daardie pyn het ons bewyse. Baie, baie bewyse.

So kom laat ons gesels oor pyn en grond en lewens en waardigheid wat gesteel word. Ons is hier, ons gesels graag.

Meer raakgevat kan dit nie en ons vereenselwig ons met hierdie siening. Die foto’s by hierdie berig is juis van die jongste bewyse waarna verwys word – van Boet Pienaar en Jesse Lewis op 14 Maart by Mooinooi.

Go to top