► Met meer as 80% van stemme getel in die verkiesing, staan nasionaal die ANC op sowat 57%, DA 22%, EFF 10%, IVP 3% en VF Plus 2,5%, met die res in bondel agterna ► Wat provinsies betref, is ANC loshande top in agt van die nege, met die Wes-Kaap wat steeds onder DA bly ► Algemene patrone op hierdie stadium is dat die ANC redelik gevaar het ten spyte van skandes van staatskaping en die gemors waarin die land gedompel is; DA het nie aan verwagtinge voldoen nie en is waarskynlik grootste verloorder om verskeie redes; IVP, VF Plus en EFF het almal hul mindere steun feitlik verdubbel, grootbek BLF heeltemal uit die bus met slegs sowat 8 000 stemme in totaal ► Kleiner partye maak groot bohaai oor bedrog met stemmery in die verkiesing, maar OVK sê ná deeglike ondersoek is weinig stawende bewyse gevind; luister bv. na hierdie stemgreep van Front Nasionaal en vorm jou eie mening ► Alliance Defending the Autonomy of Churches in SA (AdacSA) vandag in Pretoria se hooggeregshof vir saak om outonomie van kerke en godsdiensvryheid in SA te verdedig ► Zondo-kommissie hoor oor Transnet dat finansiële hoof van die maatskappy het mag gehad om kontrakte en tenders van tot R1 miljard alleen toe te ken ► MTN, een van die boikotters van Steve Hofmeyr, verloor in eerste kwartaal vanjaar meer as 1,3 miljoen kliënte ► Oor wie die beste skolerugbyspan in die land is, word môre in Bloemfontein bepaal wanneer Grey Kollege en Hoër Jongenskool Paarl (Boishaai) mekaar pak ►

Omstrede LUR vir Onderwys in Gauteng Panyaza Lesufi, bekend vir sy aanvalle op Afrikaanssprekende skole en hul taal-en toelatingsbeleid, het bedank uit sy pos. Die LUR, aktief op Twitter, het na aanleiding van sy aankondiging op sosiale media 'n uitstorting van kommentaar ontvang waarin sy aanhangers hom ondersteun en ander weer juig oor sy vertrek.

Tydens die ampstermyn van Lesufi moes die Gauteng onderwys departement handel met verouderde en verslegtende skoolinfrastruktuur veroorsaak juis deur gebrekkige of geen instandhoudingswerk. Daarvan is die Driehoek-brugtragedie vroeër vanjaar in Vanderbijlpark sprekende getuienis en ten opsigte waarvan Lesufi en sy voormalige departement strafregtelike aanklagte in die gesig staar.

Die Gauteng regering begroot jaarliks R1 miljard vir die opknapping en opgradering van openbare skole, maar die behoefte in hierdie verband in terme van geldwaarde, beloop alreeds ʼn massiewe R5 miljard. Dit beteken ʼn krisis met geen einde in sig nie.

Lesufi het voorts tydens sy termyn ʼn groot aantal enkelmedium Afrikaanse skole in Gauteng gedwing om tot dubbelmedium-onderrig oor te skakel deur meer swart leerlinge in te neem, dit ten spyte van die feit dat naby hulle Engelsmediumskole met ruimte vir hulle was. Volgens die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) is daar jaarliks ’n toename van ongeveer 85 000 leerders in Gauteng , hoofsaaklik a.g.v. migrasie. Indien die onderwysdepartement genoeg skole sou gebou het, was daar nie nou die kritieke tekort van 142 nuwe skole, waaronder 85 primêr en 57 sekondêr.

In nasionale verband kan volgens die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge minstens 75% van skole in SA as wanfunksioneel beskou word en tot 80% van graad 4’s as funksioneel ongeletterd. Daar is wetenskaplik bevind dat ʼn meerderheid kinders uit SA staatskole nie op die vereiste opvoedkundige vlak is vir hul graad of ouderdom nie en dat dit hulle swak voorbereid laat vir tersiêre studie en die werksplek.    

Onder Lesufi se onderwysbewind is daar min of geen verbeteringe aan die onderwysstelsel in Gauteng aangebring, wat hom in geen posisie gelaat het om so jag te maak op Afrikaanse skole en in die proses sy hatigheid en anti-blanke en anti-Afrikaanse politieke agenda so te laat uithang het nie. Vir die toekoms is die vrae wie gaan Lesufi opvolg as LUR en wat gaan van hierdie aktivis word?

Die Minister van Basiese Onderwys, Angie Motshekga het haar kommer uitgespreek oor die styging in die aantal onderwysers wat afwesig is by staatskole.

Luidens ’n vorderingsverslag van die Dept. van Basiese Onderwys is 10% van die land se 410 000 onderwysers daagliks afwesig weens “siekte”. Die studie is gedoen onder staatskole, landswyd waarvan 1 000 skole onderrig aanbied tot Gr. 6, sowel as in ʼn groep van 1 000 skole wat onderrig tot Gr. 12 aanbied.

Motshekga het verduidelik dat die afwesigheid van leerkragte gemonitor word omrede waardevolle onderrigtyd verlore gaan. Volgens haar moet skoolhoofde die blaam dra omrede dissipline nie by skole optimaal gehandhaaf word. Sy gaan verder deur te sê dat skole nie effektief bestuur kan word as selfs skoolhoofde daagliks afwesig is.

Dit laat die vraag na vore kom of private onderrig nie dalk ’n beter opsie is om onderwys in die land reg te ruk en uit die huidige moeras te laat kom nie?

Go to top