► “’n Monument van grootskaalse korrupsie” is hoe Noord-Kaapse premier dr. Zamani Saul nuwe psigiatriese hospitaal in Kimberley geopen het 13 jaar nadat konstruksie begin is @ R290 miljoen, maar nou eers voltooi is teen R2 miljard ►Appèlhof handhaaf beslissing van Noord-Gauteng hooggeregshof dat Cash Paymaster Services (CPS) R316 miljoen aan Sassa moet terugbetaal ►Transnet toon wins van R6 miljard vir finansiële jaar 2018/19; eerste staatsonderneming in baie lank tyd wat wins toon ►Plaasterreur 30 September, Malmesbury, twee aanvallers in plaashuis, huiseienaar skiet een dood ►Groot dele van die land vanaf Limpopo tot in die Wes-Kaap ondervind erge droogtetoestand met minder as 50% van die gemiddelde reënval in 2018/19 seisoen – sien by hierdie skakel hoe in Steytlerville-distrik droogte ervaar word; aan die ander kant sien by hierdie video hoe gejuig word oor goeie reën in distrik Beaufort-Wes ►Kampioen Boran stoetbul genaamd Mr. Million, gekoop vir R1 miljoen, se hakskeensenings deur veediewe op plaas by Brits afgekap, moes vankant gemaak word ►Intensiewe driedaagse-kursus oor in- en uitvoer en internasionale handel aangebied te Midrand, Kaapstad en Durban, kontak Ronell 073 291 0450 of events@norcaz.biz►

Nadat Minister van Energie Tina Joemat-Pettersson drie weke gelede behoorlik die knuppel in die hoenderhok gegooi het met haar verklaring dat voorstelle vir kernkragontwikkeling of sg. RFP in SA binnekort deur haar departement aangevra sal word, het Minister in die Presidensie Jeff Radebe pas aangekondig dat die RFP nie nou gaan gebeur nie en dat die gesag oor RFP inderdaad geskuif word vanaf die Dept. van Energie na Eskom. Dit het op sy beurt weer verdere kontroversie opgekook met die DA wat die regering daarvan beskuldig dat dit probeer om Parlementêre toesig oor die kernbouprogram te omseil, openbare debat oor die nodigheid van bykomende kernkapasiteit te blokkeer, ‘n kleed van geheimhouding oor die hele verkrygingsproses te trek en om pres. Jacob Zuma groter seggenskap oor die kernverkrygingsproses te gee. Volgens die DA het Eskom met Medupi en Kusile gewys dat hulle nie megaprojekte doeltreffend kan bestuur nie, terwyl die Appèlhof bevind het dat die tenderkomitee van Eskom korrup is.   

Ons leef kennelik en, soos die Woord waarsku, in die tyd van die groot leuen. Laasgenoemde is blatant, maar ook uiters slu. Die duiwel bied mos ook die waarheid aan – net bietjie anders, net met ‘n ligte verdraaiing. Dit vereis dus buitengewone wysheid om te onderskei tussen eg en vals, tussen reg en verkeerd, tussen die waarheid en die leuen. Dit is ook dikwels so dat die waarheid in die minderheid is, want die leuen probeer oordonder. Fyn luister en onderskei is derhalwe noodsaaklik. Ditsem Nuus trag om immer die ware waarheid aan te bied en om vir ons lesers dit wat regtig saakmaak, te vertel – dit wat jou help om ‘n ingeligte besluit t.o.v. jou persoonlike lewe te neem. Vertrou ons daarvoor en waar ons die bal sou misslaan, wys ons asb. daarop.
Dit gaan tans woes in Suid-Afrika, soos ook blyk uit die drie fokusberigte in hierdie uitgawe. Desondanks wil ons onomwonde sê: Moenie SA afskryf nie. Hierdie land, al sy trauma ten spyt, behoort nie aan die Bose, die rewolusionêre, die moderne barbare en die ander trawante van die Bose nie. Die naam van Christus is oor SA uitgeroep en so moet Sy kinders vasstaan. Moet dus nie moed verloor nie en moet beslis nie emigreer nie. Bly glo teen enige logika in, bid, trek die volle wapenrusting van Efesiërs 6 aan en “dring die geveg terug na die poort toe.” (Jes. 28:16)

Onlangs is berig van Clint Eastwood, oud-Cowboy en filmregisseur, wat pas op 86-jarige ouderdom die uitstaande vollengte rolprent Sully met Tom Hanks in die hoofrol geregisseer het. Terselfdertyd word berig van Bernie Ecclestone, die man wat Formule 1 motorwedrenne op vyf kontinente in ‘n multimiljard dollar bedryf ontwikkel het, op 85-jarige ouderdom sy besigheid aan ‘n Amerikaanse maatskappy vir $4 miljard verkoop het – en aanbly as die hoofuitvoerende beampte van die nuwe maatskappy.

Of hierdie mense gelowiges is, weet ons nie, maar iemand het eenkeer gesê: “Hou vas aan die sekerheid dat, op watter stadium van die lewensreis jy ook mag verkeer, God sy beste vir jou bewaar het – selfs al het jy die aandskemering van die lewe bereik.”    

Die wetgewing wat tans in Parlementêre kringe dien om beheer oor pornografie op die Internet te liberaliseer, moet ten alle koste gestop word. Dit verteenwoordig die ergste en mees degraderende geestelike riool wat oor die SA samelewing losgelaat kan word.

Bid, bid en bid – en doen wat menslik ookal nodig is om hierdie wetgewing permanent in die kiem te smoor.

Die beroep van die DG van Hoër Onderwys dat die “onderwyspersoneel by skole, veral voormalige Model C-skole, te wit is en getransformeer moet word,” verwys.

Hierdie uitlating is eenvoudig ‘n uitdrukking van haat teenoor blankes en sê eintlik dat alles wat ‘n blanke velkleur het, vernietig moet word. Blanke onderwysers, met die kultuur van uitnemendheid wat hulle uitdra, is bewys as die beste in die land en die resultate daarvan wys in sowel die oorwegend blanke skole as die oorwegend swart en oorwegend bruin skole waar hulle dien.

Meer nog, die voormalige Model C-skole, meesal oorwegend blanke kinders, staan telkens in Matriekuitslae uit ver bokant die verhoudings in bevolkingsgetalle.

Wat sê hierdie praktiese manisfestasies in terme van kultuuridentiteite?

Dit gaan nie oor ras en of een identiteit beter is as die ander nie, maar oor leef en laat leef – elkeen volgens sy/haar eie geskape identiteit.

Die skietstilstand in Sirië tussen die Russies-ondersteunde regering van pres. Bashar al-Assad en die Amerikaans-ondersteunde Siriese rebellegroepe het kwalik ‘n week geduur voordat dit verbreek is. Daarmee saam is lewensnoodsaaklike noodlenigingskonvooie na die verwoeste Aleppo en ander gebiede met opset aangeval en tot stilstand gedwing, met 20 noodlenigingswerkers gedood. oor wie hieervoor verantwoordelik was, woed ‘n woordestryd. Die Russiese regering sê dat die VSA die skietstilstand misbruik het om die rebellegroepe kans te gee om te hergroepeer. Dit blyk dat die VSA in diplomatieke onderhandelinge alles in hul vermoë doen om te keer dat die demokraties-verkose en stabiele Assad-regering met steun van die Russiese lugmag uiteindelik die oorhand in die vyfjaarlange burgeroorlog kry.  

Een van die hoofitems wat die internasionale toneel die afgelope week oorheers het, was die sitting van die VN Algemene Vergadering, waar veral vyf punte bo-aan op die agenda was: Die Wêreldberaad oor Vlugtelinge, waaruit geblyk het dat daar tans in die wêreld sowat 65,3 miljoen mense uit hul wonings geforseer is en waarvan 21,3 miljoen geklassifiseer kan word as vlugtelinge uit hul lande van oorsprong. Van laasgenoemde syfer kom 4,9 miljoen uit Sirië, 2,7 miljoen uit Afganistan en 1,1 miljoen uit Somalië / Die laaste optrede van VN sekretaris-generaal Ban Ki Moon voor sy ampsverstryking / Die verslegtende humanitêre krisis in Sirië / Die laaste keer wat pres. Barak Obama as Amerikaanse president by die wêreldliggaam opgetree het / Die opbouende spanning tussen Israel en Palestynse nedersettings. Pres. Jacob Zuma het SA by die sitting verteenwoordig en gesê die grootste probleem is onderontwikkeling en dat dit tot groter gewelddadige opstande kan lei.

Die SA mynhuis Harmony Gold het bekendgemaak dat dit die helfte van die aandele in die Hidden Valley Goudmyn in Papua New Guinea van die Australiese Newcrest Mining gekoop het. Volgens die HUB van Harmony, Peter Steenkamp kan hierdie transaksie sy groep help om hul jaarlikse produksieteiken van 1,5 miljoen ons goud binne drie jaar te realiseer. Die huidige produksie van Hidden Valley is sowat 180 000 ons per jaar. 

Met die volharding deur die kabinet met omstrede Dudu Myeni as voorsitter van die SAA raad, blyk dit dat die bedryfsverlies van die lugredery met R1,5 miljard toegeneem het in die 2015/16 finansiële jaar, wat die totale bedryfsverlies van die SAA nou op R5,64 miljard te staan bring. In ‘n vroeëre vergadering van die Staande Komitee vir Finansies van die Parlement, het Minister van Finansies Pravin Gordhan darop aangedring dat die SAA met die jongste reddingsboei ‘n skriftelike sakeplan moet voorlê hoe die sinkende skip (vliegtuig) omgedraai kan word. Ná die jongste vergadering vabn die Staande Komitee het die DA aangedring op ‘n dringende en volledige ouditverslag vir die SAA en sy filiale vir die onlangse finansiële jare.

In ‘n mediaverklaring wys die DA in die Vrystaat daarop dat die Provinsiale Tesourie tot en met 31 Augustus 2016 ‘n totale bedrag van R2,7 miljoen vir advertensies betaal het in die Gupta koerant The New Age – dit terwyl die departement in dieselfde tydperk die onbeduidende bedrag van R18 500 beste het aan advertensies in 14 ander publikasies altesaam. Volgens die DA is dit moeilik om besonderhede van spesifieke bedrae en begunstigdes uit die aktiwiteite van die Vrystaatse Provinsiale regering te kry, maar betroubaar word beraam dat die provinsiale regering die afgelope paar jaar tussen R30 miljoen - R50 miljoen aan die Gupta-kartel betaal het.    

Die Life Healthcare Group het bekendgemaak dat dit ‘n beplande ontwikkeling van R60 miljoen op ‘n 4,6 ha hoewe in Spitskop langs Langenhovenpark in Bloemfontein vireers bevries het omdat die groep nie die finale groenlig by die Mangaung Metro Munisipaliteit kan kry nie. Life Healthcare wil die rehabilitasiefasiliteit van sy Life Pasteur Hospitaal in Hospitaalpark in die stad na Spitskop verskuif en daar ‘n nuwe ultramoderne eenheid oprig. Hoewel die nodige lisensiëring vir die nuwe fasiliteit van die Vrystaatse Dept. van Gesondheid verkry is, bly die metro in gebreke om substansieel op ‘n aansoek om hersonering te reageer. Life Healthcare het in hierdie verband alreeds ‘n hooggeregshofbevel in hul guns bekom, maar die metro kom net nie met ‘n finale besluit vorendag nie. Die redes vir die gesloer by die munisipaliteit is geensins duidelik nie. Life Healthcare sê dat die beplande fasiliteit groot werkskepping kan meebring, terwyl dit ook kan dien as ekonomiese inspuiting vir die noordwestelike deel van die stad.

Die Dept. van Handel en Nywerheid het die gedeeltelike heropening van die gewilde Vervaardigingsmededingendheid Bevorderingsprogram (in Engels afgekort as MCEP) aangekondig. Die program het ten doel om die vervaardigingsektor as ‘n sleutelbedryf vir ekonomiese groei, te bevorder en bestaan nou uit ‘n leningskomponent van R1 miljard, wat verdeelis in ‘n lenings- en skenkingskomponent. Vroeër is die MCEP in Oktober 2015 gestaak weens ‘n gebrek aan fondse by die Nasionale Tesourie en dit nadat sowat R4,1 miljard van die oorspronklike begrote R7,2 miljard aan 1 153 entiteite bestee is. Die program, wat hoofsaaklik deur die IDC geïmplementeer word, stel hoë grade van swart ekonomiese bemagtiging as vereiste en is nie toeganklik vir ‘n blanke entrepreneur op sy/haar eie nie. Vir meer besonderhede, besoek www.dti.gov.za.

Op die jaarlikse Volksblad Sportsterre-dinee is Wayde van Niekerk aangewys as Sportster van die Jaar, Lood de Jager as Sportman van die Jaar, Karla Mostert as Sportvrou van die Jaar en Louzanne Coetzee as Sportster met Gestremdheid van die Jaar. 

Creamer Media berig dat die WNNR (CSIR in Engels) ‘n nuwe vingerdruk-skanderingstelsel vir gebruik op misdaadtonele ontwikkel het en wat funksioneer deur sg. hoëspoed, grootvolume optiese koherente tomografie (OKT). Dit vervang die omslagtige poeierkwasmetode wat tans deur die SAPD en ander wetstoepassers gebruik word. Die nuwe stelsel skandeer vingerafdrukke sonder dat fisies kontak gemaak word en dan korreleer dit onmiddellik digitaal met vingerafdruk-inligting op ‘n databasis. Die nuwe stelsel, wat drie-dimensioneel opereer, kan ook in talle ander toepassings gebruik word, bv. deur die Dept van Binnelandse Sake, in private sekuriteitsbeheer, ens. Die stelsel pas in ‘n groterige kartondoos in en is maklik vervoerbaar. Vir meer besonderhede, volg hierdie skakel.

Die eerste van ’n reeks veiligheidsberade wat die SAPD in samewerking met Vrystaat Landbou in die Vrystaat hou, het op 21 September 2016 by Bobbiespark in Bloemfontein afgeskop. Die berade het ten doel die bevordering van landelike veiligheid in die provinsie. ’n Veiligheidsberaad van hierdie aard is reeds verlede jaar te Bothaville aangebied, terwyl ’n beraad oor veediefstal verlede maand te Harrismith gehou is. Die hooffokus van die berade is om landelike veiligheidskwessies openlik te bespreek, terwyl samewerking binne die raamwerk van die Landelike Beveiligings Plan (LBP) teen misdaad ook hoog op die agenda is.  Van die besprekingspunte wat tydens die beraad te Bloemfontein uitgelig is, sluit in: Aksieplanne en inoefeninge van landelike veiligheidsinisiatiewe / Profielbepalings van plase en die vloei van inligting / Landelike veiligheidsvergaderings en die belangrikheid van bywoning deur alle rolspelers / Gebrekkige mannekrag en toerusting soos bv. voertuie by veral landelike Polisiestasies / Vertrouensverhoudinge tussen boere en die SAPD / Misdaadvoorkomingsoperasies. Nog twee berade word vir die jaar beplan, met die ander vroeg volgende jaar. Vir meer inligting, skakel Tommie Esterhuyse by 082 782 0668. 

Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA, het tydens ‘n inligtingsbespreking op Orania daarop gewys hoe aantreklik sommige Oos-Europese lande dit vir Suid-Afrikaanse boere maak om daar met boerderye te begin. Afgesien van die aansporings wat Georgië bied en wat al talle SA boere gelok het, subsidieer Bulgarye SA boererybeleggings met tot 70%, m.a.w. ‘n boer word vergoed met 70% kapitale waarde van enige belegging wat hy in boerdery in Bulgarye maak. In Rusland is die subsidiesyfer selfs tot 80%. Dit is omdat die kundigheid en produksievermoë van SA boere, veral Afrikaners, besef en gerespekteer word. Van Zyl het in antwoord op ‘n vraag ook gesê dat SA onlangs weer ‘n netto uitvoerder van kos geword het. Die ironie van die situasie in die land is egter dat 40% van die bevolking nie kan bekostig om substansieel kos te koop nie. Derhalwe spel ‘n honger massa in SA ‘n rewolusionêre gevaar. 

Die Appèlhof in Bloemfontein het bevind dat daar geen redelike gronde bestaan dat ‘n appèl van SABC uitvoerende hoof Hlaudi Motsoeneng teen ‘n Hooggeregshofuitspraak dat hy onbevoeg vir sy pos is, kan slaag nie. Dit lyk dus of die stormagtige loopbaan van Motsoeneng by die SABC tot ‘n einde gekom het en dat moontlik ‘n nuwe bedeling vir die nasionale uitsaaier kan aanbreek. Die DA dring intussen aan op die onmiddellike ontslag van Motsoeneng, hoewel jongste berigte dit wil hê dat aan ‘n plan gewerk word om Motsoeneng tdelik heraan te stel, veral met Minister van Kommunikasie Faith Muthambe steeds in haar pos. Blykbaar is die SABC-raad verdeel oor verdere indiensname van Motsoeneng.

Bladsy 94 van 96
Go to top