►Voorspoedige 2020 | Ditsem Nuus kantoor weer oop | Teken in op die DitsemBlits vir daaglikse Nuushooftrekke en weeklikse Nuuskommentaar►

‘n Groep siviele Suid-Afrikaners, genaamd die SA Forces-span, wat in Engeland werk en studeer, het verlede maand die Bosoorlog laat herleef op die jaarlikse War and Peace Revival wat in Kent, Engeland vanjaar vir die 33ste keer aangebied is. Hierdie vyf daelange militêre en historiese fees lok entoesiaste van krygstuig en oorlogmemorabilia van so ver as Amerika, Rusland en selfs die Verre Ooste en word beskou as die grootste van sy soort ter wêreld. Elke jaar borsel toegewyde deelnemers hul ou uniforms af, grawe die kamoefleernette en tente uit en sit af na Hythe in Kent om veldslae vanoor die wêreld heen te laat herleef. Ou vyande sit saans en stories uitruil en bewonder mekaar se wapens en uniforms. Selfs Duitse SS-soldate met hul kenmerkende swastika’s gee geloofwaardigheid aan veldslae uit die Tweede Wêreldoorlog, aangesien veldslae en oorloë, eerder as lande, verteenwoordig word. Die meer as 100 000 besoekers aan hierdie grootse opvoedkundige en vermaaklikheidsgeleentheid is vanjaar weer getrakteer op aksiebelaaide voorstellings van veldslae wat die afgelope 100 jaar plaasgevind het. Die skynaanvalle was nie bloot ‘n groep mense wat rondhardloop en soldaat speel nie, maar deeglik gechoreografeerde tonele om werklike situasies uit te beeld. Meer as 4000 tenks, kanonne, amfibiese voertuie, motorfietse en noodvoertuie uit alle uithoeke van die wêreld kon besigtig word. By die talle stalletjies was enige iets van eetgoed en boeke tot militêre aandenkings en klere te koop aangebied. Modelbouers kon hulself verloor in ‘n uitgebreide uitstalling van hierdie gewilde stokperdjie en kon heel dikwels die egte, lewensgrootte vliegtuie en tenks in aksie sien. Krygstuig uit meer moderne veldslae, soos die oorlog in Irak en Afganistan, kon ook besigtig word. ‘n Tipiese dorpie uit die Tweede Wêreldoorlog-era, kompleet met poskantoor, winkel, huisies en stalle, gee ‘n realistiese voorstelling van hoe die leefwyse destyds was. Vir die dames was daar modeparades uit die 1940’s en talle van die besoekers se klere, grimering en haarstyle het vervloë eras laat herleef. Die SA Forces-span het alles in die stryd gewerp om hulle uitstalling so geloofwaardig as moontlik te maak. Sommige jong manne was uitgerus met hul pa’s se uniforms en webbing en omdat die oorlog vanaf die 1960’s tot 1980’s was, is die Oranje-blanje-blou-vlag saam met die huidige Suid-Afrikaanse vlag gehys. ‘n Kantientent het foto’s, wapens, uniforms en ander gebruiksartikels uit daardie tydperk uitgestal. Twee Buffel-troepedraers het heelwat belangstelling ontlok en het verdere egtheid aan die uitstalling verleen. Besoekers aan die Bosoorlog-uitstalling is getrakteer op eg Suid-Afrikaanse boerewors en Suid-Afrikaanse bier. ‘n Uitgeputte SA Forces-span het laat Sondagmiddag tente opgeslaan en toerusting weggepak om Maandag weer terug op hulle poste te wees as studente, kunstenaars, kantoorwerkers en ambagsmanne. Almal was dit egter eens dat hulle weer volgende daar gaan wees. Foto: Bernhard Uytenbogardt

Gradeer die artikel
(0 stemme)

Lewer kommentaar

Vul al die vereiste velde in (*)

Go to top