►Voorspoedige 2020 | Ditsem Nuus kantoor weer oop | Teken in op die DitsemBlits vir daaglikse Nuushooftrekke en weeklikse Nuuskommentaar►

Waterkrisis – impak enorm en verreikend

‘n Grootskaalse waterkrisis het wyd in die land opgebou hoofsaaklik a.g.v die gebreke waarin die ANC-regering die afgelope 22 jaar gebly het om die nodige infrastruktuur in stand te hou en uit te brei ooreenkomstig groeiende behoeftes. Dit is vererger deur die wydverspreide droogte in die land die afgelope twee jaar. Die gemiddelde vlak van damme staan tans op 53%, met min vooruitsigte van betekenisvolle reën binne die afsienbare toekoms – teenoor die algemene vlak van damme op 72% ‘n jaar gelede. Huidig staan Vaaldam op 30%, waarvan 25% modder is, terwyl die watervlak van die Gariepdam op 54% en die Katsedam in Lesotho, ‘n sleutelverskaffer van water aan SA, op 41% staan. Talle dorpe in verskillende provinsies van die land ondervind ernstige watertekorte, terwyl waterbeperkings ingestel is vir die stedelike gebiede in Gauteng en vir Bloemfontein. Voorts is pas vir die eerste keer in 24 jaar beperkings op waterverbruik uit die Vaal- en Oranjerivier ingestel. Dit is veral Gauteng as nywerheidshartland van SA wat met sy sowat 13 miljoen inwoners kwesbaar is. As die Vaal- en Katsedam nie meer voldoende water kan lewer nie, word hier ‘n krisis van die hoogste graad in die gesig gestaar. Volgens Minister van Water en Sanitasie Nomvula Mokonyane is die gemiddelde waterverbruik in die Randwatergebied 280 liter per persoon per dag – teenoor die internasionale gemiddelde van 175 liter. Inmiddels kan ‘n ernstige watertekort die meer as 1 miljoen inwoners van die Mangaung metropool, met Bloemfontein as spilpunt, tref indien goeie reëns die res van vanjaar nie in die opvanggebiede van damme in die streek val nie. Dieselfde lot kan wag op bykans 3 miljoen inwoners in die res van die Vrystaat. Vrystaatse dorpe wat vir lang tye nie water in hul krane het nie, sluit o.m. in Brandfort, Kroonstad, Frankfort, Senekal, Marquard, Ficksburg, Clocolan, Rouxville, Koffiefontein, ens. ‘n Dorp soos Kroonstad het bv. 35 miljoen liter water per dag nodig om te oorleef, maar die voorraadvooruitsig is uiters beperk. In Noordwes ervaar dorpe soos Sannieshof, Pomfrit, Tosca, ens. hewige watertekorte, terwyl dieselfde lot uitkring na bv. Barberton in Mpumalanga, Modimole en Rooiberg in Limpopo en Vryheid in KZN. Dit is slegs die spreekwoordelike tip van die ysberg – agt van die nege provinsies, met die uitsondering van die Wes-Kaap, is reeds deur die regering tot droogterampgebiede verklaar. Die refrein deur alles bly gebrek aan toepaslike dienslewering, terwyl die regering weier om, veral ten behoewe van kommersiële boere as primêre voedselprodusente, die erge droogte tot ‘n nasionale ramp te verklaar. Intussen het private instansies ingegryp om noodleniging te verleen en het ‘n organisasie soos Water Shortage SA al sowat 35 miljoen liter water in houers as hulp verskaf. Agri SA het self ingegryp met nooddroogtehulp van miljoene rand om boere te help, selfs om net m.b.v. lenings op hul grond te kry. Die waterkrisis raak nie net drinkwater nie, maar ook rioolsuiweringswerke, terwyl dit vererger word deur grootskaalse voorkomste van pyp- en pomplekkasies, besoedeling van waterbronne, ens. Dit alles het ‘n destruktiewe impak op ekonomiese sektore soos, afgesien van landbou, ook nywerhede, toerisme, kleinhandel, e.s.m. Die uitdaging wat die waterkrisis bied, is dus enorm en verreikend.
Gradeer die artikel
(0 stemme)

Lewer kommentaar

Vul al die vereiste velde in (*)

Go to top