►Voorspoedige 2020 | Ditsem Nuus kantoor weer oop | Teken in op die DitsemBlits vir daaglikse Nuushooftrekke en weeklikse Nuuskommentaar►
In die sg. #FeesMustFall-veldtog hou ‘n minderheid studente - meer as 95% swart en gekleurd - tans ‘n aantal universiteitskampusse in die land d.m.v. gewelddadige betogings gyselaar. Die realiteit is dat ‘n oorgrote meerderheid studente, waaronder ongeveer 90% van blanke studente val, normaalweg met klasse en toetse wil aangaan. In talle gevalle is toetslokale binnegestorm, toetsskrywende studente uitgejaag en vraestelle opgeskeur. Sodanige gevalle het o.a. voorgekom te Universiteit van Pretoria (UP), Wits, Universiteit van die Vrystaat (UV) en Universiteit van Stellenbosch (US). Die kampus van Wits is vir alle praktiese doeleindes in ‘n staat van militêre beleg, terwyl groot skade aan geboue en infrastruktuur aangerig is. Dieselfde geld die Mahikeng-kampus van die NWU, Fort Hare, die KZN Universiteit te Pietermaritzburg en sommige universiteite vir tegnologie. By die UP is die Hatfield-kampus gesluit ondanks versekerings deur rektor prof. Cheryl de la Rey dat betogings en geweld nie geduld sou word nie. Tans is die situasie by die Universiteite van Wits, Kaapstad en Wes-Kaap op ‘n mespunt gebalanseer, met die meerderheid studente wat graag hul akademiese jaar wil afrond en hul kwalifikasies behaal, maar wat deur die gewelddadige betogende studente bedreig word. By Wits het in ‘n stemming onder alle studente en akademiese personeel 75% gestem ten gunste van heropening van die universiteit en voortsetting van klasse en toetsprogramme. Die studentechaos word wyd veroordeel, vanaf die regering tot gemeenskapsleiers op verskillende vlakke, maar steeds toon dit geen afname nie. Die gevolge van die chaos kan op hierdie stadium soos volg opgesom word: • Skade aan infrastruktuur op kampusse, selfs van onvervangbare biblioteke, beloop reeds nagenoeg R600 miljoen – ‘n rekening wat tot dusver geoormerk is vir die belastingbetaler. • ‘n Kultuur word bevorder van ‘n jeug wat alles gratis wil hê en vir niks verantwoordelikheid wil neem nie. Dit is veral ontstellend indien in ag geneem word dat die druipsyfer vir eerstejaarstudente in SA nagenoeg 49% is, d.w.s. sowat die helfte. Hoeveel belastingbetalergeld wil hulle dan opgebruik voordat hulle produktiewe lede van die samelewing word, wat nog te sê verantwoordelike leiers? • SA universiteite, wat reeds agter raak teenoor gerekende buitelandse universiteite, gaan beslis i.t.v. gehalte onderrig en navorsing swakker daaraan toe wees wanneer hierdie wetteloosheid eendag tot bedaring kom. Gemeet aan internasionale standaarde sal hulle waarskynlik hoogstens as tweederangse universiteite geklassifiseer word. • Die vraag kan gevra word of hierdie studentechaos ‘n georkestreerde veldtog is deur rewolusionêre beplanners en geplante agitators ten einde ‘n voorspel te skep vir ‘n omvattende maatskaplike rewolusie in SA? • Hoe lank die SA Polisiediens i.t.v. mannekrag, hulpbronne, kundigheid, strategie en geduld daarin gaan slaag om die vloedgolf van anargie in toom te hou, is ‘n ope vraag. • Wat natuurlik klaaglik ontbreek, is leierskap op alle vlakke – vanaf die regering tot slap universiteitsowerhede. • Die huidige studentechaos is die vrug van 22 jaar van Godlose ANC-bewind – gefaalde skolestelsel en geen tug en dissipline vir kinders nie. Hierdie is grotendeels die kinders wat die ANC grootgemaak het. Hoe negatief die prentjie op SA universiteitskampusse daar ookal mag uitsien, moet steeds die hoop gekoester word dat besinning, redelikheid en gesonde verstand uiteindelik sal seëvier.
Gradeer die artikel
(0 stemme)

Lewer kommentaar

Vul al die vereiste velde in (*)

Go to top