►Voorspoedige 2020 | Ditsem Nuus kantoor weer oop | Teken in op die DitsemBlits vir daaglikse Nuushooftrekke en weeklikse Nuuskommentaar►
Wetgewing in die vorm van die Films en Publikasies Wysigingswet, of sg. Internet Sensorskap Konsepwet, dien tans in die Portefeuljekomitee vir Kommunikasie van die Parlement waarin voorsiening gemaak word dat vir alle praktiese doeleindes pornografie op die Internet gewettig en feitlik vrylik beskikbaar gestel kan word. In die voorgestelde bepalings word voorsiening gemaak dat instansies buite die bevoegdhede van die Onafhanklike Uitsaai-owerheid van SA (Okosa) materiaal op die Internet mag stroom (“stream”), dat beheer oor eksplisiete materiaal van seksuele aard feitlik afgeskaf word en dat ouderdomsbeheer ook feitlik opgehef word. Die inhoud van die konsepwet is uiters kompleks van aard in die sin dat dit aan die een kant diktatoriale magte soos bv. van die Minister van Kommunikasie wil vestig oor die publisering van inligting op die Internet van Suid-Afrikaanse oorsprong, maar aan die ander kant sou dit die deur wyd oopmaak vir die publisering van inligting en materiaal op die Internet wat in effek van pornografiese aard is of daaraan grens. In wese kan die wetsontwerp soos wat dit tans geformuleer is, lei tot die loslaat van ‘n vloedgolf van pornografiese materiaal op en deur die Internet. Instansies soos MultiChoice, eNCA, eTV, Right2Know, Media Monitoring Africa, die SOS Coalition, SANEF, die Nasionale Vereniging vir Uitsaaiers, die SABC en selfs Google het almal in wisselende opsigte beswaar gemaak teen die voorgestelde wetgewing. Politieke partye soos o.a. die DA en VF Plus is op grond van spesifieke regspunte ook gekant teen die konsepwet en voer selfs aan dat dit ongrondwetlik is. As sulks is dit potensieel een van die mees skadelike stukke wetgewing wat nog ooit in die SA Parlement gedien het en het dit die potensiaal om ‘n verwoestende effek op morele waardes en sedelike peil in die land te hê, veral wat kinders betref. Daar word gehoop dat die wetgewing nie die portefeuljestadium van die Parlement sal oorleef nie. Christelike groepe doen ‘n beroep op ernstige voorbidding teen hierdie konsepwetgewing. Om ‘n idee te vorm van die kompleksiteit van hierdie wetsontwerp, volg hierdie skakel. (https://www.da.org.za/2016/09/internet-censorship-bill-must-blocked/) ‘n Verwante praktiese probleem, is die toenemende voorkoms van sg. sexting - om seksuele foto’s, video’s of boodskappe rond te stuur, soos dit ook vanaf die Internet bekom word. Kragtens bestaande wetgewing is dit onwettig om materiaal van hierdie aard te vervaardig, te versprei of te besit, veral as dit oorgaan in die vorm van kinderpornografie, wat ingevolge die Wet op die Beregting van Kinders ’n skedule 3-misdryf is. Kundiges in hierdie verband is dit eens: Ouers moet weet, as tieners selfone het, het hulle volledige toegang tot die Internet en dus pornografie. Terwyl die privaatheid van kinders gerespekteer behoort te word, moet ‘n oog gehou word op hul selfoonbedrywighede. ‘n Kenner som die situasie soos volg op: “Ons sit met ou wette en ’n nuwe platform (selfone).” Dit is egter duidelik dat die huidige Films en Publikasies Wysigingswet, of sg. Internet Sensorskap Konsepwet nie die oplossing vir nuwe uitdagings bevat nie, maar dat dit trouens groter gevaar skep as wat dit aanspreek. Hiervan behoort ouers, opvoedkundiges en almal wat die belange van die jeug en die samelewing oor die algemeen op die hart dra, deeglik kennis te neem en op te tree.
Gradeer die artikel
(0 stemme)

Lewer kommentaar

Vul al die vereiste velde in (*)

Go to top