► Pres. Cyril Ramaphosa vra nasionale dialoog oor moontlikheid om pensioenfondse in bankrot staatsondernemings te belê – “Ons finansiële bronne is uitgeput, terwyl ons ontwikkelingsbehoeftes enorm is” ► Vraag op sosiale media: Hoekom kry regering nie die miljarde staatsgeld wat gesteel is terug nie, maar wil nou die pensioengeld vat van mense wat hard gewerk het daarvoor en toegewyd gespaar het? ► Menseregtekommissie oorweeg stappe teen Ernst Roets van AfriForum oor vertoon van vorige landsvlag op sosiale media, word as “verdelend” beskou ► Petroljoggies landswyd dreig om volgende week te staak oor salarisse, eis verhoging van 12%, maar werkgewers bied slegs 5% ► Brian Molefe, voormalige hoof van Eskom, moes gister meer as R10 miljoen aan Eskom pensioenfonds terugbetaal as onwettig ontvang, maar nog geen teken daarvan nie ► Veldbrand wat versprei tot in St. Francisbaai verwoes 12 huise tot die grond toe ► Storm oor aanranding van blanke kleuters deur swart personeel by Myne Maatjies Dagsorg Sentrum in Randfontein, ouers woedend, drie persone gearresteer, MRK swyg soos graf ► Lastereis van oud-minister Derek Hanekom van R500 000 teen oud-pres. Jacob Zuma, vandag in hooggeregshof in Durban aangehoor, eis omdat Zuma Hanekom “apartheidspioen” genoem het ► Curriebekerreeks word hierdie naweek voortgesit, met slegs Griekwas wat verseker is van plek in halfeindstryd ►

Ope brief deur Gerhard Papenfus ‘Wittes’ – ʼn verskynsel met ʼn unieke betekenis in Suid-Afrika – is nie ʼn homogene entiteit nie; dit is inderdaad ʼn baie diverse groep. Onder hulle is rykes en armes; van baie ryk tot baie arm. Hulle kan in alle sosiale statusvlakke gevind word – van hoë aansien tot waar hulle nie meer van waarde geag word nie. Sommige het voordeel getrek uit apartheid, ander nie. Van hulle slaag daarin om in die Nuwe Suid-Afrika te oorleef en selfs daarin te floreer; ander nie. Van hulle praat Engels en ander Afrikaans, en vir een of ander rede bly dit ʼn kwessie. Sommige het twee paspoorte en ander nie. Van hulle wil Suid-Afrika verlaat, maar kan nie; ander kan, maar verkies om te bly. Sommige is rassiste; ander tot ʼn mindere mate. Ek bevind myself iewers in hierdie mengelmoes. Om een of ander rede is die skryf hiervan ongemaklik van aard. Die rede is tweeledig. Eerstens het ek myself nog nooit in ʼn geveg bevind vir die belange van ʼn groep gebaseer op velkleur nie. Die ander rede is die feit dat daar ʼn onderliggende verwagting is dat ek moet swyg, om nie die ongewilde ding te doen nie, om nie my opinie te lig nie, om maar net my lot te aanvaar en die straf te verduur vir die sondes van my voorvaders. Daar is dus die versoeking om, binne die konteks van my relatiewe veiligheid, te swyg, met die hoop dat dinge vanself sal verbeter, welwetende dat dit nie die geval gaan wees nie, tensy ek, en ander soos ek, ʼn verskil gaan maak. Binne die omstandighede waarin Suid-Afrika homself bevind, is anti-wit retoriek aanvaarbaar (selfs gewild), die bevordering van volskaalse swart bemagtiging is prysenswaardig terwyl die beskerming van wit belange as rassisties uitgekryt word. Die situasie het tot so ʼn mate versleg dat die slagting van wit boere (onder die dekmantel van die gebrek aan veroordeling en politieke wil) byna nie meer nuuswaardig is nie, selfs onder wittes. Ons hoor daarvan, raak gewoond daaraan, daar is niks wat ons daaromtrent kan doen nie en ons beweeg aan. Wittes het hulself onderwerp aan die onderliggende sosiale verwagting om te swyg; asof ons nie uit die hart mag praat nie, net ingeval ons as rassiste gebrandmerk mag word. Dit is mos onaangenaam om ʼn rassis genoem te word, selfs komende van ʼn ander rassis.

Tydens die Staatsrede op 09 Februarie 2017, het die President dit duidelik gemaak dat alle maatreëls tot die beskikking van die staat aangewend sal word om hulpbronne, in alle fasette, van Wittes weg te neem - in terme van die ANC se agenda van ‘radikale ekonomiese transformasie’. Die uiteindelike doelwit van hierdie beleid is uitgespel in die ANC se Nasionale Demokratiese Revolusie, wat aan Wittes (asook Kleurlinge en Indiërs), ten opsigte van elke aspek van die samelewing, ʼn porsie toedeel ooreenkomstig hul onderskeie demografiese verteenwoordigingsvlakke – ʼn ‘lewenskwota’ van 9 persent vir Wittes, 9 persent vir Kleurlinge en 2 persent vir Indiërs; ʼn nimmereindigende rasgebaseerde skema, die sogenaamde ‘soomlose oorgang’. Om enige groep tot so ʼn ekonomiese, sosiale en opvoedkundige hok in te perk, nieteenstaande sy bydrae en vermoëns, is nie transformasie nie. So ʼn beleid kom neer op gewettigde volksmoord, op elke vlak, met die uitsondering van fisiese uitwissing. Vir mense wat aan hierdie sosiale reëling onderwerp word, is selfs die voorreg om te stem waardeloos. Wittes bevind hulself in ʼn baie verwarrende situasie. Aan die een kant is die ervaring soortgelyk aan die van die Jode in die voor-volksmoord fase in Duitsland, waartydens alle Joodse ekonomiese aktiwiteite radikaal uitgewis is. Dié proses was uiteraard gevolg deur die volksmoord – dit is omdat naywer, haat en wraaksug nooit bevredig kan word nie. Ironies genoeg, word daar ook van Wittes verwag om ʼn skuldgevoel te dra, soortgelyk aan diegene wat vir die volksmoord verantwoordelik was. Dis verstommend. Alhoewel hierdie baie verdoemend klink, is dit nie die geval nie. Om jouself in so ʼn situasie te bevind, is ʼn karaktervormende avontuur, alhoewel steeds ʼn baie uitdagende vooruitsig, ʼn dilemma wat iemand wat ʼn vol lewe nastreef kan beny. Nou, meer as ooit tevore, het Wittes die geleentheid om betekenis en vervulling te vind. Aangesien Wittes hulself voortdurend in onverkende waters gaan bevind, sal hul gedwing word om weg te stuur van selfverryking en sekuriteit, na ʼn meer edele doel – die vervulling van hul aanvanklike roeping; nie alleenlik in eie belang nie, maar in ooreenstemming met dit wat reg is – om van Suid-Afrika ʼn beter plek te maak, meer as ooit tevore. Dus, as jy wit is, en as jy smag na ʼn ware avontuur, ʼn stryd om lewe en dood, dan is Suid-Afrika die plek om te wees. Wittes sal moet aanpas by ʼn nuwe realiteit, waar vervulling en betekenis slegs gevind kan word in ʼn vyandige omgewing, waar die ooglopende hulpbronne, wat in die verlede makliker bekombaar was, nou die teiken van herverdelingspolitiek geword het en gevolglik nie meer vir Wittes (en moontlik ook nie vir Kleurlinge en Indiërs en ander minderheidsgroepe) toeganklik sal wees nie. Dit is reeds so dat selfs Swartes, wat nie bereid is om deel te wees van onetiese transaksies nie, dit moeilik vind om toegang tot sekere elemente van die ‘radikale getransformeerde ekonomie’ te verkry.

Wittes, of ten minste diegene wat bereid is om aan te pas by die nuwe omgewing, sal ontdek dat vir elke deur wat toegaan, ʼn ander een sal oopgaan – selfs groter oop; maar om hiér deur te gaan sal ʼn nuwe stel waardes verg – wat insluit geloof, hoop, opoffering en onwrikbare deursettingsvermoë. Wittes sal selfs ʼn groter bydrae maak, maar nou onder omstandighede waar hul vermoë om dit te doen onder voortdurende druk sal wees. Hulle sal aanpas by die konstante onsekerheid, maar sal steeds hul roeping volbring. Hulle sal hul begeef op terreine wat onontgin is, dinge anders benader, meer risiko’s neem en bowenal, hierdie groot geleentheid wat homself as uiters ongunstig voordoen, met albei hande aangryp. Wittes – ten minste dié wat bereid is om by hierdie nuwe realiteit aan te pas – sal nie swig nie.

Ons kan inderwaarheid nie, want as ons swig, sal ons eenvoudig uitsterf. Daarom sal ons veg asof ons lewens daarvan afhang, maar hierdie keer die regte stryd – ons sal veg waar die stryd werklik is:

• Ons sal met onsself begin: ons sal ons eie harte ondersoek vir tekens van selfsug, rassisme en bevooroordeeldheid; ons sal alle Suid-Afrikaners na waarde ag en hul behandel soos wat ons wil hê hulle ons moet behandel. Hierdie gesindheid, uitgeleef in die mees vyandige omstandighede, sal meer effektief wees as wetlike ‘hervorming’ en sal daartoe lei dat hierdie nasie ʼn baken van hoop sal word;

• aangesien ons weet dat hierdie beoogde vorm van ‘radikale ekonomiese transformasie’ toenemende ellende tot gevolg sal hê, sal ons, binne konstitusionele grense, volhard om daarteen te protesteer, nie alleenlik omdat ons daardeur geaffekteer word nie, maar ook ten behoewe van hulle wat nie ʼn stem het nie, asook ten behoewe van hulle wat mislei word om te glo dat die huidige vorm van transformasie tot hul voordeel is;

• met die besef van die onsekerheid, die verbygaande aard en leegheid van materialisme, sal ons ons doelwit aanpas, om nie net te beskerm wat vir ons van waarde is nie, maar ook in die beste belang van alle Suid-Afrikaners is; ons sal onsself bevry van die las van hierdie ‘dinge’, ʼn eenvoudiger lewenswyse aanneem en meer fokus op hoe ons ʼn bydrae kan lewer, eerder as wat ons daaruit kan verkry;

• ons sal ons besorgdheid oor ons materialistiese vermoëns sien vir wat dit is en, in plaas daarvan om die verlies wat ons mag ondervind te vrees, die veranderinge en teëspoed aangryp as ʼn geleentheid om te baat waar dit regtig tel; • ons sal tot die besef kom dat, in ieder geval, wat ons het slegs tydelik van aard is; ons sal gemak en enige vorm van arrogansie agterweë laat en rentmeesters wees vir die groter doel;

• ons sal aanvaar dat die wêreld, nie net die een waarin ons onsself bevind nie, voortdurend verander en dat die wiel voortdurend draai, dat ons nie kan terugkeer nie (ons wil inderwaarheid nie); die lewe beweeg aan en ons moet ook. Daarom verbind ons onsself daartoe om nuut te sien, te verstaan en te doen; en • sal ons die uitdaging van ʼn baie onsekere toekoms aanvaar en die geleenthede wat die beste in ons uitbring, ons toerus vir wat die toekoms mag vereis, aangryp.

Dus, in plaas daarvan om in ons dop te kruip, sal ons alle oorblyfsels van self-toeëiening versaak, sal ons werklike rykdom skep (in plaas van welvaartverdeling), sal ons daarmee voortgaan om werk te verskaf en werk te skep, die nasie van voedsel voorsien, ons families onderhou en bowenal, staat maak op God se wysheid en Sy seën om sodoende ons roeping te vervul. Hierdie ope brief is geskryf deur Gerhard Papenfus, Uitvoerende Hoof van die National Employers' Association of South Africa (NEASA). Hy het hierdie geskryf in sy persoonlike hoedanigheid.

Gradeer die artikel
(0 stemme)

Lewer kommentaar

Vul al die vereiste velde in (*)

Go to top