Aletheim 1

Panyaza Lesufi, die omstrede Gautengse LUR vir onderwys, het sy veldtog teen skole met effektiewe beheerliggame voortgesit nadat hy 'n hofloesing in die Overvaal-saak op die lyf geloop het. Sy voorgestelde wysigings aan die toelatingsregulasies van leerlinge by Gautengse skole is op 30 Julie 2018 in die Staatskoerant gepubliseer en word gesien as bloot ‘n manier om die Overvaal-uitspraak te omseil en sy transformasieagenda verder te voer.

In reaksie hierop beywer die Skoleondersteuningsentrum (SOS), Solidariteit en AfriForum hulle om duisende bekommerde ouers, onderwysers en lede van die publiek teen die regulasies te mobiliseer. Indien dié regulasies ingestel word, sal ouers nie meer kan kies in watter skool hulle hul kinders wil plaas nie. Ná die aanlyn-aansoekproses sal die LUR vir onderwys (Lesufi) alleen kan besluit watter kind in watter skool sal wees.


Skole sal dus nie meer kan aandui hoeveel kinders hulle kan akkommodeer nie en sal die funksie na die LUR vir onderwys oorgaan. Beheerliggame kon voorheen die kapasiteit bepaal en daarvolgens werk, maar die nuwe regulasies stel Lesufi in staat om skole te dwing om leerlinge in te neem, ongeag of daar kapasiteit is of nie. Voorts sal in praktyk alle skole dan uiteindelik enkelmediumskole met Engels as onderrigtaal word. Beheerliggame se besluitnemingsmag oor skole se taalbeleid word hierdeur effektiewelik weggeneem.

Inmiddels het die VF Plus ‘n klag rakende minagting van die Grondwet ingedien by die Integriteitskommissaris van die Gautengse Wetgewer teen LUR vir Onderwys Lesufi. Die klag, wat 389 bladsye beslaan, dui aan hoe Lesufi in die tydperk van 2014 tot 2018, Artikel 29 van die Grondwet verbreek en geminag het. Hy is ook aangekla in terme van Artikel 135 van die Grondwet, gelees saam met Bylae 2, Artikel 5. 

Nieteenstaande die uitsprake van die Hooggeregshof in die Hoërskool Overvaal-saak in Januarie vanjaar en die uitspraak van die Grondwethof 26 Julie het die Gauteng LUR vir Onderwys Panyaza Lesufi hom nie daarby neergelê nie en het hy voortgegaan om nuwe regulasies te publiseer wat duidelik daarop gemik is om van Afrikaans in skole en Afrikaanse enkelmedium-skole ontslae te raak. Hierdie nuwe regulasies behels dat geen skool sogenaamd onregverdig sal kan diskrimineer op grond van o.m. ras, taal, etnisiteit, oorsprong, kultuur, ouderdom en geloof nie.

In reaksie op hierdie regulasies sê die VF Plus Gauteng in 'n mediaverklaring: “Lesufi se nuwe regulasies is niks anders as ‘n heksejag teen Afrikaanse leerders en skole nie. Hy sal uit sy pad uit gaan om sy nuwe mag as ANC-ondervoorsitter in Gauteng te gebruik om sy politieke agenda op vredeliewende, nie-rassige, nie-haatdraende, hardwerkende skole af te dwing.

“Afrikaanse kinders het die grondwetlike reg om in hul eie moedertaal onderrig te word. Artikel 29 van die Grondwet is baie duidelik daaroor. Die LUR is magsbehep en sy nuwe amp in die ANC het hom skoon magsdronk gemaak. Hy sal nie skroom om die oënskynlike haat wat hy teen Afrikaans en Afrikaanse skole dra, uit te druk in wetgewing nie.

“Die VF Plus doen ‘n beroep op Afrikaanse skole en ouers om hul voorleggings, ingevolge die voorgestelde nuwe regulasies, binne die volgende sewe dae te stuur aan: Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees. of na Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.. Lesufi het net 30 dae beskikbaar gestel vir voorstelle.”

’n Navorsingsverslag van die Helpende Hand Studiefondssentrum toon aan die hand van die moontlikheid om werk te kry en wat vergoeding betref, is die volgende die topvyf studierigtings in SA:

  1. Informatika:Die 3% van studente wat informatika bestudeer het, het die vinnigste werk gekry, is die gemaklikste in hulle werkplek en hul salaris het die vinnigste gegroei. Gemiddelde beginsalaris: R8 333 p.m.
  1. Beroepsopleiding: Beroeps- en ambagsopleiding is deur 23% van die studente as loopbaan gekies. Hulle het gemiddeld drie maande na afstudering werk gekry. Studente wat deur Sol-Tech studeer het, was die uitskieters met ’n gemiddelde beginsalaris van R22 000 per maand en ’n hoë plasingsyfer. Gemiddelde beginsalaris: R7 653 p.m.
  1. Finansiële en Bestuursrekeningkunde:14% van die kandidate het ’n kwalifikasie in finansiële en bestuursrekeningkunde behaal. Hierdie studente het gemiddeld binne drie maande na hul kwalifikasie werk gekry. Gemiddelde beginsalaris: R9 044 p.m.
  1. Gesondheidswetenskappe: Ongeveer 10% van die studente het in die gesondheidswetenskappe gestudeer, soos mediese dokters, verpleegpersoneel, terapeute en laboratoriumpersoneel en het gemiddeld drie tot vier maande geneem om hul eerste werk te kry.G emiddelde beginsalaris: R13 125 p.m.
  1. Veeartsenykunde: Alhoewel slegs 2% van die studente hierin studeer het, het bykans al hierdie ’n werkaanbod gehad voordat hulle afstudeer het. Gemiddelde beginsalaris: R19 166 p.m.

Navorsingsresultate is ook t.o.v. ander studierigtings behaal, maar genoemde vyf is die uitstaandes. Die Helpende Hand Studiefondssentrum bied het oor die afgelope 10 jaar R156 miljoen bestee om 4 230 behoeftige studente se studies aan tersiêre instansies in SA moontlik te maak.

Terwyl meer as 10% van Gauteng-inwoners Afrikaans as eerste taal gebruik, is daar sedert 2014 uit die 52 nuwe skole wat in die provinsie gebou is, slegs een wat Afrikaans as onderrigmedium bied. Slegs sewe van die nuwe skole bied onderrig in tale anders as Engels.

Hierdie toedrag van sake weerspieël die vyandigheid van die LUR vir Onderwys in Gauteng, Panyaza Lesufi, jeens Afrikaanse skole en onderrig in Afrikaans in enige skool, soos wel deeglik geblyk het uit die omstrede Hoërskool Overvaal in Vereeniging vroeër vanjaar.

Die maatskappy Stadio, wat 'n filiaal is van Curro Holdings van private skolefaam, het aangekondig dat hul beplanning in gevorderde stadium is om 'n universiteit met volwaardige kampus op 7,8 ha grond in Phesantekraal by Kaapstad te bou. Konstruksie begin in Maart 2019 en die universiteit sal na verwagting sy deure in Februarie 2021 open met akkommodasie vir 5 000 studente.

Die universiteit gaan o.a. kursusse in opvoeding, die handel, regte en kreatiewe bedrywe aanbied en volgens uitvoerende hoof dr. Chris van die Merwe word beoog om die inrigting uiteindelik uit te brei na 'n “multiversiteit” vir 100 000 studente met onderrig óf op kampus of afstandsonderrig. Stadio is reeds geakkrediteer om 'n doktorsgraad in Administrasie (DBA) aan te bied, terwyl akkreditasie vir nog twee doktorsgrade afgewag word.

Ernstige bedenkinge word in sowel die hoofstroommedia as op sosiale media uitgespreek oor die nuwe Geskiedenis-leerplan vir skole wat Minister van Basiese Onderwys Angie Motshekga beplan om vanaf 2023 as verpligte vak te implementeer. Die aangeleentheid is in omstredenheid gedompel met 'n sterk gevoel van kommentators dat dit 'n plan is om slegs die ANC terroristiese geskiedenis aan skoliere op te dwing.

So bv. sê die SA Onderwysersunie (SAOU) in 'n mediaverklaring: “Die unie betreur die feit dat die georganiseerde professie nie deel was van die Ministeriële Geskiedenis Taakspan wat sy bevindinge aan Minister Motshekga op 31 Mei 2018 oorhandig het nie. Terwyl die minister haar tevredenheid uitgespreek het oor die gebalanseerde aard van die verslag, is die land volkome bewus daarvan dat die aanvanklike opdrag om die bestaande geskiedenissillabus in skole te ondersoek en hervorm, voortspruit uit 'n ANC- kongresbesluit.

“Ten spyte van die minister se onderskeid tussen 'n 'politieke' geskiedenis en 'n 'politiek gedrewe' geskiedenis, vind die SAOU dit onverklaarbaar dat die verteenwoordigers van die mense wat die nuwe geskiedenissillabus in die klaskamers moet implementeer - die Georganiseerde Professie - nie in die aanvanklike navorsing betrokke was nie. Dit is ironies dat die vak Lewensoriëntering, wat tot op datum as sentraal tot die onderwyskurrikulum beskou is en dus basies onaantasbaar is, nou oorweeg word vir verandering in die VOO-fase om Geskiedenis as verpligte vak te akkommodeer .

“Ten spyte van alle oortuigings dat dit nie polities gemotiveerd is nie, het die saak van 'n nuwe Geskiedenis-kurrikulum in skole sy ontstaan in 'n besluit van die regerende party en hopelik sal die nuwe sillabus as dit uiteindelik geformuleer word, nie 'n 'politieke geskiedenis' wees soos die geval in Zimbabwe nie.”

Vir meer besonderhede, kontak Ted Townsend by 012 426 0927 of 076 401 0342.

In hul reaksie sê die VF Plus: “Die verslag van Minister Motshekga noem ook dat die huidige geskiedenis-sillabus herskryf moet word om dit meer ‘Afrika-gesentreerd’ te maak, want tot nou is dit te ‘Eurosentries’. Hierdie metode om die ANC-regering se retoriek, ideologie en propaganda onder die jeug te versprei, is niks anders nie as nog 'n stap nader aan 'n Marxistiese staat wat aan Stalin herinner.”

‘n Organisasie, die Afrikaanse Onderwysnetwerk (AON), is gestig met die doel om ‘n network van bekostigbare private Afrikaanse skole te bou. Van die vennote van die AON sluit in Solidariteit, Helpende Hand, Fedsas, die Trust vir Afrikaanse Onderwys (TAO), SAOU en die ATKV.

Volgens woordvoerders van die AON gaan dit nie primêr om blank nie maar om te verseker dat Afrikaanssprekende kinders skoolonderrig in hul moedertaal ontvang. ‘n Konsultant is aangestel om ‘n kosteberaming te doen oor hoeveel dit gaan kos om sulke skole te bou. Wat finansiering betref, is die plan om beleggers te nader.

Die Gauteng LUR vir Onderwys Panyaza Lesufi het pas die doelpale verskuif in sy missie om Afrikaanse skole in die provinsie te vernietig. Hy het naamlik eensydig aangekondig dat die registrasiestelsel vir graad 1 en graad 8 leerlinge vir 2019 aangepas word sodat taal geen faktor meer is nie. Hy het gesê ouers moet aansoek doen by die naaste skool aan hul huis of werk en dat dit nie saak maak wat die taalbeleid van die skool is nie.

Volgens die VF Plus dek Lesufi weer die tafel vir openbare geweld by skole en is hy besig om moedertaalonderrig uit skole te forseer en pleeg hy daardeur nie net ‘n gruwelike daad teen Afrikaans nie, maar teen alle amptelike landstale van die land. Daarom gaan die VF Plus hom aankla in terme van artikel 135 van die Grondwet, gelees saam met Bylae 2 artikel 5, nl. dat hy artikel 29 van die Grondwet geminag het. 

Laasgenoemde artikel stel dit duidelik dat elkeen die reg het om in openbare onderwysinstellings onderwys te ontvang in die amptelike taal of taal van eie keuse waar daardie onderwys redelikerwys doenlik is. Lesufi het ook die gedragskode van ampsbekleërs in die Gautengse wetgewer oortree.

Die VF Plus in Gauteng wys in 'n mediaverklaring daarop dat hulle reeds in 2016 gewaarsku het dat leerlinge in skole handuit sal ruk en ‘n situasie sal skep waar jeugdiges volwassenes gaan hiet en gebied indien gedragskodes in skole in die slag sou bly. Inmiddels het Lesufi begin om gedragskodes by alle skole op te skort.

Nou het 'n verslag verskyn wat aandui hoe erg leerlinge in skole handuit ruk en dat te veel leerlinge reeds in ‘n staat van misdaad verval het. Luidens die verslag was ‘n totaal van 479 leerlinge betrokke by verskeie misdade soos die besit van onwettige middels en die handeldryf daarin, boelie en kuberboelie, aanranding van onderwysers of personeel, aanranding van leerlinge met die doel om ernstig te beseer, bedrog, besit van gevaarlike wapens, seksuele teistering, diefstal en poging tot moord.

 Die universiteit Akademia het op 11 April 2018 sy nuwe visuele identiteit onthul wat weerspieëlend is van die nuwe toekomsplanne van die instelling. Dit sluit in o.m. groter toegang tot gehalte onderrig in Afrikaans d.m.v. hoëtegnologie-onderrig.

Akademia, reeds sewe jaar oud beleef tans snelle groei en vooruitgang.

Met die nuwe visuele identiteit het Akademia ook nuwe kleure aangeneem, nl. vlootblou en brons, wat onderskeidelik spreek van statigheid en die klassieke. Verder is die embleem ontwikkel om die strategiese rigting van die instelling simbolies te ondersteun – 'n A-simbool, ʼn diamant, ʼn olyfkrans en ʼn skild.

Die A-simbool verwys eerstens na die A van Akademia en tweedens daarna dat die instelling, Afrikaanse moedertaalonderrig bied; die diamant dui daarop dat die instelling deel van die Solidariteit Beweging vorm; die skild verteenwoordig tradisie en standvastigheid; terwyl die olyfkrans Christenskap simboliseer en na die Griekse tydperk verwys waaruit die klassieke universiteitswese ontstaan het.

Hierdie simbole word saamgevat in ʼn sirkel om aan te toon dat die onderskeie elemente nie in isolasie bestaan nie, maar as ʼn eenheid funksioneer. Die Latynse treflyn Ad futurum per fontes verwys daarna dat Akademia sy oorsprong vind in die Westers-Christelike beskawing.

Vir meer besonderhede, besoek www.akademia.ac.za.

Altesaam 61 275 individue, waarvan 2 116 voornemende ouers, 5 147 studente, 4 724 ouers van huidige studente, 4 220 PUK-alumni en tientalle invloedryke Afrikaanssprekendes en 20 Afrikaanse organisasies is, het reeds ʼn enorme nee-stem uitgebring teen planne van die NWU Potch-kampus om sy taalbeleid ten nadeel van Afrikaans te verander. 

Ses keer meer persone het aan die konsultasieproses deelgeneem as wat deelgeneem het aan die konsultasie van die NWU oor die verandering sy handelsmerk en kleur. In ʼn verdere verwikkeling het die konvokasie van die NWU byna eenparig ʼn resolusie aanvaar waarvolgens die huidige taalbeleid waar Afrikaans en Engels primêre onderrigtale is, gesteun word. Daar is ook besluit dat die ontwikkeling van Sotho en Tswana as onderrigtale versnel moet word.

Die bewaargroep vra dat die huidige taalbeleid, wat erken word as een van die beste ter wêreld, behou word; dat die status van Afrikaans as primêre onderrigmedium so bly; dat daar geen afwatering van die taalaanbod geskied nie; en dat Afrikatale as volledige onderrigtale ontwikkel word. In verdure kommentaar sê die groep: “Die Afrikaanse gemeenskap is nie naïef oor die mooi woorde van veeltaligheid wat nou opklink nie. Tukkies, Kovsies en Maties het ons van alle naïwiteit in dié verband gestroop. 

“Hierdie poging van die NWU is nie die einde van transformasie nie, dit is die begin daarvan. Wat kan oorlê, is eise vir dekolonialisering, anargisme, die vernietiging van studentelewe en die radikale rassetransformasie van personeel en student.”

Vir meer besonderhede, kontak Connie Mulder van Solidariteit Navorsingsinstituut by 082 731 8381.

Bladsy 1 van 5

VVK2 banier