► In Mediumtermynbegroting van Minister van Finansies Tito Mboweni feitlik geen melding van landbou en die geweldige druk op boere oor wydverspreide droogte; op vraag van VF Plus pres. Cyril Ramaphosa ontwykend oor enige bystand aan kommersiële boere ► VF-Plus in Gauteng sê Gauteng Onderwysdepartement moontlik skuldig aan onreëlmatige besteding van R1,2 miljard i.v.m. skoolsvoedingsprojek, dít terwyl die LUR vir Onderwys Panyaza Lesufi Afrikaanse skole vir geringste vermoedelike oortredinge aanspreek ► Dit blyk of dorpe Dewetsdorp, Vanstadensrus en Wepener feitlik geen munisipale dienste ontvang vanaf Mangaung Metro onder wie hulle ingedeel is nie ► Adjunk-pres. David Mabuza op besoek aan China tydens sitting van SA-China Bilaterale Kommissie wys op die talle geïntegreerde tussen die twee lande o.a. dat 65 Chinese maatskappye R116 miljard in SA belê het (hierdie syfer soos genoem, Ditsem Nuus kan nie korrektheid verifieer nie) ► Stad Kaapstad ontvang R300 miljoen van Nederlandse regering om MyCiti snelbusdiens na Khayelitsha en Nyanga uit te brei ► Nederlandse man (35) en vrou (75) in Marlothpark, Komatipoort, vermoor deur versmoring deur hul monde toe te prop, man se vrou en dogter oorleef aanval ► Amerikaanse Huis van Verteenwoordigers stem 232-196 ten gunste van verdere ondersoek of pres. Donald Trump in staat van beskuldiging geplaas moet word oor Oekraïne ► China Mobile in China maak bekend dat sy 5G-tegnologie, 100 keer vinniger as 4G, nou in 50 stede insluitende Beijing en Sjanghai beskikbaar is ►

Volgens betroubare syfers op die Internet was daar in 1994 bykans 2 200 openbare enkelmedium Afrikaanse skole in die land, wat met sowat 50% geval het na 1 279 in 2017 en na 1 126 huidig. Wat betref dubbelmedium openbare skole in Afrikaans en Engels in die land, is daar tans 1 112 - dus in totaal 2 238 skole wat onderrig in Afrikaans gee.

Dit toon die kommerwekkende kreeftegang van Afrikaanse skole in die land – eens vanselfsprekend maar vandag ‘n luukse. Word gekyk na bv. die huidige strategie van die omstrede Gauteng Dept. van Onderwys, dan is dit duidelik dat Afrikaansmedium skole in die land onder beleg is.

Vanweë die tradisionele agtergrond van onderwys in Suid-Afrika, met vroeëre kenmerke soos betroubare skole, Christelike uitgangspunt, leerplanne vanuit eie kultuur, moedertaalonderrig, ouerbeheerde skooladministrasie en veilige skoolterreine, was onderwys nie anders gesien as skoolgebaseerde onderwys nie. Die afgelope 28 jaar met die nuwe staatkundige bedeling het fundamentele verskuiwings ook die onderwysopset radikale veranderinge laat ondergaan.

Dit geld veral Afrikaner-eie onderwys deur medium Afrikaans wat algaande verskraal word, die Christelike benadering wat vervang word deur sekularisme, lyfstraf wat gekriminaliseer is, die Afrikaner-geskiedenisleerplan óf erg verdraai of uitgefaseer, ens. Daarby bevind die minderheid blanke skoliere hulself dikwels te midde van oorwiggetalle swart en bruin skoliere met bepaalde lewensstandaarde, terwyl talle skoolterreine tonele van geweldpleging en dwelms geword.

Dit is waarom gekyk word na ander opsies waar kinders onderwys kan ontvang in 'n kultuurvriendelike milieu, steeds op hoë akademiese standaard, met goeie buitemuurse en sportgeleenthede en in ʼn veilige fisiese omgewing. Die gevolg is dat tuisskoling, wat reeds in 1996 met die aanvaarding van die nuwe Skolewet gewettig is, ʼn wesentlike opsie geword het.

Dit het daartoe gelei dat die aantal kinders in SA wat tuisonderrig word, skerp toegeneem het en tans staan op sowat 32 500, maar steeds slegs 0,2 % van die totale aantal leerders in SA op skool uitmaak. Hierdie syfers wissel van provinsie tot provinsie, terwyl die neiging is dat dit onder blankes hoër is as by ander bevolkingsgroepe.

Nietemin, hoewel steeds relatief klein, groei tuisskoling met rasse skrede, terwyl andersyds 'n groot behoefte bestaan aan topgehalte en geakkrediteerde Afrikaanse leerplanne vir die tuisskoolbedryf. Dit is teen hierdie agtergrond dat hierdie fokus in Ditsem Nuus gedoen word, met aandag aan aspekte soos die voor- en nadele van tuisskoling, die vereistes vir gehalte tuisonderrig, watter hulpmiddels en rugsteun beskikbaar is om professionele tuisskoling te skep, wie onderskeidelik diensverskaffers en rolspelers in die bedryf is, wat die nuutste tendense is, ens.

In geheel met die fokus het Ditsem Nuus bevind dat veral wat Afrikaans betref, 'n professionele en lewenskragtige tuisskoolbedryf besig is om tot ontluiking te kom.

  1. Om beter te leer skryf

Om goed te kan skryf is ʼn vaardigheid wat jou kinders lewenslank handig te pas gaan kom. En om enige soort skryfopleiding te kan benut, moet ʼn kind weet wat is byvoorbeeld ʼn werkwoord of ʼn bywoord.

  1. Om beter te dink

Om te leer dat mens woorde in verskillende emmertjies kan gooi, verbreed ʼn kind se kennis van die wêreld. Om byvoorbeeld te weet daar is dingwoorde (naamwoorde) en doenwoorde (werkwoorde), en verder ook beskryfwoorde (byvoeglike naamwoorde en bywoorde) word die wêreld vir hom vertolkbaarder.

Die insig dat die “ding” (naamwoord) die kern is en die “beskrywing” (byvoeglike naamwoord) bykomend is, help hom om wat ander mense sê en skryf beter te beoordeel.

  1. Om beter na te dink

Ons mense kan van buite af na onsself kyk en dink oor hoe ons dink. Ons het selfbewussyn en die vermoë tot metakognisie. Deur na te dink hoe taal aanmekaargesit is, versterk ons ons vermoë om te dink hoe ons dink.

Vir ʼn houtkapper is ʼn byl sy vernaamste gereedskapstuk. Hy weet hy moet die houthef glad skuur vir ʼn lekker greep en om te keer dat splinters nie in sy hande steek nie. Die ysterpunt moet hy skerp hou om bome makliker af te kap.

Nes die byl vir die houtkapper is, is taal vir die mens. As jy verstaan dat taal uit verskillende dele bestaan, kan jy dit beter gebruik en jou lewe vergemaklik.

As jy tuisskool, hoef jy jou kind in die laerskool net drie dinge te leer. Taal, Wiskunde en Algemene kennis.

Hoekom Wiskunde?

Die dissipline van sistematies dink, afleidings maak en stellings bewys – al die dinge wat mens in Wiskunde doen – is ʼn noodsaaklike pyl in die koker waarmee jy jou kinders die lewe instuur. Mens begin vir jou kinders Wiskunde leer deur hulle van jongs af dinge te laat tel. ʼn Goeie wenk is om jou kind ook agteruit te leer tel, want dit vestig vroeg-vroeg die konsep van aftrekking.

Wil jy jou kinders voorberei vir maal en deel? Laat hulle dan alledaagse dinge gereeld in groepies rangskik en tel.

Hoekom taal?

’n Goeie taalvermoë gee nou weer vir jou kinders woordeskat waarmee hulle feite en konsepte kan bemeester. Taal maak dit vir hulle moontlik om dinge te verstaan. Taal is ook die instrument waarmee hulle hul idees kan uitdruk. Taal maak kommunikasie moontlik. Taal maak uiteindelik denke moontlik.

Die heel beste manier om jou kinders se taalvernuf te verbeter, is deur vir hulle voor te lees uit die beste storieboeke.

En die res?

Kies na hartelus. Mense is van nature nuuskierig. Ons kan onsself nie help nie, ons wil sistematiseer, ontdek, beskryf, eksperimenteer. Laat jou gerus deur jou kind se unieke belangstellings en voorkeure lei.

Dis baie nuttig om ʼn goeie algemene kennis te hê. Navorsing oor probleme met leesbegrip toon dat ʼn gebrek aan algemene kennis ʼn groot vlieg in die salf is.

Taal, Wiskunde, algemene kennis.

Heel doenbaar, of hoe?

Iemand het in ligter trant opgemerk: “Hoe ʼn wonderlike ding is die jeug nie, net jammer dit word op die jeug gemors.” Op ʼn ernstige noot, die jeug is die toekoms so vroeg as môre, veral indien daarop gelet word dat volgens die VN is daar sowat 2 miljard jongmense tussen die ouderdomme van 10 en 24 in die wêreld – die grootste jeugbevolking ooit.

Volgens statistieke SA is sowat 66% van die SA bevolking onder die ouderdom van 35 en hiervan is sowat 20% tussen die ouderdomme van 10 en 19. Die groot vraag is nou presies wat is die praktiese toekoms van hierdie jeugdiges, veral indien daarop gelet word dat werkloosheid onder die jeug in die land meer as 50% beloop, terwyl dit in ʼn land soos Japan 4,4% is en in die VSA 8,8%.

Wat die prentjie kompliseer, is, eerstens, dat SA uit ʼn heterogene bevolking bestaan met verskillende persepsies wat deur bevolkingsgroepe gehuldig word. Tweedens, hou skoolopvoeding en selfs tersiêre opleiding nie tred met snelveranderende behoeftes in die werksplek nie, wat beteken dat jeugdiges wat die werkterrein betree, nie oor vereiste vaardighede beskik nie.

Blanke jeugdiges in die land kom voorts te staan teen geweldige statutêre rassediskriminasie in die studie- en werksplek en hoe om al hierdie struikelblokke te bowe te kom. is veral vir Afrikaner-jeugdiges ʼn reuse uitdaging. Vir hoe om dit te takel, word die volgende aan die hand gedoen:

  • Oor die algemeen, is die sleutelwoord entrepreneurskap – stel jouself van die begin af in van hoe jy deur jou eie besigheid jou eie potjie kan krap en ʼn loopbaan bou. Dit is nie maklik nie, maar daar is baie inligting beskikbaar wat kan help, praat met mense wat reeds deur die meule is en in die finale instansie leer jouself deur praktiese ervaring.
  • Vakansiewerk kan uiters waardevolle ervaring en riglyne vir ‘n latere suksesvolle loopbaan verskaf. Moenie neersien op tipe vakansiewerk nie, enige vakansiewerk is beter as geen werkservaring.
  • Kry minstens een tersiêre kwalifikasie agter jou naam – ‘n papier in die hand kan deure vir jou oopmaak. Moet eintlik nooit ophou leer nie, veral wat betref tegnologiese en Internet-vaardighede. Die 4de Industriële Rewolusie is op hande – wees gereed daarvoor.
  • Vra jouself af, as die keuse net joune is, wat sal jy die graagste in werkstyd wil doen? Waarvan hou jy die meeste? Die ideal is dat jou werk jou stokperdjie moet wees.
  • Laastens, laat die diensmotief jou altyd lei. Die Woord leer ‘n mens moet dien en nie gedien wil word nie. Dit beteken ook dat geld nie jou hoofmotief moet wees nie. Maak die spreekwoord waar: Arbeid adel.

Met die krisis in Suid-Afrika se onderwys waar talle kinders skool funksioneel ongeletterd klaarmaak, bied tuisonderrig 'n antwoord. Wat is Tuisonderrig, of Tuisskool soos meer algemeen bekend, egter?

'n Definisie geld as vertrekpunt, aangesien ‘n mens die groter visie beter verstaan wanneer eerder van TuisONDERRIG gepraat word as Tuisskool. Tuisonderrig is wanneer ouers hul kinders in hul eie huise akademies onderrig.

Ouers is voortdurend besig om hul kinders te onderrig en doen dit natuurlik voorskools deur die kind te ondersteun wanneer dit kom by die aanleer van nuwe vaardighede. Net so is daar tydens skoolgaande ouderdom bepaalde kinderontwikkelingsfases waardeur die kind gaan en waarvoor die ouer verantwoordelikheid kan neem sonder om dit aan skole oor te laat.

Met goeie ouerskap kan kinders dan juis meer omvattende onderrig ontvang wat terselfdertyd kan insluit uitstekende akademiese onderrig. Met tuisonderrig het ouers en kinders meer TYD vir baie ander dinge, hetsy sport, sakevernuf of verskeie ander lewensvaardighede.

Gevolglik kan dit wees dat tuisskolers juis soveel meer afgerond en lewensgereed voorberei kan word. ‘n Kind kan dus sy of haar spesifieke belangstelling(s) in diepte ontwikkel vir ‘n beter loopbaangrondslag en ook om tydsverkwisting te voorkom.

Die vraag is dus nie of tradisionele skool goed of sleg is nie, maar eerder: Wat is die beste vir die unieke individuele ontwikkeling van 'n kind? Kan skoolstelsels werklik hierdie konsep ondersteun, veral indien daarop gelet word dat skoolstelsels eintlik ontwerp is met ander doelwitte in gedagte?

So, is tuisonderwys dan beter? Daar is navorsing wat bevind het dat tuisskolers oor die algemeen beter akademies presteer asook beter sosialiseer as hul skooltydgenote.

Een van die groot voordele van tuisonderwys is dat ouers self die kurrikula kan kies, wat, gegrond op hul eerstehandse visie vir hul kinders, die beste aansluit by hul waardestelsels en wêreldperspektief. Daar is vandag talle fantastiese kurrikula beskikbaar wat ‘n Christelike en Bybelse perspektief ondersteun en uitdra en wat 'n mens mettertyd met meer ervaring by eiesoortige behoeftes kan aanpas.

Voorts bied tuisskool die keuse van taal, Afrikaans of selfs Engels, wat weer latere kwalifikasie-opsies vir die kind beïnvloed wat betref die groter beroepswêreld. Hoe dit ook al sy, teenswoordige beskikbare hulpbronne in Afrikaans is van uitstekende gehalte.

Afgesien van die voordele, is daar nadele verbonde aan tuisskool? Indien dit vir jou te veel van ‘n leefstylaanpassing vra, dan seker ja. Tuisskool vereis toewyding, energie en organisering, net soos ouerskap. Daarom is tuisonderwys eintlik meer ‘n ouerskap-ding as ‘n skool-ding.

Moet ‘n mens ‘n goeie onderwyser wees om te kan tuisonderrig? Nee, juis nie, want onderwysers is opgelei vir ‘n skoolstelsel, terwyl tuisonderrig ‘n leefstyl behels waarin ‘n kind gementor en ondersteun word om juis so gou as moontlik so selfstandig as moontlik te kan werk – iets wat juis dikwels in skole ontbreek.

Om meer te leer oor tuisonderrig, is daar talle webtuistes, kurrikula, tuisskoolkonsultante, ens. wat geraadpleeg kan word, of seminare, praatjies en ekspo’s kan bygewoon word. Die beste is egter om by iemand wat reeds deur die drif is, kers op te steek. Intussen kan bloot begin word deur op te lees en navorsing te doen, met hope inligting op die internet beskikbaar.

Die meeste tuisskolers gebruik ‘n eklektiese benadering, wat beteken hulle maak hul eie samestelling van kurrikula vanuit verskillende hulpbronne. Sodoende kan die beste in eiesoortige behoeftes voorsien word.

Ten slotte, alhoewel ‘kleinskole’ of ‘mikroskole’ toeneem in ‘n poging om ondersteuning aan ouers te bied wat hulle kinders uit die skool wil haal, maar nie self wil tuisonderrig nie, is dit onwettig ten spyte van goeie bedoelings.

Vir verdere inligting, besoek https://www.homeschooling-curriculum-guide.com/ of kontak Willemien Kruger by 083 711 2246.

Suid-Afrikaanse skole onder beheer van die staat is geskeduleer om vanaf 2020 ‘n sg. seksopvoedingsprogram genaamd Comprehensive Sexual Education (CSE) van die Verenigde Nasies (VN) te implementeer in die vak Lewensoriëntering vir Grade 4 tot 12. CSE is daarop gemik om kinders van Graad 4 en selfs nog van so jonk as 4 jaar op diaboliese wyse seksbewus en seksgereed te maak – eintlik is CSE van so aard dat dit te aaklig is om in beskaafde geselskap in woorde te stel, maar Ditsem Nuus beskou dit as só bedreiging vir kinders dat dit in hierdie artikel as waarskuwing ronduit gestel word.

CSE spruit oorspronklik uit navorsing oor seks wat die Amerikaansebioloog en entomoloog dr. Alfred Kinsey in 1947 aan die Indiana Universiteit in die VSA gedoen het en waarin hy o.m. kinders en pedofiele saam as proefkonyne gebruik het. Die resultate van sy navorsing is later gebruik deur VN-instansies soos UNAIDS, UNESCO en UNICEF om die program getiteld CSE te ontwikkel vir sg. seksuele opvoeding met die oog op “jeugweerbaarheid”.

Word egter gelet op die inhoud van CSE, dan is dit duidelik dat dit in wese duiwels is en reëlreg indruis teen Bybelse beginsels. So bv. bevorder dit masturbasie vir klein kinders; moedig hulle aan om mekaar seksueel te betas; sê homoseksualisme is natuurlik; keur transgeslag goed in die sin dat ‘n kind een dag soos ‘n seun mag aantrek en die volgende dag soos ‘n dogter; propageer dit seksuele “regte” vir kinders sonder ouerlike toestemming; moedig dit seksuele eksperimentering aan; illustreer dit die toepassing van kondome; sê selfs seks met diere is aanvaarbaar; keur aborsies goed; en nog bose banaliteite.

Verskillende VN-organisasies bevorder die CSE-program by lande en gemeenskappe in die wêreld en moedig insluiting daarvan sterk aan by nasionale leerplanne. Dit alles word gedoen onder die dekmantel dat kinders proaktief “ingelig en opgevoed” moet word om hulself sg. te kan handhaaf en gevare soos HIV-Vigs te vermy.

In die proses word gepoog om selfs direk en indirek regerings- en owerheidsinstansies te dwing om CSE te implementeer, bv. Nigerië met sy bevolking van 201 miljoen is gedreig dat as CSE nie in die amptelike kurrikula aanvaar word nie, buitelandse beleggings in die land die land ingekort sal word. Desnieteenstaande het talle lande deur die ware aard van CSE gesien en daarteen in opstand gekom, selfs Naura as die VN-lidland met die kleinste bevolking (11 200) het botweg geweier dat CSE by hulle toegelaat word .

Sover bekend, is Suid-Afrika egter die enigste land in Afrika wat CSE amptelik in sy skoolleerplanne insluit . Op 12 Mei 2019 het die Sunday Times berig dat die Dept. van Basiese Onderwys onder Minister Angie Motshekga die nodige reëlings getref het vir die implimentering van CSE in die leerplan vir Lewensoriëntering vanaf begin 2020.

Vir doeleindes hiervan het die Dept. van Basiese Onderwys die dienste gekontrakteer van sowat 100 kundiges en skrywers om die leerplanne vir Lewensoriëntering oor te doen. Een van hierdie kontrakteurs is die bekende of dan berugte seksterapeut dr. Marlene Wasserman, ook bekend as Dr. Eve, wat soos volg aangehaal word: “Masturbation is normalised and it is threaded through the curriculum from grade 4. It begins with self pride, self-image, body diversity, genital differences, genital changes and touching oneself for pleasure.”

Ten einde te help om ouers, onderwysers, personeel en ander belanghebbendes te waarsku teen die loslating van die diaboliese plaag van CSE op onskuldige klein kindertjies nog in hul vormingsjare en teen besoedeling van groter kinders, het Ditsem Nuus, benewens hierdie artikel, ook ‘n aantal nasionale instansies gemoeid met onderwys in SA genader om promosie-insette te maak in hierdie uitgawe. Slegs die drie op bl. 2 het hulle enigsins verwerdig om teen die nominale koste van R890 ‘n inset ter ondersteuning te maak.

Aan die positiewe kant is daar in die res van die wêreld mense, regerings en lande wat opstaan teen CSE, dit verdoem vir wat dit is en wat dit blokkeer sover moontlik. In hierdie verband is daar o.m. die uitstekende film getiteld The War on Children, beskikbaar by www.comprehensivesexualityeducation.org, in 35 min sowel as 10 min weergawes.

Dit word ten sterkste aangeraai dat elkeen wat CSE verban wil sien, na hierdie film kyk en dit ook so wyd as moontlik versprei.

Die Bybel konstateer: “En van jou kinders mag jy nie gee om vir Molog deur die vuur te laat deurgaan nie, dat jy die Naam van jou God nie ontheilig nie. Ek is die Here.” (Lev. 18:21). Mag daar gebid en gewerk word dat die verskriklike plaag van CSE die kinders van SA, insluitende spesifiek ook Afrikaner-kinders, gespaar bly en mag elkeen met ‘n verantwoordelikheid in hierdie opsig daardie verantwoordelikheid opneem en doeltreffend nakom.

Die Minister van Basiese Onderwys, Angie Motshekga het haar kommer uitgespreek oor die styging in die aantal onderwysers wat afwesig is by staatskole.

Luidens ’n vorderingsverslag van die Dept. van Basiese Onderwys is 10% van die land se 410 000 onderwysers daagliks afwesig weens “siekte”. Die studie is gedoen onder staatskole, landswyd waarvan 1 000 skole onderrig aanbied tot Gr. 6, sowel as in ʼn groep van 1 000 skole wat onderrig tot Gr. 12 aanbied.

Motshekga het verduidelik dat die afwesigheid van leerkragte gemonitor word omrede waardevolle onderrigtyd verlore gaan. Volgens haar moet skoolhoofde die blaam dra omrede dissipline nie by skole optimaal gehandhaaf word. Sy gaan verder deur te sê dat skole nie effektief bestuur kan word as selfs skoolhoofde daagliks afwesig is.

Dit laat die vraag na vore kom of private onderrig nie dalk ’n beter opsie is om onderwys in die land reg te ruk en uit die huidige moeras te laat kom nie?

Skole in die huidige SA het ongelukkig moreel, fisies en polities feitlik ʼn slagveld geword, met veral Christelike Afrikaanse onderwys in die spervuur. Wat hierdie negatiewe verwikkeling des te meer krities maak, is omdat die leerlinge van vandag die leiers van môre is.

In die lig hiervan het Ditsem Nuus ʼn spesiale blog geloods waar die onderwerp Christelike Afrikaanse onderwys in die weegskaal gedebatteer kan word.

Besoek gerus hierdie blog en sê jou sê! Verskeie interessante insette is reeds gemaak.

Laat die debat loop sodat by ʼn sinvolle toekoms uitgekom kan word!

By hierdie skakel na die blog gegaan word wat Ditsem nuus Spesiaal geskep het vir openbare debat oor die beste pad vorentoe vir Christelike Afrikaanse onderwys. Gaan sê gerus jou sê!

Bladsy 1 van 6
Go to top