► In Mediumtermynbegroting van Minister van Finansies Tito Mboweni feitlik geen melding van landbou en die geweldige druk op boere oor wydverspreide droogte; op vraag van VF Plus pres. Cyril Ramaphosa ontwykend oor enige bystand aan kommersiële boere ► VF-Plus in Gauteng sê Gauteng Onderwysdepartement moontlik skuldig aan onreëlmatige besteding van R1,2 miljard i.v.m. skoolsvoedingsprojek, dít terwyl die LUR vir Onderwys Panyaza Lesufi Afrikaanse skole vir geringste vermoedelike oortredinge aanspreek ► Dit blyk of dorpe Dewetsdorp, Vanstadensrus en Wepener feitlik geen munisipale dienste ontvang vanaf Mangaung Metro onder wie hulle ingedeel is nie ► Adjunk-pres. David Mabuza op besoek aan China tydens sitting van SA-China Bilaterale Kommissie wys op die talle geïntegreerde tussen die twee lande o.a. dat 65 Chinese maatskappye R116 miljard in SA belê het (hierdie syfer soos genoem, Ditsem Nuus kan nie korrektheid verifieer nie) ► Stad Kaapstad ontvang R300 miljoen van Nederlandse regering om MyCiti snelbusdiens na Khayelitsha en Nyanga uit te brei ► Nederlandse man (35) en vrou (75) in Marlothpark, Komatipoort, vermoor deur versmoring deur hul monde toe te prop, man se vrou en dogter oorleef aanval ► Amerikaanse Huis van Verteenwoordigers stem 232-196 ten gunste van verdere ondersoek of pres. Donald Trump in staat van beskuldiging geplaas moet word oor Oekraïne ► China Mobile in China maak bekend dat sy 5G-tegnologie, 100 keer vinniger as 4G, nou in 50 stede insluitende Beijing en Sjanghai beskikbaar is ►

Die bekende bruin joernalis en politieke kommentator Rhoda Kadalie, wat destyds ‘n verbete sg. anti-apartheidsaktivis was, skryf o.m. soos volg in ‘n rubriek in Volksblad onder die opskrif Verwoerd klop ANC-onderwys:

Ek kan met die beste wil ter wêreld nie verstaan hoekom die ANC nie ons onderwysstelsel kan verbeter nie. ‘n Vinnige kykie na die 2017-resulate toon dié party het selfs die “die goeie dinge” wat met Bantoe-onderwys onder Hendrik Verwoerd en daaropvolgende NP-regerings behaal is, ongedaan gemaak.

Hierdie yslike erkenning klink onsmaaklik, maar word bevestig deur grondige bewyse wat in 2012 deur Hermann Giliomee en Laurie Schlemmer gepubliseer is. Hulle het die uitgawes vir en resultate van Bantoe-onderwys onder Verwoerd en daaropvolgende regimes nagespoor en bevind dat, ondanks apartheid meer geldelike en vaardige menslike hulpbronne in swart onerwys gestort is soos wat meer swart meer swart mense die mark betree het. Selfs verbasender is dat die gehalte van die Bantoe-onderwys hoër was as dié in die meeste huidige swart skole.

Hierdie is ‘n aanklag wat moeilik aanvaar word deur diegene wat apartheid in al sy vorms verag het. In teenstelling met die algemene opvatting, het onderwys vir swart mense sedert die demokratiese verkiesing van die ANC in 1994 agteruit gegaan. Dit gebeur maklik wanneer die regering die slaagsyfer so laag stel dat leerlinge én onderwysers laag mik – en vakbonde onderwysers desondanks beskerm.

Beter resultate vereis groter nougesetheid van onderwysers, inspeksies, beter beleggings van kapitaal en menslike hulpbronne en gedissiplineerde vakbonde.

In konteks beskou, skets die syfers ‘n somber prentjie. Die matriekslaagsyfer is niks om oor trots te wees nie, in ag genome die jaarlikse ritueel van “massering” van resultate.

Ek wed dat minstens 50% van die 153 610 leerlinge wat met universiteitstoelating geslaag het, nie geskik is nie.

Hoe die topmatriekuitslae vir 2017 lyk in verhouding met die demografie van die land, blyk o.m. uit die volgende lys van die 10 topmatriekleerlinge in die Vrystaat vir verlede jaar:

  1. Stehann van Jaarsveld (St. Andrews School)
  2. Janneke Venter (Hoërskool Witteberg)
  3. Johannes van Graan (Hoërskool Witteberg)
  4. Ansuné Naudé (Eunice High School)
  5. Soné du Pisanie (Hoërskool Sentraal)
  6. Minee van den Berg (Meisieskool Oranje)
  7. Carike Moolman (Meisieskool Oranje)
  8. Phole Mofokeng (Mampoi High School)
  9. Franco Marais (Grey Kollege)
  10. Johanna van Wyk (Hoërskool Voortrekker)

Uit die SA bevolking van sowat 60 miljoen is 4,5 miljoen blank oftewel 7,5%.

Volgens die Dept. van Basiese Onderwys was die nasionale slaagsyfer vir die Matrieks van 2017 in staatskole 75,1%, 'n verbetering van 2,6% op die syfer vir 2016. Fedsas wys egter daarop dat van die leerlinge wat in 2006 met Graad 1 begin het en in 2017 Matriek geslaag het, slegs 33,85% is. In 2006 was 1 186 011 leerlinge in Graad 1, maar hiervan het slegs 401 435 in 2017 Matriek geslaag.

Volgens 'n berig deur SABC Nuus was daar in 2017 sowat 700 000 Matrikulante in staatskole, waarvan die slaagsyfer 75,1% was, terwyl daar in privaatskole landswyd slegs sowat 11 000 Matrikulante was met 'n slaagsyfer van 89%.

In 'n mediaverklaring sê adv. Anton Alberts van die VF Plus: “Teen die einde van September vanjaar was daar altesame 580 vakante onderwysposte by skole in Gauteng, almal daarvan op bestuursvlak, wat ʼn sterk aanduiding is hoe disfunksioneel onderwys in dié provinsie tans is. In antwoord op ʼn Parlementêre vraag aan die Minister van Basiese Onderwys het dit aan die lig gekom dat daar vakante poste is vir 62 skoolhoofde, 109 adjunk-hoofde en 409 departementshoofde.

“Die minister kon nie sê waarom die poste nie gevul word nie en sy kon ook nie antwoord op vrae oor die aantal skole, skole wat in onbruik is of die aantal nuwe skole wat gebou gaan word om die groeiende leerlingtal te akkommodeer nie. Sy kon ook nie antwoord op vrae oor die druk op Afrikaanse skole om te verengels nie, en het gesê sy wag op antwoorde van die Gautengse Onderwysdepartement.

“Dit is ʼn skande en moontlik met voorbedagte rade dat die LUR in die provinsie Panyaza Lesufi toelaat dat soveel poste nie gevul word nie en dat geld wat sy departement ontvang het om nuwe skole mee te bou, nie gebruik word nie. Deur doelbewus ʼn situasie te skep waar skole weens onderwysertekorte nie behoorlik funksioneer nie en om die druk van leerlingtalle kunsmatig te vergroot deur die versuim om nuwe skole te bou, skep Lesufi ʼn rede om funksionele en Afrikaansmediumskole te dwing om anderstalige leerlinge in te neem.

“Ondervinding het al geleer dat enkel-Afrikaansmediumskole eindelik totaal verengels wanneer hulle gedwing word om Engels ook te akkommodeer. Die geld is wel beskikbaar om skole te herstel, om nuwe skole te bou en die onderwysposte te vul, maar Lesufi versuim doelbewus om dit te doen in ʼn poging om Afrikaanse skole totaal uit te roei.”

Die Universiteit van die Vrystaat (UV) het meer as 20 ton boeke uit die biblioteek op die Bloemfonteinse kampus laat verwyder vir verpulping, omdat dit na bewering nie meer gebruik word nie. hierdie boeke en ander dokumentasie dek hoofsaaklik die wetenskap, navorsing en kennis wat in die tydperk sowat 20 jaar gelede en terug tot en met die stigting van die universiteit opgebou is.

Die boeke en die dokumentasie het by die skroothandelaars Avery Scrap Metal and Glass Recyclers in Bloemfontein beland, waar die eienaars Neels de Villiers, Brendon Muller en Casper de Villiers dit gered het en die aangeleentheid in die media bekend gemaak het.

Boekversamelaars en kenners wat na die weggedane boeke en dokumentasie gaan kyk het, sê dit is uiters waardevolle en onvervangbare wetenskap, dokumentasie en navorsingsresultate wat verlore kan gaan. Van hulle het stuk-stuk van die versamelings uitgekoop.

Volksblad berig dat die direkteur van die UV-biblioteek Keitumetse Eister in ‘n interne brief aan dekane geskryf het dat die rede vir die skoonmaakaksie, buiten die wegdoen van boeke wat nie gebruik word nie, is om “ruimte te maak vir studente om te leer”. Op sosiale media word beweer dat die universiteitsbiblioteek inderwaarheid leeggemaak is om ruimte te skep vir studente om virtuele aktiwiteite te onderneem en rekenaarspeletjies te speel.

Nog sterker kritiek op sosiale media op die aangeleentheid bestempel dit as “vernietiging van kultuurerfenis” en dat dit in effek neerkom op ‘n “internasionale misdaad” erger as die verwydering en vernietiging van standbeelde uit die geskiedenis.

Die voorgestelde Wysigingswetsontwerp op die Skolewet wat o.m. voorsiening maak vir die omskakeling van openbare skole na staatskole met die praktiese effek van algehele beheer oor die leerplan, aanstellings van onderwysers, die taal van onderrig, toelatings en die afskaffing van verkose skoolbeheerrade, is een van die heel gevaarlikste verwikkelinge in SA sedert 1994. Dit bevat die potensiaal om Afrikaans feitlik heeltemal as onderrigtaal in skole uit te wis, alle seggenskap van ouers oor skole uit te wis en om Afrikaanssprekende kinders in 'n totaal vreemde kultuur te laat skoolgaan.

In reaksie op die wetsontwerp sê dr. Jaco Deacon, adjunk-hoof van Fedsas: “Die beweegrede vir die voorgestelde wet is politieke druk. Van die 23 719 openbare skole is daar slegs 20% wat werklik goed funksioneer. Skole sal onregeerbaar gemaak word deur hierdie besluit waar skoolgemeenskappe leiers gaan verwerp omdat hulle geen inspraak in die aanstellings gehad het nie.”

Die kommentaar van die VF Plus op die voorgestelde wet lui o.m.: “Die wysigingswetsontwerp op die Skolewet kan vernietigend wees vir basiese onderwys en skole in Suid-Afrika en die VF Plus sal dit op elke manier moontlik in die Parlement beveg. Dit is skokkend maar nie verbasend nie dat die ANC-regering weereens met ʼn simplistiese beleid kom waar alles in die samelewing beheer moet word, in hierdie geval skole en die jeug se toekoms.
 
“Hierdie beleid is in lyn met die ANC se algemene beleid van ʼn ontwikkelingstaat wat alle fasette van die lewe reguleer soos wat tans in China plaasvind. In China is daar egter ʼn baie hoë werketiek en daarom sien sy ekonomie die dividende daarvan. Die teendeel daarvan is waar van Suid-Afrika.
 
“Dit is ʼn onbetwiste feit dat die ANC haas alles vernietig waaroor hy beheer uitoefen. Voorbeelde is die onderskeie staatsondernemings wat oor die afgrond bestuur is en hospitale wat in duie stort. Net so sal groter mag oor skole ook onvermydelik tot rampspoed lei. Hierdie wysigings sal ook veroorsaak dat skoolbates deur die regering onteien kan word.
 
“Gegewe hoe hierdie waarskynlike strooptog van die ANC ons kinders se toekoms raak, sal almal in 2019 moet saamstaan om hom te onttroon by wyse van ʼn koalisieregering. Dit raak laat in die dag met die ANC aan stuur van die land se sake.”

'n Tragedie is besig om by HTS Louis Botha in Bloemfontein af te speel, waar 'n eens trotse tegniese hoërskool verval tot 'n nes van jeugmisdaad met min of geen dissipline. Die kern van die oorsaak is dat die skoolbeheerliggaam deur swart mense oorgeneem is, wat in so 'n swak verhouding met die personeel verval het dat grootskaalse wetteloosheid onder leerders die gevolg is.

Een van die opspraakwekkende voorvalle wat hieruit gevolg het, is dat drie seuns 'n veertienjarige skoolmeisie op die skoolterrein verkrag het en 'n video daarvan gemaak het wat op sosiale media versprei is. Die skuldiges is toegelaat om met hul skoolgaan voort te gaan, tot groot trauma vir die meisie en haar ouers.

Die vorige skoolhoof, Ivan Stevens, het op vervroegde aftrede gegaan nadat hy in Bloemcare beland het vir sielkundige behandeling oor spanning by die skool. Die waarnemende skoolhoof Willie van Tonder is met borskaspyne in 'n Bloemfonteinse hospitaal opgeneem, ook as gevolg van spanning by die skool. Hy was egter verlede Donderdag weer op sy pos, maar sy selfoon is van sy lessenaar gesteel.

Intussen het die SA Onderwysersunie (SAOU) by die Vrystaatse Hooggeregshof aansoek gedoen dat die Vrystaatse Dept. van Onderwys die beheerliggaam van HTS Louis Botha summier ontbind en 'n nuwe liggaam met ander lede aanstel, tot en met die verkiesing van 'n nuwe beheerliggaam in 2018. 'n Terugslag het die skool ook getref toe een van sy grootste sportborge, Kia Motors, summier onttrek het. Die skool het deur sy rugby-ontwikkelingsprogram topspelers opgelewer, waaronder die Springbokke Oupa Mohoje en Raymond Rhule.

In 'n mediaverklaring sê Solidariteit Helpende Hand dat die behoefte aan beter onderrigmetodes groter is as ooit en dat opvoedkundige video’s ’n al groter rol vervul. Leerders wat van video’s gebruik maak om te studeer, presteer gemiddeld 15% beter as hulle klasmaats.

Dit volg op 'n steekproef wat onder graad 4 tot 7 leerders gedoen is om die beste onderrigmetode vas te stel. Die klas is in twee gedeel en die een groep het van video gebruik gemaak en die ander het die werk in gedrukte formaat gebruik. Leerders wat die video’s gekyk het, kon ook meer besonderhede oor die onderwerp onthou.

Om aan hierdie behoeftes vir hoë kwaliteit video’s te voldoen het Helpende Hand se Skoleondersteuningsentrum (SOS) die Wolkskool tot stand gebring, ’n aanlyn platform wat aan leerders toegang gee tot opvoedkundige video’s 24/7 by www.wolkskool.co.za. Daar is ook ʼn spesiale aanlynwinkel waar werkkaarte, vraestelle met memorandums en ander hulpmiddels teen ʼn fraksie van die prys verkoop word. Daar is ook ’n wiskundekenner wat bystand verleen met moeilike vrae.

Helpende Hand-ondersteuners kry gratis toegang tot die Ons Skool-kanaal en mense wat nog nie ondersteuners is nie, kan vir R50 of meer per maand aansluit.

Om toegang tot die Wolkskool te kry, SMS die woord “WOLK” na 39950 en sluit aan as ’n Helpende Hand-ondersteuner. 

Dit blyk uit die bekendmaking van die Studenteraad van die Universiteit van die Vrystaat (UV) dat daar nie 'n enkele blanke is nie. Die verkose verteenwoordigers met hul portefeuljes is soos volg: President: Asive Dlanjwa / Vise-President: Letlhogonolo Boikanyo / Sekretaris: Siphokhazi Tyida / Tesourier: Ntombi Nhlapo / Kuns en Kultuur: Lwanda Jack / Sport: Yanelisa Nyalambisa / Transformasie: Kamohelo Maphike / Studentetoeganklikheid en –ondersteuning: Sibongile Mpama / Media en Bemarking: Kgotatso Nonyane / Eerste generasie studente: Lorraine Chauke / Regs- en Grondwetlike Aangeleenthede: Athenkosi Koti / Studente-ontwikkeling en –omgewing: Lefa Makara.

Waar die Fakulteit Teologie aan die Universiteit van die Vrystaat oorspronklik begin is as 'n instansie vir studie en navorsing in die Christelik-Protestantse godsdiens en die opleiding van studente hierin, alles deur onderrigmedium Afrikaans, het die UV Raad verlede jaar besluit om die naam van die fakulteit te verander na “Faculty of Theology and Religion”. Pas het die UV in 'n mediaverklaring, slegs in Engels uitgereik, gesê: “This change signals openness in approach to other religions, in addition to those of Christian denominations. This is a development that took root in Europe a few years ago. Furthermore, a growing field of interest is the study of the impact religion has had and still has, even in highly secularised societies. This name change is the first of its kind in South Africa, which means that the faculty will lead the way in transformation and impact-based religious studies.”

Bladsy 3 van 6
Go to top