► Pres. Cyril Ramaphosa vra nasionale dialoog oor moontlikheid om pensioenfondse in bankrot staatsondernemings te belê – “Ons finansiële bronne is uitgeput, terwyl ons ontwikkelingsbehoeftes enorm is” ► Vraag op sosiale media: Hoekom kry regering nie die miljarde staatsgeld wat gesteel is terug nie, maar wil nou die pensioengeld vat van mense wat hard gewerk het daarvoor en toegewyd gespaar het? ► Menseregtekommissie oorweeg stappe teen Ernst Roets van AfriForum oor vertoon van vorige landsvlag op sosiale media, word as “verdelend” beskou ► Petroljoggies landswyd dreig om volgende week te staak oor salarisse, eis verhoging van 12%, maar werkgewers bied slegs 5% ► Brian Molefe, voormalige hoof van Eskom, moes gister meer as R10 miljoen aan Eskom pensioenfonds terugbetaal as onwettig ontvang, maar nog geen teken daarvan nie ► Veldbrand wat versprei tot in St. Francisbaai verwoes 12 huise tot die grond toe ► Storm oor aanranding van blanke kleuters deur swart personeel by Myne Maatjies Dagsorg Sentrum in Randfontein, ouers woedend, drie persone gearresteer, MRK swyg soos graf ► Lastereis van oud-minister Derek Hanekom van R500 000 teen oud-pres. Jacob Zuma, vandag in hooggeregshof in Durban aangehoor, eis omdat Zuma Hanekom “apartheidspioen” genoem het ► Curriebekerreeks word hierdie naweek voortgesit, met slegs Griekwas wat verseker is van plek in halfeindstryd ►

In ʼn mediaverklaring wys die VF Plus soos volg op slaggate wat betref ontplooiing van die Weermag binnelands in SA, soos wat die regering in die Wes-Kaap wil doen en inderdaad gedoen het:

 
“Die ontplooiing van die SANW die Wes-Kaap om misdaad te bekamp is ʼn erkenning van die regering dat hy die stryd teen misdaad verloor het, en die vraag is of die weermag en die polisie se opleiding voldoende is om in sulke situasies saam te werk.
 
“Artikel 200 van die Grondwet stel dit duidelik dat die doel van die weermag is om seker te maak die land se territoriale integriteit word beskerm. Almal weet daar is tans geen internasionale of buitelandse bedreiging teen Suid-Afrika nie. Daar is wel ʼn interne bedreiging in die weermag en dit is ontoereikende begroting.
 
“Die begroting is steeds te min, maar in die media word berig van ʼn senior weermagoffisier wat honderde miljoene rande aan korrupte tenders bestee waar daar boonop ʼn buite-egtelike verhouding ter sprake was en waar belastinggeld gebruik is om homself te verryk. Dit is waarskynlik die grootste bedrag wat ooit met belastingbetalers se geld aan lobola betaal is.
 
“Die binnelandse bedreiging is tans korrupsie. Hoe kan daar van belastingbetalers verwag word om meer geld te gee as honderde miljoene rande van hul geld weens korrupsie verlore gaan?
 
“Die vraag moet gevra word of die soldate voldoende opgelei is om te weet hoe om misdaadsituasies te hanteer. Nog ʼn vraag is of die polisie se opleiding sy lede in staat stel om te weet hoe om saam met die weermag te werk. Daar is reeds ʼn botsing van ego’s in die polisie self. In die bende-eenheid is daar klaarblyklike afgunstigheid in die bevelstruktuur wat selfs lei tot die mislukking van operasies teen bendes waarin polisielede doodgeskiet word.”

Pres. Donald Trump van VSA het die top weermageenheid van Iran, die Islamitiese Revolusionêre Wag (IRGC), tot terreurorganisasie verklaar.

Dit is die eerste keer dat ’n land ’n ander land se weermag ’n terroriste-organisasie noem. Trump sê in ’n verklaring die IRGC is die Iranse regering se hoofmag waarmee hy wêreldwyd sy terroristeveldtog voer. VSA kritiseer Iran reeds lank weens sy invloed in Irak, Sirië en Jemen.

Trump se verklaring is deur Iran veroordeel en daar word nou vergeldingsaanvalle gevrees. Luidens Iran se staats TV het die opperraad van nasionale veiligheid in die land die Amerikaanse magte in antwoord ook as ’n terroriste-organisasie bestempel.

Trump se kommer oor Iran en die IRGC word gedeel onder senior Amerikaanse militêre bevelvoerders, maar hulle het die verklaring tot ’n terroriste-organisasie tot dusver teengestaan uit vrees vir vergeldingsaanvalle en vir probleme wat dit vir Amerikaanse vennote in die Midde-Ooste kan skep.

Go to top