► Pres. Cyril Ramaphosa vra nasionale dialoog oor moontlikheid om pensioenfondse in bankrot staatsondernemings te belê – “Ons finansiële bronne is uitgeput, terwyl ons ontwikkelingsbehoeftes enorm is” ► Vraag op sosiale media: Hoekom kry regering nie die miljarde staatsgeld wat gesteel is terug nie, maar wil nou die pensioengeld vat van mense wat hard gewerk het daarvoor en toegewyd gespaar het? ► Menseregtekommissie oorweeg stappe teen Ernst Roets van AfriForum oor vertoon van vorige landsvlag op sosiale media, word as “verdelend” beskou ► Petroljoggies landswyd dreig om volgende week te staak oor salarisse, eis verhoging van 12%, maar werkgewers bied slegs 5% ► Brian Molefe, voormalige hoof van Eskom, moes gister meer as R10 miljoen aan Eskom pensioenfonds terugbetaal as onwettig ontvang, maar nog geen teken daarvan nie ► Veldbrand wat versprei tot in St. Francisbaai verwoes 12 huise tot die grond toe ► Storm oor aanranding van blanke kleuters deur swart personeel by Myne Maatjies Dagsorg Sentrum in Randfontein, ouers woedend, drie persone gearresteer, MRK swyg soos graf ► Lastereis van oud-minister Derek Hanekom van R500 000 teen oud-pres. Jacob Zuma, vandag in hooggeregshof in Durban aangehoor, eis omdat Zuma Hanekom “apartheidspioen” genoem het ► Curriebekerreeks word hierdie naweek voortgesit, met slegs Griekwas wat verseker is van plek in halfeindstryd ►

Die gedeeltelike lening van R7 miljard wat deur China vir Eskom geoormerk is, word na berig word deur die Chinese eers teruggehou vanweë vrees dat die bankrot staatsentiteit die geld kan gebruik vir die aankoop van diesel, asook vir dag-tot-dag lopende koste, soos salarisse en ander bedryfsuitgawes. Die R33 miljard lening was oorspronklik beloof in die veronderstelling dat Eskom die fondse sou gebruik vir die voltooiing van Medupi en Kusile kragstasies en om dringende herstelwerk te verrig om die nasionale kragnetwerk stabiel te hou om sodoende algehele ineenstorting te voorkom.

Die nasionale kragvoorsiener, wie se skuld tans op R420 miljard beraam word, bevind sigself in diep water weens die toestand van kragstasies wat nie in stand gehou word nie en nuwe kragstasies wat nie op dreef kom nie. Medupi en Kusile wat oorspronklik geskeduleer was om in 2015 ten volle operasioneel te wees, is steeds agter skedule en om albei nou in volle werking te kry, gaan na raming ʼn enorme R18 miljard kos.

Eskom, wat midde in staatskaping was, sukkel ooglopend om in die aanvraag van elektrisiteit te voorsien. Sy werkersmag word bereken op 48 600, wat volgens die Wêreldbank 16 000 te veel is vir die omvang en kapasiteit van die maatskappy.

Voorts word die afgelope dekade jaarliks nagenoeg R47 miljard spandeer op dieselaankope die afgelope 10 jaar ten einde turbines optimaal te probeer hou. Verlede maand is berig dat Eskom reeds sowat R5 miljard in slegs een jaar op dieselaankope bestee het.

Die Gelykheidshof het verlede Maandag ʼn aansoek van die Nelson Mandela Stigting en die Menseregtekommissie aangehoor dat die vorige landsvlag as haatspraak beskou moet word en selfs in private wonings verban moet word. Die “motivering” is dat die vlag rassisties is, rassehaat simboliseer en ʼn teruggryp na ʼn “bose” verlede sou wees.

Die NMS het die aansoek aanvanklik teen AfriForum gebring nadat daar aangevoer is dat lede van die burgerregte-organisasie die ou vlag tydens Swart Maandag-protesoptogte teen plaasmoorde in 2017 vertoon het. AfriForum staan die aansoek teen, ontken die aantygings en voer aan dat ’n verbod op die vorige vlag ongrondwetlik sou wees en sal neerkom op inbreuk op spraakvryheid. Volgens die NMS gebruik hul die reg om die sinnelose tentoonstelling van “apartheidsimbole” te ontmoedig. Hulle erken egter dat die vlag deel van die geskiedenis is, maar sê dit hoort in museums, dokumentêre en kreatiewe katariswerke.

Blanke Suid-Afrikaners, in besonder regsinnige Afrikaners, is egter onbeskaamd trots op die vorige vlag, sonder om die huidige vlag te misken en wys daarop dat die vorige vlag orde, beskawing, vooruitgang, vryheid, respek vir kulturele verskille en ʼn Christelike bestel simboliseer het. Onder dié vlag het Suid-Afrika ʼn republiek geword en ʼn ongekende bloeitydperk op ekonomiese, maatskaplike en militêre gebied beleef, terwyl onder hierdie vlag Kommunistiese Kuba en Rusland in die Grensoorlog verslaan is. Vir emosie en patriotisme oor die vorige vlag, sien hierdie musiekvideo.

’n Totaal van 115 myne in Suid-Afrika word bedryf sonder ’n waterlisensie en 118 uit 712 myne wat wel oor ’n waterlisensie beskik, voldoen nie aan die voorwaardes vir ‘n lisensie nie. Die meeste van die maatskappye wat sonder ʼn waterlisensie myn, kom voor in Mpumalanga (41) wat korreleer met die geweldige omgewingsbesoedeling wat tans in daardie provinsie plaasvind ervaar word. Die tweede meeste mynaktiwiteite sonder waterlisensies kom voor in Gauteng (12) en selfs die omstrede Guptas se Shiva Uranium-myn voldoen nie aan sy waterlisensievoorwaardes nie.

Gegewe die wye omvang van gebrek aan waterlisensies en die klakkelose verbreking van waterlisensievoorwaardes, kom die kwessie van grootskaalse omgewingsbesoedeling in mynstreke te berde. Ongekontroleerde mynbou in SA kan een van die hoofoorsake vir ‘n omgewingsramp in die land wees.

’n 72-jarige vrou wat alleen op ’n plaas woon is verlede naweek naby Redelinghuys in die Wes-Kaap, wreed aangerand, vasgebind en verkrag. ’n Verdagte (28) is intussen op aanklagte van verkragting en huisroof aangekeer en het in die Piketberg landdroshof verskyn. Die bejaarde vrou, wat alleen in ‘n huurhuis woon, het ná die aanval om hulp geskree en bure op die nabygeleë plaas het haar hulp krete gehoor. Kort ná die aanval die verdagte aangekeer .

Die aanval vorm deel van terreur wat tans daagliks teen plaasbewoners, feitlik almal blank, in die land gevoer word. Net gedurende die afgelope Paasnaweek het 13 plaasaanvalle en 3 plaasmoorde voorgekom. Vir statistiek oor hierdie vootgaande terreurgolf, luister na die oorsig deur Steve Hofmeyr by hierdie videogreep.

’n Herrie het uitgebreek ná die bekendstelling van die Springbokke se nuwe truie vir die Wêreldbeker later vanjaar in Japan. Die kenmerkende Springbok-embleem wat die trots van die Groen-en-goud is, pronk nie meer op spelers se bors nie, maar slegs klein op die linkermou. Talle Bok-ondersteuners is warm onder die kraag oor die trui se ontwerp met die WB-logo op die regterbors, Asics-logo in die middel van die trui en die Protea links bokant die hart.

Volgens die klerevervaardiger, Asics sit die Springbok inderdaad op die linkermou omdat spanne verplig is om die “Rugby World Cup”-kenteken regs op hul bors te dra. Op sosiale media wemel dit van ondersteuners wat hul misnoeë met die ontydige boksprong uitspreek. Van die kommentaar is: “Politieke inmenging en voorskrifte!” “Waar is die Springbok? Moet ons hulle nou die Proteas noem?” “Herontwerp die trui, die Springbok moet op die regte plek wees – links bo die hart!”

Ander sê egter: “Ek is mal daaroor.” “Die vere maak nie die voël nie, net solank hulle die Beker huis toe bring!”

Op die keper beskou, die afgradering is onbetwisbaar ‘n klap na nog ‘n erfenis uit die vorige blankbeheerde bedeling.

Die dodetal in KwaZulu-Natal het na die afgelope week se oorstromings reeds meer as 70 lewens geëis en grootskaalse verwoesting van eiendom en infrastruktuur veroorsaak. Talle mense is beseer toe riviere en paaie oorstroom is en huise en geboue te Durban en langs die kus inmekaargestort het. Die skade aan infrastruktuur en geboue word op nagenoeg R1,5 miljard geraam.

Volgens die SA Weerdiens is die uiterste weerstoestande toeskryfbaar aan ’n bolug trog wat oor die oostelike dele van die land inbeweeg het. Intussen werk reddingswerkers onverpoos om mense uit die puin van ineengesterte strukture te red. Gebiede wat die ergste geraak is, is die eThekwini Metro en Ugu- en King Cetshwayo Distriksmunisipaliteite, waar duisende haweloos gelaat is. Strande is vol hope plastiek en rommel wat vanaf die binneland ingespoel het.

Die regering, provinsiaal en sentraal, het miljoene beloof vir noodleniging en heropbou, terwyl pres. Cyril Ramaphosa ‘n week van rou vir slagoffers aangekondig het en opdrag gegee het dat vlae landswyd halfstok hang. Inmiddels vra omgewingsbewustes dat Suid-Afrika die voorbeeld volg van kleiner lande in Afrika, soos Kenia, Marokko en Rwanda en ’n verbod plaas op die gebruik van alle plastiek.

Veelsydige vermaaklikheidskunstenaar Volodymyr Zelenskiy, met geen vorige politieke ondervinding op sy kerfstok nie, het pas die presidentsverkiesing van die Oekraïne oortuigend gewen met 73% van die stemme. Die ster van die TV-reeks, Servant of the People het groot gewildheid verwerf by kykers, maar met sy toetrede tot die werklike politiek, selfs nog meer steun getrek.

Zelenskij het stof geskop in die oë van sittende president Petro Porotsjenko, wat weens bloot sporadiese pogings om korrupsie vas te vat en ’n dalende lewenspeil vir burgers, toenemend in onguns verval het. Vir 'n veldtog wat begin het as 'n grap, maar wat 'n snaar aangeraak het by kiesers wat gefrustreer is deur sosiale onreg, korrupsie en 'n oorlog met Russiesgesteunde separatiste in Oos-Oekraïne, het vir Zelenskij op die kruin van die golf geëindig.

Nou kom leweringstyd egter vir die voormalige komediant en sal hy in die werklikheidspolitiek met sy talle strominge en belange sy staal moet wys. Hy sal ook sy man moet kan staan teen wêreldfigure soos Duitse kanselier Angela Merkel, Russiese president Vladimir Putin en andere.

Die Oekraïne het ‘n lang en traumatiese geskiedenis en of vir hierdie land, waar nog talle spoke uit die verlede ronddwaal, ‘n nuwe era aangebreek het onder die kleurvolle buiteperd, staan gesien te word.

ROCKFEES BY DIE VROUEMONUMENT, OORLOGSMUSEUM. FRONT NASIONAAL RIG BRIEF AAN PROF PIET STRAUSS

Geagte professor Strauss

Re: Beplande Rockfees by die Oorlogsmuseum Bloemfontein: Oktober 2019

Front Nasionaal het met ‘n groot mate van kommer kennis geneem van ‘n advertensie wat uitgestuur is deur die Bemarkingskantoor van die Oorlogsmuseum waarin daar planne bekend gemaak word vir ‘n “Rockfees” by die Oorlogsmuseum in Oktober vanjaar om die 120e jaartal sedert die uitbreek van die Tweede Vryheidsoorlog te herdenk. Hierdie fees word beplan in samewerking met die “Aasvoëlklub” in Bloemfontein. Die advertensie en inligting soos verskaf is hierby aangeheg.

Ons het volle begrip daarvoor dat dit geweldig belangrik is vir monumente en museums om alternatiewe planne te maak om voete te lok en die geskiedenis lewend te hou. Ons voel egter dat dit darem met die nodige respek gedoen behoort te word.

Die oorlogswonde lê nog rou by baie van ons volksgenote. Dit is ‘n natuurlike proses by ‘n volk om, oor verloop van ‘n lang tyd, vrede te maak met die wonde wat hom toegedien is op die wyse waarop dit ons volk toegedien is. Genesing is ‘n proses wat soms geslagte lank duur. Daar is vandag nog wonde in Amerika oor die Burgeroorlog. Daar is vandag nog wonde in Nederland en Frankryk en in Pole oor die Tweede Wêreldoorlog.  Daar is nog rou wonde oor hierdie Oorlog en die uitvloeisel daarvan wat ons so intens beleef in die politieke situasie van die dag. As dit nie was vir die uitwissing wat daar plaasgevind het nie, was ons nie vandag ‘n handjievol mense wat in ons geboorteland vertrap, misken en verdruk word nie. Dan was ons baie meer.

Inderdaad wil ek vir u sê: In my eie familie is daar grootooms en –tantes wat in ongemerkte konsentrasiekampkerkhowe begrawe lê. Hulle is ewig kinders – ontroof van die geleentheid om op te groei en te leef. Hulle enigste grafsteen is die gedenkmuur by die museum, waar ek op 17 Desember verlede jaar lank vertoef het om hulle offer te gedenk.

Die Vrouemonument is nie net ‘n monument nie. Dis ‘n laaste rusplek. Ek het daar ook vertoef by die grafte van president Steyn, generaal De Wet, ds Kestell en Emily Hobhouse. Lank vertoef, want die stilte daar bring jou tot besinning oor watter prys gevra is, en in watter gesindheid dit betaal is.

Professor Strauss, dis nie die plek of die geleentheid vir ‘n Rockfees met ‘n kontantkroeg nie. Dis nie aanvaarbaar om te sê: “Ja maar ons gaan kerse brand en ‘n minuut van stilte handhaaf om die 30 000 vroue en kinders in konsentrasiekampkerkhowe te herdenk…. en daarna verkoop ons drank en rock ons” nie. En verseker stuur dit ‘n baie verwronge boodskap aan die wêreld oor hierdie volk se begrip van eerbied en respek. Ek kan my gewoon nie voorstel dat ‘n Rockfees gehou sal word by Gettysburg of Oradour-sur-Glane nie. Waarom moet ons dit dan hier doen? Oorlogswonde genees nie deur daarop te dans nie.

Die gedagte daaraan het my enersyds met ‘n diep emosionele pyn vervul ter wille van hulle vir wie daardie ‘n laaste rusplek is, maar ook met intense weersin by die gedagte daaraan dat die vorm van die vieringe so lynreg indruis teen die boodskap wat daar versinnelbeeld word.

Ons is ‘n beskaafde volk. ‘n Beskaafde volk huldig sy erfenis met respek, met deernis, met ootmoed en met waardigheid. Vir rockfeeste is daar sale en dansklubs en stadions die hele Vrystaat vol.

Ons is dit met u volkome eens dat die uitbreek van die Oorlog 120 jaar gelede herdenk moet word en dat dit die ideale geleentheid is om opnuut belangstelling te wek in daardie spesifieke gedeelte van ons geskiedenis. Ons wil egter ‘n dringende beroep op u doen om hierdie herdenking op ‘n meer gepaste, meer waardige en meer eerbiedige wyse te vier. En daarmee sal ons u bystaan met alles wat ons moontlik kan bydra. Front Nasionaal sal ons mense aanmoedig om deel te vorm daarvan. Ons sal u ondersteun net waar ons kan.

Dit is egter nie vir ons aanvaarbaar dat ‘n Rockfees met drankverkope by ‘n plek gehou word wat opgerig is om die ellende van die Oorlog en die offers, die lyding, smart en verlies te gedenk nie. En sekerlik nie waar die laaste rusplek van ons volkshelde is nie.

Ons wil u dan net ook vriendelik daarop wys dat die advertensie aandui dat die Afrikaanse sanger, Adam Tas, by die feesgeleentheid gaan optree. Ons het ondertussen ‘n boodskap van hom ontvang waarin hy ontken dat hy ooit genader is om op te tree en geen kennis dra van enige betrokkenheid by die gemelde Rockfees nie.

Ons verneem graag van u in hierdie verband.

Met beste wense

Daniël Lötter

Met hul wortels diep in die Suid-Afrikaanse bodem, is Jupidex ʼn landboumaatskappy wat met 'n beproefde baanrekord landswyd vir die boer van vandag die beste bied i.t.v. toerusting, kundigheid en tegnologie. Oorspronklik gestig in 1999 in die Natalse Middellande deur Koot van der Merwe onder die handelsnaam Kverneland SA, het die maatskappy die afgelope 20 jaar onder die oorkoepelende naam Jupidex fenomenaal gegroei tot ʼn verskaffer van talle reekse van produkte en tegnologiese toepassings.
Die produkte wat verskaf word, dek o.m:
• Strooitoerusting (kunsmisstrooiers, pendulumstrooiers vir toediening van vloeibare bemesting, skottelstrooiers, kalkstrooiers, ens.)
• Grondtoerusting (ploeë, skoffels, planters, disse, kultivators, ens.)
• Hooi- en voertoerusting (snymasjiene, harke, balers, voermengers, hamermeulens, ens.)
• Toerusting vir neutverbouing (neutoes-masjiene, boomskudmasjiene, afvoerwaens, ens.)
• Planttoerusting (mielieplanters, presisie-boorplanters, kombinasieboorplanters, ens.)
• Besproeiingstoerusting (boomsproeiers, spoorsproeiers, boordsproeiers en selfloper)
Wat veral van Jupidex 'n markleier in die landboubedryf maak, is die unieke, internasionaal-beproefde en wêreldbekende handelsmerke wat dit verskaf en diens, soos o.a. Kverneland, Andreoli, McHale, AgriSpread, Alpler, Celikel, Andreoli, Dondi. Daarby bied Jupidex die markmededingende voordeel dat dit slegs egte onderdele van uitnemende gehalte verskaf en glad geen generiese produkte aanhou nie.
Jupidex hou tred met die heel jongste landboutegnologie, soos blyk uit die gerekenariseerde presisieboerderystelsels wat Jupidex bied en diens vir gewasaanplanting, geoutomatiseerde bemestingtoediening, monitering van gewasgroei en vooraf geprogrammeerde oesinsameling. Om kliënte hiermee en in ander opsigte te ondersteun, het Jupidex 'n kundige velddiensspan in plek met landswye reikwydte.
In 2018 het Jupidex ook na die Noord-Kaap uitgebrei en ʼn volledig-toegeruste tak te Kimberley geopen, met die nodige personeel en logistiek om oor lang afstande diens te lewer en kliënte op hul plase of by hul persele te besoek. Die tak nooi alle bestaande en voornemende kliënte om met hulle oor enige behoefte te skakel.
Verlede jaar het Jupidex ook sy eerste tak buite SA geopen, nl. in Zambië, waar groot aanvraag is vir gevorderde landboutoerusting. Vir Jupidex is dit ook ‘n groot stap in sy strewe om die landboubedryf op die vasteland te ondersteun.
Jupidex is trots op die diep spore wat dit al in die landboubedryf getrap het en op die baanrekord van uitnemendheid wat in die proses opgebou is. Jupidex glo in die toekoms van kommersiële landbou in SA en in Afrika en stap graag saam op die pad van volhoubare en ekonomies-verantwoordbare voedselverbouing.

Jupidex logo

Kimberley as stad bekend vir sy kleurryke diamantverlede, word tans byna verswelg onder onbeheerde riool in talle strate. Die rioolaanleg funksioneer slegs op 50% kapasiteit en die watersuiweringsaanleg funksioneer met rukke en stote – probleme wat ooglopend geleidelik oor jare ontwikkel het.

Tydens ’n onlangse besoek van die DA is bevind dat die rioolaanleg van die ANC-beheerde Sol Plaatje Munisipaliteit haglik is en dat damme wat veronderstel is om gesuiwerde water te bevat, met riool besoedel is. ʼn Gebrek aan kundigheid, omgewingsgevare vir personeel en ʼn tekort aan basiese voorrade soos chemikalieë en veiligheidstoerusting ontbreek, dra by tot die krisis. Reeds vyf werkers het al hul lewens verloor by die aanleg weens blootstelling aan giftige dampe en haglike omstandighede.

Hoe Kimberley as hoofstad van die Noord-Kaap sy eertydse glorie en leefbaarheid kan herwin, is ‘n ope vraag – ʼn vraag wat kiesers op 8 Mei vanjaar by die stembus kan begin om te beantwoord.

Die besluit van MultiChoice om met Ghoemas 2019 die musiekvideo Die Land te boikot omrede Steve Hofmeyr vir hulle persona non grata is vanweë sy pro-Afrikaner-uitlatings, het behoorlik ‘n miernes onder Afrikaners oopgesteek. Eers het verskeie sangers soos, Jay, Dewald Wasserfall, Ruhan Du Toit, Bok van Blerk en Bobby van Jaarsveld hulle ook aan die Ghoema aand onttrek, terwyl Demi-Leigh Moore tydens die geleentheid openlik haar misnoeë met MultiChoice uitgespreek.

Voorts gons dit behoorlik op sosiale media soos Afrikaner gesindes hul teenkanting teen MultiChoice uitspreek en ook teen Toyota omdat hulle as borg onttrek het en besluit het om eerder die multi-kulturele “beheerbare” Stellenbosch Woordfees te ondersteun. Vir ‘n voorbeeld van uitgesproke en reguit kritiek teen die Ghoemas, MultiChoice en Toyota, sien hierdie videogreep

Inmiddels word skerp vrae gevra oor die vloot van Toyota voertuie gehandelsmerk met formele ANC kleure – sien by hierdie skakel foto’s

Die wêreld het in afgryse op hul selfone en TV skerms toegekyk hoe die beroemde Notre Dame katedraal en kunsgalery in Parys, Frankryk, in vlamme gehul staan nadat ’n brand verlede nag onverklaarbaar uitgebreek het. Skade van miljarde euros is berokken.

Brandbestryders het verbete geveg om die verwoestende brand onder beheer te bring. Die dak is heeltemal vernietig, maar brandbestryders kon daarin slaag om te keer dat die hoofkloktorings en buitemure ineenstort. Die brand het net voor 19:00 uitgebreek, enkele minute na die katedraal vir die dag vir die publiek gesluit is.

Nooddienswerkers kon egter daarin slaag om 'n groot hoeveelheid van die onvervangbare kunswerke en ander kosbaarhede in die gebou te red. Pres. Macron het onderneem dat die katedraal in volle glorie herstel sal word.

Die Notre Dame is een van die beste voorbeelde van die Gotiese boustyl in die wêreld, asook een van Parys se bekendste toeriste-aantreklikhede met ‘n daaglikse besoekerstal van sowat 30 000. Intussen stroom vrywillige donasies vir die restourasie in en staan die totale bedrag op hierdie stadium op sowat R5 miljard.

Kyk 'n videogreep van die brandende Notre Dame hier

Die internasionaal-gewilde rooibostee en verwante produkte blyk nou met sy sjokoladeprodukte ʼn gunsteling te wees onder sjokolateurs wêreldwyd. Die SA Rooisbosraad het bekendgemaak dat die $103 miljard sjokoladebedryf in die wêreld suksesvol gepenetreer is dat dit die groenlig ontvang het van die toonaangewende SA sjokolade-franchise Le Chocolatier.

Volgens die Sweedse sjokoladevervaardiger, Daniel Waldis, wat die Suid-Afrikaanse franchise Le Chocolatier besit, is rooibos en sjokolade ’n uitstekende kombinasie omdat dit baie van dieselfde eienskappe bevat. Die internasionale eerstewêreld voedselmark is tans op soek na gesonder opsies en rooibos is geïdentifiseer as ’n natuurlike opsie vir sjokolade omrede dit ryk is aan anti-oksidante en steeds ʼn natuurlike soet smaak bevat.

Op die Wêreld Skolerugbyfees wat 25 – 30 Maart 2019 op die velde van Paul Roos Gimnasium te Stellenbosch gehou is en waarin 10 uitgesoekte SA Skole teen 10 uitgesoekte buitelandse skole meegeding het, het die SA skole hul buitelandse eweknieë behoorlik ore aangesit. So bv. het Grey Kollege van Bloemfontein vir Christchurch Boys High School, wat al 46 All Blacks opgelewer het, met 73 – 26 verslaan.

Jare gelede in 1970 toe die Springbokke teen die destydse All Black, wat vooraf as superwesens uitgemaak is, het Frik du Preez gesê: “Toe ons in die eerste skrum sak, het ons geweet hulle is ook maar net vlees en bloed”. Dit lyk of hierdie selfde benadering nou geld by die skoolseuns – 'n les wat die bokke van vandag op senior vlak gerus kan leer.

Van die ander uitslae op die afgelope Wêreld Skolerugbyfees: Glenwood vs John McGlashan College 32-17 / Monument 32 Hartpury College 32-21 / Paarl Gim vs Africa Pacific Dragons 50-24 / Affies vs Italian All-Stars 36-12 / Boland Landbou vs Napier Boys' High School 30-25 / Hilton College vs USA Schools XV 43-0 / Paul Roos vs Southland Boys' High School 93-5.

Die groot probleem met elektrisiteitverskaffing in SA is natuurlik die monopolie wat Eskom hou en wat tans met hul probleme vir alle praktiese doeleindes die land gyselaar hou. Die voor die handliggende oplossing is ontbondeling van Eskom of dan ten minste drastiese desentralisasie van die reg van elektrisiteits-verskaffing.

Elders in Afrika het die toepassing van die konsepte van mini- en mikro-netwerke (mini and micro grids) al basie veld gewen en hul suksesvolle toepassing bewys. Die grootte van hierdie netwerke, gewoonlik sonkragstelsels of –plase, kan wissel – vanaf verskaffing vir hele dorpe of gemeenskappe tot gekombineerde verskaffing vir ʼn aantal huishoudings of besighede.

Volle besonderhede van mini- en mikro-netwerke sa verskaf en gedemonstreer word op die ekspo African Utility Week and POWERGEN Africa wat 14 tot 16 Mei 2019 gehou word in die Kaapstadse Konvensie-sentrum. Vir meer inligting besoek www.african-utility-week.com.

Die werklikheid van sowat 8 000 blanke kleuters wat elke skooldag in 87 skole landswyd van ‘n maaltyd voorsien moet word ten einde honger by hulle hok probeer slaan, gryp ‘n mens aan die hart. Dit is die werklikheid wat Solidariteit Helpende Hand verlede week in ‘n media verklaring uitgespel het. Wat nog meer ontstellend is, is dat die nood so groot is en die behoefte by die dag so erger word, dat Helpende Hand beplan om hul projek #StopHonger volgende jaar uit te brei na sowat 12 000 kleuters – 'n massiewe 2,4 miljoen etes per jaar.

Die voedingsprogram van Helpende Hand spruit uit hul Kosblikkie-projek wat in 2009 begin is en geleidelik uitgebrei is na gelang van die nood, totdat in 2018 vir altesaam 6 500 kleuters van 82 skole landwyd elke skooldag 'n bord kos voorsien kon word. Intussen ontvang Helpende Hand soveel versoeke om ook by kinderhuise, ouetehuise en behoeftige gesinne – hoofsaaklik blank - in te gryp, dat as bykomende veldtogte #StopHonger en #HelpJag begin is ter aanvulling van die Kosblikkie-projek.

Volgens die mediaverklaring is #HelpJag in 2018 van stapel gestuur weens 'n tekort aan ʼn goeie, goedkoop proteïene en word jagters aangemoedig om wildsvleis vir Helpende Hand te skenk om dié tekort aan te vul. Om vir 'n jaar aan die daaglikse minimum proteïeninname van kleuters te voorsien, benodig #HelpJag 160 ton wildsvleis.

Elke koedoe kan ongeveer 40 kleuters vir 'n maand voed, terwyl 'n gemsbok 26 kleuters vir 'n maand voed. Selfs 'n springbok kan 6 kleuters per maand van 'n gesonde maaltyd help voorsien.

Die mediaverklaring lui verder: “Jy kan betrokke raak en Helpende Hand só help om 2,4 miljoen etes vir 12 000 kleuters landwyd te voorsien: SMS die woord STOP na 38969 en skenk ʼn bord kos vir ʼn honger kleuter. Die SMS kos R10. Of besoek www.stophonger.co.za vir meer besonderhede oor verskillende opsies om hierdie projek te ondersteun.”

Moordende swart ekonomiese bemagtiging, regstellende aksie en ander skreiende rassediskriminasie van die ANC-regime die afgelope 25 jaar is duidelik besig om sy tol grootskaals te eis. Hoewel armoede in Suid-Afrika volgens Statistieke SA (SSA) steeds toeneem vanweë swak ekonomiese groei, hoë werkloosheid en groeiende afhanklikheid van huishoudings van krediet, bestaan geen amptelike prentjie van armoede onder spesifiek die blanke segment van die bevolking nie.

Na raming deur Ditsem Nuus aan die hand van navorsing deur verskillende instansies gedoen, leef uit 'n bevolkingsegment van sowat 4 miljoen meer as 800 000 blankes in SA in erge armoede, meesal in tot soveel as 1 000 blanke plakkerskampe of –gemeenskappe. Onlangs is mense op sosiale media aangemoedig om Google in te span om “Wit plakkerskampe in SA” op te soek en het die uitslae 'n oorweldigende aantal beelde gewys waar blankes in haglike omstandighede woon.

Dit is duidelik dat op die Afrikaner, die behoudende gedeelte waarvan sigself beskou as 'n Christelike volk in eie reg, 'n enorme uitdaging wag. Die uitdaging is nie net materieel nie, maar ook en veral die gepaardgaande diepe morele verval onder die Afrikaner.

Jullian Assange (47) medestigter van WikiLeaks, wat sedert 2012 asiel gevind het by die ambassade van Ecuador in Londen, is gister deur die Britse polisie teen sy sin in hegtenis geneem. Die departement van justisie in Amerika beskuldig Assange dat hy met Chelsea Manning saamgewerk het om by ʼn geklassifiseerde regeringsrekenaar by die Pentagon in te breek.  

Assange het 7 jaar terug politieke asiel by Ecuador ontvang na hy toevlug gesoek teen beskuldigings van seksuele aanranding in Swede, maar sy asiel is intussen herroep. Hy is Donderdag uit die Ecuadoriaanse ambassade in Londen gedwing en in ʼn Britse-polisievoertuig weggeneem.

Britse polisie het intussen bekend gemaak dat Assange in hegtenis geneem is op aanklagte dat hy sy borgtogvoorwaardes in Engeland oortree het asook die versoek van die lasbrief vir sy inhegtenisneming van die VSA.

Assange wat met sy WikiLeaks vir jare die geheime van die Nuwe Wêreld Orde (NWO) onthul, se prokureur het vroeër gesê sy kliënt is van voornemens om enige beskuldigings van die Amerikaanse regering teen te staan.

Bladsy 2 van 96
Go to top