►Voorspoedige 2020 | Ditsem Nuus kantoor weer oop | Teken in op die DitsemBlits vir daaglikse Nuushooftrekke en weeklikse Nuuskommentaar►

In 'n artikel gepubliseer in Volksblad sê die uitvoerende hoof van Fedsas Paul Colditz:

“In slegs 2 484 van die 23 719 openbare skole in Suid-Afrika, word Afrikaans as onderrigtaal gebruik, hetsy vir enkel-, dubbel- of parallelmedium-onderrig. Die enkelmedium- Afrikaanse skole is ‘n skamele 1 279, oftewel ‘n raps meer as 5% van die totale getal skole. Met die dubbel- of parallelmediumskole bygereken is dit net meer as 10% van die totale aantal skole.


“Gedurende die dekade 2006 tot 2016 het in Gauteng die leerlingtal in openbare skole met 348 118 toegeneem. Met die veronderstelling dat elke skool 1 000 leerlinge moet of kan akkommodeer, sou dit dus die bou van ongeveer 348 nuwe skole impliseer. Die werklikheid egter is dat die getal skole in Gauteng gedurende die betrokke dekade met slegs 85 toegeneem het.

“Hierdie syfers bewys ‘n volslae gebrek aan behoorlike beplanning en leierskap. Voeg dan nog daarby dat ouers met hul voete stem op soek na onderwys van ‘n beter gehalte vir hul kinders en dat sekere skole in die provinsie leegloop omdat ouers aan die ellende van swak onderwys probeer ontkom, dan is dit duidelik waarom daar soveel druk op die skole is wat goed funksioneer.


“Dit het dus niks met taal te doen nie.

“Die probleem met wanfunksionele skole en gevolglik swak onderwys is inderdaad reusagtig. Wanneer byna 80% van gr. 4-leerlinge nie met begrip kan lees nie, wanneer derduisende kinders jaarliks uit die skoolstelsel val, wanneer derduisende kinders landwyd onderrig ontneem word omdat die departemente nie deeltydse onderwysers aanstel om vakatures te vul nie of skoothoofde en onderwysers nie aangestel word nie en subsidies waarop skole geregtig is, nie uitbetaal word nie omdat provinsies se begrotings uitgeput is, is dit nie Afrikaanse skole - of enige ander skool - se skuld nie.


“Funksionele skole - insluitend Afrikaanse skole - doen te midde van hul eie oorvol programme baie moeite om uit te reik na minder bevoorregte gemeenskappe en skole. Enige individuele skool kan egter min doen om die massiewe stelselprobleme uit die weg te ruim of op te los. Die staat moet die skuld vir die probleme kry.


“By funksionele skole is die uitmuntende leierskap van beheerliggame en skoolhoofde wat hul gemeenskappe lei om self verantwoordelikheid vir hul skole te aanvaar wat uitnemendheid en funksionaliteit tot gevolg het. Dit doen hulle ten spyte van die onderwysdepartement en nie danksy die departement nie.”

Gradeer die artikel
(0 stemme)

Lewer kommentaar

Vul al die vereiste velde in (*)

Go to top