►Voorspoedige 2020 | Ditsem Nuus kantoor weer oop | Teken in op die DitsemBlits vir daaglikse Nuushooftrekke en weeklikse Nuuskommentaar►

Studentebetogings: Die realiteite

Nadat die eerste studentebetogings op 21 Oktober 2015 by Wits en Ikeys losgebars het teen ‘n verhoging in studiegelde en dit in ‘n oogwink oorgespoel het onder die vaandel van #FeesMustFall na al die universiteits- en kollegekampusse in die land, is die land geruk deur die impak van die gebeure. Die betogings was dikwels gewelddadig, eiendom is verwoes en slegs gewapende onluspolisie het gestaan tussen ‘n horde stormende studente en die Parlement.
Die dag wat die betogings losgebars het, was ook die dag wat Minister van Finansies Nhlanhla Nene sy Mediumtermyn Begrotingstoespraak in die Parlement gelewer het - ‘n toespraak wat slegs gelewer kon word nadat die protesterende EFF Parlementêre groep ter ondersteuning van #FeesMustFall deur veiligheidspersoneel met geweld uit die Parlement verwyder is.
Die studente het ook gratis onderrig by tersiêre instellings, die afskaffing van registrasiefooie en beëindiging van uitkontraktering van dienste op kampusse geëis.
In reaksie op hierdie studentebetogings het pres. Jacob Zuma aangekondig dat daar geen verhoging in tersiêre studiegelde in 2016 sal wees nie, terwyl hy hom ook ten gunste verklaar het van gratis opleiding vir studente by tersiêre instellings.
Die studentebetogings het dus op ‘n manier ‘n waterskeiding in SA gebring, maar wat is die realiteite van die gebeure en hul nagevolge? Daarop kan geantwoord word dat die volgende realiteite soos ‘n paal bo water staan:
Die feitelike profiel van die betogende studente is dat hulle ongeveer 90% swart is, d.w.s. die grootste gros van blanke studente het nie aan die betogings deelgeneem nie en het eerder verkies om op die vooraand van die jaarlikse eksamens op hul studies te fokus en met klasse aan te gaan.
Die betogende studente het dit reggekry om te “bewys” dat as jy nie jou sin kan kry nie, jy dit wel d.m.v. geweld en anargie kan verkry. Dit beteken dat ‘n gees van “demand” en betoog totdat jy jou sin gekry het ongeag die res, gevestig is.
In die meeste gevalle op universiteitskampusse was dit ‘n gewelddadige minderheidsgroep wat spreekwoordelik die stert was wat die hond geswaai het en hul wil op ‘n swygende meerderheid afgedwing het. Trouens daar is sterk aanduidings dat die betogende studente aangevuur is deur rewolusionêre persone wat nie ingeskrewe studente was nie.
Die konnotasie tussen die rewolusionêre EFF en betogende studente is ook opvallend. Die landswye studenteprotes lyk inderwaarheid na ‘n georkestreerde situasie met “derde mag”-betrokkenheid, soos die Waarnemende Kommissaris van die SAPD Khomotso Phahlane pas voor ‘n Parlementêre Portefeuljekomitee uitgewys het en gesê het dat ‘n opvlam van die betogings in Februarie-Maart volgende jaar verwag kan word.
Die wetlike bevoegdheid oor tersiêre studiegelde berus by die Raad vir Hoër Onderwys in samewerking met die Dept. van Hoër Onderwys, wat beteken dat pres. Zuma buite sy regte en bevoegdhede opgetree het deur voortydig aan te kondig dat studiegelde nie verhoog gaan word nie. Hoekom dit so gedoen is en die korrekte prosedurele weg nie gevolg is nie, moet nog verduidelik word.
Een van die hardste realiteite is dat daar in die nasionale begroting, met sy groeiende skuld eenvoudig nie voldoende fondse is vir gratis tersiêre opleiding in SA nie, terwyl universiteite en kolleges nie kan bekostig om gratis studiegeleenthede te verskaf nie. Daar word gesê dat indien massale korrupsie in die land hokgeslaan kan word, kan die R37 miljard wel gevind word wat oor die volgende drie jaar vir gratis tersiêre opleiding in die land benodig word. Dit is egter ‘n aspek wat op ‘n ope vraag berus.
Met dié dat die regering die matriekslaagsyfer in die land verlaag het na 30%, is daar ‘n massa hoeveelheid matrikulante wat glad nie kwalifiseer vir eerstewêreldse tersiêre opleiding nie. Die gevolg is dat daar ‘n massa studente op SA kampusse is wat akademies nie daar hoort nie. Die totale studentegetal aan die 23 openbare universiteite in SA het vanaf 495 355 in 1994 verdubbel na 1 002 110 in 2014. Hiervan was die voorgraadse gradueringskoers in 2013 slegs 15%, vir M-studente 20% en vir doktorale studente 12%. 78% van studente by residensiële universiteite is swart. Dit beteken dat SA universiteite ‘n geweldige hoeveelheid studente akkommodeer wat uiteindelik nie gradueer nie.
Die #FeesMustFall veldtog word ooglopend terselfdertyd misbruik in die doelgerigte poging om Afrikaans en die Afrikaanse kultuur by enkele universiteite en kolleges waar dit nog te vind is, ‘n nekslag toe te dien. Gebeure huidig by Maties, NWU Puk, Kovsies en Tuks getuig daarvan. So bv. het die US verskansing van Afrikaans as onderrigmedium laat vaar, die UP doen ‘n eierdans rondom Afrikaans as onderrigmedium, UV rektor prof. Jonathan Jansen het in beginsel besluit om weg te doen met die standbeelde van oud-presidente Steyn en Swart en by NWU Potchefstroom het rektor Dan Kgwadi militante swart studente aangemoedig om “te veg” teen studente wat Afrikaans en ‘n Afrikanerkultuur voorstaan.
Strukture vir finansiële hulp soos die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente (NSFAS) was in plek met die bewindsoorname van die ANC in 1994, maar het disfunksioneel geraak en is tewens ook die terrein van korrupsie van miljoene rand wat tans forensies ondersoek word. In 2014/15 is R9 miljard i.t.v. die NSFAS aan 414 802 begunstigdes betaal, maar hiervan is tot op datum slegs R247 miljoen terugbetaal.Die teiken van die NSFAS is om 25% van tersiêre studente met beurslenings te ondersteun, maar tans staan die syfer op hoogstens 16%.
Die aanduidings is dus dat van die kampusse in die land besig is om in wat nie anders beskryf kan word nie as rewolusionêre neste omskep te word. Teen hierdie golf is daar egter studente wat vasskop en aandring op wet, orde en billikheid, soos bv. by NWU Puk te Potchefstroom waar die AfriForum Jeug-tak aan prof. Kgwadi formeel gesê het:
“Hiér trek ons nou die lyn. Ons gaan nie toelaat dat ʼn handjievol radikale ons kampus kom verwoes en verdeel nie. Studente ry nou verby ander kampusse wat histories Afrikaans was, soos die Universiteit van Pretoria en die Universiteit van die Vrystaat, om ’n tuiste by die NWU-Puk se kampus te kom vind."
By die UV het studente plakkate om die standbeelde van oud-presidente Swart en Steyn gehang wat lees: “Ek het geveg teen kolonialisme, hoekom wil jy my verwyder?” Voorts het AfriForum Jeug se Kovsie-tak in ‘n mediaverklaring gesê: “In hierdie stadium word die universiteitsbestuur aan die neus rondgelei deur ʼn radikale groep studente wat ʼn politiese agenda dryf.”
In geheel gesien is die gevolgtrekking onafwendbaar dat die uitbarsting van studentebetogings by al die universiteite in die land deel vorm van ‘n georkestreerde agenda ook op ander lewensterreine om SA stelselmatig te druk in die rigting van ‘n Kommunistiese staat.

Gradeer die artikel
(0 stemme)

1 comment

Lewer kommentaar

Vul al die vereiste velde in (*)

Go to top