►Voorspoedige 2020 | Ditsem Nuus kantoor weer oop | Teken in op die DitsemBlits vir daaglikse Nuushooftrekke en weeklikse Nuuskommentaar►

Word ‘n objektiewe evaluasie gedoen van die situasie met die jaarwisseling agter die deur, is daar veel negatief wat noodwendig in ag geneem moet word, maar wat tog positief aangespreek kan word. In die lig hiervan word voortspruitend uit 2019 die volgende 12 rooiligte geïdentifiseer, wat met die oog op 2020 met geloof en vindingrykheid pro-aktief oorkom kan word:

  • Die misdaadgolf wat sedert 1994 sowat 500 000 moorde en ongeveer 1 miljoen verkragtings ingesluit het, spoel steeds onverpoosd voort. Die huidige jaarlikse koers beloop volgens die webwerf www.southafricatoday.net 21 000 moorde, 52 000 verkragtings en seksuele aanrandings, 156 000 gewone aanrandings, 190 000 rooftogte, 23 000 huisbrake, 220 000 inbrake, 16 000 motorkapings en 238 kontant-in-transito rooftogte.

Hoe gaan hierdie vloedgolf omgekeer word en wat gaan die gewone man, vrou en kind in die straat doen om te verhoed dat hy/sy in 2020 nie ‘n slagoffer word nie?

  • Die ANC-regering het verlede jaar die besluit geneem om grond en ook enige onroerende bates “grondwetlik” te mag onteien sonder vergoeding. Vanjaar is op hierdie ingeslane pad voortgestroomroller en is implementering die vaste voorneme vir 2020.

Hierdie koers is duidelik primêr teen blanke grondeienaars gemik. Hoe gaan hulle op enige grondgryp reageer? Hoe gaan die ekonomie reageer indien die beginsel van gewillige koper-gewillige verkoper as een van sy hoekstene uitgeruk word?

  • Word gekyk na nuwe wetgewing ter tafel t.o.v. aspekte soos homoseksualisme, lyfstraf vir kinders, regulering van kerke, sport en ander bedrywighede op Sondag, ens., dan word belydende Christene al meer gedwing om te kies tussen die Bybel en die wet van die staat. Hoe gaan Christene op sulke uitdagings in die nabye toekoms reageer?
  • Skole slagveld. Skoolterreine in SA word al meer ʼn slagveld – dwelms, aanrandings, seksuele teistering van kinders deur onderwysers, disiplineloosheid, ens., het alledaagse verskynsels geword. Voeg daarby die sataniese CSE-program vanaf volgende jaar in laerskole ingevoer wil word, dan flits daar ʼn geweldige rooilig oor onderwys.
  • Groeiende staatskuld. Volgens betroubare syfers het nasionale skuld pas R3 triljard verbygesteek, met die rente op hierdie skuld wat nagenoeg R170 miljard per jaar beloop.

Staatskuld verteenwoordig huidig 60% van die BNP en teen ʼn koers van totale staatsinkomste tans van R317,99 miljard teenoor totale uitgawes van R375,45 miljard is die koers t.o.v. BNP oppad na 70% - die rooilig van potensieel ʼn bankrotstaat.

  • Eskom flikkerend. Die nasionale kragvoorsiener flikker al vir jare aan en af en raak volhoubaarheid al meer ʼn ope vraag. Deskundig word bereken dat die personeelkorps van Eskom van 46 600 werknemers drie keer te groot is, terwyl die kragvoorsiener steier onder 'n skuldlas van sowat R470 miljard.

Of die omstrede ontbondelingsplan gaan materialiseer, asook wat die mate van sukses van die nuutaangestelde uitvoerende hoof gaan wees, is ope vrae betreffende hierdie flikkerende rooilig.

  • Volgens die OG-verslag vir 2018/19 het slegs 18 van 257 munisipaliteite ʼn skoon oudit gekry. Dit verteenwoordig 'n skrale 7%, terwyl in werklikheid na raming sowat 80% van munisipaliteite in die land tegnies bankrot is.

Dienslewering deur die oorgrote aantal munisipaliteite in die lande het platgeval, met gevolge soos feitlik onherstelbare infrastruktuur, rou riool vryelik in waterbronne, dalende sakevertroue en degenerende platteland. Wat 'n rooilig!

  • Die verskaffing van skoon drinkwater op dorpe en in stede, het kritieke afmetinge aangeneem, bv. in die Vrystaat is daar nie ʼn enkele dorp of stad wat nie met ʼn drinkwaterkrisis sit nie. Landswyd beloop munisipale skuld by waterrade miljarde rand.

Kommerwekkend is die erge besoedelingsprobleme in die Vaalrivierstelsel, asook dat blykbaar tans in hierdie stelsel nie water uit die Katsedam weens instandhoudingswerk vrygelaat word nie. Die ander groot rivier, die Oranje, sukkel self in sy boloop met standhoudende vloei. Die Vaal- en Oranjerivier voorsien water aan 64% van die totale landsbevolking en nagenoeg 40% van die nasionale ekonomie.

  • Armoede oor die algemeen. Armoede oor die algemeen in die land het endemiese afmetinge aangeneem en alhoewel die amptelike werkloosheidskoers op 28% gestel word, is dit in die praktyk veel hoër – in sommige plattelandse gebiede tot selfs 90%. Daarby is sowat 17 miljoen Suid-Afrikaners Sassa-begunstigdes – ver meer as die aantal belastingbetalers in die land.

SA is een van die lande in die wêreld met die grootste gaping tussen ryk en arm – nie net ‘n rooilig nie, maar ‘n tydbom.

  • Armoede onder blankes. Hoewel dit in hoofstroommedia geïgnoreer word, is dit ‘n realiteit dat tot soveel as 1,2 miljoen blankes, meesal Afrikaners, in plakkerskampe en armoede leef – die gevolg van SEB, sg. regstellende aksie en statutêre rassediskriminasie. Wat doen die Afrikaner omtrent hierdie geweldige uitdaging?

Wat die situasie vererger, is dat die regering grootliks droogtehulp aan boere weerhou, ooglopend omdat dit hoofsaaklik vir die blanke kommersiële boerderysektor sou wees.

  • Swart ekonomiese bemagtiging. In die Parlement word al skerper wetgewing aangeneem ter bevoordeling van swart mense en ter marginalisering van blankes. In net die grootste 100 SEB transaksies in die land tot en met 2015 is sowat R350 miljard na SEB firmas oorgedra – dít terwyl minder as 300 000 mense regtig hieruit voordeel getrek het.
  • Rassisme teen blankes. Terwyl mooi broodjies gebak word oor plek vir almal in SA, word d.m.v. die Nasionale Demokratiese Rewolusie (NDR) 'n stille onverklaarde burgeroorlog teen blankes gevoer. Daar is tans meer anti-blanke wetgewing as wat daar ooit “apartheidswette” was.

Voorts is die NAP aksieplan geloods met sy die toep genaamd ZiRRA om enige “rassisme”deur blankes so vinnig as moontlik aan te meld. Daarenteen is die vertoon van die vorige landsvlag vroeër vanjaar deur die Gelykheidshof as haatspraak teen swartmense verklaar.

Om, ten slotte, enigsins hoop te hê om hierdie dosyn rooiligte effektief na groen te laat verander, word tot die volgende drie gevolgtrekkings gekom:

Eerstens, solank SA amptelik ‘n ateïstiese land is met ‘n ateïstiese regering, gaan dinge nie regkom nie. Dit is ‘n gegewe – net Christenskap en amptelike erkenning daarvan kan hoop bring.

Tweedens, tot en met die laaste dag van die huidige bedeling is die mensdom geskape in heterogeniteit (verskeidenheid) en wat slegs sinvol en opbouend kan funksioneer op die basis van neweskikking en vreedsame naasbestaan – elkeen sy eie plek in die son.

Derdens, vir sy eie oorlewing moet die Afrikaner as unieke volk met eiesoortige geskiedenis, kultuur, aard en toekomsaspirasies, sy pad, plek en vryheid vind.

Gradeer die artikel
(1 Vote)

Lewer kommentaar

Vul al die vereiste velde in (*)

Go to top