► Abel Sithole as uitvoerende hoof van die Government Employees’ Pension Fund (GEPF) getuig voor Mpati-kommissie dat ʼn “belegging” van R4,3 miljard sonder sy medewete gemaak is uit die GEPF na die firma Ayo Technologies van omstrede Iqbal Survé; blykbaar kan of wil Ayo dit nou nie terugbetaal nie ► Mynmaatskappy Rio Tinto het sy Rössing Uraanmyn in Namibië, in produksie sedert 1976 en wat tans jaarliks sowat 4,6 miljoen pond uraan lewer, verkoop aan die China National Uranium Corporation (CNUC) vir $106,5 miljoen; Rio Tinto het sedert 2017 beleggings van $11,2 miljard uit Namibië onttrek ► Nuwe Minister van Water, Sanitasie en Menslike Nedersettings Lindiwe Sisulu sê in Parlement skade in die departement weens korrupsie en wanbestuur is feitlik “onmeetlik” en dat drastiese omdraaistrategie dringend nodig is ► Munisipaliteite skuld die nege waterrade en Dept. van Water R14 miljard vir waterdienste gelewer ► Adjunk-minister van Landbou, Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming Mcebisi Skwatsha sê in Parlement dat onteiening sonder vergoeding binnekort ʼn werklikheid gaan wees, “maar onwettige grondgryp nie toegelaat sal word nie” ► Vrystaat Landbou sê massiewe armoede in Lesotho bedreig wet en orde in Vrystaat en dat dit verskillende tipes misdaad in die provinsie veroorsaak ► Volgens verslag van PwC is vergoeding van ʼn uitvoerende hoof van mynmaatskappy in SA gemiddeld sowat R16,8 miljoen per jaar en dié van ʼn finansiële hoof sowat R6,9 miljoen per jaar ► Projek VatVyf gebaseer te Orania benodig borgskap vir twee behoeftige blanke leerlinge in Bloemfontein wat as prefekte gekies is om einde vanjaar elkeen ʼn oriënteringskamp by te woon – R1 000 vir seun in hoërskool en R500 vir dogter in laerskool – kontak projekvatvyf@gmail.com of 082 773 2150 ►

Die nuwe regulasies van die Gautengse Onderwysdepartement  wat bepaal waar leerlinge aanstaande jaar d.m.v. ʼn aanlynproses geplaas kan word ongeag taal of voorkeur, was duidelik ʼn poging deur LUR Panyaza Lesufi, bekende anti-Afrikaanse aktivis, om Afrikaanse skole in die provinsie nek om te draai. Die nuwe regulasies vir die inskrywing van leerders vir aanstaande jaar, geskeduleer om op 13 Mei te geopen het, stel taal glad nie meer as ʼn vereiste oor waar kinders ingeskryf mag word nie.

Die vereistes wat nou voorop gestel word, is o.m. die skool naaste aan die woonplek van die leerders en of daar reeds in 'n skool familielede van die leerders is wat aansoek doen. Die aanlynproses is anoniem en leerders wat aansoek doen, moet eenvoudig die uitslag van hul aansoek sonder voorbehoud aanvaar.

Leerders kan dus nie meer aansoek by 'n spesifieke skool doen nie, terwyl 'n skool gedwing kan word om voorsiening te maak vir onderrig in die taal van keuse van die nuwe leerders. Of daar plek in 'n skool is, sal ook nie meer noodwendig as 'n rede vir weiering kan geld nie.

Die VF Plus sê tereg in ʼn mediaverklaring: “Taal is nie meer ter sprake nie, en die voorskrifte is volgens die VF Plus ongrondwetlik aangesien dit enkelmediumskole duidelik sal dwing om leerders van ander tale te akkommodeer. Die geldigheid van hierdie regulasies sal in ʼn hof getoets moet word, aangesien dit geen ruimte laat vir enkelmedium-moedertaalonderrig nie.”

Die nuwe aansoekstelsel kan dus hoogs nadelig wees vir tradisionele Afrikaanse skole. Die wortel van die probleem is ooglopend tweeledig: Aan die een kant, het die Gautengse Dept. van Onderwys gefaal om genoeg nuwe skole en klaskamers te bou vir die ontploffende getalle leerders en nou word, in die tweede plek, die bal aangegee na hoogsfunksionele Afrikaanse skole om hoofsaaklik swart nuwe leerders te akkommodeer.

Weens 'n agterstand in instandhouding moet skole in Gauteng, soos ook in die res van die land, handel met verouderde en verslegtende skoolinfrastruktuur. Daarvan is die Driehoek-brugtragedie vroeër vanjaar in Vanderbijlpark sprekende 'n voorbeeld en ten opsigte waarvan Lesufi en sy departement strafregtelike aanklagte in die gesig staar.

Die Gauteng onderwysdepartement begroot jaarliks R1 miljard vir die opknapping en opgradering van openbare skole, maar die behoefte in hierdie verband in terme van geldwaarde, beloop alreeds ʼn massiewe R5 miljard. Volgens 'n ondersoek deur die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) is daar jaarliks ’n toename van ongeveer 85 000 leerders in Gauteng , wat huidig 'n tekort van 142 nuwe skole meebring, waaronder 85 primêr en 57 sekondêr.

Hoe dit ook al sy, AfriForum en Fedsas het gesamentlik ernstig beswaar gemaak teen die nuwe aanlynregistrasiebeleid en dreig om dit hoftoe te neem, waarop Lesufi gedeeltelik toegegee het en die opening van die aanlynproses met 'n week uitgestel het. Vanoggend 20 Mei 2019 om 08:00 is die aanlynstelsel egter in werking gestel en het reeds meer as 250 000 Gr. 1 en Gr. 8 aansoeke plaasgevind.

Inmiddels het Lesufi gespog dat hy sy ideaal verwesenlik het “deur alle voor-1994 spore van apartheidskole uit te wis en dat dit nou net geïntegreerde en gelykgemaakte onderwys is wat geld.” Daarmee is moontlik die doodskoot gegee vir eens trotse Afrikaanse skole.

In nasionale verband kan volgens die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge minstens 75% van skole in SA as wanfunksioneel beskou word en tot 80% van graad 4’s as funksioneel ongeletterd. Daar is wetenskaplik bevind dat ʼn meerderheid kinders uit SA staatskole nie op die vereiste opvoedkundige vlak is vir hul graad of ouderdom nie en dat dit hulle swak voorbereid laat vir tersiêre studie en die werksplek.

Die nuwe stelsel en beleid in Gauteng laat die rooiligte flikker vir onderwysowerhede in die res van die land, veral wat betref die voortbestaan van Afrikaanse skole. Derhalwe behoort sulke onregmatige en rampspoedige beleidsrigtings in die kiem gesmoor te word voordat onberekenbare skade aangerig word.

Go to top