► Abel Sithole as uitvoerende hoof van die Government Employees’ Pension Fund (GEPF) getuig voor Mpati-kommissie dat ʼn “belegging” van R4,3 miljard sonder sy medewete gemaak is uit die GEPF na die firma Ayo Technologies van omstrede Iqbal Survé; blykbaar kan of wil Ayo dit nou nie terugbetaal nie ► Mynmaatskappy Rio Tinto het sy Rössing Uraanmyn in Namibië, in produksie sedert 1976 en wat tans jaarliks sowat 4,6 miljoen pond uraan lewer, verkoop aan die China National Uranium Corporation (CNUC) vir $106,5 miljoen; Rio Tinto het sedert 2017 beleggings van $11,2 miljard uit Namibië onttrek ► Nuwe Minister van Water, Sanitasie en Menslike Nedersettings Lindiwe Sisulu sê in Parlement skade in die departement weens korrupsie en wanbestuur is feitlik “onmeetlik” en dat drastiese omdraaistrategie dringend nodig is ► Munisipaliteite skuld die nege waterrade en Dept. van Water R14 miljard vir waterdienste gelewer ► Adjunk-minister van Landbou, Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming Mcebisi Skwatsha sê in Parlement dat onteiening sonder vergoeding binnekort ʼn werklikheid gaan wees, “maar onwettige grondgryp nie toegelaat sal word nie” ► Vrystaat Landbou sê massiewe armoede in Lesotho bedreig wet en orde in Vrystaat en dat dit verskillende tipes misdaad in die provinsie veroorsaak ► Volgens verslag van PwC is vergoeding van ʼn uitvoerende hoof van mynmaatskappy in SA gemiddeld sowat R16,8 miljoen per jaar en dié van ʼn finansiële hoof sowat R6,9 miljoen per jaar ► Projek VatVyf gebaseer te Orania benodig borgskap vir twee behoeftige blanke leerlinge in Bloemfontein wat as prefekte gekies is om einde vanjaar elkeen ʼn oriënteringskamp by te woon – R1 000 vir seun in hoërskool en R500 vir dogter in laerskool – kontak projekvatvyf@gmail.com of 082 773 2150 ►

Plastiek het ’n bedreiging van epidemiese omvang in die wêreld se oseane geword en volgens wetenskaplikes van die Verenigde Nasies word na raming 100 miljoen ton plastiek in die see gestort wat seelewe ernstig benadeel, tot op diepste diepte van sowat 10 kilometer. SA lê 11de op die wêreldranglys van lande wat die oseane met plastiek besoedel.

Victor Vescovo, ’n afgetrede vlootoffisier en ontdekkingsreisiger van Texas, het onlangs met ’n miniduikboot amper 11 km (10 928 m) die diepste tot nog toe geduik –tot op die bodem van ’n punt in die Mariana-trog in die Stille Oseaan. Tydens sy ekspedisie is nuwe spesies ontdek maar ongelukkig ook afval produkte onder andere plastiek en metaal. Vescovo hoop om met sy ontdekking die bewusmaking te verskerp oor die storting van afval produkte in die oseane en vra dat die regerings moet ingryp deur bestaande regulasies daarteen te verskerp of nuwes in te stel.

Altesaam 80% van alle plastiek wat weggegooi word, beland in oseane en volgens die SA se departement van omgewingsake word minstens 267 verskillende spesies nadelig geraak weens verstrengeling of die inneem van mariene afval, dit sluit seevoëls, karetskilpaaie, robbe, walvisse en visspesies in. Die Ellen MacArthur-stigting voer aan dat ongeveer 8 miljoen ton plastiek elke jaar in die see beland en na raming 13 000 stukke plastiekafval in elke vierkante kilometer oseaan ronddryf. Sonder drastiese optrede sal daar in die toekoms meer plastiek as visse in die wêreld se oseane wees.

Kimberley as stad bekend vir sy kleurryke diamantverlede, word tans byna verswelg onder onbeheerde riool in talle strate. Die rioolaanleg funksioneer slegs op 50% kapasiteit en die watersuiweringsaanleg funksioneer met rukke en stote – probleme wat ooglopend geleidelik oor jare ontwikkel het.

Tydens ’n onlangse besoek van die DA is bevind dat die rioolaanleg van die ANC-beheerde Sol Plaatje Munisipaliteit haglik is en dat damme wat veronderstel is om gesuiwerde water te bevat, met riool besoedel is. ʼn Gebrek aan kundigheid, omgewingsgevare vir personeel en ʼn tekort aan basiese voorrade soos chemikalieë en veiligheidstoerusting ontbreek, dra by tot die krisis. Reeds vyf werkers het al hul lewens verloor by die aanleg weens blootstelling aan giftige dampe en haglike omstandighede.

Hoe Kimberley as hoofstad van die Noord-Kaap sy eertydse glorie en leefbaarheid kan herwin, is ‘n ope vraag – ʼn vraag wat kiesers op 8 Mei vanjaar by die stembus kan begin om te beantwoord.

Go to top