► Abel Sithole as uitvoerende hoof van die Government Employees’ Pension Fund (GEPF) getuig voor Mpati-kommissie dat ʼn “belegging” van R4,3 miljard sonder sy medewete gemaak is uit die GEPF na die firma Ayo Technologies van omstrede Iqbal Survé; blykbaar kan of wil Ayo dit nou nie terugbetaal nie ► Mynmaatskappy Rio Tinto het sy Rössing Uraanmyn in Namibië, in produksie sedert 1976 en wat tans jaarliks sowat 4,6 miljoen pond uraan lewer, verkoop aan die China National Uranium Corporation (CNUC) vir $106,5 miljoen; Rio Tinto het sedert 2017 beleggings van $11,2 miljard uit Namibië onttrek ► Nuwe Minister van Water, Sanitasie en Menslike Nedersettings Lindiwe Sisulu sê in Parlement skade in die departement weens korrupsie en wanbestuur is feitlik “onmeetlik” en dat drastiese omdraaistrategie dringend nodig is ► Munisipaliteite skuld die nege waterrade en Dept. van Water R14 miljard vir waterdienste gelewer ► Adjunk-minister van Landbou, Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming Mcebisi Skwatsha sê in Parlement dat onteiening sonder vergoeding binnekort ʼn werklikheid gaan wees, “maar onwettige grondgryp nie toegelaat sal word nie” ► Vrystaat Landbou sê massiewe armoede in Lesotho bedreig wet en orde in Vrystaat en dat dit verskillende tipes misdaad in die provinsie veroorsaak ► Volgens verslag van PwC is vergoeding van ʼn uitvoerende hoof van mynmaatskappy in SA gemiddeld sowat R16,8 miljoen per jaar en dié van ʼn finansiële hoof sowat R6,9 miljoen per jaar ► Projek VatVyf gebaseer te Orania benodig borgskap vir twee behoeftige blanke leerlinge in Bloemfontein wat as prefekte gekies is om einde vanjaar elkeen ʼn oriënteringskamp by te woon – R1 000 vir seun in hoërskool en R500 vir dogter in laerskool – kontak projekvatvyf@gmail.com of 082 773 2150 ►

Volgens die topbestuur van SAPD is daar 32 senior bestuurslede en meer as 4 100 gewone lede van die mag wat kriminele rekords het. Omtrent elke misdaad onder die wetboek is in die statistieke verteenwoordig, insluitende moord, verkragting en ontvoering.

Die name van die Polisiebeamptes is nie bekendgemaak nie, en antwoorde is nie verstrek oor hoe lank die SAPD reeds bewus is van die toedrag van sake nie. Met meer as 4,100 gewone lede van die mag wat kriminele rekords het meen kenners dat dit een van die hoofredes is waarom so baie wetsoortreders nog vry rondloop.

Die motorvervaardingsreus, Volkswagen SA het R86 miljoen voorsien vir die ontwikkeling van swart verskaffers in die motorbedryf in Suid-Afrika.

Volkswagen SA het R86 miljoen begroot vir die Swart Ekonomiese Bemagtiging Trustfonds, wat beskou word as die grootste private transformasiefonds in die motorindustrie in SA. Die fonds se vernaamste doelwitte is om die skepping van swart nywerheidsondernemings te ondersteun in die motorsektor deur maklike toegang tot finansiering te verskaf .

Uitvoerende hoof van Volkswagen, Thomas Schaefer sê dat transformasie in die motorindustrie vir hul uiters belangrik is en beoog hulle dit om verder uit te brei. Dit kom te midde van die feit dat nog geen studie gedoen is oor die werklike impak van SEB op die ekonomie nie en dat dit inderwaarheid nie veel meer doen as om ‘n klein groep individue verder te verryk nie.

Die Sunday Times berig dat voormalige ANC president, Jacob Zuma, het nie net die destydse Libiese diktator, Muammar Gaddafi en sy familie beskerm in 2011 nie, maar ook vir hom miljoene Rand in Nkandla kom versteek.

Die miljoene dollar waarna verwys word, staan bekend as die “vermiste Gaddafi miljoene” en word beraam op sowat $30 miljoen (ongeveer R400 miljoen). Gaddafi het na bewering die geld aan Zuma toevertrou indien hy iets sou oorkom of dalk ontvoer sou word. Na bewering het Zuma die geld, klaarblyklik na Gaddafi se dood, aan koning Mswati van eSwatini gestuur wat dit blykbaar verlede week bevestig het aan die pres. Cyril Ramaphosa.

Libiese militêre owerhede het glo twee weke gelede vir pres. Ramaphosa genader en gevra om hul te help om die verlore kontant te verhaal.

Vroeër het Zuma ontken dat die “vermiste geld” in sy besit was. Dit laat die vraag opkommens wonder hoekom die vorige Openbare Beskermer, Thuli Madonsela, met haar ondersoek na die destydse Nkandla-skandaal, toegang tot die perseel geweier is?

Bewerings word nou gemaak dat Zuma beplan het om Gaddafi se $30 miljoen om te skakel na Suid-Afrikaanse Rande vir sy eie gewin wat hom in staat sou stel om sy groot regskoste rekening te kon aflos. Die vraag is nou, is die geld nog by Zuma of is dit by Mswati, of wat is die waarheid omtrent die beweerde geld?

Volgens ‘n mediaverklaring van Solidariteit Helpende Hand vandag 4 April, sorg hulle dat minstens 8 000 kleuters in 78 skole landswyd, grotendeels blanke kleuters, elke dag ‘n maaltyd kry, waarskynlik hulle enigste kos van die dag. Dit word gedoen onder die #StopHonger-projek, wat beplan word om weens die eskalerende nood uit te brei na 12 000 kleuters en dit sluit in slegs versoeke en geen verdere ondersoeke in blanke plakkerskampe nie.

Intussen woord ook versoeke ontvang van kinderhuise, ouetehuise en nog meer behoeftige gesinne. Om die #StopHonger-projek te ondersteun, SMS woord STOP na 38969 en skenk ʼn bord kos vir ʼn honger kleuter (SMS kos R10). Besoek ook www.stophonger.co.za of skakel 081 374 5043.

Die projek toon die weidverspryde armoede onder blankes in SA.

Die vrou wat pas as eerste president van Slowakye verkies is, het gesê haar oorwinning het getoon dat jy kan wen sonder om jou teenstanders aan te val. Zuzana Čaputová, 'n 45-jarige liberale prokureur, het 58,4% van die stemme in die presidensiële verkiesing op haar verenig.

Staan op teen die sonde, was die slagspreuk waarmee Čaputová haar veldtog gevoer het,uitgesproke teen korrupsie, maar pro-immigrasie. Voorts is sy omgewingsbewus, ten gunste van regte vir homoseksuele en ’n voorstander vir verbod op aborsie.

Sy lyk dus ‘n komplekse politikus – hoe gaan sy in die praktyk vaar en hoe gaan sy inpas by ander sentraal-europese lande wat sterk nasionalisties is en anti-immigrasie, is van die vrae, wat gevra word.

Geloftevolksgenote eerbiedig die 365ste herdenking van Goewerneur Jan van Riebeeck se gelofte wat hy twee jaar na hy hier te lande aangeland het om 'n verversingspos te stig, eerskomende Saterdag 6 April 2019, in die Pietersburg Geloftefeessaal. Ds. Flip Snyders sal om 18h30 DV die Geloftediens waarneem.

Feesgangers is welkom om die ontspanningsterrein deur die dag te geniet met sy braaiplekke, kinderspeelpark en swembad. Ons sal die geriewe sluit voor die Geloftediens 'n aanvang neem en verwag dat almal wat kan, hierdie geloftefees sal eerbiedig.

Van Riebeeck se gelofte op 6 April 1654:-

Waar dit vandag die tweede jaarlikse herdenking is van die dag waarop ons deur die Here gelei, met die skepe Drommedaris, Reijger en Goede Hoop hier te lande behoue aangeland het, om hierdie vesting en kolonie na bevel van onse here en meesters te bou en te bestendig, en waargeneem het dat God die Here alle sake tot vandag toe met vele seëninge voorspoedig en na wense laatverloop en laat slaag het, daarom het ons besluit, en ook begin, om hierdie dag, ses April, tot eer van God en met Danksegging te vier en vir altyd tot 'n vasblywende dank- en biddag in te stel, sodat daardeur die weldade vab die Here, wat aan ons bewys is, deur ons nakomelinge nooit vergeet mag word nie, maar vir altyd tot eer van God in gedagtenis en herinnering gehou sal word.

U word almal versoek om saam met ons hierdie gelofte te eerbiedig.

KYK: Lyding van blankes in SA grafies uitgebeeld in hierdie musiekvideo van Sean Else en ander

Daar is tans ʼn diepe besef by baie Suid-Afrikaners op grondvlak dat net God vir Suid-Afrika van ʼn katastrofe kan red. Derhalwe is daar verskeie ootmoedige gebedsaksies aan die gang, ondersteuning waarvan ons ten sterkste aanmoedig.

ʼn Sleutelfaktor is dat die ANC-regering van die dag Godloos is en dat geen bedeling waarin God nie as die Oppermagtige erken word nie, enigsins ʼn kans het om te slaag en reg aan sy burgers te laat geskied nie. Daarom meen ons dat hierdie aspek prioriteit in die gebedsaksies moet kry.

Ons wil by die alles ook spesifiek vir die Afrikanervolk aanspoor om vir die volgende te bid:

  • Eensgesindheid, en samewerking in die Afrikanervolk
  • Teen wetsontwerpe oor grondgryp, verbod op lyfstraf van kinders, hersiening van die leerplan vir geskiedenis op skool, nuwe toelatingsbeleid vir skole in Gauteng, die haatspraak wetsontwerp en ander
  • Die dryf om wetsgehoorsame burgers te ontwapen.

Dit is enkele aspekte en verseker kan hierdie lys nog baie aangevul word. Die punt is ootmoedige, opregte en gelowige gebede is noodsaaklik vir die redding van Suid-Afrika en die welwese van al sy burgers.

Ons wil weer waardering betuig vir in besonder die Zondo-kommissie onder voorsitterskap van adjunk-hoofregter Raymond Zondo vir die uitstekende wyse waarop die gruwels van staatskaping hoofstuk vir hoofstuk en sonder vrees, guns of vooroordeel en in die volle lig van nasionale TV uitgepak word. Die regter is kundig, skerp en boesem vertroue by almal in, terwyl hy bygestaan word deur ʼn bekwame span ondervraers.

Ons meen dat die land en almal wat opstaan vir reg en geregtigheid en vir wet en orde baie dank aan hierdie kommissie verskuldig is. Die vraag is net wat gaan die vervolgingsgesag en wetstoepassers met hierdie waardevolle getuienis doen?

Indien gelet word op die talle skokkende onthullings van massiewe korrupsie in die land al bykans die afgelope 25-jaar – die wapenskandaal, Zuma-Gupta-staatskaping, Bosasa, Eskom, VBS Bank, OBK, munisipaliteite as poorte tot plundering, ens. – dan kan daar nie tot ‘n ander slotsom gekom word as dat die ANC een reuse misdaadsindikaat is met sy tentakels op feitlik lewensterrein in die land. Pas is voor die Zondo-kommissie getuig dat sowat R12 miljoen in omkoopgeld deur Bosasa aan die ANC Top 6 – Jacob Zuma, Cyril Ramaphosa, Gwede Mantashe, Jessie Duarte, Baleka Mbete en Zweli Mkhize – betaal is. Vroeër is getuig dat Bosasa begin is deur ʼn maatskappy wat aan die nasionale leiers van die ANC Vroueliga behoort het.

Met die volgende kommentaar wil ons die volgende uitstaande gebeure die laas week kortliks aanraak:

  • Die besluit van die algemene moderatuur van die NG Kerk om nie te appelleer teen die hofuitspraak dat homoseksualisme in die kerk goedgekeur word en dat homoseksuele predikante toegelaat word in die bediening: Hierdie is egter volgens die Bybel ʼn groteske dwaling en wat dus vir baie lidmate van die kerk totaal onaanvaarbaar is. Hoe gaan die NG Kerk uit hierdie hoek kom waarin dit sigself geverf het?
  • Die klug van die week en sekerlik een van die grootste klugte nog in SA, is die bevinding van die MRK dat die uitlating van Julius Malema dat “we are not calling for the slaughtering of white people – at least not yet” nie haatspraak is nie. Verdere kommentaar oor hierdie skreiende dubbele standaarde is oorbodig. ʼn Troos darem is dat AfriForum die saak in die hof verder gaan beveg.
  • Die openbaring voor die Zondo-kommissie dat Andile Ramaphosa, seun van die president, sowat R2 miljoen van Bosasa ontvang het waaronder R500 000 uit die persoonlike sak van Gavin Watson. Inmiddels het pres. CR vroeër in die Parlement eers ontken dat sy seun geld van Bosasa ontvang het en toe gesê het dat dit vir dienste gelewer was. Dit beteken dat die staatspresident vir die Parlement gelieg het. Dit is ʼn uiters ernstige oortreding – wie gaan iets daaromtrent doen?
  • Die jag wat in Afrikaner-geledere gemaak word op Ernst Roets van AfriForum. Hy staan op vir reg en geregtigheid vir die Afrikaner, teen plaasmoorde en teen die gevaar van beoogde grondgryp, maar tog word hy in Rapport, subtiel deur die VF Plus en ander liberale Afrikaners geteiken as ʼn gevaar vir die Afrikaner. Wat skuil hieragter?
  • Die Solidariteit Groep word opmerklik ʼn al groter faktor in Afrikaner-geledere: Benewens op al die terreine waar die groep met sy filiale optree, het Solidariteit die afgelope week deur Helpende Hand die hoofborg geword van Afrikaans is Groot, dit vervul ʼn groot finansiële rol in Orania en dit het beheer oorgeneem oor die jaarlikse KragDag ekspo naby Pretoria.

Die reisverhaal wat hierdie skrywer op sosiale media vertel, klink geloofwaardig en indien dit wel so is, laat die waarheid omtrent die kontras in lewensomstandighede tussen SA aan die eenkant en Botswana en Namibië aan die anderkant ʼn mens se kop duisel.

“Ek het sopas 10 dae in Namibië spandeer en wil graag van die geleentheid gebruik maak om u uit te nooi om in u motor te klim en Namibië via Botswana per pad te besoek. Los sommer u drywer en lyfwagte tuis, dan ervaar u die rit soos ons gewone Suid Afrikaners dit ondervind.

“Ek gaan u ʼn paar wenke gee vanaf Brits my tuisdorp tot in Namibië. Gaan kyk gerus die aand voor u vertrek na Madibeng Misdaad Verkeer Forum se Facebookblad of dit veilig is om met die N4 na Rustenburg in die nag te ry, want u sal 03h00 die volgende oggend in die pad moet val. Die gevaar area is vanaf Majakaleng tot anderkant die Total vulstasie, rigting Rustenburg, bekend vir klipgooi, toi-toi en bandebrand.

“As u op die hoofweg ry, verander vinnig bane as u onder die brûe deurgaan, dis baie veiliger as die skobbejakke klippe van die brûe afgooi. Verminder ook spoed, dit help as ʼn klip u voertuig tref.

“Wees versigtig wanneer u Swartruggens binne kom. Die strate is donker weens die straatligte wat nie werk nie. Daar is ook nie meer stoptekens nie, die wat wel nog daar is, is gebuig, of deur die wind en weer verweer of in die verkeerde rigting gedraai. Wees ook versigtig as daar al ander voertuie op die pad is, hulle ignoreer die padreëls heeltemal.

“As u die tolhek tussen Swartruggens en Zeerust nader, gebruik maar die voertuig se toeter om die persoon wat u R175.00 se tolgeld moet ontvang vroegtydig wakker te kry. U wil nie te lank staties vertoef nie, dit maak u ʼn maklike teiken veral vir die klomp onwettiges wat ons landsgrense so maklik binnekom. ʼn Groot gedeelte van die pad tussen Swartruggens en Zeerust is opgegradeer, daar is egter geen padmerke, waarskuwingstekens, katoë of verf nie.

“O ja, nog ʼn ding van die ryery in die nag, as dit lyk of die aankomende verkeer ʼn motorfiets is, want daar is net een lig, dit is nie! Dit is een van die vele onpadwaardige voertuie in Suid Afrika! Hou maar u oë op die pad as u deur Zeerust ry, dit is verskriklik vuil en maak ʼn mens sommer weemoedig om te sien hoe die eens pragtige dorp agteruit gegaan het. Ry verkieslik met ʼn bakkie, die slaggate is baie erg op ʼn sedanvoertuig.

“By Skilpadhek grenspos is dit maar die normale, twee oorgewig persone wat so pas aan diens gekom het. Die grenspos maak 06h00 oop, die deure 06h07, dan staan jy nadat jy gegroet het, maar en wag dat jy gehelp word. As u klaar is en terug in u voertuig, bêre maar al die dokumente soos die voertuigregistrasie, grensbrief van u versekering, ens. Die Polisiebeamptes wat die voertuig en dokumente moet nagaan om seker te maak dit is nie gesteel nie en dat u ook nie onwettige goed uit die land uitneem nie, staan nog en gesels by die immigrasiekantoor. So, ry maar net deur, niemand sal u stop nie.

“Dan is dit die Pioneer grenspos aan die Botswana kant. Moenie skrik as die dame eerste groet nie, vinnig die papiertjies oorhandig wat ingevul moet word nie en dadelik help om u so vinnig as moontlik weer oppad te kry nie. By die polisiebeheerpunt word dit vriendelik gegroet, vra waar gaan u heen, enige iets om te verklaar, en dan is u oppad. O ja, nog ʼn ding, dit is baie opvallend dat al die personeel by die Botswana grenspos wel in hul uniforms pas, netjies skoon en klere gestryk, skoenveters vas is. Dan is dit ʼn lang trek via Jwaneng en Kang tot by Buitepos op Namibië se grens. Stop gerus op Jwaneng, gooi diesel in vir R12,74 /liter. Moenie “worry” nie, ek kon dit ook nie glo nie, die brandstof kom dan uit Suid Afrika en dan is dit goedkoper as wat ons daarvoor betaal? Maak nie lekker sin nie, nè, kyk maar daarna as u weer op kantoor is, moet ʼn fout wees.

“Maak maar weer vol op Kang, die kaartmasjien by Charles Hill werk nie, hulle sukkel met sein. By Buitepos is dit net so professioneel en vinnig is u oppad Windhoek toe via Gobabis en Witvlei. Baie wild op die pad – gemsbokke, koedoes, vlakvarke, hartbeeste en een kringgatwaterbok gekry.

“Niemand jag hulle met strikke soos hier in SA nie, nee, daar is wet en orde nog in plek.

“Hulle is heel mak, ry maar stadiger vir die een of twee wat die pad wil oorsteek. Moet ook nie bekommerd wees oor slaggate nie; daar is niks vir ʼn volle 776 km tot op Langstrand nie een nie!

“Die gras in die gang is kort gesny en swart vullissakke met die Gautengers se gemors wat hulle by die voertuie uitgooi, is opgetel en wag om weggeneem te word en dit is tussen niks en nêrens… silwerskoon met net die prag van die natuur.

“Tap maar brandstof in Windhoek, kos u N$ 13.64, ja ook aansienlik goedkoper, maak ook nie lekker sin nie nè. Net soos deur Botswana, moet u maar by die spoedgrens hou. Daai polisiemanne neem nie “bribes ” nie en doen hulle werk soos ʼn bekwame polisieman of -vrou betaam. Ek dink die groot rede is omdat hulle kwalifikasies en vereistes vir hul aanstellings in plek is. Nie soos in Suid-Afrika waar ʼn groot gros beamptes of ʼn kriminele rekord het, of nie die nodige kwalifikasies het om self te kan funksioneer nie.

“Stop maar enige plek langs die pad, hulle het nog rusplekkies met ʼn sementtafel en bankies waar u ʼn lekker koffie kan drink. Dit is BAIE veilig! Gooi maar die papiere, ens. in die drom wat daar staan, dit is die rede hoekom dit so skoon is. Moenie verbaas wees as u in Swakopmund arriveer en sien hoe skoon dit is nie. Die munisipaliteit se vullistrok is skoongewas, die manne het almal uniform aan met glimbaadjies, tel al wat ʼn papiertjie op as hulle verbykom.

“Nie soos in Brits waar daar sewe manne soos vinke agter op die vuil trok hang nie, die drywer wat ry soos hy wil nie, net die helfte van die vullis wat opgetel word nie. Almal stop by 4-rigtingstopstrate, want net ʼn bietjie verder staan ʼn beampte wat wag vir die wat die verkeersreëls verontagsaam.

“Die dienslewering is puik – dit sluit al die kettingwinkels in. Almal groet, almal wil net help. Al die straatligte brand in die aand. Visuele polisiëring vind elke dag plaas, nie soos by ons waar jy ʼn polisiebeampte net by Pick n Pay en die drankwinkel sien nie. Die water is skoon, u kan dit maar drink, nie soos by ons waar jy konstant bottelwater moet saamneem nie.

“As u gaan visvang neem ʼn lisensie by die Ministry of Fisheries and Marine Resources in Swakop uit. Dit kos maar N$ 14 vir 30 dae, die beamptes het my elke dag langs die water besoek om te kyk of ek wel ʼn lisensie het en of dit wat ek gevang het, die regte grootte en hoeveelheid is. Ja, dit is hoekom daar nog vis is, die bekwame regering kyk na hulle verskillende bronne om dit vir die nageslag te bewaar. Nie soos in Suid-Afrika nie, elke Jan Rap en sy maat steel, vat, vernietig om homself te verryk en basta met die res.

“Die regering is ʼn goeie voorbeeld, maar nou ja, u sal beter weet as ek. Ek wou nog ʼn paar staaltjies met u deel maar ek sien dit is amper tyd vir beurtkrag hier by ons. Doen uself die guns en gaan ry die roete en besluit dan self wat u gaan maak sodra u terug is in Suid-Afrika en sien hoe die eens pragtige land net meer en meer in ʼn hool verval.”

Onbevestigde berig op sosiale media lui dat kilometerslange konvooie swaarvragmotors gelaai met goeie gehalte SA steenkool daagliks oppad is na hawens vir verskeping na China. Die berig lui dat die SA regering / Eskom nie meer geld het om China te betaal nie en nou geskiet die paaiemente in goedere (steenkool).

Vir verifikasie sien hierdie videogreep.

Die prys vir die mees verregaande boikot in ʼn lang tyd moet verseker gaan aan MTN, wat, hoewel hulle miljoene Afrikaanssprekende kliënte het, besluit het om die musiekskouspel Afrikaans is Groot te boikot net omdat kwansuis Steve Hofmeyr daar aan deelneem – en rassehaters soos Panyaza Lesufi druk plaas. Wat gaan Afrikaanssprekendes wat so blatant in die gesig gevat word, daar omtrent doen, veral met hul geld wat hard kan praat?

Van al die nuus wat Ditsem Nuus deur DitsemBlits as elektroniese nuusbrief die afgelope week uitgestuur het, was die een wat die meeste aandag getrek het, die videogreep van Die Stem gesing in Vlaandere, België, by ʼn geleentheid gereël deur ʼn plaaslike inwoner, Karel de Beuckelaer, “in simpatie met Afrikaanssprekende blanke Suid-Afrikaners”. ʼn Yslike 183 862 mense het net n.a.v. die plasing deur DitsemBlits na die video gekyk, terwyl volgens Facebook die plasing op hierdie stadium al 557 078 mense bereik het.

Gerieflikheidshalwe hiermee weer die videogreep.

Van die jongste sakenuus te Orania:

  • Die winkel Orion Hardeware is verkoop – deur mnr. Harry Theron, wat dit vir jare bedryf het – aan Ronel en Frik Bekker. Laasgenoemde, met albei sowat 30 jaar ervaring in landboukoöperasiebestuur, sê dat hulle opwindende nuwe planne het vir die winkel.
  • Orania Toerusting en Gereedskap (OTG) in die Horison Nywerheidskorf het op 1 Maart 2019 getrek na ʼn aansienlik groter perseel in dieselfde kompleks – na die perseel waar Die Proviand voorheen was. OTG eienaar Gert van Coppenhagen sê dat die vraag na toerusting en masjiene te huur vir die boubedryf, hom geroep het om die skuif te maak. Terselfdertyd brei OTG ook hul reeks van produkte uit na bv. steierwerk vir multiverdieping konstruksies.
  • Die klerewinkel Die Skatkis, wat deur Magda van Coppenhagen bedryf word, het ook geskuif na ʼn groter perseel vanaf die Nywerhede 24 sentrum na die Horison Nywerheidskorf, aangrensend aan die perseel van OTG. Terselfdertyd sê Magda dat hulle hul klerereekse vir mans en dames aansienlik uitgebrei het en dit steeds teen uiters bekostigbare pryse.
  • Wa-Spa is ʼn besigheid met ʼn baie beskrywende naam wat onlangs in Orania geopen het – topgehalte motorwas en skoonmaak, Theunis Peens doen dit met ʼn verskeidenheid dienste so goed as enige soortgelyke besigheid in die stad, of selfs nog beter. Wa-Spa is langs Komloerie geleë – vir meer besonderhede sien die advertensie in hierdie Orania-fokus
  • Sonland Produkte in die Afsaal Kompleks het hul perseel aansienlik vergroot ten einde ʼn groter verskeidenheid van kruideniers, vrugte en groente aan te bied. Terselfdertyd het hulle ook uitgebrei na skoonmaakmiddels en toiletware. Hennie en Riana sê dat dit alles deel is van hul missie om ʼn superette van uitnemendheid te bedryf.
  • Orania Motoringenieurswerke het ʼn vakature vir ʼn werkswinkelassistent. Geen vorige ondervinding is nodig nie, net opregte belangstelling om te leer van presisie-ingenieurswerk. Mededingende vergoeding en loopbaangeleentheid. Kontak Ben Botha by 060 610 4953.
  • Skroot vir kontant – by Noord-Kaap Skrootmetale – dit is wat jy daar kan kry. Gesels gerus met André Minnaar en sy span – 074 233 3211.
  • ʼn Volledig toegeruste gimnasium het ook vir die eerste keer sy deure op Orania oopgemaak – Bo-Karoo Gimnasium & Fiksheid Sentrum – in die Horison Nywerheidskorf, waar Tersius en Nanette van Niekerk van diens is.
  • Les bes, dr. Phillip Nothnagel het ʼn algemene praktisynspraktyk op Orania geopen, ten einde in ʼn nypende behoefte te voorsien. Hy word bygestaan deur sy vrou Maritsa, as ʼn gekwalifiseerde apteker. Kontaknommer 082 325 3599.
Bladsy 3 van 96
Go to top