► Op AfriForum Netwerk, aanlyn databasis van ondernemings wat in Afrikaans sake doen, al sowat 2 000 sake-ondernemings geregistreer ► Groep van ondersoekende joernaliste bekend as amaBhungane toon in verslag dat EFF-lede na bewering voordeel getrek het uit brandstoftender van bykans R500 miljoen van Tshwane in Januarie 2019 ► Arvitha Doodnath, jong regsdosent, by Vaal Universiteit van Tegnologie, Saterdagaand in Johannesburg doodgeskiet tydens motorkaping ► Einde Junie 2019 10,2 miljoen verbruikers in SA het skuldprobleme en verswakte kredietgeskiedenis, swakste sedert Junie 2015 ► Eben Etzebeth dien deur sy prokureurs teenaanklag in by MRK en vra dat hul saak by Gelykheidshof in hersiening geneem word ► Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) waarsku in jaarverslag dat 4de-nywerheidsrewolusie (4NR) en tegnologiese outomatisasie in SA kan lei tot derduisende werksverliese regdeur hele ekonomie ► Pres. Xi Jinping waarsku, met verwysings na aanhoudende betogings in Hong Kong, dat “enige pogings om China te verdeel sal lei tot gebreekte liggame en beendere tot poeier gemaal” ► Siriese weermag span kordon soldate en wapentuig oor hele linie tussen Turkse invalsmag en Koerdiese gebied; pres. Trump dreig Turkye met sanksies wat hul “ekonomie kan breek” ► Spaanse hof lê tronkstraf op vir 9 leiers van afskeidingsbeweging in Katalonië, vra vir uitlewering van hoofleier Carles Puigdemont wat in 2017 na België gevlug het ►

Kommer oor groot aantal afhanklikes van welsyn

‘n Selfverduidelikende mediaverklaring van die VF Plus lui o.m. soos volg: “Die ANC beskou die groot aantal mense in Suid-Afrika wat welsynstoelaes ontvang, as ʼn prestasie terwyl dit in werklikheid ʼn skande is en as bewys dien van die regering se onvermoë om te regeer, die land se ekonomie te laat groei en werk te skep. Dit is eweneens ʼn skande vir ʼn regering om mense deur maatskaplike toelaes afhanklik van hom te maak bloot om politieke gewin.

“Daarbenewens het die regering deur blote onbevoegdheid toegelaat dat die departement van maatskaplike ontwikkeling verval in ʼn chaotiese toestand wat die welsyn van sowat 18 miljoen mense wat van toelaes afhanklik is vir oorlewing, in gevaar stel. Die ANC het op die kantlyn gesit en het sonder om ʼn vinger te verroer toegekyk hoe ʼn totaal onbevoegde minister Bathabile Dlamini die departement feitlik eiehandig vernietig. Die departement het onder haar disfunksioneel geraak sonder enige noembare organisatoriese struktuur.

“Sosiale werkers wat ʼn baie belangrike rol in die samelewing speel, is tot so ʼn mate aan hul eie lot oorgelaat dat hulle magteloos was om hul werk na behore te doen. Die ANC se wanbestuur, onbevoegdheid en korrupsie herinner aan die boek Animal Farm van George Orwell waar die diere in opstand teen die boer kom en die mag op die plaas oorneem. Die varke, wat die leiersgroep onder die diere is, raak later meer despoties en genadeloos as die boer en onderdruk die ander diere wreed met die leuse dat alle diere gelyk is, maar dat sommige meer gelyk is as die res.

“Dit is wat die ANC aan die mense van Suid-Afrika doen, en die tyd het aangebreek dat Suid-Afrika se ANC-Animal Farm-verhaal dringend ʼn nuwe wending neem om die land en sy mense van ondergang te red.”

Gradeer die artikel
(0 stemme)

Lewer kommentaar

Vul al die vereiste velde in (*)

Go to top