► In Mediumtermynbegroting van Minister van Finansies Tito Mboweni feitlik geen melding van landbou en die geweldige druk op boere oor wydverspreide droogte; op vraag van VF Plus pres. Cyril Ramaphosa ontwykend oor enige bystand aan kommersiële boere ► VF-Plus in Gauteng sê Gauteng Onderwysdepartement moontlik skuldig aan onreëlmatige besteding van R1,2 miljard i.v.m. skoolsvoedingsprojek, dít terwyl die LUR vir Onderwys Panyaza Lesufi Afrikaanse skole vir geringste vermoedelike oortredinge aanspreek ► Dit blyk of dorpe Dewetsdorp, Vanstadensrus en Wepener feitlik geen munisipale dienste ontvang vanaf Mangaung Metro onder wie hulle ingedeel is nie ► Adjunk-pres. David Mabuza op besoek aan China tydens sitting van SA-China Bilaterale Kommissie wys op die talle geïntegreerde tussen die twee lande o.a. dat 65 Chinese maatskappye R116 miljard in SA belê het (hierdie syfer soos genoem, Ditsem Nuus kan nie korrektheid verifieer nie) ► Stad Kaapstad ontvang R300 miljoen van Nederlandse regering om MyCiti snelbusdiens na Khayelitsha en Nyanga uit te brei ► Nederlandse man (35) en vrou (75) in Marlothpark, Komatipoort, vermoor deur versmoring deur hul monde toe te prop, man se vrou en dogter oorleef aanval ► Amerikaanse Huis van Verteenwoordigers stem 232-196 ten gunste van verdere ondersoek of pres. Donald Trump in staat van beskuldiging geplaas moet word oor Oekraïne ► China Mobile in China maak bekend dat sy 5G-tegnologie, 100 keer vinniger as 4G, nou in 50 stede insluitende Beijing en Sjanghai beskikbaar is ►

Ek kan hoor!

Onderhoud met Vicki Fourie Voormalige Mej. Dowe SA

Sy het weens koors as 'n baba gehoorverlies opgedoen, maar haar ouers het haar leer lippelees en leer praat soos 'n horende mens en haar haar skoolloopbaan in 'n normale skool laat doen. Sy was Mej. Dowe SA, is 'n motiveringspreker en het al verskeie artikels en 'n boek die lig laat sien.
Onlangs het sy 80% gehoor in haar regteroor herwin weens 'n kogleêre inplanting.
Dit is Vicki Fourie, 24 jaar en woonagtig te Worcester.
Ons het 'n kort onderhoud met haar gevoer.
Hoe voel dit om vir die eerste keer in jou lewe te kan hoor en vertel ons kortliks hoe dit gebeur het?
Ek kon al voorheen 40% hoor met my gehoorapparate wat ek gedra het (sonder my gehoorapparate het ek net 3% gehoor).
Elke vyf jaar moet die apparate vervang word met sterkeres.
'n Inplanting was die enigste opsie en ek het lank geworstel daarmee, maar toe ek ná die prosedure my kat vir die eerste keer kon hoor miaau, was dit vir my 'n groot hoogtepunt, want die frekwensies van die miaau was voorheen te hoog om te hoor. Ek kan ook nou fluit, iets wat ek nooit kon doen nie, ook omdat ek nie die frekwensie kon hoor nie.
In Augustus was dit al 'n jaar wat ek my inplanting het en dit het 'n nuwe wêreld vir my laat oopgaan het. Ek kan ook nou op die telefoon praat met my familie, asook hier en daar woorde optel wanneer ons radio luister. Dit is klein treetjies, maar die treetjies raak al groter!
Jy het verlede jaar by die Vryfees gedebuteer as aktrise in die verhoogstuk Kinders van Stilte - wat is die “les” wat jy daaruit geleer het?
Een ding wat vir my uitstaan van die hele ervaring, is dat elke mens se wêreld verskil. Ons moet 'n brug bou sodat ons ander mense se sienings en wêrelde kan leer ken.
Die wêreld van gebaretaal het vir my oopgegaan. Ek het nooit grootgeword daarmee nie en ek besef nou hoe uniek dit is. Dit is soos 'n dans met jou hande, 'n beskrywing van gebeurtenisse en emosies.
Dit was ook 'n ongelooflike voorreg om saam met Zane Meas (Neville van 7de Laan), asook met Antoinette Louw (Die Laaste Tango fliek), te kon werk.
Jou tweede boek God lief my - dagstukkies is verlede maand vrygestel - kortliks waaroor gaan dit?
Op hoërskool sou ek pouses alleen sit in die badkamer met my toebroodjie en my boek.
In daardie tye het ek 'n belangrike keuse gemaak: Ek het besluit om 'n verhouding te bou met die Here.
Ek het 'n dagstukkieboek deurgewerk - Power To Soar deur Charles Slagle. Deur net 'n paar sinne en een Bybelvers te lees elke dag, het my toekoms drasties verander. Ek het my identiteit begin bou op die Here.
Vandat ek as gasspreker begin optree het by skole en funksies, het ek agtergekom ek is nie al een nie - daar is soveel meisies daarbuite wat ook so voel.
Ek het God Lief My met dieselfde konsep soos Power To Soar geskryf: Dit is kort en kragtig, vars en opbouend. Wanneer jy die Woord lees en dit uitvoer, is dit so kragtig dat dit jou lewe verander.
Jy het sopas verneem dat jy 'n Tributes Excellence Award gewen het - waarvoor is dit?
Elke jaar word ongeveer 12 vrouens met gestremdhede gekies volgens die impak wat hulle maak op Suid-Afrikaners se lewens. Narda Els, eienaar van die Mej Dowe SA kompetisie, het my genomineer en ek is toe uiteindelik aangewys as die wenner in die Kreatiewe Kunskategorie. Dit was vir my 'n groot eer.

• God Lief My is in Bloemfontein beskikbaar by Exclusive Books in Mimosa Mall en by Loch Logan Waterfront. Besoek ook www.vickifourie.blogspot.com vir waar elders die boek beskikbaar is.

Gradeer die artikel
(0 stemme)

Lewer kommentaar

Vul al die vereiste velde in (*)

Go to top