Print this page

Orania Sakekamer versnelde groeistrategie

In Orania is die momentum van ekonomiese groei voortdurend besig om op te tel, met tans sowat 30 verskillende bouprojekte aan die gang, 'n nypende tekort aan sowel behuising as sakepersele, progressief stygende eiendomspryse en toenemende vestiging in die dorp as verklaarde groeipunt vir 'n Afrikanervolkstaat. Binne hierdie milieu het die Orania Sakekamer sigself onlangs herposisioneer as platform vir versnelde groei in die dorp.

'n Reeks werkswinkels en dinkskrums is gehou, terwyl lede van die Sakekamer op 6 Junie 2018 'n konferensie van AfriSake in Pretoria bygewoon het met die tema Maak jou onderneming staatsbestand. In die bestuur van die Kamer onder voorsitterskap van Danny Dames en in die geledere van die lede is 'n nuwe energie sigbaar om visionêr uit die spreekwoordelike kassie te dink en met innoverende konsepte vorendag te kom.

Uit die besprekings het dit na vore gekom dat dienslewering, opleiding, innovasie, koördinering van inligting en kommunikasie sentraal tot die meeste uitdagings in Orania staan. Dit is beklemtoon dat Orania die sakekern van die streek kan word. dienste.

Wat opleiding betref, het die Sakekamer reeds twee werkswinkels in samewerking met AfriForum Vooruit aangebied, terwyl nog een in Augustus beplan word. Daar word ook onafhanklike werkswinkels beplan, wat temas soos entrepreneurskap, personeelopleiding, meganisasie, ens. insluit. Ander aspekte wat die Sakekamer onder die loep het, is o.m. 'n gedragskode, gildes, 'n sentrale inligtingspunt, 'n toegewyde kantoor, 'n lughawe vir vragvervoer en globalisering.

 

Gradeer die artikel
(1 Vote)