► “’n Monument van grootskaalse korrupsie” is hoe Noord-Kaapse premier dr. Zamani Saul nuwe psigiatriese hospitaal in Kimberley geopen het 13 jaar nadat konstruksie begin is @ R290 miljoen, maar nou eers voltooi is teen R2 miljard ►Appèlhof handhaaf beslissing van Noord-Gauteng hooggeregshof dat Cash Paymaster Services (CPS) R316 miljoen aan Sassa moet terugbetaal ►Transnet toon wins van R6 miljard vir finansiële jaar 2018/19; eerste staatsonderneming in baie lank tyd wat wins toon ►Plaasterreur 30 September, Malmesbury, twee aanvallers in plaashuis, huiseienaar skiet een dood ►Groot dele van die land vanaf Limpopo tot in die Wes-Kaap ondervind erge droogtetoestand met minder as 50% van die gemiddelde reënval in 2018/19 seisoen – sien by hierdie skakel hoe in Steytlerville-distrik droogte ervaar word; aan die ander kant sien by hierdie video hoe gejuig word oor goeie reën in distrik Beaufort-Wes ►Kampioen Boran stoetbul genaamd Mr. Million, gekoop vir R1 miljoen, se hakskeensenings deur veediewe op plaas by Brits afgekap, moes vankant gemaak word ►Intensiewe driedaagse-kursus oor in- en uitvoer en internasionale handel aangebied te Midrand, Kaapstad en Durban, kontak Ronell 073 291 0450 of events@norcaz.biz►

KragDag uitmuntende uitstalvenster van Afrikaner-entrepreneurskap

Die jaarlikse ekspo KragDag wat in 2007 op die Diamantvallei Landgoed oos van Pretoria naby Rayton op beskeie skaal begin is, het deur die jare gegroei as ‘n toonvenster van Afrikaner-entrepreneurskap, tot waar dit vanjaar 8-10 Augustus bykans 500 uitstallers en meer as 21 000 besoekers getrek het. KragDag spruit deels as reaksie op die toenemende statutêre marginalisering van die Afrikaner uit die hoofstroomekonomie van die land en deels uit die onblusbare ondernemerskap van die Afrikaner en sy strewe na selfstandigheid.

Die KragDag ekspo vanjaar, met as hoofborg Sakeliga van die Solidariteit Groep, het basies bestaan uit die geweldige verskeidenheid van stalletjies en uitstallings grootliks tematies ingeklee, spyseniering vir Afrika, ‘n volledige pretpark, ‘n biertuin en ‘n vermaaklikheidsverhoog met musiek en sang. Vanjaar het vir die eerste keer 'n volwaardige landbou-ekspo, in samewerking met TLU SA, ook bygekom, wat KragDag in sy geheel met sowat 50% vergroot het.

Meer in besonderhede het KragDag 2019 bestaan uit sowat 330 selfstandigheidstema-uitstallers, 165 uitstallers in die Landbou sub-ekspo, 30 uitstallers in die Opvoedkunde sub-ekspo, 20 makeruitstallings, 50 junior entrepreneurs, ’n Snuffelmark, ’n massiewe verskeidenheid verversings, ’n pretpark en vermaak wat enige iets insluit van grootwiel en verhoogoptredes tot ossewa- en helikopterritte.

Terwyl die geleentheid in 'n karnavalatmosfeer plaasvind, val die klem op innovasie en entrepreneurskap, onder die amptelike slagspreuk Doen jou eie ding! Die vrywees-filosofie vorm integraal deel van KragDag en is die aanbiedings dienooreenkomstig gestruktureer.

Tydens die driedaagse ekspo is daar in die KragDag raadsaal ook talle gratis lesings en paneelbesprekings deur kundiges, terwyl in die Landbou sub-ekspo afdeling eweneens 'n verskeidenheid aanbiedings oor boerdery-aangeleenthede in die twee landbousale gedoen word. Benewens 'n slaglamkompetisie en die Toyota Afslaers streekskampioenskappe, sluit aktiwiteite in die arena in vertonings met perde en berede-oorlogvoering, veerastentoonstellings, hommeltuigdemonstrasies en ’n grassnyerresies.

“TLU SA is hoogs in ons skik met vanjaar se KragDag-geleentheid,” sê mnr. Louis Meintjes, president van TLU SA. “Ons is ook baie opgewonde oor die potensiaal van die landbou-sy en is oortuig dat dit in die toekoms nog groter hoogtes gaan bereik.

KragDag het oorspronklik in 2007 by Hendrik en Alida Verwoerd van Diamantvallei Landgoed ontstaan, toe in reaksie op buitensporige Eskom-stygings met gepaardgaande onbetroubare kraglewering, begin uitkyk is vir alternatiewe energie-oplossings. Om hieraan gestalte te gee, het die eerste KragDag Ekspo in 2008 die lig gesien – en is die res geskiedenis.

'n Skoonseun van die Verwoerds, HB Steyn, het mettertyd die uitvoerende rol van KragDag oorgeneem en tesame met familie wat ook op Diamantvallei woonagtig is, die ekspo met sy filosofie en fokus uitgebou. Hendrik en Alida Verwoerd het vroeër vanjaar na Orania verhuis, vanwaar hulle 'n stalletjie vir Orania by KragDag geïnisieer en gefasiliteer het.

Ditsem Nuus as Afrikaanse koerant het vanjaar op sy eie 'n stalletjie by KragDag gehad. Van die waarnemings wat gemaak is, is die hoop wat op die ekspo tasbaar was te midde van 'n vervallende land, die afwesigheid van misdaad en die deurgaanse netheid van die terrein.

KragDag het die stadium bereik waar dit as onderneming feiltlik deur die jaar aandag en bestuur verg en waarin o.m. radiorubrieke, kursusse, bekendstellings van produkte en ondernemings,nuusbriewe en seminare aangebied word. Sodoende verskaf KragDag ʼn platform waardeur Afrikaner-entrepreneurs, innoverende idees en die publiek uniek bymekaar uitgebring word.

Vir meer besonderhede, besoek www.kragdag.co.za.

Gradeer die artikel
(0 stemme)

Lewer kommentaar

Vul al die vereiste velde in (*)

Go to top