►Voorspoedige 2020 | Ditsem Nuus kantoor weer oop | Teken in op die DitsemBlits vir daaglikse Nuushooftrekke en weeklikse Nuuskommentaar►

Die nuwe toekoms Die ingrypende invloed van tegnologie en 3D wat wag

Word gelet op die ongelooflike nuwe mylpale wat tans op tegnologiese gebied bereik word d.m.v. rekenarisering en in besonder deur 3D drukwerk, dan wag daar ‘n radikaal-anders toekoms op die mensdom, ook in Suid-Afrika, oor die volgende twee tot 20 jaar en verder. Vir die Christen-gelowige geld natuurlik dit met bygesê as die Here wil.

Word egter menslikerwys van naderby gekyk na die ontwikkelings wat tans teen ‘n verbysterende spoed op tegnologiese gebied plaasvind, dan is dit duidelik dat die toekoms nie eenvoudig ‘n voortsetting van die huidige leefwyse gaan wees nie, maar dat dit ingrypend anders daaruit gaan sien.

‘n Blote Internet-ondersoek na veral wat tans op die terrein van 3D drukwerk gebeur en indien gelet word op die verstommende wetenskaplike resultate wat op internasionale seminare gerapporteer word, dan kan die volgende sleutelwaarnemings gemaak word:

* Kunsmatige intelligensie: Rekenaars word eksponensieel beter ingespan om die moderne lewe beter te monitor bv. die hoogsgevorderde IBM Watson is ‘n kognitiewe kennis-stelsel wat ‘n splinternuwe verstandhouding tussen mense en rekenaars daarstel. Dit het ‘n menigte praktiese toepassings, vanaf regsadvies tot mediese diagnoses, soveel so dat dit bv. in die VSA reeds in sekere opsigte regspraktisyns werkloos gemaak het. Dit het 90% akkuraatheid vergeleke met 70% by mense.

Nog ‘n voorbeeld van die ongelooflike vordering van kunsmatige intelligensie word gevind in die abstrakte strategiese bordspeletjie Go, wat die beste Go-speler in die wêreld 10 jaar vroeër geklop het as wat verwag is.

Ook selfs natuurlik op gewone huishoudelike vlak, soos opstaan in die oggend en gereed maak vir werk of die take van die dag sal feitlik alles met ‘n veebeweging oor ‘n kontroleknoppie gereël kan word. Indien gedink word dit is vergesog, Google net ‘n bietjie rond.

* Motors: Die beplanning is dat in 2018 die eerste selfaangedrewe motors aan die publiek beskikbaar gestel sal word. Dit sal beteken dat jy nie meer jou eie motor hoef te besit nie, maar een per foon kan bestel. Jy hoef dit nie te parkeer nie, jy betaal slegs vir die afstand gery en kan produktief wees terwyl jy vervoer word.

Die implikasies hiervan is enorm – die bestaande motorbedryf kan feitlik totaal verdwyn en so verbandhoudende bedrywe, soos motorversekering, die onderdelebedryf, ens. Waar tans 1,2 miljoen mense per jaar in motorongelukke wêreldwyd sterf en ‘n ongeluk voorkom elke 100 000 km, kan met outonome bestuur die syfer afkom na een ongeluk elke 10 miljoen km.

Dink voorts slegs aan drastiese afname in omgewingsbesoedeling.

Uber Technologies Inc. is ‘n sagteware maatskappy wat vandag geen motors besit nie, maar die grootste taximaatskappy in die wêreld bedryf.

* Besigheidslandskap: Uit die voorafgaande is dit duidelik dat die besigheidslandskap op die drumpel staan om onherkenbaar te verander. As voorbeeld: In die VSA word meer as die helfte van die BNP gelewer deur besighede wat 10 jaar gelede nie bestaan het nie.

Kodak het in 1998 170 000 werknemers gehad en 85% van fotopapier wêreldwyd verkoop. Vandag is hulle bankrot en het die maatskappy verdwyn. Sou jy in 1998 kon dink dat drie jaar later nooit weer foto’s op papierfilm gedruk sou word nie? Wat met Kodak gebeur het, is ‘n voorbeeld van wat ook met tallose besighede gebeur het, steeds gebeur en toenemend sal gebeur.

Hier word gepraat van die 4de Nywerheidsrewolusie oftewel die Eksponensiële Era. Nog een voorbeeld: Airbnb is die grootste hotelmaatskappy in die wêreld, hoewel hulle geen eiendom besit nie.

* Energie: Verlede jaar is wêreldwyd vir die eerste keer meer sonenergie geïnstalleer as fossielbrandstof. Die patroon is dat die koste van sonenergie soveel gaan daal dat steenkoolmaatskappye teen 2025 uit besigheid sal wees.

* Water: Met goedkoper elektrisiteit het dit moontlik geword om ontsouting van water te doen teen slegs 2kWh per kubieke meter. Dit het die potensiaal om binne die afsienbare toekoms genoeg skoon drinkwater vir almal te bied teen minimale koste.

* 3D drukwerk: Dit is veral op die terrein van 3D drukwerk waar geweldige tegnologiese deurbrake besig is om plaas te vind. Die koste van die goedkoopste 3D drukker het in die VSA binne 10 jaar afgekom vanaf $18 000 na $400 en terselfdertyd 100 keer vinniger geword.

Die resultaat is dat feitlik elke vervaardigingsnywerheid vandag 3D gebruik – vanaf skoenmaatskappye wat 3D skoene druk tot vliegtuigvervaardigers wat hul onderdele in 3D produseer. In China, soos in ander dele van die wêreld, is al multi-verdieping geboue in 3D geproduseer. Die implikasies is haas ondenkbaar.

* Medies: Op mediese terrein het veral 3D drukwerk grondverskuiwende praktyke meegebring, bv. produsering van 3D prosteses en die effek daarvan op die gebied van rekonstruktiewe chirurgie.

In SA in die Vrystaat het die Centre for Rapid Prototyping and Manufacturing (CRPM) van die Sentrale Universiteit van Tegnologie (SUT) te Bloemfontein in hierdie verband reeds navorsing en prestasies behaal wat van die voorste ter wêreld is.

* Onderwys en opleiding: Die impak op onderwys en opleiding met aanlynstudie vanuit jou woning en die toepassing van slimfone en wat daarmee gepaard gaan, behoef hier geen verduideliking nie.

* Landbou: Op landbougebied oftewel voedselproduksie het moderne tegnologie en 3D ook ‘n besondere impak. Bekostigbare robotbeheerde trekkers en masjienerie is reeds aan die orde van die dag, terwyl dit benewens akkerbou ook grootskaals begin toegepas word in die veeteeltbedryf. Meganisasie in die landbou het veel meer as net ‘n wagwoord geword.

* Toepassings (“apps”): Daar is reeds ‘n toepassing (“app”) wat buie of gemoedstemmings by ‘n mens kan identifiseer, terwyl verwag word dat teen 2020 daar een sal wees wat deur jou gesigsuitdrukking kan sê of jy lieg. Dink net wat dit op politieke gebied kan beteken!

* Geldeenhede: Die rigting is dat geldeenhede soos dit vandag in omloop is, gaan verdwyn en dat Bitcoin die betaalmiddel van die toekoms gaan word.

* Lewensverwagting: Dit word gesê dat wêreldwyd die gemiddelde lewensverwagting van mense tans met drie maande per jaar styg en nou op ongeveer 80 jaar staan. Dit hou uit die aard van die saak ook verreikende ekonomiese en maatskaplike implikasies in.

Enige basiese navorsing toon dat die scenario hierbo geskets ‘n realiteit is en dat die toekoms van hier af vorentoe vanweë sneeuballende tegnologiese ontwikkeling radikaal anders gaan wees. Uiteraard kon in hierdie beperkte ruimte slegs enkele sketsstrepe gemaak word, maar die tendens is onweerlegbaar.

Gradeer die artikel
(1 Vote)

Lewer kommentaar

Vul al die vereiste velde in (*)

Go to top