Print this page

DTI bevorder swart nyweraarsklas

In 'n mediaverklaring sê Adjunk-Minister van Handel en Nywerheid Mzwandile Masina die Dept. Handel en Nywerheid (DTI) beoog om radikale veranderinge aan te bring aan die swart ekonomiese bemagtiging (BEE) sertifiseringsprosesse en voorkeurbeleid in 'n poging om 'n nuwe klas van swart nyweraars te skep en "radikale" transformasie in die SA ekonomie te versnel.
Hy het ook aangedui dat die DTI beoog om binne die volgende drie jaar 'n minimum van 100 maatskappye onder beheer van swart nyweraars in spesifiek die vervaardigingsektor te skep. Hy beskryf dit as 'n "radikale" stadium in die land se ekonomiese "oorgang" en voeg by dat die DTI tans in samesprekings met die Nasionale Tesourie is oor hervorming van die Raamwerk Wetgewing op Voorkeurverkrygingsbeleid (Preferential Procurement Policy Framework Act: PPPFA).
Die DTI spandeer tans bykans R6 miljard per jaar aan die privaatsektor deur verskillende aansporingskemas en in die vervolg sal die grootste deel daarvan gaan aan swart nyweraars. Hiertoe is die DTI van plan om finansiële instellings soos die NEF, IDC, die Ontwikkelingsbank van Suider-Afrika, PIC en SEFA te monster.
Die voornemens van Masina het vurige ondersteuning gekry van die Black Business Council, Business Unity South Africa, die BEE Charter Council en die staatsbeheerde Enterprise Procurement Forum.

Gradeer die artikel
(0 stemme)