► MRK besluit om sy hoof van regsdienste Buang Jones te ondersoek en te verbied om weer met media te praat oor sy voortydige en rassistiese kommentaar oor Eben Etzebeth-saak ► Volgens die organisasie ToekomsVonk was daar vanaf 1 Januarie vanjaar tot 30 September 350 plaasaanvalle en 41 plaasmoorde in SA, oudste slagoffer 96 jaar, gemiddeld 4 aanvallers per voorval, met in een geval 20 aanvallers ► Volgens syfers van Minister van Basiese Onderwys Angie Motshekga is daar tans 1 126 openbare enkelmedium Afrikaanse skole in die land, teenoor 1 279 in 2017; 1 112 openbare skole dubbelmedium in Afrikaans en Engels, dus tans 2 238 skole wat onderrig in Afrikaans ► Universiteit van Vrystaat weier om erflating te aanvaar vir ’n “blanke, behoeftige, talentvolle student”; hooggeregshof in Bloemfontein staan aansoek van FNB toe dat “blanke” uit die testament geskrap word ► NG Kerk Algemene Sinode besluit om formulering van beleid oor selfdegeslagverhoudings van heel vooraf te begin ► Terwyl sommige banke takke sluit, kondig FNB aan dat dit vanjaar 7 takke gaan open in Oos-Kaap, Mpumalanga, Limpopo, Gauteng en Wes-Kaap ► Ter viering van 70-jaar van Kommunisme in China vertoon Chinese weermag in Beijing skrikwekkende interkontinentale wapentuig – sien videogreep ► Ditsem Nuus besig om spesiale fokus saam te stel getiteld Tuisskoling: Oplossing vir onderwyskrisis in die land – enige diensverskaffer of rolspeler in die bedryf wat inset wil maak, skakel 082 773 2150 of advertensies@ditsem.net ► Projek VatVyf kry reaksie op beplande projek Operasie Brandhout om blanke Afrikanermeisies en -vroue in Nigeriese seksslawehandel in die land te probeer bevry, nog medewerkers / ondersteuners / finansiering benodig – skakel 053 207 0127 of epos projekvatvyf@gmail.com – sien videogreep ►

Christelike Afrikaanse onderwys is onder beleg a.g.v. verskeie daadwerklike bedreigings, waarvan veral twee van aardskuddende belang is, nl., eerstens, die beoogde invoer van Comprehensive Sexual Education (CSE) in SA staatskole vanaf volgende jaar en, tweedens, implementering van die aanlynregistrasiestelsel in Gauteng vir alle nuwe skolierapplikante.

Die aanlynregistrasiestelsel bring mee dat o.a. nuwe Afrikaanssprekende skolierapplikante nie meer kan gaan na die Afrikaanse skool van hul voorkeur nie, maar moet inskryf by die skool vir hulle aangewys. Terselfdertyd kan Afrikaanse skole verplig word om watter taalsprekende skolier ookal na hulle verwys word, in te neem, of hulle nou plek het of nie.

Hierdie beleid is die produk van die veldtog wat uitgesproke anti-Afrikaanse aktivis en LUR vir Onderwys in Gauteng Panyaza Lesufi al vir jare teen Afrikaanse skole voer. Dit kan enorme implikasies hê vir Afrikaanse skole landswyd, sou die stelsel so uitgebrei word. Daar is 23 719 staatskole in SA, waarvan 1 279 enkelmedium Afrikaans is oftewel 5%, maar steeds moet in Gauteng van hulle gedwing word om andertalige aansoeke te akkommodeer

Aan die ander kant kan diaboliese CSE, soos dit uiteengesit is in die voorbladartikel van hierdie uitgawe, eenvoudig verwoestend wees op die psige van jong kinders. Woorde kan kwalik die vernietigende gevolge beskryf van voortydige blootstelling van onontwikkelde kinders aan seksuele wanpraktyke deur persone met bose agendas.

Albei hierdie verwikkelinge het dus implikasies van waarskynlik die doodsklok vir Christelike Afrikaanse onderwys en derhalwe poog Ditsem Nuus om maksimale teenaksie te mobiliseer in sowel die gedrukte uitgawe van die koerant as op sy digitale platforms. In hierdie uitgawe val die klem op die stop van CSE, met in hierdie rubriek drie onderwysinstansies wat hiertoe met spesifieke insette hul steun toesê.

Die nuwe regulasies van die Gautengse Onderwysdepartement  wat bepaal waar leerlinge aanstaande jaar d.m.v. ʼn aanlynproses geplaas kan word ongeag taal of voorkeur, was duidelik ʼn poging deur LUR Panyaza Lesufi, bekende anti-Afrikaanse aktivis, om Afrikaanse skole in die provinsie nek om te draai. Die nuwe regulasies vir die inskrywing van leerders vir aanstaande jaar, geskeduleer om op 13 Mei te geopen het, stel taal glad nie meer as ʼn vereiste oor waar kinders ingeskryf mag word nie.

Die vereistes wat nou voorop gestel word, is o.m. die skool naaste aan die woonplek van die leerders en of daar reeds in 'n skool familielede van die leerders is wat aansoek doen. Die aanlynproses is anoniem en leerders wat aansoek doen, moet eenvoudig die uitslag van hul aansoek sonder voorbehoud aanvaar.

Leerders kan dus nie meer aansoek by 'n spesifieke skool doen nie, terwyl 'n skool gedwing kan word om voorsiening te maak vir onderrig in die taal van keuse van die nuwe leerders. Of daar plek in 'n skool is, sal ook nie meer noodwendig as 'n rede vir weiering kan geld nie.

Die VF Plus sê tereg in ʼn mediaverklaring: “Taal is nie meer ter sprake nie, en die voorskrifte is volgens die VF Plus ongrondwetlik aangesien dit enkelmediumskole duidelik sal dwing om leerders van ander tale te akkommodeer. Die geldigheid van hierdie regulasies sal in ʼn hof getoets moet word, aangesien dit geen ruimte laat vir enkelmedium-moedertaalonderrig nie.”

Die nuwe aansoekstelsel kan dus hoogs nadelig wees vir tradisionele Afrikaanse skole. Die wortel van die probleem is ooglopend tweeledig: Aan die een kant, het die Gautengse Dept. van Onderwys gefaal om genoeg nuwe skole en klaskamers te bou vir die ontploffende getalle leerders en nou word, in die tweede plek, die bal aangegee na hoogsfunksionele Afrikaanse skole om hoofsaaklik swart nuwe leerders te akkommodeer.

Weens 'n agterstand in instandhouding moet skole in Gauteng, soos ook in die res van die land, handel met verouderde en verslegtende skoolinfrastruktuur. Daarvan is die Driehoek-brugtragedie vroeër vanjaar in Vanderbijlpark sprekende 'n voorbeeld en ten opsigte waarvan Lesufi en sy departement strafregtelike aanklagte in die gesig staar.

Die Gauteng onderwysdepartement begroot jaarliks R1 miljard vir die opknapping en opgradering van openbare skole, maar die behoefte in hierdie verband in terme van geldwaarde, beloop alreeds ʼn massiewe R5 miljard. Volgens 'n ondersoek deur die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) is daar jaarliks ’n toename van ongeveer 85 000 leerders in Gauteng , wat huidig 'n tekort van 142 nuwe skole meebring, waaronder 85 primêr en 57 sekondêr.

Hoe dit ook al sy, AfriForum en Fedsas het gesamentlik ernstig beswaar gemaak teen die nuwe aanlynregistrasiebeleid en dreig om dit hoftoe te neem, waarop Lesufi gedeeltelik toegegee het en die opening van die aanlynproses met 'n week uitgestel het. Vanoggend 20 Mei 2019 om 08:00 is die aanlynstelsel egter in werking gestel en het reeds meer as 250 000 Gr. 1 en Gr. 8 aansoeke plaasgevind.

Inmiddels het Lesufi gespog dat hy sy ideaal verwesenlik het “deur alle voor-1994 spore van apartheidskole uit te wis en dat dit nou net geïntegreerde en gelykgemaakte onderwys is wat geld.” Daarmee is moontlik die doodskoot gegee vir eens trotse Afrikaanse skole.

In nasionale verband kan volgens die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge minstens 75% van skole in SA as wanfunksioneel beskou word en tot 80% van graad 4’s as funksioneel ongeletterd. Daar is wetenskaplik bevind dat ʼn meerderheid kinders uit SA staatskole nie op die vereiste opvoedkundige vlak is vir hul graad of ouderdom nie en dat dit hulle swak voorbereid laat vir tersiêre studie en die werksplek.

Die nuwe stelsel en beleid in Gauteng laat die rooiligte flikker vir onderwysowerhede in die res van die land, veral wat betref die voortbestaan van Afrikaanse skole. Derhalwe behoort sulke onregmatige en rampspoedige beleidsrigtings in die kiem gesmoor te word voordat onberekenbare skade aangerig word.

’n Totaal van 115 myne in Suid-Afrika word bedryf sonder ’n waterlisensie en 118 uit 712 myne wat wel oor ’n waterlisensie beskik, voldoen nie aan die voorwaardes vir ‘n lisensie nie. Die meeste van die maatskappye wat sonder ʼn waterlisensie myn, kom voor in Mpumalanga (41) wat korreleer met die geweldige omgewingsbesoedeling wat tans in daardie provinsie plaasvind ervaar word. Die tweede meeste mynaktiwiteite sonder waterlisensies kom voor in Gauteng (12) en selfs die omstrede Guptas se Shiva Uranium-myn voldoen nie aan sy waterlisensievoorwaardes nie.

Gegewe die wye omvang van gebrek aan waterlisensies en die klakkelose verbreking van waterlisensievoorwaardes, kom die kwessie van grootskaalse omgewingsbesoedeling in mynstreke te berde. Ongekontroleerde mynbou in SA kan een van die hoofoorsake vir ‘n omgewingsramp in die land wees.

Go to top