► Op AfriForum Netwerk, aanlyn databasis van ondernemings wat in Afrikaans sake doen, al sowat 2 000 sake-ondernemings geregistreer ► Groep van ondersoekende joernaliste bekend as amaBhungane toon in verslag dat EFF-lede na bewering voordeel getrek het uit brandstoftender van bykans R500 miljoen van Tshwane in Januarie 2019 ► Arvitha Doodnath, jong regsdosent, by Vaal Universiteit van Tegnologie, Saterdagaand in Johannesburg doodgeskiet tydens motorkaping ► Einde Junie 2019 10,2 miljoen verbruikers in SA het skuldprobleme en verswakte kredietgeskiedenis, swakste sedert Junie 2015 ► Eben Etzebeth dien deur sy prokureurs teenaanklag in by MRK en vra dat hul saak by Gelykheidshof in hersiening geneem word ► Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) waarsku in jaarverslag dat 4de-nywerheidsrewolusie (4NR) en tegnologiese outomatisasie in SA kan lei tot derduisende werksverliese regdeur hele ekonomie ► Pres. Xi Jinping waarsku, met verwysings na aanhoudende betogings in Hong Kong, dat “enige pogings om China te verdeel sal lei tot gebreekte liggame en beendere tot poeier gemaal” ► Siriese weermag span kordon soldate en wapentuig oor hele linie tussen Turkse invalsmag en Koerdiese gebied; pres. Trump dreig Turkye met sanksies wat hul “ekonomie kan breek” ► Spaanse hof lê tronkstraf op vir 9 leiers van afskeidingsbeweging in Katalonië, vra vir uitlewering van hoofleier Carles Puigdemont wat in 2017 na België gevlug het ►

Ons wil graag, sonder om die beuel van enige politieke party te blaas, enkele sprekende mediaverklarings die afgelope week aanhaal, soos hierdie een van die VF Plus oor die vermoë van die ANC-bewind m.b.t. die toekoms van die land:

 
“Dit is goed dat die ANC kennis neem van die Vierde Industriële Revolusie wat werkgewers in die afsienbare toekoms nie so weerloos gaan laat teen arbeidswette en die weerbarstigheid van sy vakbond-vennote nie. Die vraag is of Suid-Afrika die elektrisiteit sal hê om dié uitdagings na die volgende vlak die toekoms in te neem. Verlede week het Eskom aangedui dat hy sukkel om in die aanvraag na elektrisiteit te voorsien.
 
“Intussen wil dit voorkom of Nedlac se lank verwagte energieplan steeds in die koue lê en wag op ideologiese verskille om uit die weg geruim te word aangesien nuwe metodes van kragopwekking wat minder op fossielbrandstof leun, werksverliese tot gevolg kan hê. Terwyl vakbonde en ander rolspelers stry oor die ideologiese feite van die energieplan, kyk maatskappye wat alternatiewe energie vervaardig, reeds elders om hul geld te belê aangesien daar meer sekerheid is. Daardie selfde maatskappye het verlede jaar R200 miljard in Suid-Afrika belê.
 
“Sommige lande beplan reeds vir die Vyfde Industriële Revolusie waar kunsmatige intelligensie se rol bepalend gaan word. Die ANC sukkel nog homself in rat te kry vir die vierde.
 
“Boonop moet die regering eers toesien dat Suid-Afrika se munisipaliteite weer begin funksioneer aangesien myne se oorlewing direk gekoppel is aan basiese munisipale dienste. ʼn Sprekende voorbeeld is Matjhabeng in die Vrystaat, moontlik die swakste munisipaliteit in die land. Die gebied rondom Welkom, Theunissen, Virginia, Odendaalsrus en Hennenman was eens welvarend in dié goudryke gebied. Die vlakke van dienslewering het egter só agteruitgegaan dat onmiddellike ingryping nodig is.
 
“Die voortbestaan van die myne word direk hierdeur geraak. Dit is moeilik om te sien hoe enige plan wat deur die ANC uitgevoer moet word, hierdie krisis gaan oplos. Of om Suid-Afrika op tegnologiese gebied die toekoms in te neem.”

Go to top