► MRK besluit om sy hoof van regsdienste Buang Jones te ondersoek en te verbied om weer met media te praat oor sy voortydige en rassistiese kommentaar oor Eben Etzebeth-saak ► Volgens die organisasie ToekomsVonk was daar vanaf 1 Januarie vanjaar tot 30 September 350 plaasaanvalle en 41 plaasmoorde in SA, oudste slagoffer 96 jaar, gemiddeld 4 aanvallers per voorval, met in een geval 20 aanvallers ► Volgens syfers van Minister van Basiese Onderwys Angie Motshekga is daar tans 1 126 openbare enkelmedium Afrikaanse skole in die land, teenoor 1 279 in 2017; 1 112 openbare skole dubbelmedium in Afrikaans en Engels, dus tans 2 238 skole wat onderrig in Afrikaans ► Universiteit van Vrystaat weier om erflating te aanvaar vir ’n “blanke, behoeftige, talentvolle student”; hooggeregshof in Bloemfontein staan aansoek van FNB toe dat “blanke” uit die testament geskrap word ► NG Kerk Algemene Sinode besluit om formulering van beleid oor selfdegeslagverhoudings van heel vooraf te begin ► Terwyl sommige banke takke sluit, kondig FNB aan dat dit vanjaar 7 takke gaan open in Oos-Kaap, Mpumalanga, Limpopo, Gauteng en Wes-Kaap ► Ter viering van 70-jaar van Kommunisme in China vertoon Chinese weermag in Beijing skrikwekkende interkontinentale wapentuig – sien videogreep ► Ditsem Nuus besig om spesiale fokus saam te stel getiteld Tuisskoling: Oplossing vir onderwyskrisis in die land – enige diensverskaffer of rolspeler in die bedryf wat inset wil maak, skakel 082 773 2150 of advertensies@ditsem.net ► Projek VatVyf kry reaksie op beplande projek Operasie Brandhout om blanke Afrikanermeisies en -vroue in Nigeriese seksslawehandel in die land te probeer bevry, nog medewerkers / ondersteuners / finansiering benodig – skakel 053 207 0127 of epos projekvatvyf@gmail.com – sien videogreep ►

Sowat 150 deelnemers het vanaf 28 April tot 1 Mei aan een van vier verskillende uithougeleenthede in en om Orania deelgeneem: Vasbyt: 100 km oor 4 dae; Ligloop: 55 km oor 4 dae; Vastrap: 200 km oor 4 dae per fiets; Ligtrap: 116 km oor 4 dae per fiets.

Die uitslae is soos volg:

Ligloop Mans: 1.Helgard Oosthuysen, 2. Daniel Dames, 3. Dirk Cornelius Thomas;

Ligloop Dames: 1. Denice Thomas, 2. Ansie Bronkhorst, 3. Juanine Scheün;

Vasbyt Mans: 1. (nuwe rekord) Henk Mulder, 2. Christo Müller, 3. Joost Strydom;

Vasbyt Dames: 1. (nuwe rekord) Karin Müller, 2. Monja Strydom, 3. Jynie Crafford;

Ligtrap Mans: 1. Wiehan Nel, 2. Stephan Bredenhann, 3. Emile Janse v Rensburg;

Ligtrap Dames: 1. Nadia van Staden, 2. Christa Bredenhann, 3. Yolanda Nel;

Vastrap Mans: 1. (nuwe rekord) Dewald Goosen, 2. Adam Boshoff, 3. Melt Britz;

Vastrap Dames: 1. (nuwe rekord) Erica Kotze, 2. Namaria Britz, 3. Anvia Bredenkamp;

Vanjaar het ook twee persone met prosteses deelgeneem – Lize Brink en Duane van Zyl wat 10 km voltooi het.

Foto: Lize Brink en Duane van Zyl. - Foto: Orania Beweging

Vir meer besonderhede vir deelname volgende jaar, kontak 053 207 0062 of Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees..

Op die internasionale front is die grootste verwikkeling die handelstariefoorlog waarin die VSA en China tans indryf, met die VSA wat sy algemene invoertariewe op Chinese goedere verhoog vanaf 10% na 25%. Dít nadat intense onderhandelinge tussen die twee moondhede misluk het. Die volgende twiet van pres. Donald Trump sê dit alles: “We have lost 500 Billion Dollars a year, for many years, on Crazy Trade with China. NO MORE!” – Trump 10 Mei 2019.

Inmiddels, soos die spreekwoord lui, as die olifante stoei, dan moet die gras ly – wêreldwyd sidder internasionale geldmarkte, terwyl die pryse van kommoditeite soos klere styg. Dit geld ook vir Suid-Afrika.

Al hoe meer nasionale handelsmerke maak hul verskyning in die Orania-besigheidswêreld, een waarvan is Afrisam wat pas ‘n massabetonaanleg in samewerking met die Wilco Groep opgerig het, soos op die foto hiernaas. Ander nuwe en bestaande nasionale handelsmerke op die dorp sluit in Big Boy motorfietse, G. Fox veiligheidstoerusting, Exide batterye, Easigas, Seeff Eiendomme en OK MiniMark.

Die Nasionale Energiereguleerder van SA (Nersa) het Eskom goedkeuring gegee om ’n verdere tariefverhoging van 15,63% te implementeer by munisipaliteite regoor SA. Aanvanklik het Nersa vroeër vanjaar ʼn verhoging van onderskeidelik 9,41%, 8,1% en 5,2% vir die volgende drie boekjare toegestaan weens die kragvoorsiener se finansiële probleme, insluitend ’n skuldlas van meer as R400 miljard, maar die verhoging is intussen gewysig om Eksom te akkommodeer.

Die Stad van Johannesburg het hul teleurstelling uitgespreek oor die besluit en aangevoer dat die reguleerder korrupsie by Eskom beloon met hierdie verdere verhoging. Herman Mashaba, burgemeeste, voer aan dat die Nersa-besluit munisipaliteite sal dwing om tariewe te verhoog tot 13,77% teenoor die 12,2% wat aanvanklik begroot is en aan inwoners voorgehou is. Volgens Mashaba is tariefverhogings soos hierdie onvolhoubaar en dat Eskom se staatsmonopolie op elektrisiteitsvoorsiening uiters ongesond vir die land, sy mense en die ekonomie is.

Volgens Anton Alberts van die VF Plus moet die tariefverhogings gemeet word teen die ekonomiese groeikoers van 0,8%. Eskom moet besef dat met ekstra verhogings sal verbruikers al hoe minder krag sal gebruik en toenemend planne beraam om selfvoorsienend te raak.

Die Vrystaatse Provinsiale Erfenishulpbronagentskap (VPEHA) het formeel toestemming aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) verleen om die standbeeld van oud-pres. MT Steyn voor die hoofgebou van die universiteit te verskuif na die terrein van die Oorlogsmuseum en Vrouemonument. Daarteen het AfriForum en verskeie bewaringsinstellings, insluitend die Bloemfonteinse Kultuurvereniging, die Vereniging vir Christelike Hoër Onderwys en die Gereformeerde Geloofsbond (wat 32 gemeentes in die land insluit), egter onmiddellik beswaar aangeteken.

 

In die beswaarskrif word dit o.m. gestel dat die verskuiwing studente op die kampus eerder sal polariseer as om respek en samehorigheid onder hulle te bevorder. Daar word op gewys dat Steyn as stigterslid van die universiteit verdien om die standbeeld op kampus te hê.

“Dit beteken allermins dat geen ander beelde van rolspelers bygevoeg mag word nie. Om hom egter te verwyder op grond van eietydse ideologiese oorwegings, druis in teen die aanhef van die SA Grondwet dat ons almal sal respekteer ‘wat hul beywer het om ons land op te bou en te ontwikkel’”.

“Dit is die plig van ’n onderwysinstelling soos die UV en ’n instansie soos die VPEHA om as erfenisbewaarders te verseker dat openbare ruimtes die volle verhaal van die verlede uitbeeld. Indien die beeld verskuif sou word, kan Afrikaanse studente en personeel van die UV tereg vra of hulle nog welkom op die kampus is”, aldus die beswaarskrif.

Lede van die publiek wat die appèl teen die verskuiwing van die standbeeld wil ondersteun, kan dit op www.afriforum.co.za/steyn-moet-bly doen of sms “Steyn” na 42315.

Inmiddels sê Tokkie Pretorius, direkteur van die Oorlogsmuseum, dat die standbeeld by sy nuwe standplaas op 11 Oktober vanjaar onthul sal word, presies 120 jaar ná die uitbreek van die Anlgo-Boere-oorlog.

Die veelsydige Australiese agterspeler, Israel Folau, tans die voorste driedrukker in die Super14-reeks en op R21 miljoen per jaar die besbetaalde rugbyspeler in die wêreld, is deur Rugby Australië (RA) skuldig bevind aan ʼn “hoëvlak-oortreding” omdat hy as Christen op sosiale media gesê het dat homoseksueles hel toe sal gaan, indien hulle hul nie bekeer nie. Folau sê dat hy bloot herhaal wat in die Bybel staan en dat dit sy geloofsoortuigings is.

Na berig word het Folau ‘n skikkingsooreenkoms van sowat R10 miljoen met RA van die hand gewys en voer hy in dokumente aan dat die RU nie regsgronde het om sy werknemerskontrak te beëindig nie. Folau word deur die bank bygestaan deur sy vrou Maria, wat vir die Nieu-Seelandse nasionale netbalspan speel en ook ‘n Christen is.

Pas het Rugby Australië besluit om die dienskontrak van Folau met onmiddellike effek te beëindig, wat beteken Folau mag nie aan die Wêreldbeker van jaar deelneem nie, wat weer meebring dat hy verdienste van miljoene rand moet inboet. Hy moet egter nog aandui of hy gaan appelleer teen die besluit.

Om egter so vir jou Christelike geloof en vir Bybelse stellings op te staan, maak van hierdie jongman niks anders as ‘n moderne geloofsheld nie.

Met die stemme getel, die verkiesing amptelik gesertifiseer en die rook besig om op te klaar, lyk die volgende na die vernaamste gevolgtrekkings te maak:

  • As agtergrond: Sowat 26,76 miljoen Suid-Afrikaners het geregistreer oftewel 74,6% van die totale kiesersbevolking, in totaal 76 politieke partye met sowat 18 000 kandidate nasionaal en provinsiaal, waarvan 48 partye net vir nasionaal, 22 924 stemlokale landswyd.
  • Die finale telbord sê: Nasionaal het die ANC 57,57% behaal, die DA 20,76%, die EFF 10,79%, die IVP 3,38% en die VF Plus 2,38%, met die res in ʼn bondel agterna.
  • Dit is verstommend dat die ANC ondanks aaklige staatskapings en massiewe korrupsie steeds die meerderheids- en regeringsparty is. Dit toon politieke onvolwassenheid by ʼn groot deel van die bevolking. Maatskaplike toelaes aan sowat 17 miljoen mense is verseker ook ‘n faktor.
  • Die grootste verloorder is waarskynlik die DA, wat veel meer munt behoort te geslaan het uit die kwesbaarheid van die ANC, maar dit nie kon doen weens gebrekkige leierskap nie. Die onbeholpe hantering van die Zille- en De Lille-sages het duidelik ook sy tol geëis.
  • Die EFF het redelik sterk na vore getree met verhoogde stemtotale en het die DA onttroon in Noordwes en Mpumalanga as die amptelike opposisie. Hulle is ook in Limpopo steeds die amptelike opposisie.
  • Die ANC het in agt van die nege provinsies loshande bo uitgekom en hoef nie in koalisie te gaan nie.
  • Die DA het, danksy soliede Kleurlingstem, beheer oor die Wes-Kaap behou, met die EFF wat voor die GOOD-party en die VF Plus geëindig het.
  • Die IVP het stukke beter gevaar as in die vorige verkiesing en het in KZN die DA gelig as die amptelike opposisie, waar dit nou Zoeloe teen Zoeloe is.
  • Die VF Plus het ook aansienlike veld gewen en kan met 10 setels in die Parlement 'n faktor wees. Dit is bemoedigend vir die Afrikaner, maar wat dit gaan inhou vir selfbeskikking is 'n ope vraag.
  • Partye soos die ACDP (0,86%), UDM (0,48%) en COPE (0,27%) sou beter wou gevaar het as wat hulle gedoen het en as wat hul profiel in die media is.
  • Nie een van die vier top partye – ANC, DA, EFF en IVP erken God-Drieënig in hul eie partygrondwette nie, wat hoop verskraal dat die Grondwet van die land so gewysig sal word. Die VF Plus doen dit wel in hul grondwet.
  • Die enigste suiwer Afrikanerparty is Front Nasionaal, wat 0,04% kon trek, maar tog belofte inhou.
  • Die grootbek BLF het genadiglik in die hek geduik met slegs 0,11%, wat hulle waarskynlik nie ʼn setel in die Parlement sal gee nie. Dit wys dat moorddadige anti-blanke en summiere grondgryp retoriek nie aanklank vind by die oorgrote meerderheid swartes nie.
  • Daar was talle klagtes van onreëlmatighede in die stemmery met bv. ʼn LP van COPE wat gesê het dat sy vyf keer sonder ʼn probleem gestem het. Die OVK het egter gesaghebbend verklaar dat deeglike ondersoek getoon het dat daar nie ernstige defekte was nie. Dit lyk ook of die groter partye hiermee tevrede is.
  • Wat hoogs betekenisvol is, is dat hoewel bykans 27 000 kiesers geregistreer het, het ongeveer 10 miljoen stemgeregtigdes nie eens gelol om te registreer nie. Van die geregistreerde kiesers het slegs sowat 65% gestem – die laagste ooit. Daar is dus 'n beduidende wegblystem, wat grotendeels vertolk moet word as 'n protesstem. In talle huidige agtergeblewe woonbuurtes en plakkerskampe is duidelik soveel wanhoop en moedverlorenheid dat die stembus geminag word. Hierdie opgekropte aggressie kan 'n tydbom wees.
  • Waarvoor daar dankbaarheid behoort te wees, is dat die verkiesing oor die algemeen vreedsaam verloop het, ondanks talle doemprofesieë tot die teendeel. Dit is genadiglik toeskryfbaar aan die Christelike netwerk van gebede wat opgegaan het tot Hom wat alles en almal in Sy hand hou.

Waar laat dit alles die Boere-Afrikaner van Mei 2019? Dit is die kernvraag wat beantwoord moet word as die Boere-Afrikaner met sy kultuurerfenis en vryheidsaspirasies as volk wil voortbestaan.

Die stryd om die SA atletiekster Caster Semenya se atletiekloopbaan te red, het ’n nuwe wending geneem na aankondiging van Atletiek Suid-Afrika (ASA) dat hulle gaan appelleer teen die beslissing van die Internasionale Hof vir Sportarbitrasie (CAS) se beoogde nuwe reëls vir vroue-atlete. Volgens nuwe wetgewing moet hiperandrogene atlete voortaan hul testosteroonvlakke verlaag om op die wêreldverhoog deel te neem.

Vroue atlete met ’n hoë testosteroonvlak gaan voortaan dit ses maande voor enige deelname verminder tot onder 5 nmol/l omrede hul ’n onregverdige voordeel bo ander vroueatlete het. Indien hulle nie bereid is om medikasie te gebruik is hulle welkom om aan die mansafdeling van dié sport deel te neem. Die arbitrasiehof se paneel van drie regters (wat twee teen een gestem het) sê die Internasionale Vereniging van Atletiek Federasies (IAAF) se nuwe reëls is wel diskriminerend, maar dat dit 'n nodige, redelike en eweredige manier is om die atletiekliggaam se doelwit te bereik om die integriteit van vroue-atletiek te beskerm.

ASA het Maandagoggend in ’n verklaring gesê dat hulle teen die uitspraak appelleer. Die ANC en die DA het ook hul skok en ontevredenheid oor die beslissing uitgespreek en sê dat die IAAF wat veronderstel is om waardes vir atlete te beskerm, het met vooroordeel opgetree op ʼn manier wat atlete skei eerder as verenig. Daar is ’n beroep op Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee (Sascoc) en die SA regering gedoen om alle moontlike prosesse aan te wend om die besluit teen te staan en te baklei vir Semenya se reg om op internasionale vlak mee te ding.

Bladsy 5 van 5
Go to top