►Voorspoedige 2020 | Ditsem Nuus kantoor weer oop | Teken in op die DitsemBlits vir daaglikse Nuushooftrekke en weeklikse Nuuskommentaar►

“Te veel hande, te min werk in SA”

 Te veel hande en te min werksgeleenthede is die ongesonde arbeidsituasie in Suid-Afrika wat die ANC-regering geskep het, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor arbeid. Volgens Alberts kan die hoofoorsake gesoek word by die gekaapte pres. Jacob Zuma en sy kabinet, en beleidsondersekerheid onder die mantel van radikale ekonomiese trasformasie. Dit is ook die mening van internasionale kredietgraderingsagentskappe, die IMF, die Europese Unie (EU) en Amerika.

  

Hy sê: “Die groot probleem is dat die oogmerk wesenlik is om bestaande werksgeleenthede te herverdeel sonder dat daar eerlik gekyk word na hoe om nuwe geleenthede te skep. Daar is ʼn obsessie om te fokus top-bestuursvlakke se demografiese profiel en om te kla hoe wit dit steeds is. Ander vlakke waar die meeste werk geskep word, word buite rekening gelaat. Daardie vlakke skilder ʼn ander prentjie en dit laat ʼn mens met die indruk dat die departement se agenda is om wit mense, wat ook help om swart politici se salarisse te betaal, te demoniseer.

“Ironies genoeg is die ANC se eie syfers oor indiensneming in die staatsdiens, wat feitlik net kaders bevoordeel, baie interessant. Teen 2011 het die staatsdiens se demografiese profiel reeds as volg daar uitgesien:

  • Top-bestuur: Wit en bruin vroue onderverteenwoordig;
  • Senior bestuur: Bruin mense onderverteenwoordig;
  • Semi-geskool: Wit en Indiërs onderverteenwoordig; en
  • Ongeskool: Wit en Indiërs onderverteenwoordig.

“Dit kom kortliks daarop neer dat die ANC nie sy eie voorskrifte rakende billike indiensneming nakom nie, maar van die private sektor verwag om dit te doen. Daar kan gerus ondersoek ingestel word oor die situasie by Luthuli-huis.

“Talle mense vanuit die bruin gemeenskap, insluitende die Koi en San, is ongelukkig oor hoe die ANC se werksreserveringsbeleid hulle benadeel. Aangesien die nasionale demografiese statistiek gebruik word om gelyke indiensnemingsteikens te stel, vind bruinmense dat hulle nie swart genoeg is vir ʼn werk nie. Enkele voorbeelde:

  • In Eldoradopark in Johannesburg is die meeste polisielede swart en kan nie Afrikaans praat nie. Dit is ʼn herhalende probleem in ander bruin woongebiede;
  • Min hospitaalpersoneel in staatshospitale is bruin;
  • Daar word gevra waar is die Afrikaanse bruinmense in die SAUK.

“Die minister kan kennis neem van die volgende regsbeginsels:

  • In die 2008-Hooggeregshofsaak van Mlokoti v Amathole District Municipality is bevind dat kaderontplooiing onwettig is;
  • Ingevolge die internasionale verdrag oor die uitwissing van rassediskriminasie, wat hierdie land onderteken het, word die staat gedwing om weg te doen met regstellende aksie in sektore waar dit reeds bereik is, soos die openbare sektor. Die regering sal geen keuse hê as om rassediskriminasie in hierdie sektor te beëindig nie.

“Minderhede in die land roep uit: Ons is nie gelyk nie! Ons weet waarom: dis omdat die ANC nie werk nie en nie ons ekonomie kan laat werk nie. Die talle werkloses kom nou agter wie die werklike oorsaak van die probleem is en gaan hulself begin verset teen die gekaapte ANC-regering,” aldus Alberts.

Gradeer die artikel
(0 stemme)

Lewer kommentaar

Vul al die vereiste velde in (*)

Go to top