►Voorspoedige 2020 | Ditsem Nuus kantoor weer oop | Teken in op die DitsemBlits vir daaglikse Nuushooftrekke en weeklikse Nuuskommentaar►

Implikasies van wysiging aan Belastingwetsontwerpe

“Beoogde wysigings aan bestaande belasting- en administrasiewette sal dien as verdere spykers in Suid-Afrika se finansiële doodskis en sal bloot ʼn kanaal skep waarlangs belastinggeld makliker na staatskapers herlei kan word,” aldus adv. Anton Alberts van die VF Plus tydens die eerste lesingsdebat van die Tariewe en Monetêre Bedrae en Wysiging van Inkomstewette Wetsontwerp, Belastingwette Wysigingswetsontwerp en Administrasiewette Wysigingswetsontwerp. Volgens Alberts verteenwoordig al hierdie voorgestelde wysigings die stelsel van staatskaping in SA.

“Die minister van finansies moet in ag neem dat hy tans in die oog van ʼn perfekte storm instaar wat belastinginvordering aanbetref. Die omgewing vir belasting het drasties verander omdat belastingmoraliteit en die sake-omgewing verander het. Dit is twee faktore wat verreken moet word en wat die volgende boodskap aan die regering stuur:

“Ten eerste het die sake-omgewing só negatief geword dat die ekonomie inkrimp. Die Laffer-kurwe is reeds bereik waar hoër belasting bloot tot minder beleggings lei, ook weens die ANC-regering se swak fiskale en sakebeleid, tesame met die plundering van hulpbronne. ʼn SA sakeman in die finansiële dienstesektor wat sy sake na Brittanje verskuif het, het my gevra waarom die ANC-regering die sake-omgewing haat. Al wat hy wil doen, is om in Suid-Afrika te floreer en werk te skep. Ek kon hom nie antwoord nie.

“Wat die middelklas betref, die grootste bydraer tot die fiskus, kan net aanvaar word dat mense met minagting deur die regering en die Inkomstediens (SAID) behandel word, want dit is dié klas wat vernietig moet word. Die SAID is besig met 'n volskaalse oorlog teen individuele belastingbetalers, terwyl die diens ook misbruik word as instrument om politieke opponente by te kom. Daar is waarskynlik nie 'n opposisie-LP wat tans nie geoudit word nie.

“Ten tweede bestaan die waarneming dat reeds 'n stadium van spontane en stille belastingopstand betree is. Belastingbetalers wil nie 'n gekaapte staat subsidieer nie. Die individuele belastinglas het die punt verbreek waar hoër belasting tot minder invordering lei. Selfs Kanada het nou dié punt bereik, ondanks dat dié land se hoogste belastingkerf 33% is in vergelyking met SA oppad na 50%.”

Gradeer die artikel
(0 stemme)

Lewer kommentaar

Vul al die vereiste velde in (*)

Go to top