►Voorspoedige 2020 | Ditsem Nuus kantoor weer oop | Teken in op die DitsemBlits vir daaglikse Nuushooftrekke en weeklikse Nuuskommentaar►

Begroting weerspieël siek land

Die Nasionale Begroting vir 2018/19 wat afgelope Woensdag deur Minister van Finansies Malusi Gigaba in die Parlement ter tafel gelê is, weerspieël ongelukkig om die volgende redes nie net ‘n siek land nie, maar ‘n land in die intensiewe sorgeenheid:

  • Om mee te begin, die Begrotingsrede is gelewer deur ‘n minister wat tans aangekla word van meineed in die hof en ook omdat hy beskuldig word dat hy in vorige kabinetsportefeuljes ‘n sleutelrol gespeel het om die “regte” mense aangestel te gekry het in die direksies van die openbare staatsondernemings, asook om vir die Guptas permanente verblyfreg in SA te gereël het.
  • Uit die begroting blyk dit dat slegs 5 miljoen belastingbetalers moet die onderhoudslas van ‘n bevolking van sowat 60 miljoen dra. Dit beteken dat uit die belastinginkomste van hierdie 5 miljoen moet al die infrastruktuur, maatskaplike dienste en lewensonderhoud van sowat 60 miljoen mense gefinansier word – ‘n onhoudbare situasie.
  • In die begroting moes voorsiening gemaak word vir ‘n tekort van R51 miljard, maar hoewel die toekennings heen en weer geskuif is, moet die regering steeds R191 miljard leen om die begroting te laat klop. Die ligstraal is darem dat dit af is vanaf R204 miljard in die vorige finansiële jaar.
  • Wat in effek in die begroting gedoen word, is om die belastingbetalende minderheid swaarder te belas ten einde meer inkomste te genereer, soos persoonlike belasting, maatskappybelasting en boedelbelasting te verhoog. Verder is BTW verhoog van 14% na 15% terwyl die prys van brandstof ook drasties styg, maar dit sny darem oor die hele bevolkingspektrum.
  • Die grootste enkele nuwe item in die begroting is R57 miljard vir gratis tersiêre onderwys vir huishoudings met inkomste van onder R350 000 per jaar. Enige regdenkende beskou hierdie item as onnodig, want vanaf 1902 tot 1994 is Suid-Afrika opgebou as ‘n top nywerheidsland deur mense wat vir hul eie tersiêre onderwys betaal het of daarvoor gesorg het. Nou word dit op skuld in mense se skoot geplaas, wat in effek beteken ‘n geslag van ontvangende papperds word gekweek.
  • Die disproporsie van die begroting word verder vergroot deur die feit dat daar 18,1 miljoen welsynsbegunstigdes is uit die bevolking van sowat 60 miljoen – desondanks is hierdie toelaes ook verder op skuld verhoog en dit bokant die inflasiekoers.  
  • Hoewel die kabinet 'n besluit geneem het dat die land oor voldoende elektrisiteitskapasiteit beskik en dat daar vir die voorsienbare toekoms geen behoefte aan kernkrag is nie en ondanks die feit dat veral sonkragontwikkeling in die privaatsektor floreer, word in die begroting onverstaanbaar voorsiening gemaak vir “kernkragontwikkeling” ten bedrag van R817 miljoen.
  • In die begroting is geen voorsiening gemaak vir die bekamping van plaasmoorde nie, trouens die begroting vir die SAPD is gesny. Voorts word ook op onderwys en ander basiese dienste besnoei.
  • In die begroting is ook geen voorsiening gemaak vir inkrimping van die oormatige groot staatsdiens in SA nie en word die menigte kripvreters verseker van hul voortgesette voer.
  • In die begroting word ook geen melding gemaak daarvan dat die regering oor sowat 195 000 eiendomme in staatsbesit beskik ten totale waarde van meer as R40 miljard, baie waarvan onbenut is en verkoop of heraangewend kan word ten gunste van die Nasionale Begroting. Daarby word bereken dat bv. deur die verknoeide en sukkelende Eskom te verkoop teen sowat R112 miljard, die begroting ook ingrypend positief beïnvloed kan word.

Die gevolgtrekkings wat uit die begroting gemaak kan word is basies dat die ANC-regering geld spandeer wat hulle nie het nie ten einde die guns te koop van die massa wat vir hulle stem, ten einde sodoende aan die bewind te bly.

Intussen word gesaghebbend voorspel dat op die koers van hierdie siek begroting vir 'n siek land die totale skuld van SA oor die volgende drie jaar gaan styg tot sowat R3,3 triljard en dat die dienskoste hiervoor en rente hierop ongeveer R592 miljard oor die mediumtermyn sal beloop.

Gradeer die artikel
(0 stemme)

Lewer kommentaar

Vul al die vereiste velde in (*)

Go to top