►Voorspoedige 2020 | Ditsem Nuus kantoor weer oop | Teken in op die DitsemBlits vir daaglikse Nuushooftrekke en weeklikse Nuuskommentaar►

Stappe teen stroping van die Staatspensioenfonds

In 'n mediaverklaring deur die VF Plus word daarop gewys dat terwyl groot vrae hang oor die beoogde notering van ʼn nuwe mediamaatskapppy wat straks deels moontlik gemaak kan word met geld van die Staatsdienspensioenfonds (SDPF), raak dit al hoe duideliker dat geld van die SDPF in 'n proses is om d.m.v. velerlei bedenklike transaksies gestroop te word. Die nuwe mediagroep Sagarmatha Technologies, word hoofsaaklik besit deur ʼn familietrust van Iqbal Survé, die uitvoerende voorsitter van Independent Media.

Die SDPF hou reeds deur die Openbare Beleggingskorporasie (OBK), wat die fonds bestuur, ʼn aandeel van 25% in Independant Media. Luidens mediaberigte in Business Day is Independant Media in ʼn geldelike verknorsing en hoop word geplaas op die verkope van aandele vir Sagarmatha Technologies nadat die maatskappy komende Vrydag op die Johannesburgse Aandelebeurs genoteer is, om hom te red. Dit blyk dat Independent Media deel van Sagarmatha Technologies sal word en sodoende befonds sal word deur die nuwe genoteerde maatskappy.

Daar is egter ‘n probleem met die notering, aangesien Sagarmatha Technologies volgens berigte tegnies insolvent is en dus eers privaat befondsing moet ontvang voordat dit voldoen aan die vereistes van die Wet op Finansiele Markte. Die maatskappy sal moet bewys dat dit gekapitaliseer is met minimum R500 miljoen en dit is goed moontlik dat die OBK weer versoek is om in hierdie konteks in nog ‘n Iqbal Survé-avontuur te belê.

Die VF Plus het daarom ʼn skrywe gerig aan Deon Botha, korporatiewe hoof van die OBK,  waarin hy gevra word of die OBK wel sodanige aandele gaan aankoop. Nog geen antwoord is op hierdie navraag ontvang nie. Indien die OBK wel van plan is om aandele in Sagarmata Technologies te bekom, wil die VF Plus SDPF-pensioenarisse adviseer om onmiddellik ‘n interdik teen die transaksie te bring.

Die VF Plus wys dan op die volgende voorbeelde van bedenklike wyses waarop die SDPF oor die laaste paar jaar gestroop is, 'n fonds, met ʼn oorspronklike bate van R1,87 triljard as die grootste belegger in die landsekonomie:

  • Februarie 2018:  OBK leen R5 miljard aan Eskom vir oorbruggingsfinansiering.
  • Maart 2018:  Die Reserwebank plaas VBS Mutual Bank onder kuratele. Die OBK besit sowat 30% aandele in VBS. Dit is ook bekend dat VBS ʼn lening van R8 miljoen aan pres. Jacob Zuma toegestaan het vir sy skuld by Nkandla.
  • OBK het ʼn reuse belegging in Steinhoff gehad en in Desember verlede jaar is die vrees uitgespreek dat die SDPF ʼn verlies van sowat R12 miljard met dié belegging kan ly.
  • In 2015 het die OBK Lonmin van ondergang gered deur, buiten sy bestaande aandele, ʼn verdere 25% van dié platinumprodusent te bekom teen 'n bedrag van R1,9 miljard. Van belang is egter dat dit gedoen is nadat Lonmin se aandeelprys in die voorafgaande jaar met 80% gedaal vanaf byna R35 tot skaars R3. Wat markwaarde betref, het dit binne een jaar gedaal vanaf R29 miljard tot R3,5 miljard.
  • In 2014 is berig oor ʼn transaksie waar die OBK sowat R3 miljard belê het in ʼn feitlik bankrot oliemaatskappy, Camac Energy. Daar is berig dat ene Kase Lawal, ʼn Amerikaner van Nigeriese afkoms en kennis van voormalige pres. Zuma, in beheer was van die maatskappy, maar niks is sedertdien van hom of sy maatskappy verneem nie.
  • In 2016 was daar groot ontevredenheid oor ʼn ekonomiese ontwikkelingsplan vir Tshwane/Pretoria met geld van die OBK en die aankondiging dat ‘slegs swart mense’ daarby baat sal vind.
Gradeer die artikel
(0 stemme)

Lewer kommentaar

Vul al die vereiste velde in (*)

Go to top